Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 7/1 bl. 8-13
  • “’n Huis van gebed vir al die nasies”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “’n Huis van gebed vir al die nasies”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Allerheiligste
  • Die Heilige
  • Die Voorhof
  • Die Versoendag
  • Die eerste en die tweede tempel
  • God verwerp sy aardse huis vir ewig
  • Waardeer jou voorreg om in Jehovah se geestelike tempel te aanbid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Jehovah se groot geestelike tempel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • “Begeerlike dinge” vul Jehovah se huis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 7/1 bl. 8-13

“’n Huis van gebed vir al die nasies”

“Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal ’n huis van gebed vir al die nasies genoem word’ nie?”—MARKUS 11:17.

1. Watter soort verhouding het Adam en Eva aanvanklik met God geniet?

TOE Adam en Eva geskep is, het hulle ’n hegte verhouding met hulle hemelse Vader geniet. Jehovah God het met hulle gekommunikeer en sy wonderlike voorneme met die mensdom aan hulle bekend gemaak. Hulle is ongetwyfeld dikwels beweeg om Jehovah vir sy grootse skeppingswerke te loof. As Adam en Eva leiding nodig gehad het terwyl hulle gedink het oor hulle rol as die toekomstige vader en moeder van die mensdom, kon hulle God van enige plek in hulle Paradystuiste nader. Hulle het nie die dienste van ’n priester in ’n tempel nodig gehad nie.—Genesis 1:28.

2. Watter verandering het plaasgevind toe Adam en Eva gesondig het?

2 Die situasie het verander toe ’n opstandige engel Eva verlei het deur haar te laat dink dat haar lewenslot sou verbeter as sy Jehovah se soewereiniteit verwerp toe hy gesê het dat sy “soos God sal wees”. Eva het gevolglik vrugte van die boom geëet waarvan God hulle verbied het om te eet. Satan het Eva toe gebruik om haar man te verlei. Adam het ongelukkig na sy sondige vrou geluister en getoon dat hy groter waarde geheg het aan sy verhouding met haar as aan sy verhouding met God (Genesis 3:4-7). Adam en Eva het Satan in werklikheid as hulle god gekies.—Vergelyk 2 Korintiërs 4:4.

3. Wat was die slegte gevolge van Adam en Eva se opstand?

3 Sodoende het die eerste mensepaar nie net hulle kosbare verhouding met God verloor nie, maar ook die vooruitsig op ewige lewe in ’n aardse paradys (Genesis 2:16, 17). Hulle sondige liggame het uiteindelik agteruitgegaan totdat hulle gesterf het. Hulle nakomelinge het hierdie sondige toestand oorgeërf. ‘Só’, verduidelik die Bybel, ‘het die dood tot alle mense deurgedring.’—Romeine 5:12.

4. Watter hoop het God vir die sondige mensdom voorgehou?

4 Iets was nodig om die sondige mensdom met hulle heilige Skepper te versoen. Toe God oordeel oor Adam en Eva uitgespreek het, het hy hulle toekomstige nakomelinge hoop gegee deur ’n “saad” te belowe wat die mensdom van die gevolge van Satan se opstand sou red (Genesis 3:15). God het later bekend gemaak dat die Saad tot seën van die nasies deur Abraham sou kom (Genesis 22:18, NW). Met hierdie liefdevolle voorneme in gedagte het God Abraham se nakomelinge, die Israeliete, gekies om sy uitverkore nasie te word.

5. Waarom moet ons belangstel in die besonderhede van God se Wetsverbond met Israel?

5 In 1513 v.G.J. het die Israeliete in ’n verbondsverhouding met God getree en ingestem om sy wette te gehoorsaam. Daardie Wetsverbond moet almal wat God vandag wil aanbid baie interesseer, aangesien dit na die beloofde Saad gewys het. Paulus het gesê dat dit “’n skaduwee van die toekomstige goeie dinge” bevat het (Hebreërs 10:1). Toe Paulus dit gesê het, was hy besig om die diens van Israel se priesters by ’n verskuifbare tabernakel, oftewel tent van aanbidding, te bespreek. Dit is “die tempel van die HERE” of “die huis van die HERE” genoem (1 Samuel 1:9, 24). ’n Ondersoek van die heilige diens wat by Jehovah se aardse huis verrig is, kan ons waardering vergroot vir die barmhartige reëling waardeur sondige mense vandag met God versoen kan raak.

Die Allerheiligste

6. Wat was in die Allerheiligste, en hoe is God se teenwoordigheid daar afgebeeld?

6 “Die Allerhoogste [woon] nie in huise wat met hande gemaak is nie”, sê die Bybel (Handelinge 7:48). God se teenwoordigheid in sy aardse huis is egter afgebeeld deur ’n wolk in die binneste vertrek wat die Allerheiligste genoem is (Levitikus 16:2). Hierdie wolk het klaarblyklik helder geskyn en die Allerheiligste van lig voorsien. Dit was in ’n posisie bokant ’n heilige kis wat “die ark van die Getuienis” genoem is, en hierin was kliptafels waarop van die gebooie gegraveer was wat God vir Israel gegee het. Op die deksel van die Ark was twee goue gerubs met uitgestrekte vlerke, wat hooggeplaaste geesskepsele in God se hemelse organisasie afgebeeld het. Die wonderdadige wolk van lig het bokant die deksel en tussen die gerubs geskyn (Exodus 25:22). Dit was ’n afbeelding van die Almagtige God op sy troon op ’n hemelse wa wat deur lewende gerubs ondersteun word (1 Kronieke 28:18). Dit verklaar waarom koning Hiskia gebid het: “o HERE van die leërskare, God van Israel wat op die gerubs troon.”—Jesaja 37:16.

Die Heilige

7. Watter toebehore was daar in die Heilige?

7 Die tweede vertrek van die tabernakel is die Heilige genoem. In hierdie vertrek het ’n pragtige sewe-armige kandelaar aan die linkerkant van die ingang gestaan, en aan die regterkant was ’n tafel van toonbrode. Reg oorkant die ingang het ’n altaar gestaan waaruit die aroma van brandende reukwerk opgerys het. Dit het voor ’n voorhangsel gestaan wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het.

8. Watter take het priesters gereeld in die Heilige verrig?

8 ’n Priester moes elke oggend en elke aand in die tabernakel ingaan en reukwerk op die reukaltaar brand (Exodus 30:7, 8). In die oggend, terwyl die reukwerk gebrand het, moes die olie in die sewe lampe van die goue kandelaar aangevul word. In die aand is die lampe aangesteek om die Heilige te verlig. Elke Sabbat moes ’n priester 12 vars brode op die tafel van die toonbrode plaas.—Levitikus 24:4-8.

Die Voorhof

9. Wat was die doel van die waskom met water, en watter les kan ons hieruit leer?

9 Die tabernakel het ook ’n voorhof gehad wat deur ’n omheining van tentdoeke omsluit is. In hierdie voorhof was daar ’n groot waskom waarin die priesters hulle hande en voete gewas het voor hulle in die Heilige ingegaan het. Hulle moes ook was voor hulle offerandes op die altaar in die voorhof geoffer het (Exodus 30:18-21). Hierdie vereiste van reinheid is ’n kragtige herinnering aan God se hedendaagse knegte dat hulle na fisiese, sedelike, verstandelike en geestelike reinheid moet streef as hulle wil hê dat hulle aanbidding vir God aanneemlik moet wees (2 Korintiërs 7:1). Mettertyd is die hout vir die vuur op die altaar en die water vir die waskom deur nie-Israelitiese tempelslawe voorsien.—Josua 9:27.

10. Wat was sommige van die offerandes wat op die offeraltaar geoffer is?

10 Elke oggend en elke aand is ’n jong ram as offerdier saam met ’n graanoffer en ’n drankoffer op die altaar gebrand (Exodus 29:38-41). Ander offerandes is op spesiale dae gebring. Soms moes ’n offerande gebring word weens ’n spesifieke persoonlike sonde (Levitikus 5:5, 6). By ander geleenthede kon ’n Israeliet ’n vrywillige dankoffer bring waarvan die priesters en die persoon wat die offer gebring het dele geëet het. Dit het getoon dat sondige mense vrede met God kon hê en as ’t ware ’n maaltyd saam met hom kon geniet. Selfs ’n vreemdeling kon ’n aanbidder van Jehovah word en die voorreg geniet om vrywillige offerandes by Sy huis te offer. Maar die priesters kon slegs offerandes van die beste gehalte aanvaar ten einde gepaste eer aan Jehovah te bewys. Die meel van die graanoffers moes fyngemaal wees, en offerdiere moes sonder enige gebrek wees.—Levitikus 2:1; 22:18-20; Maleagi 1:6-8.

11. (a) Wat is met die bloed van diereofferandes gedoen, en waarop het dit gedui? (b) Wat is God se beskouing van mense- sowel as dierebloed?

11 Die bloed van hierdie offerandes is na die altaar gebring. Dit het die volk daagliks daaraan herinner dat hulle sondaars is en ’n loskoper nodig het wie se vergote bloed permanent versoening kon doen vir hulle sondes en wat hulle van die dood kon red. (Romeine 7:24, 25; Galasiërs 3:24; vergelyk Hebreërs 10:3.) Hierdie heilige gebruik van bloed het die Israeliete ook daaraan herinner dat bloed lewe voorstel en dat lewe aan God behoort. Enige ander gebruik van bloed deur die mens is nog altyd deur God verbied.—Genesis 9:4; Levitikus 17:10-12; Handelinge 15:28, 29.

Die Versoendag

12, 13. (a) Wat was die Versoendag? (b) Wat moes die hoëpriester doen voordat hy bloed in die Allerheiligste kon inbring?

12 Een keer per jaar op wat die Versoendag genoem is, moes die hele nasie Israel, met inbegrip van die vreemdelinge wat Jehovah aanbid het, geen werk doen nie en vas (Levitikus 16:29, 30). Op hierdie belangrike dag is die nasie sinnebeeldig van sonde gereinig sodat hulle vir nog ’n jaar ’n vreedsame verhouding met God kon geniet. Laat ons ons die toneel voorstel en ’n paar van die hoogtepunte bespreek.

13 Die hoëpriester is in die voorhof van die tabernakel. Nadat hy homself by die waskom met water gewas het, slag hy ’n bul wat as offerande dien. Die bul se bloed word in ’n bak gegooi; dit sal op ’n spesiale manier gebruik word om versoening te doen vir die sondes van die priesterlike stam van Levi (Levitikus 16:4, 6, 11). Maar voordat die hoëpriester enigsins verder gaan met die offerande is daar iets wat hy moet doen. Hy neem geparfumeerde reukwerk (en sit dit waarskynlik in ’n skeplepel) en gloeiende kole in ’n vuurpan van die altaar af. Hy gaan nou die Heilige binne en stap na die voorhangsel van die Allerheiligste. Hy gaan stadig om die voorhangsel en gaan staan voor die verbondsark. Daarna, waar geen ander mens hom kan sien nie, gooi hy reukwerk op die gloeiende kole, en die Allerheiligste word met ’n welriekende wolk gevul.—Levitikus 16:12, 13.

14. Waarom moes die hoëpriester die Allerheiligste met die bloed van twee verskillende diere binnegaan?

14 Nou is God bereid om barmhartigheid te betoon en sinnebeeldig om versoening genader te word. Dit is waarom die deksel van die Ark die “stoel van barmhartigheid” of “versoendeksel” genoem is (Hebreërs 9:5, voetnoot in naslaanuitgawe). Die hoëpriester verlaat die Heilige van Heiliges, neem die bul se bloed en gaan weer in die Allerheiligste in. Soos deur die Wet bepaal, steek hy sy vinger in die bloed en sprinkel dit sewe keer voor die deksel van die Ark (Levitikus 16:14). Daarna gaan hy terug na die voorhof toe en slag hy ’n bok, wat ’n sondoffer “vir die volk” is. Hy neem van die bok se bloed in die Allerheiligste in en doen dieselfde daarmee as wat hy met die bul se bloed gedoen het (Levitikus 16:15). Ander belangrike dienste is ook op die Versoendag verrig. Die hoëpriester moes byvoorbeeld sy hande op die kop van ’n tweede bok lê en oor hom belydenis doen van “die ongeregtighede van die kinders van Israel”. Hierdie lewende bok is dan in die woestyn ingelei om die nasie se sondes in figuurlike sin weg te dra. Sodoende is daar elke jaar “vir die priesters en die hele volk van die vergadering” versoening gedoen.—Levitikus 16:16, 21, 22, 33.

15. (a) In watter opsigte het Salomo se tempel met die tabernakel ooreengekom? (b) Wat sê die boek Hebreërs oor die heilige diens wat by die tabernakel sowel as by die tempel verrig is?

15 Gedurende die eerste 486 jaar van Israel se geskiedenis as God se verbondsvolk het die verskuifbare tabernakel as die plek gedien waar hulle hulle God, Jehovah, aanbid het. Toe is Salomo van Israel die voorreg gegee om ’n permanente gebou op te rig. Hoewel hierdie tempel groter en aanskouliker sou wees, was die godgegewe plan daarvoor volgens dieselfde patroon as die tabernakel. Soos die tabernakel was dit sinnebeeldig van ’n groter, doeltreffender reëling vir aanbidding wat Jehovah sou ‘oprig en nie ’n mens nie’.—Hebreërs 8:2, 5; 9:9, 11.

Die eerste en die tweede tempel

16. (a) Watter liefdevolle versoek het Salomo gedoen toe hy die tempel toegewy het? (b) Hoe het Jehovah getoon dat hy Salomo se gebed verhoor het?

16 Met die toewyding van daardie pragtige tempel het Salomo hierdie geïnspireerde versoek ingesluit: “Na die uitlander wat nie uit u volk Israel is nie en uit ’n ver land kom om u grote Naam . . . ontwil, as hulle kom en na hierdie huis toe bid, wil U dan hoor uit die hemel, uit u vaste woonplek, en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken en U vrees soos u volk Israel, en mag gewaar word dat u Naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het” (2 Kronieke 6:32, 33). God het op onmiskenbare wyse getoon dat hy Salomo se toewydingsgebed verhoor het. Vuur het uit die hemel gekom en die diereofferandes op die altaar verteer, en Jehovah se heerlikheid het die tempel vervul.—2 Kronieke 7:1-3.

17. Wat het uiteindelik met die tempel gebeur wat deur Salomo gebou is, en waarom?

17 Die Israeliete het ongelukkig hulle heilsame vrees vir Jehovah verloor. Hulle het mettertyd sy groot naam ontheilig deur dade van bloedvergieting, afgodediens, egbreuk, bloedskande asook deur die mishandeling van weeskinders, weduwees en uitlanders (Esegiël 22:2, 3, 7, 11, 12, 26, 29). Gevolglik het God in die jaar 607 v.G.J. oordeel voltrek deur die Babiloniese leërs teen hulle te laat optrek om die tempel te vernietig. Die oorlewende Israeliete is in ballingskap na Babilon weggevoer.

18. Watter voorregte kon sommige nie-Israelitiese manne wat die aanbidding van Jehovah heelhartig ondersteun het by die tweede tempel geniet?

18 Ná 70 jaar het ’n berouvolle Joodse oorblyfsel na Jerusalem teruggekeer, en hulle is die voorreg gegun om Jehovah se tempel te herbou. Dit is interessant dat daar te min priesters en Leviete was om in hierdie tweede tempel te dien. Gevolglik is Netinim, wat van nie-Israelitiese tempelslawe afgestam het, groter voorregte as bedienaars van God se huis gegee. Hulle het egter nooit die priesters en die Leviete se gelykes geword nie.—Esra 7:24, NW; 8:17, 20, NW.

19. Watter belofte het God met betrekking tot die tweede tempel gemaak, en hoe is hierdie woorde bewaarheid?

19 Aanvanklik het dit nie gelyk asof die tweede tempel met die vroeëre een te vergelyk was nie (Haggai 2:3). Maar Jehovah het belowe: “Ek sal . . . al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul . . . Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre” (Haggai 2:7, 9). Net soos daar voorspel is, het die tweede tempel groter heerlikheid verkry. Dit het 164 jaar langer bestaan, en baie meer aanbidders van baie meer lande het in sy voorhowe ingestroom. (Vergelyk Handelinge 2:5-11.) In die tyd van koning Herodes het hulle begin om die tweede tempel te herstel, en sy voorhowe is vergroot. Met sy verhewe posisie op ’n massiewe klipplatform en omring deur pragtige kolonnades, was dit feitlik net so luisterryk as die oorspronklike tempel wat deur Salomo gebou is. Dit het ’n groot, buitenste voorhof ingesluit vir mense van die nasies wat Jehovah wou aanbid. ’n Klipmuur het hierdie voorhof van die heidene geskei van die binneste voorhowe waarin slegs Israeliete kon gaan.

20. (a) Watter uitsonderlike eer het die herboude tempel geniet? (b) Wat het getoon dat die Jode ’n verkeerde beskouing van die tempel gehad het, en hoe het Jesus hierop gereageer?

20 Hierdie tweede tempel het die groot eer geniet dat die Seun van God, Jesus Christus, mense in sy voorhowe geleer het. Maar soos met die eerste tempel het die Jode oor die algemeen nie die regte beskouing van hulle voorreg as bewaarders van God se huis gehad nie. Hulle het selfs handelaars toegelaat om sake te doen in die voorhof van die heidene. Wat meer is, mense is toegelaat om die tempel as ’n kortpad te gebruik wanneer hulle items van een plek in Jerusalem na ’n ander gedra het. Vier dae voor sy dood het Jesus die tempel van sulke sekulêre bedrywighede gereinig, terwyl hy herhaaldelik gesê het: “Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal ’n huis van gebed vir al die nasies genoem word’ nie? Maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak.”—Markus 11:15-17.

God verwerp sy aardse huis vir ewig

21. Wat het Jesus met betrekking tot Jerusalem se tempel getoon?

21 As gevolg van Jesus se moedige optrede ter verdediging van God se rein aanbidding, was die Joodse godsdiensleiers vasbeslote om hom dood te maak (Markus 11:18). Met die wete dat hy binnekort vermoor sou word, het Jesus vir die Joodse godsdiensleiers gesê: “Julle huis word vir julle verlate agtergelaat” (Matteus 23:37, 38). Hy het hierdeur getoon dat God eerlank nie meer die vorm van aanbidding sou aanvaar wat by die tipiese tempel in Jerusalem beoefen is nie. Dit sou nie meer “’n huis van gebed vir al die nasies” wees nie. Toe een van Jesus se dissipels sy aandag op die pragtige tempelgeboue gevestig het, het hy gesê: “Sien julle nie al hierdie dinge nie? . . . Hier sal hoegenaamd nie ’n klip op ’n klip gelaat word wat nie afgebreek sal word nie.”—Matteus 24:1, 2.

22. (a) Hoe is Jesus se woorde aangaande die tempel vervul? (b) Wat het vroeë Christene gesoek, in plaas van hulle hoop op ’n aardse stad te vestig?

22 Jesus se profesie is 37 jaar later in die jaar 70 G.J. vervul, toe Romeinse leërs Jerusalem en sy tempel vernietig het. Dit het treffende bewys gelewer dat God inderdaad sy tipiese huis verlate agtergelaat het. Jesus het nooit die herbouing van nog ’n tempel in Jerusalem voorspel nie. Die apostel Paulus het aan die Hebreeuse Christene aangaande daardie aardse stad geskryf: “Ons het hier nie ’n blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige ernstig” (Hebreërs 13:14). Vroeë Christene het daarna uitgesien om ’n deel te word van “hemelse Jerusalem”—die stadagtige Koninkryk van God (Hebreërs 12:22). Die ware aanbidding van Jehovah het gevolglik nie meer ’n fisiese tempel op aarde as middelpunt nie. In ons volgende artikel sal ons die voortrefliker reëling bespreek wat God tot stand gebring het vir almal wat hom “met gees en waarheid” wil aanbid.—Johannes 4:21, 24.

Hersieningsvrae

◻ Watter verhouding het Adam en Eva met God verloor?

◻ Waarom moet ons in kenmerke van die tabernakel belangstel?

◻ Wat leer ons uit bedrywighede in die voorhof van die tabernakel?

◻ Waarom het God toegelaat dat sy tempel vernietig word?

[Prente op bladsy 10, 11]

Die tempel wat deur herodes herbou is

1. Die Allerheiligste

2. Die Heilige

3. Brandofferaltaar

4. Gegote see

5. Voorhof van die priesters

6. Voorhof van die Israeliete

7. Voorhof van die vroue

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel