Vrae van lesers
Die verslae vir sommige jare toon dat die aantal gebruikers van die Gedenkmaalembleme effens toegeneem het. Beteken dit dat daar baie nuwes is wat met heilige gees gesalf word?
Daar bestaan goeie rede om te glo dat die 144 000 gesalfde Christene dekades gelede voltallig was.
In Handelinge 2:1-4 lees ons aangaande die eerstes in daardie beperkte groep: “En in die loop van die dag van die Pinksterfees was hulle almal op dieselfde plek bymekaar, en skielik het daar ’n gedruis uit die hemel gekom soos dié van ’n voortstuwende, stywe bries, en dit het die hele huis gevul waarin hulle gesit het. En tonge soos van vuur het vir hulle sigbaar geword en is verdeel, en een het op elkeen van hulle gaan sit, en hulle is almal met heilige gees vervul en het in ander tale begin praat, net soos die gees aan hulle gegee het om te spreek.”
Jehovah het daarna ander gekies, en hy het hulle met sy heilige gees gesalf. Duisende is gedurende die beginjare van die Christelike godsdiens bygevoeg. Wanneer ons die Gedenkmaal vandag vier, vestig die spreker dikwels die aandag op die apostel Paulus se woorde in Romeine 8:15-17, wat sê dat die gesalfdes “’n gees van aanneming as seuns ontvang”. Paulus het bygevoeg dat die heilige gees wat hulle ontvang ‘met hulle gees getuig dat hulle God se kinders is, mede-erfgename met Christus’. Diegene wat werklik met die gees gesalf is, weet dit met sekerheid. Dit is nie ’n blote wens of ’n weerspieëling van ’n emosionele en onrealistiese beskouing van hulleself nie.
Ons verstaan dat hierdie hemelse roeping deur die eeue heen voortgeduur het, al was die aantal gesalfdes gedurende die so genoemde duister Middeleeue dalk by tye baie klein.a Met die herstelling van die ware Christelike godsdiens naby die einde van die vorige eeu is meer geroep en gekies. Maar dit wil voorkom asof die 144 000 in die middel-dertigerjare basies voltallig was. Gevolglik het ’n groep lojale Christene met die aardse hoop na vore begin kom. Jesus het hulle “ander skape” genoem wat saam met die gesalfdes as een goedgekeurde kudde aanbid.—Johannes 10:14-16.
Deur die dekades heen het die feite getoon dat die roeping van die gesalfdes tot ’n einde gekom het en dat Jehovah die toenemende “groot skare” seën wat hoop om “die groot verdrukking” te oorleef (Openbaring 7:9, 14). Byvoorbeeld, by die Gedenkmaalviering in 1935, wat deur 63 146 bygewoon is, het 52 465 die embleme gebruik as bewys dat hulle bely dat hulle gesalfdes is. Dertig jaar later, in 1965, was die bywoning 1 933 089, terwyl die gebruikers tot 11 550 verminder het. Nog 30 jaar later, in 1995, het die bywoning tot 13 147 201 opgeskiet, maar net 8 645 het die brood en die wyn gebruik (1 Korintiërs 11:23-26). Dit is dus duidelik dat die aantal wat bely dat hulle ’n deel van die oorblyfsel is oor die dekades grootliks verminder het—sowat 52 400 in 1935; 11-500 in 1965 en 8 600 in 1995. Maar diegene met die aardse hoop is geseën en hulle getal het geweldig toegeneem.
Die jongste gepubliseerde verslag is vir die jaar 1995, en dit toon dat daar 28 meer gebruikers as in die vorige jaar was, hoewel die verhouding van gebruikers tot bywoners eintlik kleiner geword het. Alles in aanmerking geneem, die feit dat daar ’n paar persone meer is wat van die embleme gebruik het, is nie ’n rede tot kommer nie. Oor die jare het party, selfs pasgedooptes, skielik die embleme begin gebruik. In verskeie gevalle het hulle ná ’n ruk erken dat dit ’n fout was. Party het ingesien dat hulle dit as ’n emosionele reaksie op moontlik fisiese of geestespanning gebruik het. Maar hulle het mettertyd besef dat hulle in werklikheid nie tot hemelse lewe geroep is nie. Hulle het God om sy barmhartige begrip gevra. En hulle hou aan om hom as goeie, lojale Christene te dien wat die hoop op ewige lewe op aarde het.
Dit is nie vir enigeen van ons nodig om ons daaroor te kwel as iemand die embleme begin gebruik of ophou om dit te doen nie. Dit is beslis nie ons besluit of iemand werklik met heilige gees gesalf is en ’n roeping tot hemelse lewe het of nie. Dink terug aan Jesus se vaste versekering: “Ek is die voortreflike herder, en ek ken my skape.” Net so seker ken Jehovah dié wat hy as geestelike seuns gekies het. Daar is goeie rede om te glo dat die aantal gesalfdes steeds minder sal word namate ouderdom en onvoorsiene gebeurtenisse hulle aardse lewe beëindig. Maar namate hierdie ware gesalfdes hulle tot die dood getrou bewys en in aanmerking kom vir die kroon van die lewe, kan die ander skape, wat hulle gewade in die bloed van die Lam gewas het, daarna uitsien om die naderende groot verdrukking te oorleef.—2 Timoteus 4:6-8; Openbaring 2:10.
[Voetnoot]
a Sien The Watchtower van 15 Maart 1965, bladsye 191-2.