Reisende opsieners—gawes in die vorm van mense
“Toe hy na bo opgevaar het, het hy gevangenes weggevoer; hy het gawes in die vorm van mense gegee.”—EFESIËRS 4:8.
1. Watter nuwe werk is in 1894 in hierdie tydskrif aangekondig?
MEER as ’n eeu gelede het Die Wagtoring iets nuuts aangekondig. Dit is as “’n Ander vertakking van die werk” beskryf. Wat was hierdie nuwe bedrywigheid? Dit was die hedendaagse begin van die werk van reisende opsieners. Hierdie tydskrif se nommer van 1 September 1894 het verduidelik dat bekwame broers voortaan groepe Bybelstudente sou besoek ‘met die doel om hulle in die waarheid op te bou’.
2. Watter pligte het kring- en streekopsieners?
2 In die eerste eeu G.J. het opsieners soos Paulus en Barnabas die Christengemeentes besoek. Hierdie getroue manne het daarna gestreef om die gemeentes “op te bou” (2 Korintiërs 10:8). Vandag is ons geseën met duisende manne wat dit op stelselmatige wyse doen. Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het hulle as kring- en streekopsieners aangestel. ’n Kringopsiener sal ongeveer 20 gemeentes omtrent twee keer per jaar ’n week lank bedien, waartydens hy die verslae nagaan, toesprake hou en saam met plaaslike Koninkryksverkondigers aan die veldbediening deelneem. Die streekopsiener dien as voorsitter by elk van die jaarlikse kringbyeenkomste vir ’n aantal kringe; hy werk in die veldbediening met die gemeente wat as gasheer optree en hy gee aanmoediging deur middel van Bybeltoesprake.
Hulle selfopofferende gees
3. Waarom moet reisende opsieners ’n selfopofferende gees hê?
3 Reisende opsieners reis voortdurend van een plek na ’n ander. Dit op sigself vereis ’n selfopofferende gees. Om van een gemeente na ’n ander te reis, kan dikwels moeilik wees, maar hierdie manne en hulle vrouens doen dit met ’n vreugdevolle gesindheid. ’n Kringopsiener het gesê: “My vrou ondersteun my ten volle en sy kla nooit nie . . . Sy verdien baie lof vir haar selfopofferende gees.” Party kringopsieners reis meer as 1 000 kilometer tussen gemeentes. Baie gebruik motors, maar ander gaan van plek tot plek met openbare vervoer, fietse, te perd of te voet. Een kringopsiener in Afrika moet selfs met sy vrou op sy skouers deur ’n rivier loop om een van die gemeentes te bereik. Die apostel Paulus moes tydens sy sendingreise warm en koue weer, honger en dors, slapelose nagte, verskeie gevare en hewige vervolging verduur. Hy het ook “besorgdheid vir al die gemeentes” gehad—’n ondervinding eie aan hedendaagse reisende opsieners.—2 Korintiërs 11:23-29.
4. Watter uitwerking kan gesondheidsprobleme op die lewe van reisende opsieners en hulle vrouens hê?
4 Soos Paulus se metgesel Timoteus, het reisende opsieners en hulle vrouens soms gesondheidsprobleme (1 Timoteus 5:23). Dit onderwerp hulle aan groter druk. ’n Kringopsiener se vrou verduidelik: “Dit eis baie van my om altyd saam met die broers te wees as ek nie goed voel nie. Noudat die menopouse begin het, vind ek dit veral moeilik. Net om al ons besittings elke week in te pak en na ’n ander plek te gaan, is ’n ware uitdaging. Ek moet baie maal stilstaan en tot Jehovah bid om my die krag te gee om aan die gang te bly.”
5. Watter gees het reisende opsieners en hulle vrouens ondanks verskeie beproewinge geopenbaar?
5 Ondanks gesondheidsprobleme en ander beproewinge put reisende opsieners en hulle vrouens vreugde uit hulle diens en betoon hulle selfopofferende liefde. Sommige het hulle lewe gewaag om geestelike hulp tydens vervolging of in oorlogstyd te bied. Wanneer hulle gemeentes besoek, openbaar hulle ’n gees soos dié van Paulus, wat vir die Christene in Tessalonika gesê het: “Ons het teergevoelig geword in julle midde, soos wanneer ’n sogende moeder haar eie kinders koester. Omdat ons dan ’n tere geneentheid vir julle het, het ons julle met graagte nie net die goeie nuus van God meegedeel nie, maar ook ons eie siele, want julle het by ons gelief geword.”—1 Tessalonisense 2:7, 8.
6, 7. Watter positiewe invloed kan hardwerkende reisende opsieners voorsien?
6 Soos ander ouer manne in die Christengemeente werk reisende opsieners ‘hard in woord en onderrigting’. Al hierdie ouer manne moet “dubbele eer waardig geag word” (1 Timoteus 5:17). Ons kan by hulle voorbeeld baat vind as ons, nadat ons ‘die uiteinde van hulle gedrag aanskou het, hulle geloof navolg’.—Hebreërs 13:7.
7 Watter invloed het sekere reisende ouer manne op ander gehad? “Wat ’n wonderlike invloed het broer P—— tog op my lewe gehad!” het een Getuie van Jehovah geskryf. “Hy was van 1960 af ’n reisende opsiener in Mexiko. Ek het as kind gretig en met blydskap na sy besoeke uitgesien. Toe ek tien jaar oud was, het hy vir my gesê: ‘Jy gaan ook ’n kringopsiener wees.’ Gedurende die moeilike tienerjare het ek hom baie maal opgesoek omdat hy altyd wyse woorde gehad het om oor te dra. Die hoofsaak in sy lewe was om as herder toesig oor die kudde te hou! Noudat ek ’n kringopsiener is, probeer ek altyd tyd aan die jonges wy en teokratiese doelwitte aan hulle voorhou, soos hy met my gedoen het. Selfs in die laaste jare van broer P—— se lewe, het hy, ondanks probleme met hartversaking, altyd ’n bietjie aanmoediging probeer gee. Net ’n dag voor sy dood in Februarie 1995 het hy my na ’n spesiale byeenkomsdag vergesel en goeie doelwitte aan ’n broer voorgehou wat ’n argitek is. Die broer het onmiddellik aansoek gedoen om by Bethel te dien.”
Hulle word waardeer
8. Wie is die “gawes in die vorm van mense” wat in Efesiërs hoofstuk 4 beskryf word, en hoe strek hulle die gemeente tot voordeel?
8 Reisende opsieners en ander ouer manne wat deur God se onverdiende goedhartigheid met dienstoewysings begunstig is, word “gawes in die vorm van mense” genoem. As Jehovah se verteenwoordiger en Hoof van die gemeente, het Jesus hierdie geestelike manne voorsien sodat ons individueel opgebou kan word en tot rypheid kan kom (Efesiërs 4:8-15). Enige gawe verdien ’n blyk van waardering. Dit is veral waar van ’n gawe wat ons versterk om aan te hou om Jehovah te dien. Hoe kan ons dan ons waardering vir die werk van reisende opsieners toon? Op watter maniere kan ons bewys dat ons ‘aanhou om hierdie manne in eer te hou’?—Filippense 2:29.
9. Op watter maniere kan ons ons waardering vir reisende opsieners toon?
9 Wanneer die kringopsiener se besoek aangekondig word, kan ons reëlings begin tref om ’n volle aandeel aan die gemeente se bedrywighede vir daardie week te hê. Miskien kan ons ekstra tyd opsy sit om die velddiensreëlings gedurende die besoek te ondersteun. Ons kan dalk gedurende daardie maand as hulppioniers dien. Ons sal beslis die kringopsiener se wenke wil toepas sodat ons ons bediening kan verbeter. So ’n ontvanklike gees sal ons tot voordeel strek en sal hom daarvan verseker dat sy besoek van nut is. Ja, reisende opsieners besoek die gemeente om ons op te bou, maar hulle moet ook geestelik opgebou word. Daar was tye toe Paulus aanmoediging nodig gehad het, en hy het dikwels mede-Christene gevra om vir hom te bid (Handelinge 28:15; Romeine 15:30-32; 2 Korintiërs 1:11; Kolossense 4:2, 3; 1 Tessalonisense 5:25). Hedendaagse reisende opsieners het eweneens ons gebede en aanmoediging nodig.
10. Hoe kan ons help om ’n reisende opsiener se werk ’n vreugde te maak?
10 Het ons al vir die kringopsiener en sy vrou gesê hoeveel ons hulle besoeke waardeer? Bedank ons hom vir die nuttige raad wat hy ons gee? Sê ons vir hom wanneer sy velddienswenke ons vreugde in die bediening vergroot? As ons dit doen, sal dit help om sy werk ’n vreugde te maak (Hebreërs 13:17). ’n Kringopsiener in Spanje het in die besonder kommentaar gelewer oor hoeveel hy en sy vrou die dankiesêkaartjies waardeer wat hulle ná besoeke aan gemeentes ontvang het. “Ons hou hierdie kaartjies en lees dit wanneer ons bedruk voel”, sê hy. “Dit is ’n bron van ware bemoediging.”
11. Waarom moet ons vir die kring- en streekopsieners se vrouens sê dat ons vir hulle lief is en hulle waardeer?
11 Die reisende opsiener se vrou vind beslis daarby baat as ons haar prys. Sy het groot opofferings gedoen om haar man in hierdie vertakking van die diens by te staan. Hierdie getroue susters gee die natuurlike begeerte prys om hulle eie huis en, in baie gevalle, ook kinders te hê. Jefta se dogter was een van Jehovah se knegte wat gewillig afstand gedoen het van haar kanse om ’n man en ’n gesin te hê weens ’n gelofte wat haar vader gedoen het (Rigters 11:30-39). Hoe is haar opoffering beskou? Rigters 11:40 sê: “Van jaar tot jaar het die dogters van Israel gegaan om die dogter van Jefta die Gileadiet vier dae in die jaar lof toe te swaai” (NW). Hoe goed is dit tog wanneer ons ons daarop toelê om vir die kring- en streekopsieners se vrouens te sê dat ons vir hulle lief is en hulle waardeer!
“Moenie die gasvryheid vergeet nie”
12, 13. (a) Watter skriftuurlike grondslag is daar om gasvry teenoor reisende opsieners en hulle vrouens te wees? (b) Lig toe hoe sulke gasvryheid wedersyds voordelig kan wees.
12 Nog ’n manier waarop ons ons liefde en waardering vir diegene in die Christelike reisende werk kan bewys, is deur gasvryheid te betoon (Hebreërs 13:2). Die apostel Johannes het Gajus geprys vir sy gasvryheid teenoor diegene wat die gemeente as reisende sendelinge besoek het. Johannes het geskryf: “Geliefde, jy doen ’n getroue werk in wat jy ook al vir die broers doen, en dit boonop vir vreemdelinge, wat voor die gemeente van jou liefde getuig het. Help hulle asseblief weg op ’n wyse wat God waardig is. Want dit was ter wille van sy naam dat hulle uitgegaan het, sonder om enigiets van die mense van die nasies aan te neem. Ons staan dus onder verpligting om sulke mense gasvry te ontvang, sodat ons medewerkers in die waarheid kan word” (3 Johannes 5-8). Vandag kan ons die Koninkrykspredikingswerk bevorder deur soortgelyke gasvryheid aan reisende opsieners en hulle vrouens te betoon. Die plaaslike ouer manne moet natuurlik seker maak dat die huisvesting bevredigend is, maar ’n streekopsiener het gesê: “Ons betrokkenheid by die broers kan nie gegrond wees op wie iets vir ons kan doen nie. Ons wil nie eens daardie indruk skep nie. Ons moet gewillig wees om die gasvryheid van enige van ons broers, ryk of arm, te aanvaar.”
13 Gasvryheid kan wedersyds voordelig wees. “In ons gesin het ons die gewoonte gehad om reisende opsieners te nooi om by ons te bly”, vertel Jorge, ’n gewese kringopsiener wat nou by Bethel dien. “Ek dink daardie besoeke het my meer gehelp as wat ek toe besef het. Gedurende adolessensie het ek geestelike probleme gehad. My ma was bekommerd hieroor maar sy het nie geweet presies hoe om my te help nie, en daarom het sy die kringopsiener gevra om met my te praat. Ek het hom eers vermy, want ek was bang dat hy my sou kritiseer. Maar sy vriendelikheid het eindelik my vertroue gewen. Hy het my een Maandag genooi om saam met hom te kom eet, en ek het my hart uitgepraat omdat ek seker gevoel het dat hy my verstaan. Hy het aandagtig geluister. Sy praktiese wenke het werklik gewerk, en ek het geestelik vooruitgang begin maak.”
14. Waarom moet ons eerder vol waardering as krities teenoor reisende ouer manne wees?
14 ’n Reisende opsiener probeer om oud sowel as jonk geestelik te help. Ons sal dus beslis ons waardering vir sy pogings wil toon. Maar gestel ons kritiseer hom weens sy tekortkominge of maak ongunstige vergelykings tussen hom en ander wat ons gemeente besoek het? Dit sal waarskynlik baie ontmoedigend wees. Dit was nie bemoedigend vir Paulus om kritiek teen sy werk te hoor nie. Party Christene in Korinte het klaarblyklik neerhalende aanmerkings oor sy voorkoms en spraakvermoë gemaak. Hy het self die woorde van sulke kritici aangehaal: “Sy briewe is gewigtig en kragtig, maar sy persoonlike teenwoordigheid is swak en sy spraak veragtelik” (2 Korintiërs 10:10). Maar gelukkig hoor reisende opsieners gewoonlik woorde wat van liefdevolle waardering getuig.
15, 16. Hoe word reisende opsieners en hulle vrouens geraak deur die liefde en ywer wat hulle medegelowiges aan die dag lê?
15 ’n Kringopsiener in Latyns-Amerika loop ’n hele dag met moeite deur modderige voetpaaie om sy geestelike broers en susters te besoek wat in ’n guerrillabeheerde gebied woon. “Dit is hartroerend om te sien hoe die broers hulle waardering vir die besoek toon”, skryf hy. “Al verg dit groot inspanning om daar uit te kom, en het ek met baie gevare en ontberinge te kampe, word dit alles beloon deur die liefde en ywer wat die broers aan die dag lê.”
16 ’n Kringopsiener in Afrika skryf: “Weens die liefde wat die broers aan ons betoon het, is ons so lief vir die gebied van Tanzanië! Die broers was gretig om by ons te leer, en hulle was bly om ons in hulle huise te ontvang.” ’n Liefdevolle en gelukkige verhouding het tussen die apostel Paulus en die eerste-eeuse Christenegpaar Aquila en Prisca bestaan. Trouens, Paulus het van hulle gesê: “Dra my groete oor aan Prisca en Aquila, my medewerkers in Christus Jesus, wat hulle eie nek vir my siel gewaag het, aan wie nie net ek nie maar ook al die gemeentes van die nasies dank betuig” (Romeine 16:3, 4). Reisende opsieners en hulle vrouens is dankbaar om hedendaagse Aquila’s en Prisca’s as hulle vriende te hê wat moeite doen om gasvryheid te bewys en kameraadskap te voorsien.
Die gemeentes word versterk
17. Waarom kan daar gesê word dat daar wysheid in die reëling vir reisende opsieners is, en waar kry hulle hulle onderrigting?
17 Jesus het gesê: “Die wysheid [word] deur sy werke geregverdig” (Matteus 11:19). Die wysheid van die reëling van reisende opsieners blyk uit die feit dat dit help om die gemeentes van God se volk te versterk. Gedurende Paulus se tweede sendingreis het hy en Silas met sukses “deur Sirië en Silisië gegaan en die gemeentes versterk”. Die boek Handelinge deel ons mee: “Terwyl hulle deur die stede voortgereis het, het hulle aan diegene wat daar was die verordeninge waartoe die apostels en ouer manne in Jerusalem besluit het, oorgedra om te onderhou. Daarom is die gemeentes inderdaad voortdurend standvastig gemaak in die geloof en het hulle van dag tot dag in getal bly toeneem” (Handelinge 15:40, 41; 16:4, 5). Hedendaagse reisende opsieners ontvang geestelike onderrigting deur die Skrif en die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf”, soos ook met alle ander Christene die geval is.—Matteus 24:45.
18. Hoe versterk reisende opsieners die gemeentes?
18 Ja, reisende ouer manne moet voortgaan om hulle by Jehovah se geestelike tafel te voed. Hulle moet goed vertroud wees met die metodes en riglyne wat deur God se organisasie gevolg word. Dan kan sulke manne ’n ware seën vir ander wees. Deur middel van hulle goeie voorbeeld van ywer in die velddiens kan hulle medegelowiges help om in die Christelike bediening te verbeter. Die Bybeltoesprake wat hierdie besoekende ouer manne hou, bou luisteraars geestelik op. Reisende opsieners versterk die gemeentes wat hulle bevoorreg is om te besoek deur ander te help om die raad van God se Woord toe te pas, eensgesind met Jehovah se volk regoor die aarde te dien en die geestelike voorsienings wat God deur die ‘getroue slaaf’ verskaf te benut.
19. Watter vrae moet nog bespreek word?
19 Toe Jehovah se organisasie sowat honderd jaar gelede die werk van reisende ouer manne onder die Bybelstudente ingestel het, het hierdie tydskrif gesê: “Ons sal op die uitkyk wees na die resultate en na die Here se verdere leiding.” Jehovah se leiding is duidelik sigbaar. Weens sy seën en onder toesig van die Bestuursliggaam, het hierdie werk met die jare uitgebrei en is dit verfyn. Gevolglik word gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die aarde standvastig gemaak in die geloof en neem hulle van dag tot dag in getal toe. Dit is duidelik dat Jehovah die selfopofferende gees van hierdie gawes in die vorm van mense seën. Maar hoe kan reisende opsieners hulle werk met sukses doen? Wat is hulle oogmerke? Hoe kan hulle die grootste nut stig?
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat is van die pligte van kring- en streekopsieners?
◻ Waarom moet reisende opsieners ’n selfopofferende gees hê?
◻ Hoe kan waardering vir die werk van reisende ouer manne en hulle vrouens getoon word?
◻ Wat kan reisende opsieners doen om gemeentes standvastig in die geloof te maak?
[Prent op bladsy 10]
Dit vereis ’n gees van selfopoffering om voortdurend rond te reis
[Prent op bladsy 13]
Het jy al gasvryheid aan reisende opsieners en hulle vrouens betoon?