Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 1/15 bl. 3-4
  • Wie is ware boodskappers van vrede?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie is ware boodskappers van vrede?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ware vrede is op hande!
  • God se boodskappers van vrede
  • Ware vrede—Uit watter bron?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Laat “die vrede van God” jou hart bewaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Hoe vrede op aarde kan kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Dien as boodskappers van Goddelike vrede
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 1/15 bl. 3-4

Wie is ware boodskappers van vrede?

OP 31 Mei 1996 het nuusbronne iets bekend gemaak wat soos ’n boodskap van vrede geklink het. Die vorige dag is ’n amptelike verklaring uitgereik wat bevestig het dat Benjamin Netanyahu, wat op die punt was om Israel se eerste minister te word, “sterk verbind is tot die voortsetting van die vredesproses, vrede met veiligheid, tussen die staat Israel en al sy buurlande, met inbegrip van die Palestyne”.

Die wye nuusdekking van Netanyahu se verkiesing het baie laat wonder of vrede in die Midde-Ooste dalk meer as net ’n droom is. Indien wel, waarom kan ander nasies nie dieselfde doen en hulle verskille vergeet nie?

Dit is natuurlik makliker om vrede te belowe as om dit te bewerkstellig. Omdat baie dit besef het, was hulle skepties hieroor. Soos die joernalis Hemi Shalev dit gestel het: “Die helfte van die publiek in Israel loop tans rond met ’n gevoel dat verlossing op hande is, en die ander glo dat die land in hel op aarde vasgevang is.” Ter opsomming het hy gesê: “Party juig; ander huil.”

Dit is hoe dit gaan met die mens se vredespogings. Die oorwinning van een leier en sy ondersteuners beteken ’n nederlaag vir die teenparty. Ontevredenheid lei tot ontnugtering en ontnugtering lei dikwels tot opstand. Of dit nou in die Midde-Ooste, Latyns-Amerika, Oos-Europa of enige ander plek is—die mensdom se vredespogings is illusies.

Ware vrede is op hande!

Gedurende die tyd toe vrede in die Midde-Ooste gedurig in die nuus was, is ’n ander vredesboodskap gehoor. Dit was nie ’n politieke toespraak wat wye nuusdekking geniet het nie; dit was ook nie ’n vredesverdrag tussen nasies nie. Hierdie boodskap het eerder ’n vrede verkondig wat slegs deur God se Koninkryk teweeggebring sal word. Waar is hierdie boodskap gehoor? By meer as 1900 “Boodskappers van Goddelike Vrede”-Streekbyeenkomste wat gedurende 1996/97 regoor die wêreld deur Jehovah se Getuies gehou is.

By hierdie streekbyeenkomste is dit duidelik gemaak dat geen menseregering ware vrede en veiligheid kan bring nie. Waarom nie? Want dit sal vereis dat daar ’n einde gemaak moet word aan die dinge wat ons elke dag van vrede beroof. Ware vrede beteken dat jy elke oggend sonder die bedreiging van oorlog of geweld kan wakker word. Dit beteken dat daar nie meer misdaad, nie meer slotte aan ons deure, nie meer vrees om op straat te wees, nie meer gebroke gesinne sal wees nie. Watter regering op aarde kan dit alles tot stand bring? Trouens, watter regering op aarde sal selfs waag om dit te belowe?

God se Koninkryk kan en sal egter hierdie dinge teweegbring. Die Bybel belowe: “Kyk! Die tent van God is by die mense, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:3, 4). Wat ’n verligting sal dit tog nie vir die lydende mensdom bring nie!

Jehovah God se belofte is nie leeg nie. Die Bybel verseker ons: “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ’n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Numeri 23:19). Ja, wat God belowe het, sal geskied—tot seën van almal wat hulle aan sy kant skaar.

God se boodskappers van vrede

Jehovah se Getuies is welbekend vir hulle ywerige verkondiging van God se Koninkryk. Elke jaar bestee hulle gesamentlik meer as ’n miljard uur daaraan om die Bybel se hartverblydende boodskap aan ander te verkondig. Dit is ter vervulling van Jesus se woorde: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Die boodskap wat die Getuies bring, is inderdaad “goeie nuus”, want dit kondig God se hemelse Koninkryk aan as die enigste hoop vir die mensdom. En wat ’n vaste hoop vir die toekoms is dit tog nie!

God se Koninkryk bring selfs nou in sy onderdane ’n ware band van vrede en broederliefde voort. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Jehovah se Getuies streef daarna om hierdie basiese vereiste vir die ware Christelike geloof na te leef. Gevolglik het hulle ’n wonderlike broederskap wat Jode en Arabiere, Kroate en Serwiërs, Hutu’s en Tutsi’s verenig. Hierdie vrede waaroor die meeste mense maar net kan droom, is nou iets wat miljoene Getuies van Jehovah oor die hele wêreld ondervind.

Op die program vir die “Boodskappers van Goddelike Vrede”-Streekbyeenkoms is aanmoediging gegee om volgens Bybelbeginsels te bly lewe en aan te hou om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Ons nooi jou om die volgende verslag te lees oor die aangrypende driedaagse streekbyeenkoms wat deur miljoene geniet is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel