Die oorwinning van ware aanbidding is op hande
“Die HERE sal Koning wees oor die hele aarde.”—SAGARIA 14:9.
1. Wat het gedurende die Eerste Wêreldoorlog met gesalfde Christene gebeur, en hoe is dit voorspel?
GEDURENDE die Eerste Wêreldoorlog het gesalfde Christene deur die toedoen van die strydende nasies baie teenspoed en dikwels gevangenskap verduur. Hulle lofofferandes aan Jehovah is kwaai beperk, en hulle het in ’n geestelik gevange toestand verval. Al hierdie dinge is in Sagaria 14:2 voorspel, wat ’n internasionale aanval op Jerusalem beskryf. Die stad van hierdie profesie is “hemelse Jerusalem”, God se hemelse Koninkryk en die plek waar “die troon van God en van die Lam” geleë is (Hebreërs 12:22, 28; 13:14; Openbaring 22:3). God se gesalfde knegte op aarde het daardie stad verteenwoordig. Die getroues onder hulle het die aanval oorleef en het geweier om toe te laat dat hulle “uit die stad” verban word.a
2, 3. (a) Hoe het die aanbidding van Jehovah sedert 1919 die oorwinning behaal? (b) Wat het sedert 1935 plaasgevind?
2 In 1919 is getroue gesalfdes uit hulle gevange toestand bevry, en hulle het onmiddellik van die tydperk van vrede ná die oorlog gebruik gemaak. As ambassadeurs van hemelse Jerusalem het hulle die wonderlike geleentheid aangegryp om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en om met die insameling van die laaste lede van die 144 000 te help (Matteus 24:14; 2 Korintiërs 5:20). In 1931 het hulle die gepaste skriftuurlike naam Jehovah se Getuies aangeneem.—Jesaja 43:10, 12.
3 Sedertdien het God se gesalfde Getuies onverpoos voortgegaan. Nie eers Hitler met sy Nazi-oorlogsmasjien kon hulle die swye oplê nie. Ten spyte van wêreldwye vervolging het hulle werk regoor die aarde vrug gedra. Veral sedert 1935 het die internasionale “groot skare”, wat in die boek Openbaring voorspel is, by hulle aangesluit. Hulle is ook toegewyde, gedoopte Christene en het “hulle lang gewade gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam”, Jesus Christus (Openbaring 7:9, 14). Hulle is egter nie gesalfdes met die hoop op hemelse lewe nie. Hulle hoop is om dít te beërf wat Adam en Eva verloor het, naamlik volmaakte menselewe op ’n paradysaarde (Psalm 37:29; Matteus 25:34). Die groot skare bestaan vandag uit meer as vyfmiljoen siele. Die ware aanbidding van Jehovah behaal nou die oorwinning, maar sy finale oorwinning lê nog voor.
Uitlanders in God se geestelike tempel
4, 5. (a) Waar aanbid die groot skare Jehovah? (b) Watter voorregte geniet hulle, en ter vervulling van watter profesie?
4 Die groot skare ‘aanbid God dag en nag in sy tempel’ soos voorspel is (Openbaring 7:15, voetnoot in naslaanuitgawe). Aangesien hulle nie geestelike, priesterlike Israeliete is nie, het Johannes hulle waarskynlik in die tempel in die buitenste voorhof van die heidene sien staan (1 Petrus 2:5). Hoe glorieryk het Jehovah se geestelike tempel tog geword, met sy voorhowe gevul met hierdie groot skare wat hom, saam met die oorblyfsel van geestelike Israel, loof!
5 Die groot skare dien God nie in die toestand wat deur die binneste priesterlike voorhof afgebeeld word nie. Hulle word nie regverdig verklaar met die doel om God se aangenome, geestelike seuns te wees nie (Romeine 8:1, 15). Hulle het nietemin ’n rein posisie voor Jehovah omdat hulle geloof in Jesus se losprys beoefen. Hulle word regverdig verklaar met die doel om sy vriende te wees. (Vergelyk Jakobus 2:21, 23.) Hulle geniet ook die voorreg om aanvaarbare offerandes op God se geestelike altaar te offer. Die profesie in Jesaja 56:6, 7 word dus op glorieryke wyse met betrekking tot hierdie groot skare vervul: “Die uitlanders wat hulle by die HERE aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die HERE lief te hê . . . , hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke.”
6. (a) Watter soort offerandes bring die uitlanders? (b) Waaraan herinner die houer met water in die priesterlike voorhof hulle?
6 Van die offerandes wat hierdie uitlanders bring, is “die vrug van die lippe [soos fyngemaalde graanoffers] wat [God se] naam in die openbaar bekend maak” en “om goed te doen en mededeelsaam te wees” (Hebreërs 13:15, 16). Die groot houer met water wat die priesters moes gebruik om hulleself te was, is ook vir hierdie uitlanders ’n belangrike herinnering. Hulle moet hulle ook aan geestelike en sedelike reiniging onderwerp namate God se Woord al hoe duideliker aan hulle gemaak word.
Die Heilige en sy toebehore
7. (a) Hoe beskou die groot skare die voorregte wat die heilige priesterdom geniet? (b) Watter bykomende voorregte het sommige uitlanders ontvang?
7 Het die Heilige en sy toebehore enige betekenis vir hierdie groot skare uitlanders? Wel, hulle sal nooit in die toestand verkeer wat deur die Heilige afgebeeld word nie. Hulle word nie weer gebore as geestelike seuns van God met hemelse burgerskap nie. Maak dit hulle jaloers of afgunstig? Nee. Hulle verheug hulle eerder in hulle voorreg om die oorblyfsel van die 144 000 te ondersteun, en hulle toon diepe waardering vir God se voorneme met hierdie aangenome geestelike seuns, wat saam met Christus die mensdom tot volmaaktheid sal verhef. Die groot skare uitlanders stel ook God se groot onverdiende goedhartigheid hoog op prys omdat hy hulle ’n aardse hoop van ewige lewe in die Paradys gegee het. Sommige van hierdie uitlanders, soos die Netinim van die ou tyd, is diensvoorregte gegee om die heilige priesterdom by te staan (Jesaja 61:5).b Uit hulle midde stel Jesus “vorste in die hele land” aan.—Psalm 45:17.
8, 9. Hoe strek dit die groot skare tot voordeel om die toebehore van die Heilige te ondersoek?
8 Hoewel die groot skare uitlanders nooit die antitipiese Heilige sal binnegaan nie, leer hulle waardevolle lesse uit sy toebehore. Net soos die kandelaar ’n voortdurende voorraad olie nodig gehad het, so het die uitlanders heilige gees nodig om hulle te help om progressiewe waarhede uit God se Woord te begryp wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word (Matteus 24:45-47). Daarbenewens help God se gees hulle om op hierdie uitnodiging te reageer: “Die gees en die bruid [die gesalfde oorblyfsel] hou aan om te sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat hoor, sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17). Die kandelaar herinner die groot skare dus aan hulle verpligting om as Christene te skyn en om enigiets in hulle gesindheid, denke, spraak of dade te vermy wat God se heilige gees sal bedroef.—Efesiërs 4:30.
9 Die tafel van toonbrode herinner die groot skare daaraan dat hulle gereeld geestelike voedsel uit die Bybel en uit publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” moet inneem om geestelik gesond te bly (Matteus 4:4). Die reukaltaar herinner hulle aan die belangrikheid daarvan om ernstig tot Jehovah om hulp te bid sodat hulle hulle onkreukbaarheid kan handhaaf (Lukas 21:36). Hulle gebede moet opregte betuigings van lof en danksegging insluit (Psalm 106:1). Die reukaltaar herinner hulle ook daaraan dat hulle God op ander maniere moet loof, soos om by Christelike vergaderinge Koninkryksliedere heelhartig te sing en om goed voor te berei om doeltreffende “openbare bekendmaking tot redding” te doen.—Romeine 10:10.
Die algehele oorwinning van ware aanbidding
10. (a) Na watter grootse gebeurtenis kan ons uitsien? (b) Wat moet eers plaasvind?
10 “Baie volke” uit alle nasies stroom vandag na Jehovah se huis van aanbidding (Jesaja 2:2, 3). Ter bevestiging hiervan sê Openbaring 15:4: “Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en u naam nie verheerlik nie, omdat u alleen lojaal is? Want al die nasies sal kom en voor u aanbid, omdat u regverdige verordeninge openbaar gemaak is.” Sagaria hoofstuk 14 beskryf wat daarop volg. In die nabye toekoms sal die slegte gesindheid van die meeste mense op aarde ’n hoogtepunt bereik wanneer hulle vir die laaste keer saamspan om oorlog te voer teen Jerusalem—die aardse verteenwoordigers van hemelse Jerusalem. Dan sal Jehovah optree. As ’n Stryder-God sal hy “uittrek en stryd voer teen dié nasies” wat durf om tot hierdie aanval oor te gaan.—Sagaria 14:2, 3.
11, 12. (a) Hoe sal Jehovah reageer op die komende wêreldwye aanval op aanbidders in sy tempel? (b) Wat sal die uitslag van God se oorlog wees?
11 “Dit sal die plaag wees waarmee die HERE al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ’n groot verwarring van die HERE onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander.”—Sagaria 14:12, 13.
12 Ons sal moet sien of hierdie plaag letterlik of figuurlik is. Maar een ding is seker. Terwyl God se vyande hulle gereedmaak om hulle wêreldwye aanval op Jehovah se knegte te doen, sal hulle deur ontsagwekkende vertonings van God se almagtige krag gestuit word. Hulle monde sal gesnoer word. Dit sal wees asof hulle uittartende tonge weggeteer het. Hulle verenigde doel sal vervaag asof hulle oë weggeteer het. Hulle fisiese krag, wat hulle die moed gegee het om tot die aanval oor te gaan, sal wegteer. Dit sal ’n groot slagting tot gevolg hê wanneer hulle mekaar in hulle verwarring aanval. Al die aardse vyande van God se aanbidding sal dus uitgewis wees. Alle nasies sal uiteindelik Jehovah se universele soewereiniteit moet erken. Die profesie sal vervul wees: “Die HERE sal Koning wees oor die hele aarde” (Sagaria 14:9). Daarna sal Satan en sy demone gebind word wanneer die Duisendjarige Heerskappy van Christus begin met wonderlike seëninge in die vooruitsig vir die mensdom.—Openbaring 20:1, 2; 21:3, 4.
Die aardse opstanding
13. Wie is die persone wat “oorbly uit al die nasies”?
13 Sagaria se profesie sê voorts in hoofstuk 14, vers 16: “Almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, en om die huttefees te vier.” Volgens die Bybel sal alle mense wat vandag lewe en wat tot die einde van hierdie goddelose stelsel voortleef en wat as vyande van ware aanbidding geoordeel word “as regterlike straf ewige vernietiging” ondergaan. (2 Tessalonisense 1:7-9; sien ook Matteus 25:31-33, 46.) Hulle sal nie ’n opstanding kry nie. Diegene wat “oorbly”, sluit dus waarskynlik die lede van die nasies in wat voor God se finale oorlog gesterf het en vir wie daar ’n Bybelse opstandingshoop is. “Die uur kom”, het Jesus belowe, “waarin almal wat in die gedenkgrafte is sy stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goeie dinge gedoen het tot ’n opstanding van die lewe, dié wat veragtelike dinge beoefen het tot ’n opstanding van oordeel.”—Johannes 5:28, 29.
14. (a) Wat moet verresenes doen om die ewige lewe te verkry? (b) Wat sal met enigeen gebeur wat weier om hom aan Jehovah toe te wy en ware aanbidding te beoefen?
14 Al hierdie verresenes moet iets doen sodat hulle opstanding ’n opstanding van lewe en nie een van ongunstige oordeel word nie. Hulle moet na die aardse voorhowe van Jehovah se tempel kom en hulle in toewyding aan God deur Jesus Christus neerbuig. Enigeen wat ’n opstanding kry en weier om dit te doen, sal deur dieselfde plaag getref word waardeur die hedendaagse nasies geteister word (Sagaria 14:18). Wie weet hoeveel verresenes hulle met graagte by die groot skare sal aansluit om die antitipiese Huttefees te vier? Daar sal ongetwyfeld baie wees, en Jehovah se groot geestelike tempel sal gevolglik selfs glorieryker word!
Die antitipiese Huttefees
15. (a) Wat was sommige uitstaande aspekte van die eertydse Israelitiese Huttefees? (b) Waarom is 70 bulle tydens die fees geoffer?
15 Eertydse Israel moes elke jaar die Huttefees vier. Dit het ’n week geduur en het aan die einde van die insameling van hulle oes plaasgevind. Dit was ’n vreugdevolle tyd van danksegging. Hulle moes die hele week in tydelike skuilings woon wat met die blare van bome, veral palmtakke, bedek is. Hierdie fees het Israel herinner aan hoe God hulle voorvaders uit Egipte gered het en hoe hy vir hulle gesorg het terwyl hulle 40 jaar lank in die woestyn rondgetrek en in hutte gewoon het totdat hulle die Beloofde Land bereik het (Levitikus 23:39-43). Tydens die fees is 70 bulle op die tempelaltaar geoffer. Hierdie aspek van die fees was klaarblyklik ’n profetiese patroon van die volmaakte en algehele lewensreddende werk wat deur Jesus Christus verrig is. Tallose nakomelinge van die 70 families van die mensdom wat van Noag afgestam het, sal uiteindelik baat vind by die voordele van sy losprysofferande.—Genesis 10:1-29; Numeri 29:12-34; Matteus 20:28.
16, 17. (a) Wanneer het die antitipiese Huttefees begin, en hoe het dit voortgeduur? (b) Hoe neem die groot skare deel aan die viering?
16 Die eertydse Huttefees het dus gewys na die vreugdevolle insameling van losgekoopte sondaars in Jehovah se groot geestelike tempel. Die antitipe van hierdie fees het op Pinkster 33 G.J. begin toe die vreugdevolle insameling van geestelike Israeliete in die Christengemeente begin het (Handelinge 2:41, 46, 47). Hierdie gesalfdes het besef dat hulle “tydelike inwoners” in Satan se wêreld was omdat hulle ware ‘burgerskap in die hemele bestaan’ (1 Petrus 2:11; Filippense 3:20). Die vreugdevolle fees is tydelik oorskadu deur die afvalligheid wat die ontstaan van die Christendom tot gevolg gehad het (2 Tessalonisense 2:1-3). Die fees is egter in 1919 hervat met die vreugdevolle insameling van die laaste lede van die 144 000 geestelike Israeliete, gevolg deur die insameling van die internasionale groot skare van Openbaring 7:9.
17 Die groot skare word met palmtakke in hulle hande uitgebeeld, wat toon dat hulle ook vreugdevol deelneem aan die antitipiese Huttefees. As toegewyde Christene neem hulle vreugdevol deel aan die werk om meer aanbidders in Jehovah se tempel in te samel. Hulle besef daarbenewens dat hulle as sondaars nie die reg het om vir ewig op aarde te lewe nie. Hulle, sowel as diegene wat nog ’n opstanding gaan kry, moet aanhou om geloof in Christus se losprysofferande te beoefen totdat hulle aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy menslike volmaaktheid bereik.—Openbaring 20:5.
18. (a) Wat sal aan die einde van Jesus Christus se Duisendjarige Heerskappy gebeur? (b) Hoe sal die ware aanbidding van Jehovah uiteindelik oorwin?
18 Dan sal God se aardse aanbidders in menslike volmaaktheid voor hom staan sonder dat hulle ’n hemelse priesterdom nodig sal hê. Die tyd sal aangebreek het wanneer Jesus Christus “die koninkryk aan sy God en Vader oorgee” (1 Korintiërs 15:24). Satan sal “vir ’n klein rukkie” losgelaat word om die volmaakte mensdom te toets. Enige ontroues sal saam met Satan en sy demone vir ewig vernietig word. Diegene wat getrou bly, sal die ewige lewe gegee word. Hulle sal permanente inwoners in die aardse Paradys word. Sodoende sal die antitipiese Huttefees tot ’n glorieryke, suksesvolle einde kom. Ware aanbidding sal tot Jehovah se ewige heerlikheid en die mensdom se ewige geluk oorwin het.—Openbaring 20:3, 7-10, 14, 15.
[Voetnote]
a Sien hoofstukke 21 en 22 van die boek Paradise Restored to Mankind—By Theocracy!, wat in 1972 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is vir ’n vers-vir-vers-bespreking van Sagaria hoofstuk 14.
b Sien Die Wagtoring van 15 April 1992, bladsy 16, vir meer inligting oor die hedendaagse Netinim.
Hersieningsvrae
◻ Hoe is “Jerusalem” gedurende die Eerste Wêreldoorlog aangeval?—Sagaria 14:2.
◻ Wat het sedert 1919 met God se volk gebeur?
◻ Wie neem vandag deel aan die viering van die antitipiese Huttefees?
◻ Hoe sal ware aanbidding ’n algehele oorwinning behaal?
[Prent op bladsy 23]
Palmtakke is gebruik in die viering van die Huttefees