Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 7/15 bl. 4-7
  • Die wonderwerke van Jesus—Wat kan jy daaruit leer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wonderwerke van Jesus—Wat kan jy daaruit leer?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oëverblindery of godgegewe krag?
  • Bewyse van egtheid
  • Wat van die Evangelieverslae?
  • Die man agter die wonderwerke
  • Jesus se wonderwerke—Geskiedenis of mite?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Wonderwerke—Feit of fiksie?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Waarom belangstel in wonderwerke?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Wat kan ons leer uit Jesus se wonderwerke?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 7/15 bl. 4-7

Die wonderwerke van Jesus—Wat kan jy daaruit leer?

JY SAL dalk verbaas wees om uit te vind dat die Bybelverslae van Jesus se lewe op aarde nooit die woord vir “wonderwerk” in die oorspronklike taal gebruik het nie. Die Griekse woord (duʹna·mis) wat soms met “wonderwerk” vertaal word, beteken letterlik “krag” (Lukas 8:46). Dit kan ook vertaal word met “vermoë” of “kragtige werke” (Matteus 11:20; 25:15). Een geleerde sê dat hierdie Griekse woord “die magtige werk beklemtoon wat gedoen is, en in die besonder die krag waardeur dit teweeggebring is. Die gebeurtenis word beskryf in terme van God se krag in aksie.”

’n Ander Griekse woord (teʹras) word gewoonlik vertaal met “voorteken” of “wonder” (Johannes 4:48; Handelinge 2:19). Hierdie uitdrukking toon die uitwerking wat dit op waarnemers gehad het. Die skare en die dissipels was dikwels verstom en verbaas oor Jesus se kragtige werke.—Markus 2:12; 4:41; 6:51; Lukas 9:43.

’n Derde Griekse woord (se·meiʹon) wat na Jesus se wonderwerke verwys, dui op ’n “teken”. Dit “vestig die aandag op die dieper betekenis van die wonderwerk”, sê die geleerde Robert Deffinbaugh. Hy voeg by: “’n Teken is ’n wonderwerk wat ’n waarheid omtrent ons Here Jesus oordra.”

Oëverblindery of godgegewe krag?

Die Bybel beskryf Jesus se wonderwerke nie as kultoertjies of oëverblindery wat bedoel was om mense te vermaak nie. Dit was bewyse van “die majestueuse krag van God”, soos in die geval toe Jesus ’n demoon uit ’n seun uitgedryf het (Lukas 9:37-43). Sou sulke kragtige werke onmoontlik wees vir die almagtige God—die Een wat ’n “oorvloed van dinamiese energie” het? (Jesaja 40:26). Natuurlik nie!

Die Evangelieverslae verwys na sowat 35 wonderwerke van Jesus. Maar dit sê nie hoeveel wonderwerke hy altesaam verrig het nie. Matteus 14:14 sê byvoorbeeld: “[Jesus het] ’n groot skare gesien; en hy het vir hulle innig jammer gevoel, en hy het hulle siekes genees.” Daar word nie vir ons gesê hoeveel siekes hy by hierdie geleentheid genees het nie.

Hierdie kragtige werke het groot betekenis gegee aan Jesus se verklaring dat hy die Seun van God, die beloofde Messias, is. Die Skrif het duidelik getoon dat godgegewe krag Jesus in staat gestel het om wonderwerke te verrig. Die apostel Petrus het na Jesus verwys as “’n man wat in die openbaar deur God aan julle getoon is deur middel van kragtige werke en voortekens en tekens wat God deur hom onder julle gedoen het, net soos julle self weet” (Handelinge 2:22). By ’n ander geleentheid het Petrus daarop gewys dat “God hom [Jesus] met heilige gees en krag gesalf het, en hy het deur die land gegaan en goed gedoen en almal gesond gemaak wat deur die Duiwel onderdruk is; want God was met hom”.—Handelinge 10:37, 38.

Die wonderwerke van Jesus was verweef met sy boodskap. Markus 1:21-27 toon die reaksie van die skare op Jesus se onderrigting en op een van sy wonderwerke. Markus 1:22 sê dat die skares “verstom [was] oor die manier waarop hy geleer het”, en vers 27 meld dat die mense “verstom” was toe hy die demoon uitgedryf het. Jesus se kragtige werke sowel as sy boodskap het bewyse voorsien dat hy die beloofde Messias was.

Jesus het nie bloot beweer dat hy die Messias is nie; sy woorde en ander dade tesame met die godgegewe krag wat deur sy wonderwerke geopenbaar is, het bewys gelewer van sy Messiasskap. Wanneer vrae oor sy rol en gesag geopper is, het Jesus moedig geantwoord: “Ek het die getuienis wat groter is as dié van Johannes [die Doper], want juis die werke wat my Vader my opgedra het om te volbring, die werke wat ek doen, getuig aangaande my dat die Vader my gestuur het.”—Johannes 5:36.

Bewyse van egtheid

Waarom kan ons daarvan seker wees dat Jesus se wonderwerke eg was? Beskou ’n paar bewyse van egtheid.

Jesus het nooit die aandag op homself gevestig wanneer hy sy kragtige werke verrig het nie. Hy het seker gemaak dat God die eer en heerlikheid ontvang vir al die wonderwerke wat hy verrig het. Byvoorbeeld, voordat Jesus ’n blinde man genees het, het hy beklemtoon dat die genesing sou plaasvind “sodat die werke van God in sy geval openbaar gemaak kon word”.—Johannes 9:1-3; 11:1-4.

In teenstelling met kulkunstenaars, towenaars en geloofsgenesers het Jesus nooit gebruik gemaak van hipnotisme, kullery, oordadige vertonings, towerspreuke of emosionele ritusse nie. Hy het ook nie op bygelowe of die gebruik van relieke staatgemaak nie. Let op die beskeie manier waarop Jesus twee blinde mans genees het. “Beweeg deur innige jammerte”, sê die verslag, “het Jesus hulle oë aangeraak, en onmiddellik kon hulle sien, en hulle het hom gevolg” (Matteus 20:29-34). Daar was geen ritus, seremonie of groot vertoning nie. Jesus het sy wonderdadige werke in die openbaar verrig, dikwels voor baie ooggetuies. Hy het nie gebruik gemaak van spesiale beligting, agtergrond of toerusting nie. In teenstelling hiermee kan die sogenaamde wonderwerke van vandag dikwels nie deur gedokumenteerde bewyse gestaaf word nie.—Markus 5:24-29; Lukas 7:11-15.

Jesus het soms erken dat diegene wat by sy wonderwerke baat gevind het, geloof gehad het. Maar as iemand nie geloof gehad het nie, het dit nie gekeer dat Jesus ’n wonderwerk verrig nie. Terwyl hy in Kapernaum in Galilea was, “het mense talle demoonbesetenes na hom toe gebring; en hy het die geeste met ’n woord uitgedryf, en hy het almal genees met wie dit sleg gegaan het”.—Matteus 8:16.

Die wonderwerke van Jesus is verrig om in mense se werklike fisiese behoeftes te voorsien, nie om iemand se nuuskierigheid te bevredig nie (Markus 10:46-52; Lukas 23:8). En Jesus het nooit wonderwerke verrig om enigsins persoonlik daaruit voordeel te trek nie.—Matteus 4:2-4; 10:8.

Wat van die Evangelieverslae?

Die feite omtrent Jesus se wonderwerke is deur die vier Evangelies aan ons oorgedra. Is daar redes om op hierdie verslae te vertrou terwyl ons die egtheid ondersoek van die wonderwerke wat aan Jesus toegeskryf word? Ja, daar is.

Soos reeds getoon is, is Jesus se wonderwerke in die openbaar verrig, voor baie ooggetuies. Die vroegste Evangelies is geskryf op ’n tydstip toe die meeste van daardie ooggetuies nog gelewe het. Aangaande die eerlikheid van die Evangelieskrywers sê die boek The Miracles and the Resurrection die volgende: “Om die evangelieskrywers daarvan te beskuldig dat hulle geskiedkundige feite voor die voet begrawe het onder ’n klomp stories oor wonderwerke sodat hulle teologiese propaganda kon bevorder, sal heeltemal onregverdig wees. . . . Dit was hulle doel om ’n getroue weergawe van gebeure te gee.”

Joodse teenstanders van die Christelike godsdiens het nooit die kragtige werke betwis wat in die Evangelies beskryf word nie. Hulle het slegs die krag waardeur hierdie werke verrig is, in twyfel getrek (Markus 3:22-26). Ook latere kritici het nie daarin geslaag om Jesus se wonderwerke te ontken nie. Inteendeel, gedurende die eerste en tweede eeu G.J. was daar geskiedkundige verwysings na wonderwerke wat deur Jesus verrig is. Ons het ongetwyfeld alle rede om die Evangelieverslae van sy wonderwerke as eg te aanvaar.

Die man agter die wonderwerke

’n Ondersoek van Jesus se wonderwerke sou onvolledig wees as dit beperk word tot logiese argumente oor die egtheid daarvan. Wanneer die Evangelies Jesus se kragtige werke beskryf, openbaar dit ’n man met diepe gevoelens en onvergelyklike medelye, wat opreg belanggestel het in die welsyn van sy medemens.

Dink aan die geval van ’n melaatse wat Jesus genader het met die desperate versoek: “As u net wil, kan u my rein maak.” “Beweeg deur innige jammerte” het Jesus sy hand uitgesteek, die melaatse aangeraak en gesê: “Ek wil. Word gereinig.” Die man is onmiddellik genees (Markus 1:40-42). Jesus het daardeur bewys gelewer van die empatie wat hom beweeg het om sy godgegewe krag te gebruik om wonderwerke te verrig.

Wat het gebeur toe Jesus ’n lykstoet uit die stad Nain teëgekom het? Die oorledene was die enigste seun van ’n weduwee. “Ontroer deur innige jammerte” vir die vrou, het Jesus haar genader en gesê: “Hou op huil.” Toe het hy haar seun weer lewend gemaak.—Lukas 7:11-15.

’n Bemoedigende les wat ons uit Jesus se wonderwerke kan leer, is dat hy ‘ontroer is deur innige jammerte’ en dinge gedoen het om mense te help. Maar hierdie wonderwerke is nie bloot geskiedenis nie. “Jesus Christus is gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde”, sê Hebreërs 13:8. Hy regeer nou as hemelse Koning, gereed en in staat om sy godgegewe wonderdadige krag op ’n veel groter skaal te gebruik as toe hy ’n mens op aarde was. Binnekort sal Jesus dit gebruik om gehoorsame mense te genees. Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om meer oor hierdie wonderlike hoop vir die toekoms te leer.

[Prent op bladsy 5]

Jesus se wonderwerke was ’n bewys van “die majestueuse krag van God”

[Prent op bladsy 7]

Jesus was ’n man met diepe gevoelens

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel