Spesialiste oorweeg alternatiewe vir bloed
ONGEVEER 200 spesialiste uit alle dele van die Verenigde State het op Saterdag, 7 Oktober 1995, in Cleveland, Ohio, byeengekom om ’n onderwerp te bespreek wat vir die mediese gemeenskap van toenemende belang is: bloedlose geneeskunde en chirurgie.
Verskeie probleemsituasies is bespreek. Gestel byvoorbeeld ’n pasiënt ly aan akute bloedarmoede; wat maak ’n mens dan? Hoe kan ’n baba wat baie vroeggebore is sonder bloed behandel word? Kan hartchirurgie suksesvol sonder oortappings gedoen word? Dit is interessant dat bloedlose chirurgie—wat dikwels van tegnieke gebruik maak wat die liggaam help om sy eie bloedvoorraad op te bou—reeds met groot welslae in al hierdie situasies toegepas is.a
Waarom is daar ’n behoefte aan alternatiewe vir bloedoortappings? “Ons het geleer dat bloedoortappings dikwels siektes oordra, veral hepatitis”, sê Sharon Vernon, direktrise van die Sentrum vir Bloedlose Geneeskunde en Chirurgie aan die Sint Vincent-liefdadigheidshospitaal in Cleveland. Sy sê verder: “Selfs wanneer bloed nie ’n infeksie oordra nie, kan dit die pasiënt se immuunreaksie onderdruk.” Hoewel bloedontleding die oordrag van vigs verminder het, is daar steeds baie siektes wat nie deur sulke toetse opgespoor word nie. En hoewel bloedlose chirurgie meer voorbereiding verg, is dit vir hospitale lonend omdat dit die regsprobleme uitskakel wat kan volg wanneer pasiënte besmette bloed ontvang.
Vir Jehovah se Getuies is daar ’n belangriker rede waarom hulle nie bloed inneem nie: God se wet verbied dit (Handelinge 15:29). Hulle wil nietemin die beste mediese behandeling moontlik ontvang. Daarom werk hulle met dokters saam wat aan die spits staan van navorsing op die gebied van bloedlose mediese behandeling. Nie alleen vind Jehovah se Getuies hierby baat nie, maar ook baie ander wat oor die gevare van bloedoortappings besorg is.
[Voetnoot]
[Foto-erkenning op bladsy 32]
WHO photo by P. Almasy