Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 8/15 bl. 8-11
  • Is twyfelgedagtes oor Jesus geregverdig?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is twyfelgedagtes oor Jesus geregverdig?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe twyfel oor Jesus gesaai is
  • Getuienis wat twyfel uit die weg ruim
  • Waarom party aan Jesus se wonderwerke twyfel
  • Is twyfelgedagtes oor Jesus se opstanding geregverdig?
  • Waarom aan Jesus se huidige rol twyfel?
  • Die wonderwerke—Het hulle werklik plaasgevind?
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • Die wonderwerke van Jesus—Wat kan jy daaruit leer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Die opstanding van Jesus—Wat dit vir ons beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Jesus Christus—Antwoorde op ons vrae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 8/15 bl. 8-11

Is twyfelgedagtes oor Jesus geregverdig?

HET Jesus van Nasaret werklik wonderwerke verrig? Is hy uit die dood opgewek, soos sy dissipels verkondig het? Het hy ooit geleef? In ons moderne tyd kan baie blykbaar nie sulke vrae met sekerheid antwoord nie. Waarom nie? Omdat hulle twyfelgedagtes oor Jesus het, en twyfelgedagtes is gevoelens van onsekerheid, dit wil sê om nie te weet of iets waar of moontlik is nie. Maar is gevoelens van onsekerheid omtrent Jesus geregverdig? Kom ons kyk.

Hoe twyfel oor Jesus gesaai is

Sekere Duitse teoloë van die laat 19de en die vroeë 20ste eeu het Jesus as “’n denkbeeldige persoon van die eertydse Kerk” uitgebeeld. Die feit dat hulle Jesus se historisiteit betwis het, het aan die begin van hierdie eeu tot ’n geskil onder geleerdes gelei wat die publiek destyds bereik het en vandag nog ’n invloed uitoefen. ’n Onlangse studie in Duitsland het byvoorbeeld aan die lig gebring dat 3 persent van dié met wie ’n onderhoud gevoer is, glo dat Jesus “nooit geleef het nie” en dat “die apostels hom versin het”. Ja, die saadjies van twyfel wat vroeg in hierdie eeu oor Jesus gesaai is, vind nou nog vrugbare grond in mense se harte.

Waarom is die gevolgtrekking dat Jesus “versin” is eenvoudig nie geregverdig nie? Die Bybelgeleerde Wolfgang Trilling sê: “Die geskil oor die vraag of Jesus ooit geleef het, met ander woorde of hy ’n geskiedkundige persoon of ’n mite is, is besleg. Die vraagstuk is op ’n wetenskaplike manier opgelos, ten minste op so ’n wyse dat ernstige mense die probleem nie meer as ’n teoretiese kwessie beskou nie.” Tog twyfel party steeds daaraan dat Jesus ooit bestaan het. Kom ons ondersoek derhalwe hoe ’n mens Jesus se historisiteit kan vasstel sowel as ander twyfelgedagtes oor hom kan verdryf.

Getuienis wat twyfel uit die weg ruim

Jesus se oneervolle teregstelling as ’n veragtelike misdadiger voorsien “die oortuigendste bewysgrond teen teenstanders van die historisiteit van Jesus”, sê Wolfgang Trilling. Waarom? Omdat die teregstelling “die uitbreiding van die nuwe geloof onder Jode en nie-Jode bemoeilik, selfs verhinder, het”. (Vergelyk 1 Korintiërs 1:23.) As die teregstelling van Jesus die Messias vir Jode sowel as nie-Jode so ’n openlike belediging was, sou dit beslis nie ’n versinsel van die apostels gewees het nie! Daarbenewens getuig nie net die vier Evangelies nie, maar ook die Romeinse skrywer Tacitus en die Joodse Talmoed dat Jesus se dood ’n geskiedkundige gebeurtenis is.a

Ander gebeure gedurende Jesus se lewe word ook beskou as interne bewys van die geloofwaardigheid van die Evangelies en gevolglik ook van wat dit ons omtrent hom vertel. Sou Jesus se volgelinge byvoorbeeld versin het dat hy uit Nasaret gekom het, ’n plek wat blykbaar onbeduidend was? Of is dit waarskynlik dat hulle sou versin het dat hy deur Judas, ’n vertroude metgesel, verraai is? Is dit realisties om te dink dat hulle ’n storie sou uitgedink het oor hoe Jesus op so ’n lafhartige manier deur die res van die dissipels in die steek gelaat is? Dit is beslis onlogies dat die dissipels sulke negatiewe besonderhede sou versin en dit dan wyd en syd sou verkondig het! Bowendien is Jesus se onderrigkuns deur ’n unieke styl gekenmerk. Joodse lektuur van die eerste eeu bevat niks wat met sy illustrasies vergelyk kan word nie. Watter naamlose persoon kon ooit ’n meesterstuk soos die Bergpredikasie “versin” het? Al hierdie bewysgronde help om die betroubaarheid van die Evangelies as verslae van Jesus se lewe te bevestig.

Daar is ook eksterne getuienis van die historisiteit van Jesus. Die vier Evangelies beeld hom uit teen ’n spesifieke geskiedkundige agtergrond wat akkuraat en uitvoerig beskryf word. Plekke soos Betlehem en Galilea, vooraanstaande persone en groepe soos Pontius Pilatus en die Fariseërs, sowel as Joodse gebruike en ander eienaardighede is nie bloot versin nie. Dit het deel uitgemaak van die lewenstruktuur in die eerste eeu, en dit is deur nie-Bybelse bronne en argeologiese vondste bevestig.

Daar is dus afdoende interne sowel as eksterne bewys dat Jesus ’n geskiedkundige persoon is.

Maar baie mense het twyfelgedagtes oor wonderwerke waarby hy betrokke was. Trouens, volgens die opname wat hierbo aangehaal word, glo maar min Duitse kerkgangers vas dat Jesus se wonderwerke en sy opstanding “werklik plaasgevind het”. Is twyfelgedagtes oor Jesus se wonderwerke en opstanding geregverdig?

Waarom party aan Jesus se wonderwerke twyfel

Matteus 9:18-36 sê dat Jesus op wonderdadige wyse siekes genees, dooies opgewek en demone uitgedryf het. Professor Hugo Staudinger, ’n geskiedskrywer, sê: “Dit is eenvoudig ongelooflik, en uit ’n geskiedkundige oogpunt onmoontlik, dat hierdie buitengewone verslae die resultaat van ’n lewendige verbeelding is.” Waarom? Omdat die vroegste Evangelies blykbaar geskryf is toe die meeste ooggetuies van hierdie wonderwerke nog geleef het! Verdere bevestiging word gevind in die feit dat, soos professor Staudinger vervolgens sê, die Joodse teenstanders “nooit ontken het dat Jesus buitengewone werke verrig het nie”. As ons alle ander bewyse ignoreer en bloot op grond van hierdie eksterne getuienis oordeel, vind ons dat Jesus se wonderwerke beslis geloofwaardig is.—2 Timoteus 3:16.

Hoewel “die meeste Duitsers oortuig is dat Jesus siekes genees het”, twyfel talle oor die krag agter hierdie genesings. ’n Bekende Duitse teoloog het byvoorbeeld openlik gesê dat die genesings wat Jesus verrig het, toegeskryf kan word aan die krag van suggestie wat ’n uitwerking gehad het op mense met geesteskwellinge. Is dit ’n grondige verduideliking?

Dink net. Markus 3:3-5 sê dat Jesus ’n man se verdorde hand genees het. Maar is ’n verdorde hand die gevolg van geesteskwellinge? Beslis nie. Gevolglik kon hierdie genesing nie aan die krag van suggestie toegeskryf word nie. Wat het Jesus dus in staat gestel om wonderwerke te verrig? Professor Staudinger erken: “As daar geen wette is wat ten volle van krag is nie, en as ’n mens God nie heeltemal loën nie, dan kan ’n mens in beginsel nie die moontlikheid uitsluit dat God, wie se krag dié van die mens oortref, buitengewone dinge kan doen nie.” Ja, met behulp van die “krag van God” het Jesus inderdaad siekes letterlik genees. Daar is dus geen rede om aan die egtheid van sy wonderwerke te twyfel nie.—Lukas 9:43; Matteus 12:28.

Soos The American Peoples Encyclopedia dit stel: as die heel grootste wonderwerk—Jesus se opstanding—plaasgevind het, is al die ander wonderwerke wat in die Evangelies gemeld word “moontlik”. Is Jesus werklik uit die dode opgewek?

Is twyfelgedagtes oor Jesus se opstanding geregverdig?

Kom ons beskou eers iets wat as kragtige omstandigheidsgetuienis die geloofwaardigheid van Jesus se opstanding ondersteun—sy leë graf. Die feit dat Jesus se graf leeg aangetref is, is nie deur sy tydgenote betwis nie, selfs nie deur sy teenstanders nie (Matteus 28:11-15). Bedrog sou maklik blootgelê geword het! Die bogenoemde naslaanwerk maak tereg die gevolgtrekking: “Geen grondige verduideliking vir die leë graf is ooit aan die hand gedoen nie behalwe die Bybel se woorde: ‘Hy is nie hier nie; want hy het opgestaan’ (Matt. 28:6).”

Party maak beswaar en sê dat dit net Jesus se eie dissipels was wat oral verkondig het dat hy die verrese Messias is. Hulle het. Maar was die geloofwaardigheid van hulle boodskap nie stewig op geskiedkundige feite gegrond nie, veral die dood en opstanding van Jesus? Natuurlik. Die apostel Paulus was bewus van hierdie verband toe hy geskryf het: “As Christus nie opgewek is nie, is ons prediking beslis tevergeefs en is ons geloof tevergeefs. Bowendien word ons ook valse getuies aangaande God bevind, omdat ons teen God getuig het dat hy die Christus opgewek het.”—1 Korintiërs 15:14, 15; vergelyk Johannes 19:35; 21:24; Hebreërs 2:3.

In die eerste eeu was daar baie mense wie se identiteit goed bekend was en wat van Jesus se verskyning ná sy dood kon getuig. Onder hulle was die 12 apostels en Paulus, sowel as meer as 500 ander ooggetuies (1 Korintiërs 15:6).b Hou ook in gedagte waarom Mattias aan die vereistes voldoen het om die ontroue apostel Judas op te volg. Handelinge 1:21-23 sê dat Mattias van Jesus se opstanding en van vroeëre gebeure met betrekking tot Hom kon getuig. As Jesus se lewe en opstanding ’n verdigsel en nie ’n feit was nie, sou so ’n vereiste vir die aanstelling beslis heeltemal sinloos gewees het.

Omdat soveel eerste-eeuse ooggetuies van Jesus se lewe, wonderwerke, dood en opstanding kon getuig, het die Christelike godsdiens ondanks die bogenoemde struikelblokke redelik vinnig deur die hele Romeinse Ryk versprei. Sy volgelinge was bereid om ontberings, vervolging en selfs die dood te trotseer ten einde die opstanding en die grondwaarheid wat daaruit voortspruit oral te verkondig. Watter waarheid? Dat sy opstanding net weens die krag van God moontlik was. En waarom het Jehovah God Jesus uit die dode opgewek? Die antwoord op daardie vraag toon wie die geskiedkundige Jesus is.

Op Pinkster het die apostel Petrus met vrymoedigheid vir verbaasde Jode in Jerusalem gesê: “Hierdie Jesus het God opgewek, ’n feit waarvan ons almal getuies is. Omdat hy dan tot die regterhand van God verhef is en die beloofde heilige gees van die Vader ontvang het, het hy dít uitgestort wat julle sien en hoor. Dawid het in werklikheid nie na die hemele opgevaar nie, maar hy sê self: ‘Jehovah het vir my Here gesê: “Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande as ’n voetbank vir jou voete stel.”’ Laat die hele huis van Israel dus vir seker weet dat God hom Here sowel as Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle aan die paal gehang het” (Handelinge 2:32-36). Ja, Jehovah God het Jesus van Nasaret “Here sowel as Christus” gemaak. Is twyfelgedagtes oor sy rol in hierdie deel van God se voorneme geregverdig?

Waarom aan Jesus se huidige rol twyfel?

Hoe kan alle twyfel oor die identiteit en rol van Jesus uit die weg geruim word? Deur die feit dat hy klaarblyklik ’n ware profeet was. Hy het die oorloë, hongersnode, aardbewings, misdaad en gebrek aan liefde voorspel wat ons vandag sien. Daarbenewens het hy voorspel: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:3-14). Die vervulling van hierdie profesieë bewys dat Jesus die verrese Christus is wat onsigbaar ‘te midde van sy vyande’ heers, en hy gaan binnekort God se nuwe wêreld inlui.—Psalm 110:1, 2; Daniël 2:44; Openbaring 21:1-5.

Nou, soos nog nooit tevore nie, het die mensdom dringend ’n Redder nodig wat met bomenslike wysheid toegerus is. Waarom moet ons twyfel dat Jesus die een is wat tereg gekies is om die mensdom te red? Johannes, wat ’n ooggetuie van die indrukwekkende wonderwerke en van die opstanding van Jesus was, het gesê: “Daarbenewens het ons self aanskou en getuig ons dat die Vader sy Seun as Redder van die wêreld uitgestuur het.” (1 Johannes 4:14; vergelyk Johannes 4:42.) Net soos ons geen grondige rede het om aan Jesus se bestaan, wonderwerke, dood en opstanding te twyfel nie, het ons geen rede om te twyfel dat Jehovah God hom as regmatige Koning aan Sy regterhand op die troon geplaas het nie. Jesus van Nasaret is sonder twyfel die Koning van God se Koninkryk en “Redder van die wêreld”.—Matteus 6:10.

[Voetnote]

a Omstrede verwysings na Jesus in die Talmoed word net deur sekere geleerdes as eg aanvaar. Daarenteen word verwysings na Jesus deur Tacitus, Suetonius, Plinius die Jongere en ten minste een deur Flavius Josefus oor die algemeen as bewys van die geskiedkundige bestaan van Jesus aanvaar.

b By een geleentheid het die verrese Jesus saam met sy dissipels vis geëet, wat bewys dat sy verskyning nie bloot ’n visioen was soos party vandag beweer nie.—Lukas 24:36-43.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel