Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 4/15 bl. 11-15
  • Waarom wêreldse godsdiens tot ’n einde gaan kom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom wêreldse godsdiens tot ’n einde gaan kom
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe het Babilon die Grote geval?
  • Jy moet kies
  • Valse godsdiens word aangekla
  • Valse godsdiens openbaar die gees van Kain
  • “Treffende paradoks”
  • Die einde van valse godsdiens is op hande!
    Die einde van valse godsdiens is op hande!
  • Gee die wêreld se godsdienste die regte leiding?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Keur God alle godsdienste goed?
    Die weg na die ewige lewe—Het jy dit gevind?
  • Hoe valse godsdiens mense die verkeerde idee van God gee
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 4/15 bl. 11-15

Waarom wêreldse godsdiens tot ’n einde gaan kom

“Gaan uit haar uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie, en as julle nie ’n deel van haar plae wil ontvang nie.”—OPENBARING 18:4.

1. (a) In watter opsig het Babilon die Grote geval? (b) Hoe het hierdie gebeurtenis Jehovah se Getuies geraak?

“BABILON DIE GROTE het geval!” Ja, uit Jehovah se oogpunt het die wêreldryk van valse godsdiens geval. Dit is waar sedert 1919 toe die oorblyfsel van Christus se broers onder die invloed van die Christendom, ’n vername deel van mistieke Babilon, uitgekom het. Gevolglik het hulle die vryheid gehad om valse godsdiens te veroordeel en God se regverdige heerskappy deur die Messiaanse Koninkryk aan te kondig. Deur hierdie eeu heen het Jehovah se lojale Getuies die mengelmoes godsdienste blootgelê wat Satan soos marionette manipuleer om “die hele bewoonde aarde” te mislei.—Openbaring 12:9; 14:8; 18:2.

Hoe het Babilon die Grote geval?

2. Wat is die huidige toestand van wêreldse godsdienste?

2 Maar iemand vra dalk: ‘Hoe kan jy sê dat Babilon geval het as godsdiens in soveel lande blykbaar floreer?’ Katolisisme en die Islam beweer dat hulle elk meer as ’n miljard gelowiges het. Protestantisme maak steeds vooruitgang in die Amerikas, waar nuwe kerke en kapelle voortdurend verrys. Honderdmiljoene neem deel aan die rituele van Boeddhisme en Hindoeïsme. Maar in watter mate oefen al hierdie godsdienste ’n positiewe invloed op die gedrag van hierdie miljarde mense uit? Het dit verhinder dat Katolieke en Protestante mekaar in Noord-Ierland doodmaak? Het dit ware vrede vir Jode en Moslems in die Midde-Ooste teweeggebring? Het dit tot harmonie tussen Hindoes en Moslems in Indië gelei? En het dit in onlangser tye verhinder dat Ortodokse Serwiërs, Katolieke Kroate en Bosniese Moslems “etniese suiwering” voortsit en mekaar beroof, verkrag en uitmoor? Godsdiens is dikwels net ’n etiket, ’n dun vernislagie wat onder die geringste druk afskilfer.—Galasiërs 5:19-21; vergelyk Jakobus 2:10, 11.

3. Waarom word godsdiens deur God geoordeel?

3 Uit God se oogpunt is daar een onomstootlike feit wat nie deur die godsdienssteun van die massas verander word nie—alle godsdienste word deur God geoordeel. Babilon die Grote se geskiedenis staaf die feit dat sy ’n ongunstige oordeel verdien, want “haar sondes het tot aan die hemel opgehoop en God het haar ongeregtighede in herinnering gebring” (Openbaring 18:5). In profetiese taal het Hosea geskryf: “Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai.” Al Satan se valse godsdienste oor die hele wêreld sal die hoogste prys betaal vir hulle verloëning van God, sy liefde, sy naam en sy Seun.—Hosea 8:7; Galasiërs 6:7; 1 Johannes 2:22, 23.

Jy moet kies

4, 5. (a) In watter toestande lewe ons vandag? (b) Watter vrae moet ons beantwoord?

4 Ons lewe in die finale deel van “die laaste dae”, en as ware Christene voer ons ’n stryd om hierdie ‘kritieke tye’ te oorleef ‘wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1-5). Ware Christene is tydelike inwoners in Satan se wêreld, wat waarlik sy verdorwe persoonlikheid as ’n moordenaar, ’n leuenaar en ’n lasteraar weerspieël (Johannes 8:44; 1 Petrus 2:11, 12; Openbaring 12:10). Ons word omring deur geweld, kullery, bedrog, korrupsie en growwe onsedelikheid. Beginsels is oorboord gegooi. Hedonisme en gemaksug is eienskappe wat die wêreld kenmerk. En in baie gevalle keur die geestelikes sedelike verdorwenheid goed deur die Bybel se duidelike veroordeling van homoseksualiteit, hoerery en owerspel af te water. Die vraag is dus, ondersteun jy valse godsdiens en keur jy dit goed, of neem jy daadwerklik deel aan ware aanbidding?—Levitikus 18:22; 20:13; Romeine 1:26, 27; 1 Korintiërs 6:9-11.

5 Dit is nou ’n tyd van sifting. Daar is gevolglik des te meer rede om tussen valse en ware aanbidding te onderskei. Wat het die godsdienste van die Christendom nog gedoen wat hulle so laakbaar maak?—Maleagi 3:18; Johannes 4:23, 24.

Valse godsdiens word aangekla

6. Hoe het die Christendom God se Koninkryk verloën?

6 Hoewel miljoene in die Christendom gereeld die Onse Vader bid waarin hulle vra dat God se Koninkryk moet kom, het hulle elke moontlike politieke vorm naarstiglik ondersteun, elkeen behalwe teokratiese heerskappy. Eeue gelede het “vorste” van die Katolieke Kerk, soos kardinale Richelieu, Mazarin en Wolsey, ook gedien as sekulêre staatsmanne, ministers van die regering.

7. Hoe het Jehovah se Getuies die Christendom se geestelikes meer as 50 jaar gelede aan die kaak gestel?

7 Jehovah se Getuies het meer as 50 jaar gelede die Christendom se betrokkenheid by die politiek aan die kaak gestel in die boekie met die titel Religion Reaps the Whirlwind.a Wat toe gesê is, geld nog net soveel vandag: “’n Eerlike ondersoek na die gedrag van alle kerkgroepe se geestelikes sal aan die lig bring dat die geestelike leiers van die hele ‘Christendom’ met groot belangstelling aan die politiek van ‘hierdie huidige bose wêreld’ deelneem en hulle met wêreldse aangeleenthede bemoei.” Destyds het die Getuies pous Pius XII berispe oor sy konkordate met Nazistiese Hitler (1933) en Fascistiese Franco (1941), asook oor die pous se uitruiling van diplomatieke verteenwoordigers met die vyandiggesinde Japannese in Maart 1942, net ’n paar maande ná die skokkende aanval op Pearl Harbor. Die pous het versuim om op Jakobus se waarskuwing ag te slaan: “Egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie? Elkeen dan wat ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God.”—Jakobus 4:4.

8. Hoe is die Rooms-Katolieke Kerk vandag by die politiek betrokke?

8 Wat is die situasie vandag? Die pousdom is steeds by die politiek betrokke, deur middel van sy geestelikes sowel as sy lekeverteenwoordigers. Onlangse pouse het hulle goedkeuring aan die Verenigde Nasies verleen deur daardie mensgemaakte vervalsing vir wêreldvrede toe te spreek. L’Osservatore Romano, die amptelike Vatikaanse koerant, het onlangs aangekondig dat sewe nuwe diplomate, “ambassadeurs by die Vatikaan”, hulle geloofsbriewe aan die “Heilige Vader” oorhandig het. Kan ons ons voorstel dat Jesus en Petrus by sulke diplomatieke uitruilings betrokke sou gewees het? Jesus het geweier dat die Jode hom koning maak en het gesê dat sy Koninkryk nie van hierdie wêreld is nie.—Johannes 6:15; 18:36.

9. Waarom kan ons sê dat die Protestantse godsdienste geensins beter as hulle Katolieke eweknieë is nie?

9 Is die Protestantse leiers enigsins beter as hulle Katolieke eweknieë? In die Verenigde State word talle konserwatiewe Protestantse godsdienste, onder andere die Mormone, met ’n sekere politieke rigting geassosieer. Die Christenkoalisie is diep betrokke by die Amerikaanse politiek. Ander Protestantse geestelikes assosieer hulle openlik met ’n ander politieke standpunt. Daar word soms vergeet dat politieke woordvoerders in die Verenigde State, soos Pat Robertson en Jesse Jackson, ook “eerwaardes” is of was, en dit is ook die geval met Britse parlementslid Ian Paisley van Noord-Ierland. Hoe kan hulle ooit hulle posisies regverdig?—Handelinge 10:34, 35; Galasiërs 2:6.

10. Watter duidelike verklaring is in 1944 gemaak?

10 Soos daar in 1944 in Religion Reaps the Whirlwind gevra is, vra ons nou: “Kan enige organisasie wat verdrae met wêreldse magte sluit en hulle daadwerklik in die politieke aangeleenthede van hierdie wêreld inwikkel en wat voordeel uit hierdie wêreld wil trek en daardeur beskerm wil word . . . die kerk van God wees of Christus Jesus op aarde verteenwoordig? . . . Dit is duidelik dat alle godsdiensbeoefenaars wat met die koninkryke van hierdie wêreld saamspan nie die koninkryk van God deur Christus Jesus kan verteenwoordig nie.”

Valse godsdiens openbaar die gees van Kain

11. Hoe het valse godsdiens Kain se voorbeeld gevolg?

11 Deur die geskiedenis heen het valse godsdiens die gees van die broedermoordenaar Kain geopenbaar, wat sy broer Abel vermoor het. “Die kinders van God en die kinders van die Duiwel word aan hierdie feit geken: elkeen wat nie regverdigheid bedryf nie, het nie sy oorsprong by God nie, ook nie hy wat sy broer nie liefhet nie. Want dít is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons liefde vir mekaar moet hê; nie soos Kain, wat sy oorsprong by die bose gehad het en sy broer doodgemaak het nie. En waarom het hy hom doodgemaak? Omdat sy eie werke goddeloos was, maar dié van sy broer regverdig.” Omdat Kain onverdraagsaam was teenoor sy broer se suiwer en aanneemlike aanbidding van God het hy hom tot geweld gewend—die laaste uitweg vir diegene wat nie ’n logiese antwoord het nie.—1 Johannes 3:10-12.

12. Watter bewyse is daar van godsdiens se medepligtigheid aan oorlog en tweedrag?

12 Ondersteun die feite hierdie aanklag teen valse godsdiens? In die boek Preachers Present Arms het die skrywer gesê: “In die geskiedenis van die beskawing . . . was daar nog altyd twee kragte wat in ’n tweeledige bondgenootskap verenig was. Hulle is oorlog en godsdiens. En van al die groot wêreldgodsdienste . . . was nie een so toegewyd aan [oorlog] soos [die Christendom] nie.” ’n Paar jaar gelede het die koerant The Sun van Vancouver, Kanada, gesê: “Dit is ’n swakheid van moontlik alle georganiseerde godsdienste dat die kerk die vlag volg . . . Watter oorlog is al ooit geveg waar daar nie beweer is dat God aan albei kante is nie?” Jy het moontlik al die bewys hiervan in ’n plaaslike kerk gesien. Al te dikwels versier landsvlae die altaar. Onder watter vlag dink jy sal Jesus marsjeer? Sy woorde het deur die eeue heen weerklink: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie”!—Johannes 18:36.

13. (a) Hoe het valse godsdiens in Afrika gefaal? (b) Watter kenmerk van die ware Christelike geloof het Jesus gegee?

13 Die Christendom se godsdienste het nie hulle kuddes die waarheid van ware broederliefde geleer nie. Hulle laat eerder toe dat nasionale, stam- en etniese verskille hulle geledere verdeel. Berigte dui daarop dat Katolieke en Anglikaanse geestelikes ’n rol gespeel het in die verdeeldhede wat tot die stammoord in Rwanda aanleiding gegee het. The New York Times het berig: “Die slagting in Rwanda het baie Rooms-Katolieke wat daar woon laat voel dat die hiërargie van die kerk hulle in die steek gelaat het. Die kerk was dikwels verdeeld as gevolg van etniese verskille tussen die Hutu’s en die Tutsi’s.” Dieselfde koerant het ’n Maryknoll-priester aangehaal wat gesê het: “In 1994 het die kerk in Rwanda baie erg gefaal. Baie Rwandese het in sekere sin die kerk verwerp. Dit het geen geloofwaardigheid meer nie.” Wat ’n kontras vorm dit tog met Jesus se woorde: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.

14. Watter gedrag openbaar die groot nie-Christelike godsdienste?

14 Die ander groot godsdienste van Babilon die Grote het nie ’n beter voorbeeld gestel nie. Die verskriklike slagting van 1947, toe Indië verdeel is, toon dat die groot godsdienste daar nie verdraagsaamheid voortgebring het nie. Voortgesette gemeenskapsgeweld in Indië staaf die feit dat die meeste mense nie verander het nie. Dit is geen wonder nie dat die tydskrif India Today tot hierdie slotsom gekom het: “Godsdiens is die vaandel waaronder die afgryslikste misdade gepleeg is. . . . Dit ontketen verskriklike geweld en is ’n uiters vernietigende krag.”

“Treffende paradoks”

15. Wat is die godsdienstoestand in die westerse wêreld?

15 Selfs sekulêre kommentators het al getoon dat godsdiens in gebreke bly om te oortuig, om egte waardes in te skerp en die invloed van sekularisme te weerstaan. In sy boek Out of Control het die voormalige nasionale veiligheidsraadgewer van Amerika, Zbigniew Brzezinski, geskryf: “Dit is ’n treffende paradoks dat die grootste sege vir die bewering: ‘God is dood’, nie in die Marxisties-beheerde state plaasgevind het nie . . . maar in Westerse liberale demokratiese gemeenskappe, wat in hulle kultuur sedelike onverskilligheid gekweek het. Feit is dat godsdiens in laasgenoemde opgehou het om ’n vername sosiale krag te wees.” Hy het voorts gesê: “Godsdiens se houvas op die Europese kultuur het grootliks afgeneem, en vandag is Europa—selfs meer as Amerika—in wese ’n sekulêre gemeenskap.”

16, 17. (a) Watter raad het Jesus met betrekking tot die geestelikes van sy dag gegee? (b) Watter goeie beginsel aangaande die voortbring van vrugte het Jesus uitgespreek?

16 Wat het Jesus oor die Joodse geestelikes van sy dag gesê? “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het op die stoel van Moses gaan sit [om ander die Tora, die Wet, te leer]. Alles wat hulle dan vir julle sê, doen en onderhou dit, maar volgens hulle dade moet julle nie doen nie, want hulle sê maar doen nie.” Ja, godsdienshuigelary is niks nuuts nie.—Matteus 23:2, 3.

17 Valse godsdiens word deur sy vrugte veroordeel. Die reël wat Jesus gegee het, is so toepaslik: “Elke goeie boom [bring] goeie vrugte voort, maar elke slegte boom bring waardelose vrugte voort; ’n goeie boom kan nie waardelose vrugte dra nie, en ’n slegte boom kan ook nie goeie vrugte voortbring nie. Elke boom wat nie goeie vrugte voortbring nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle daardie mense dan aan hulle vrugte herken.”—Matteus 7:17-20.

18. Hoe moes die Christendom sy geledere skoon gehou het?

18 Wat sal gebeur as die Christendom se godsdienste die Christelike beginsel van uitsetting, of ekskommunikasie, nougeset toepas vir al die wettelose dade wat deur diegene gepleeg word wat beweer dat hulle lidmate is? Wat sal gebeur met al die onberouvolle leuenaars, hoereerders, egbrekers, homoseksuele, bedrieërs, misdadigers, dwelmsmokkelaars en -verslaafdes en lede van misdaadsindikate? Die verrotte vrugte van die Christendom maak dit onteenseglik slegs geskik vir vernietiging deur God.—1 Korintiërs 5:9-13; 2 Johannes 10, 11.

19. Wat is aangaande godsdiensleierskap erken?

19 Die algemene vergadering van die Presbiteriaanse Kerk in die Verenigde State het erken: “Ons het te staan gekom voor ’n krisis waarvan die afmetings en implikasies iets verskrikliks is. . . . Landwyd het tussen 10 en 23 persent van die geestelikes hulle skuldig gemaak aan onwelvoeglike gedrag of seksuele kontak met gemeentelede, kliënte, werknemers, ens.” ’n Amerikaanse sakeman het die punt nogal goed opgesom: “Godsdiensinstellings het daarin gefaal om hulle historiese waardes oor te dra, en in baie gevalle het hulle deel van die probleem geword.”

20, 21. (a) Hoe het Jesus en Paulus huigelary veroordeel? (b) Watter vrae moet nog beantwoord word?

20 Jesus se veroordeling van godsdienshuigelary is vandag net so gepas as wat dit in sy tyd was: “Julle huigelaars, Jesaja het gepas oor julle geprofeteer toe hy gesê het: ‘Hierdie volk eer my met hulle lippe, maar hulle hart is ver van my verwyderd. Tevergeefs bly hulle my aanbid, want hulle leer gebooie van mense as leerstellings’” (Matteus 15:7-9). Paulus se woorde aan Titus beskryf ook ons hedendaagse situasie: “Hulle verkondig in die openbaar dat hulle God ken, maar hulle verloën hom deur hulle werke, want hulle is verfoeilik en ongehoorsaam en nie goedgekeur vir enige soort goeie werk nie.”—Titus 1:16.

21 Jesus het gesê dat as ’n blinde man ’n blinde man lei hulle albei in die gat val (Matteus 15:14). Wil jy saam met Babilon die Grote vernietig word? Of wil jy met oop oë op reguit paaie wandel en Jehovah se seën geniet? Die vrae waarvoor ons nou te staan kom, is: Watter godsdiens, indien daar een is, bring godvrugtige vrugte voort? Hoe kan ons die ware godsdiens wat vir God aanneemlik is, identifiseer?—Psalm 119:105.

[Voetnoot]

a In 1944 uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.; tans uit druk.

Onthou jy?

◻ Wat is Babilon die Grote se huidige posisie voor God?

◻ Op grond waarvan word valse godsdiens aangekla?

◻ Hoe het valse godsdiens die gees van Kain geopenbaar?

◻ Watter beginsel het Jesus uitgespreek waarvolgens enige godsdiens geoordeel kan word?

[Prent op bladsy 13]

Deur die geskiedenis heen het godsdiensleiers hulle met die politiek bemoei

[Prente op bladsy 15]

Hierdie geestelikes was ook invloedryke staatsmanne

Kardinaal Mazarin

Kardinaal Richelieu

Kardinaal Wolsey

[Erkenning]

Kardinaal Mazarin en kardinaal Richelieu: Uit die boek Ridpath’s History of the World (Deel VI en Deel V onderskeidelik). Kardinaal Wolsey: Uit die boek The History of Protestantism (Deel I).

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel