Almal moet aan God rekenskap gee
“Elkeen van ons . . . [sal] vir homself aan God rekenskap gee.”—ROMEINE 14:12.
1. Watter beperkings is op Adam en Eva se vryheid gestel?
JEHOVAH GOD het ons eerste ouers, Adam en Eva, met wilsvryheid geskep. Hoewel hulle laer as die engele was, was hulle intelligente skepsele wat die vermoë gehad het om wyse besluite te neem (Psalm 8:5, 6). Maar daardie godgegewe vryheid het hulle nie die reg op selfbeskikking gegee nie. Hulle was aanspreeklik teenoor hulle Skepper, en hierdie aanspreeklikheid geld vir al hulle nakomelinge.
2. Watter afrekening gaan Jehovah binnekort hou, en waarom?
2 Noudat ons die klimaks van hierdie goddelose stelsel van dinge nader, gaan Jehovah ’n afrekening op die aarde hou. (Vergelyk Romeine 9:28.) Binnekort sal goddelose mense aan Jehovah God rekenskap moet gee vir die vernietiging van die aarde se hulpbronne, die uitwissing van menselewe en veral vir die vervolging van sy knegte.—Openbaring 6:10; 11:18.
3. Watter vrae gaan ons bespreek?
3 Aangesien ons weet dat hierdie dinge gaan gebeur, sal dit goed wees as ons nadink oor Jehovah se regverdige handelinge met sy skepsele in die verlede. Hoe kan die Skrif elkeen van ons help om rekenskap te gee wat vir ons Skepper aanvaarbaar is? Watter voorbeelde kan nuttig wees, en watter voorbeelde moet ons nie navolg nie?
Engele is aanspreeklik
4. Hoe weet ons dat God engele aanspreeklik hou vir hulle dade?
4 Jehovah se engele in die hemel is net so aanspreeklik teenoor hom as wat ons is. Voor die Vloed van Noag se dag was sommige engele ongehoorsaam en het hulle menseliggame aangeneem sodat hulle geslagsgemeenskap met vroue kon hê. Omdat hulle wilsvryheid gehad het, kon hierdie geesskepsele hierdie besluit neem, maar God het hulle daarvoor aanspreeklik gehou. Toe die ongehoorsame engele na die geesteryk teruggekeer het, het Jehovah hulle nie toegelaat om weer hulle oorspronklike posisie in te neem nie. Die dissipel Judas deel ons mee dat hulle “met ewige boeie onder dik duisternis vir die oordeel van die groot dag bewaar” is.—Judas 6.
5. Watter val het Satan en sy demone ondervind, en hoe sal die prys vir opstandigheid betaal word?
5 Hierdie ongehoorsame engele, of demone, het Satan die Duiwel as hulle heerser (Matteus 12:24-26). Dié goddelose engel het teen sy Skepper in opstand gekom en die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit betwis. Satan het ons eerste ouers in sonde laat verval, en dit het tot hulle uiteindelike dood gelei (Genesis 3:1-7, 17-19). Hoewel Jehovah Satan daarna ’n tyd lank toegang tot die hemelhowe verleen het, het die Bybelboek Openbaring voorspel dat hierdie goddelose geesskepsel op God se bestemde tyd na die omgewing van die aarde neergewerp sou word. Die getuienis dui daarop dat dit plaasgevind het kort nadat Jesus Christus in 1914 Koninkryksmag ontvang het. Die Duiwel en sy demone sal uiteindelik vir ewig vernietig word. Wanneer die geskil oor soewereiniteit finaal besleg is, sal die prys vir opstandigheid heeltemal betaal wees.—Job 1:6-12; 2:1-7; Openbaring 12:7-9; 20:10.
God se Seun is aanspreeklik
6. Hoe beskou Jesus sy eie aanspreeklikheid teenoor sy Vader?
6 Wat ’n voortreflike voorbeeld het God se Seun, Jesus Christus, tog nie gestel nie! As ’n volmaakte man wat Adam se gelyke was, was Jesus verheug om God se wil te doen. Hy was ook bly om aanspreeklik gehou te word vir gehoorsaamheid aan Jehovah se wet. Aangaande hom het die psalmis gepas geprofeteer: “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande.”—Psalm 40:9; Hebreërs 10:6-9.
7. Waarom kon Jesus, toe hy op die vooraand van sy dood gebid het, die woorde sê wat in Johannes 17:4, 5 opgeteken staan?
7 Ondanks die kwaadwillige teenstand wat Jesus verduur het, het hy God se wil gedoen en sy onkreukbaarheid tot die dood aan ’n folterpaal gehandhaaf. Hy het sodoende die losprys betaal om die mensdom van die dodelike gevolge van Adam se sonde los te koop (Matteus 20:28). Gevolglik kon Jesus op die vooraand van sy dood met vertroue bid: “Ek het u op die aarde verheerlik, aangesien ek die werk volbring het wat u my gegee het om te doen. En nou, Vader, verheerlik my naas uself met die heerlikheid wat ek naas u gehad het voordat die wêreld was” (Johannes 17:4, 5). Jesus kon hierdie woorde vir sy hemelse Vader sê omdat hy besig was om die toets van aanspreeklikheid suksesvol te deurstaan en aanneemlik vir God was.
8. (a) Hoe het Paulus getoon dat ons vir onsself aan Jehovah God rekenskap moet gee? (b) Wat sal ons help om vir God aanvaarbaar te wees?
8 In teenstelling met die volmaakte man Jesus Christus is ons onvolmaak. Tog is ons teenoor God aanspreeklik. Die apostel Paulus het gesê: “Waarom oordeel jy jou broer? Of waarom sien jy ook neer op jou broer? Want ons sal almal voor die regterstoel van God staan; want daar staan geskrywe: ‘“So waar as ek lewe”, sê Jehovah, “voor my sal elke knie buig, en elke tong sal God openlik erken.”’ So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Romeine 14:10-12). Om ons in staat te stel om dit te doen en vir Jehovah aanvaarbaar te wees, het hy ons liefdevol ’n gewete sowel as sy geïnspireerde Woord, die Bybel, gegee om ons te rig in wat ons sê en doen (Romeine 2:14, 15; 2 Timoteus 3:16, 17). As ons ten volle gebruik maak van Jehovah se geestelike voorsienings en ons Bybelopgeleide gewete volg, sal dit ons help om vir God aanvaarbaar te wees (Matteus 24:45-47). Jehovah se heilige gees, oftewel werkende krag, is ’n bykomende bron van krag en leiding. As ons in ooreenstemming met die gees se leiding en ons Bybelopgeleide gewete optree, toon ons dat ons God, aan wie ons rekenskap moet gee van al ons dade, nie “verontagsaam” nie.—1 Tessalonisense 4:3-8; 1 Petrus 3:16, 21.
Aanspreeklik as nasies
9. Wie was die Edomiete, en wat het met hulle gebeur as gevolg van die manier waarop hulle Israel behandel het?
9 Jehovah hou nasies aanspreeklik (Jeremia 25:12-14; Sefanja 3:6, 7). Neem byvoorbeeld die eertydse koninkryk van Edom wat suid van die Dooie See en noord van die Golf van Akaba geleë was. Die Edomiete was ’n Semitiese volk wat nou verwant was aan die Israeliete. Hoewel Abraham se kleinseun Esau die Edomiete se voorvader was, is die Israeliete nie toegelaat om op “die koningsweg” deur Edom te reis terwyl hulle na die Beloofde Land op pad was nie (Numeri 20:14-21). Deur die eeue heen het Edom se vyandigheid in ’n onverbiddelike haat vir Israel ontwikkel. Uiteindelik moes die Edomiete verantwoording doen omdat hulle die Babiloniërs aangespoor het om Jerusalem in 607 v.G.J. te vernietig (Psalm 137:7). In die sesde eeu v.G.J. het Babiloniese troepe onder koning Nabonidus Edom verower, en dit het verlate geword, soos Jehovah verorden het.—Jeremia 49:20; Obadja 9-11.
10. Hoe het die Moabiete teenoor die Israeliete opgetree, en hoe het God rekenskap van Moab geëis?
10 Moab het geensins beter gevaar nie. Die Moabitiese koninkryk was noord van Edom en oos van die Dooie See geleë. Voordat die Israeliete in die Beloofde Land ingegaan het, het die Moabiete nie gasvryheid teenoor hulle betoon nie en het hulle hulle blykbaar slegs vir finansiële gewin brood en water gegee (Deuteronomium 23:3, 4). Moab se koning Balak het die profeet Bileam gehuur om Israel te vervloek, en Moabitiese vroue is gebruik om Israelitiese mans te verlei sodat hulle hulle aan onsedelikheid en afgodediens skuldig gemaak het (Numeri 22:2-8; 25:1-9). Maar Jehovah het nie Moab se haat vir Israel deur die vingers gesien nie. Soos voorspel is, is Moab deur die Babiloniërs uitgewis (Jeremia 9:25, 26; Sefanja 2:8-11). Ja, God het rekenskap van Moab geëis.
11. Soos watter stede het Moab en Ammon geword, en wat dui Bybelprofesieë aangaande die huidige goddelose stelsel van dinge aan?
11 Nie net Moab nie, maar ook Ammon moes aan God rekenskap gee. Jehovah het voorspel: “Moab sal word soos Sodom en die kinders van Ammon soos Gomorra—’n veld van brandnekels en soutpanne en ’n verwoesting vir ewig” (Sefanja 2:9). Die lande Moab en Ammon is verwoes, net soos God die stede Sodom en Gomorra vernietig het. Volgens die Geologiese Vereniging van Londen beweer navorsers dat hulle die liggings van die verwoeste Sodom en Gomorra aan die ooskus van die Dooie See gevind het. Enige betroubare getuienis wat dalk nog in hierdie verband aan die lig kom, kan net Bybelprofesieë ondersteun wat aandui dat die huidige goddelose stelsel van dinge ook deur Jehovah God aanspreeklik gehou sal word.—2 Petrus 3:6-12.
12. Wat is in verband met ’n Joodse oorblyfsel voorspel, hoewel Israel aan God rekenskap moes gee vir hulle sondes?
12 Hoewel Jehovah groot guns aan Israel betoon het, moes hulle aan God rekenskap gee vir hulle sondes. Toe Jesus Christus na die nasie Israel gekom het, het die meeste hom verwerp. Slegs ’n oorblyfsel het geloof in hom beoefen en sy volgelinge geword. Paulus het sekere profesieë op hierdie Joodse oorblyfsel toegepas toe hy geskryf het: “Jesaja [roep] aangaande Israel uit: ‘Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, is dit die oorblyfsel wat gered sal word. Want Jehovah sal op die aarde ’n afrekening hou, wat hy tot ’n einde sal bring en sal verkort.’ Ook net soos Jesaja tevore gesê het: ‘As Jehovah van die leërs nie vir ons ’n saad gelaat het nie, sou ons net soos Sodom geword het en sou ons net soos Gomorra gemaak gewees het’” (Romeine 9:27-29; Jesaja 1:9; 10:22, 23). Die apostel het die voorbeeld van die 7 000 persone in Elia se tyd aangehaal wat nie voor Baäl neergebuig het nie, en toe het hy gesê: “So het daar dan ook in die teenswoordige tyd ’n oorblyfsel verskyn ooreenkomstig ’n verkiesing weens onverdiende goedhartigheid” (Romeine 11:5). Daardie oorblyfsel het uit persone bestaan wat persoonlik teenoor God aanspreeklik was.
Voorbeelde van persoonlike aanspreeklikheid
13. Wat het met Kain gebeur toe God rekenskap van hom geëis het omdat hy sy broer Abel vermoor het?
13 Die Bybel noem baie gevalle van persoonlike aanspreeklikheid teenoor Jehovah God. Dink byvoorbeeld aan Adam se eersgebore seun Kain. Hy en sy broer Abel het offerandes vir Jehovah gebring. Abel se offerande was aanneemlik vir God, maar nie Kain s’n nie. Toe Kain rekenskap moes gee omdat hy sy broer wreed vermoor het, het hy op hardvogtige wyse vir God gesê: “Is ek my broer se wagter?” Vir sy sonde is Kain na “die land Nod, aan die oostekant van Eden”, verban. Hy het geen opregte berou vir sy misdaad getoon nie en het net oor sy verdiende straf spyt gehad.—Genesis 4:3-16.
14. Hoe is persoonlike aanspreeklikheid teenoor God in die geval van die hoëpriester Eli en sy seuns toegelig?
14 Ons persoonlike aanspreeklikheid teenoor God word ook in die geval van Israel se hoëpriester Eli toegelig. Sy seuns, Hofni en Pinehas, het as priesters gedien, maar “was skuldig aan ongeregtighede teenoor mense en aan oneerbiedigheid teenoor God en het hulle nie van enige soort goddeloosheid weerhou nie”, sê die geskiedskrywer Josefus. Hierdie “deugniete” het Jehovah nie erken nie en hulle aan godonterende gedrag asook growwe onsedelikheid skuldig gemaak (1 Samuel 1:3; 2:12-17, 22-25). As hulle vader en Israel se hoëpriester was dit Eli se plig om hulle te dissiplineer, maar hy het hulle bloot ligtelik berispe. Eli het aangehou om ‘sy seuns meer te eer as vir Jehovah’ (1 Samuel 2:29). Vergelding het oor die huis van Eli gekom. Al twee seuns het op dieselfde dag as hulle vader gesterf, en hulle priesterlike lyn is uiteindelik heeltemal afgesny. Sodoende is rekenskap gegee.—1 Samuel 3:13, 14; 4:11, 17, 18.
15. Waarom is koning Saul se seun Jonatan beloon?
15 Koning Saul se seun Jonatan het ’n heel ander voorbeeld gestel. Kort nadat Dawid Goliat doodgemaak het, “het die siel van Jonatan verkleef geraak aan die siel van Dawid”, en hulle het ’n vriendskapsverbond gesluit (1 Samuel 18:1, 3). Jonatan het waarskynlik agtergekom dat God se gees Saul verlaat het, maar sy eie ywer vir ware aanbidding het nie verflou nie (1 Samuel 16:14). Jonatan se waardering vir Dawid se godgegewe gesag het nooit afgeneem nie. Jonatan het besef dat hy teenoor God aanspreeklik is, en Jehovah het hom vir sy eervolle lewensweg beloon deur te verseker dat sy nageslag vir geslagte daarna voortbestaan het.—1 Kronieke 8:33-40.
Aanspreeklikheid in die Christengemeente
16. Wie was Titus, en waarom kan daar gesê word dat hy goeie rekenskap van homself aan God gegee het?
16 Die Christelike Griekse Geskrifte praat met lof van baie mans en vrouens wat goeie rekenskap van hulleself gegee het. Daar was byvoorbeeld die Griekse Christen met die naam Titus. Party is van mening dat hy tydens Paulus se eerste sendingreis na Siprus ’n Christen geword het. Aangesien daar dalk Jode en proseliete van Siprus af tydens die Pinksterfees van 33 G.J. in Jerusalem was, is dit moontlik dat die Christelike godsdiens die eiland kort daarna bereik het (Handelinge 11:19). Titus was nietemin een van Paulus se getroue medewerkers. Hy het Paulus en Barnabas in ongeveer 49 G.J. op die reis na Jerusalem vergesel, toe die belangrike geskil oor die besnydenis opgelos is. Die feit dat Titus onbesnede was, het krag aan Paulus se argument verleen dat bekeerlinge tot die Christelike godsdiens nie onder die Mosaïese Wet moes wees nie (Galasiërs 2:1-3). Die Skrif getuig van Titus se voortreflike bediening, en Paulus het selfs ’n Goddelik geïnspireerde brief aan hom gerig (2 Korintiërs 7:6; Titus 1:1-4). Titus het klaarblyklik tot reg aan die einde van sy aardse loopbaan voortgegaan om goeie rekenskap van homself aan God te gee.
17. Hoe het Timoteus rekenskap van homself gegee, en hoe kan hierdie voorbeeld ons beïnvloed?
17 Timoteus was nog ’n ywerige persoon wat aanvaarbare rekenskap van homself aan Jehovah God gegee het. Hoewel Timoteus gesondheidsprobleme gehad het, het hy ‘geloof sonder enige huigelary’ geopenbaar en ‘soos ’n slaaf saam met Paulus gedien ter bevordering van die goeie nuus’. Die apostel kon derhalwe vir mede-Christene in Filippi sê: “Ek het niemand anders met ’n gesindheid soos [dié van Timoteus] wat opreg na die dinge in verband met julle sal omsien nie” (2 Timoteus 1:5; Filippense 2:20, 22; 1 Timoteus 5:23). Ons kan ook ten spyte van menslike beperkings en ander beproewings ongeveinsde geloof hê en aanvaarbare rekenskap van onsself aan God gee.
18. Wie was Lidia, en watter gees het sy aan die dag gelê?
18 Lidia was ’n godvrugtige vrou wat klaarblyklik goeie rekenskap van haarself aan God gegee het. Sy en haar huisgesin was van die eerste persone in Europa wat as gevolg van Paulus se bedrywighede in ongeveer 50 G.J. in Filippi die Christelike godsdiens aangeneem het. Lidia was ’n boorling van Tiatira en waarskynlik ’n Joodse proseliet, maar daar was moontlik min Jode en geen sinagoge in Filippi nie. Sy en ander godvrugtige vroue het by ’n rivier bymekaargekom toe Paulus met hulle gepraat het. As gevolg hiervan het Lidia ’n Christen geword en Paulus en sy metgeselle oorgehaal om by haar tuis te gaan (Handelinge 16:12-15). Die gasvryheid wat Lidia betoon het, is nog steeds ’n kenmerk van ware Christene.
19. Deur middel van watter goeie dade het Dorkas goeie rekenskap van haarself aan God gegee?
19 Dorkas was nog ’n vrou wat goeie rekenskap van haarself aan Jehovah God gegee het. Toe sy gesterf het, het Petrus Joppe toe gegaan op versoek van die dissipels wat daar gewoon het. Die twee manne wat Petrus ontmoet het, het “hom boontoe gelei, na die bovertrek; en al die weduwees het by hom kom staan, terwyl hulle gehuil en baie onder- en boklere gewys het wat Dorkas gemaak het toe sy nog by hulle was”. Dorkas is opgewek. Maar moet sy slegs vir haar groothartigheid onthou word? Nee. Sy was ’n “dissipelin” en het ongetwyfeld self aan die dissipelmaakwerk deelgeneem. Christenvroue van vandag is eweneens “oorvloedig in goeie dade en barmhartigheidsgawes”. Hulle neem ook met graagte deel aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk en aan die dissipelmaakwerk.—Handelinge 9:36-42; Matteus 24:14; 28:19, 20.
20. Watter vrae kan ons ons afvra?
20 Die Bybel toon duidelik dat nasies en individue aan die Soewereine Heer Jehovah rekenskap moet gee (Sefanja 1:7). As ons aan God toegewy is, kan ons ons dus afvra: ‘Hoe beskou ek my godgegewe voorregte en verantwoordelikhede? Watter soort rekenskap gee ek van myself aan Jehovah God en Jesus Christus?’
Wat is jou antwoorde?
◻ Hoe sou jy bewys dat engele en God se Seun teenoor Jehovah aanspreeklik is?
◻ Watter Bybelse voorbeelde is daar om te toon dat God nasies aanspreeklik hou?
◻ Wat sê die Bybel oor persoonlike aanspreeklikheid teenoor God?
◻ Wie was sommige van die individue in die Bybelverslag wat goeie rekenskap aan Jehovah God gegee het?
[Prent op bladsy 10]
Jesus Christus het goeie rekenskap van homself aan sy hemelse Vader gegee
[Prent op bladsy 15]
Soos Dorkas, gee Christenvroue van vandag goeie rekenskap van hulleself aan Jehovah God
[Foto-erkenning op bladsy 13]
Abel se dood/The Doré Bible Illustrations/Dover Publications, Inc.