Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 5/15 bl. 29-31
  • Hy was die Messias se voorloper

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hy was die Messias se voorloper
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sy sending word voorspel
  • ’n Stem in die Wildernis
  • “Alle soorte mense” word gewaarsku
  • Die Messias word bekend gestel
  • Getrou tot die einde toe
  • Johannes die Doper berei die weg voor
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Johannes berei die weg voor
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Johannes berei die weg
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 5/15 bl. 29-31

Hy was die Messias se voorloper

’NWYE leergordel het sy bruingebrande vel beklemtoon. Geklee in ’n kledingstuk van kameelhare, het hy voorwaar soos ’n profeet gelyk. Talle is na hom toe aangetrek by die Jordaanrivier. Daar het hierdie fassinerende man met vrymoedigheid verklaar dat hy gereed is om berouvolle sondaars te doop.

Mense was verstom! Wie was hierdie man? Wat was sy doel?

Jesus Christus het van hierdie persoon gesê: “Waarom hét julle dan eintlik uitgegaan? Om ’n profeet te sien? Ja, ek sê vir julle, en baie meer as ’n profeet. . . . Onder dié wat uit vroue gebore is, is daar niemand groter as Johannes die Doper verwek nie” (Matteus 11:9-11). Waarom was Johannes so ’n uitsonderlike mens? Omdat hy die Messias se voorloper was.

Sy sending word voorspel

Meer as 700 jaar voor sy geboorte het Jehovah aangekondig dat Johannes in die wildernis sou uitroep: “Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ’n grootpad vir onse God!” (Jesaja 40:3; Matteus 3:3). Meer as 400 jaar voor Johannes se geboorte het die almagtige God verklaar: “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek” (Maleagi 4:5). Die feit dat Johannes die Doper ongeveer ses maande voor Jesus gebore is, was nie blote toeval nie, en ook het dit nie net sommer op natuurlike wyse plaasgevind nie. Net soos die geboorte van die beloofde kind Isak, was Johannes se geboorte ’n wonderwerk, want beide sy ouers, Sagaria en Elisabet, was verby die normale ouderdom waartydens kinders voortgebring word.—Lukas 1:18.

Selfs voor Johannes ontvang is, is sy opdrag, werk en lewenswyse deur die engel Gabriël bekend gemaak. Met die ywer en gees van Elia sou Johannes ongehoorsames van die weg van die dood terugdraai en hulle voorberei om Jesus as die Messias te aanvaar. Van sy geboorte af sou Johannes ’n nasireër wees, ten volle aan God toegewy, en hy moes geen wyn of sterk drank drink nie. Trouens, sy voedsel in die woestyn het uit “sprinkane en wilde heuning” bestaan (Markus 1:6; Numeri 6:2, 3; Lukas 1:13-17). Soos Samuel, is Johannes van kleins af afgesonder vir die glorieryke diens van die allerhoogste God.—1 Samuel 1:11, 24-28.

Selfs die naam Johannes is deur God gekies. Die Hebreeuse naam wat met “Johannes” vertaal word, beteken “Jehovah het guns betoon; Jehovah was genadig”.

Toe die kind op die agtste dag besny is, het sy vader Sagaria onder Goddelike inspirasie gesê: “Wat jou betref, jong kindjie, jy sal ’n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor Jehovah uit gaan om sy weë gereed te maak, om aan sy volk kennis te gee van redding deur vergifnis van hulle sondes, weens die tere medelye van ons God. Met hierdie medelye sal ’n dagbreek ons uit die hoogte besoek” (Lukas 1:76-78). Johannes se openbare bediening sou die hoofsaak in sy lewe wees. In vergelyking daarmee was alle ander dinge van min belang. Gevolglik dek die Skrif die eerste 30 jaar van Johannes se lewe in ’n enkele vers: “Die jong kindjie het gegroei en sterk geword in die gees, en hy het in die woestyne gebly tot die dag dat hy hom openlik aan Israel vertoon het.”—Lukas 1:80.

’n Stem in die Wildernis

In die 15de jaar van die bewind van Tiberius Caesar, toe Pontius Pilatus die goewerneur van Judea was, het Johannes die Doper in die wildernis met hierdie verrassende boodskap verskyn: “Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matteus 3:2; Markus 1:4; Lukas 3:1, 2). Die bevolking van die hele streek is wakker geskud. Daardie moedige boodskap het die harte van mense geraak wat na ’n betroubare hoop gehunker het. Johannes se aankondiging het ook mense se nederigheid op die proef gestel, want dit het hartgrondige berou vereis. Sy opregtheid en oortuiging het menigtes eerlike en opregte mense beweeg om hom te sien as ’n man wat deur God gestuur is.

Johannes se roem het soos ’n veldbrand versprei. As Jehovah se profeet is hy maklik aan sy kleredrag en toegewydheid herken (Markus 1:6). Selfs priesters en Leviete het van Jerusalem gereis om uit te vind wat al hierdie belangstelling gaande gemaak het. Toon berou? Waarom en waaroor? Wie was hierdie man? Hulle wou weet. Johannes het verduidelik: “‘Ek is nie die Christus nie.’ En hulle het hom gevra: ‘Wat dan? Is jy Elia?’ En hy het gesê: ‘Ek is nie.’ ‘Is jy Die Profeet?’ En hy het geantwoord: ‘Nee!’ Daarom het hulle vir hom gesê: ‘Wie is jy?—sodat ons ’n antwoord kan gee aan dié wat ons gestuur het. Wat sê jy oor jouself?’ Hy het gesê: ‘Ek is ’n stem van iemand wat in die wildernis uitroep: “Maak die weg van Jehovah reguit”, net soos Jesaja, die profeet, gesê het.’ En dié wat uitgestuur is, was van die Fariseërs af. Hulle het hom dus uitgevra en vir hom gesê: ‘Waarom doop jy dan as jy self nie die Christus of Elia of Die Profeet is nie?’”—Johannes 1:20-25.

Berou en doop was noodsaaklike stappe vir diegene wat die Koninkryk wou binnegaan. Daarom het Johannes geantwoord: ‘Ek doop berouvolle sondaars met water, maar ná my sal iemand wat sterker is julle met heilige gees en met vuur doop. Kyk, ek is nie eers werd om sy sandale los te maak nie. En pasop! Hy dra ’n wanskop in sy hand en hy sal die koring in sy voorraadskuur versamel, maar die kaf verbrand en vernietig’ (Lukas 3:15-17; Handelinge 1:5). Ja, die heilige gees sou aan die volgelinge van die Messias geskenk word, maar sy vyande sou die vuur van vernietiging ondergaan.

“Alle soorte mense” word gewaarsku

Talle opregte Jode is diep geroer deur Johannes se woorde en het hulle sondes van ontrouheid aan die Wetsverbond openlik bely. Hulle het hulle berou in die openbaar getoon deur Johannes toe te laat om hulle in die Jordaanrivier te doop (Matteus 3:5, 6). Gevolglik was hulle harte in die regte toestand om die Messias te ontvang. Johannes het hulle dors na kennis van God se regverdige vereistes geles en hulle met graagte as sy dissipels onderrig en hulle selfs geleer hoe om te bid.—Lukas 11:1.

Die apostel Johannes het aangaande hierdie voorloper van die Messias geskryf: “Hierdie man het gekom tot ’n getuienis, om aangaande die lig te getuig, sodat alle soorte mense deur hom sou glo” (Johannes 1:7). Gevolglik het alle soorte mense Johannes die Doper gehoor terwyl hy “in die openbaar doop as ’n simbool van berou aan die hele volk Israel verkondig het” (Handelinge 13:24). Hy het die belastinggaarders teen afpersing gemaan. Hy het soldate gewaarsku om niemand te intimideer of om valse beskuldigings te maak nie. En hy het vir die vroom, huigelagtige Fariseërs en Sadduseërs gesê: “Addergebroedsel, wie het julle te kenne gegee om vir die komende gramskap te vlug? Bring dan vrugte voort wat by berou pas; en moet julle nie aanmatig om vir julleself te sê: ‘Ons het Abraham as vader’ nie. Want ek sê vir julle dat God uit hierdie klippe kinders vir Abraham kan verwek.”—Matteus 3:7-9; Lukas 3:7-14.

As ’n klas het die godsdiensleiers van Johannes se dag geweier om hom te glo en hom valslik daarvan beskuldig dat hy demoonbesete was. Hulle het die weg van regverdigheid verwerp wat na die ewige lewe lei. Daarenteen het sondige tollenaars en hoere wat Johannes se getuienis geglo het, hulle bekeer en hulle laat doop. Later het hulle Jesus Christus as die Messias aanvaar.—Matteus 21:25-32; Lukas 7:31-33.

Die Messias word bekend gestel

Oor ’n tydperk van ses maande—van die lente tot die herfs van 29 G.J.—het God se getroue getuie, Johannes, die Jode se aandag op die komende Messias gevestig. Dit was tyd vir die Messiaanse Koning om te verskyn. Maar toe hy verskyn, het hy na dieselfde Jordaanwater afgekom en gevra om gedoop te word. Aanvanklik het Johannes geprotesteer, maar toe gehoor gegee. Stel jou sy vreugde voor toe die heilige gees op Jesus neergedaal het en Jehovah se stem gehoor is wat goedkeuring van Sy Seun uitspreek.—Matteus 3:13-17; Markus 1:9-11.

Johannes was die eerste een wat Jesus as die Messias herken het, en hy het sy eie dissipels aan hierdie Gesalfde bekend gestel. “Kyk”, sê Johannes, “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Hy het ook gesê: “Dit is die een van wie ek gesê het: Ná my kom ’n man wat voor my uit gegaan het, want hy het voor my bestaan. Selfs ek het hom nie geken nie, maar die rede waarom ek in water kom doop het, was sodat hy aan Israel openbaar gemaak kon word.”—Johannes 1:29-37.

Johannes se werk het nog omtrent ses maande lank met Jesus se bediening saamgeval. Elkeen het die ander se werk verstaan. Johannes het homself as die vriend van die Bruidegom beskou en hom daarin verheug om Christus te sien toeneem terwyl hy en sy werk afgeneem het.—Johannes 3:22-30.

Jesus het Johannes as sy voorloper geïdentifiseer, wat deur Elia afgebeeld is (Matteus 11:12-15; 17:12). By een geleentheid het Jesus gesê: “Die Wet en die Profete was tot op Johannes. Van toe af word die koninkryk van God as goeie nuus bekend gemaak, en alle soorte mense beur vooruit daarna.”—Lukas 16:16.

Getrou tot die einde toe

Johannes is gearresteer en in die tronk gesit omdat hy die waarheid moedig verkondig het. Hy het nie sy verantwoordelikheid ontduik om selfs die sonde van koning Herodus bloot te lê nie. Daardie koning het God se wet verbreek deur in owerspel met sy eie broer se vrou, Herodias, te lewe. Johannes het nie doekies omgedraai nie, sodat die man berou kon toon en God se barmhartigheid kon verkry.

Wat ’n voorbeeld van geloof en liefde was Johannes tog! Hy het sy getrouheid aan Jehovah God en sy liefde vir sy medemens ten koste van sy persoonlike vryheid bewys. Ná ’n jaar in gevangenskap is Johannes onthoof as gevolg van ’n Duiwel-geïnspireerde plan wat beraam is deur goddelose Herodias, wat “’n wrok teen hom gekoester” het (Markus 6:16-19; Matteus 14:3-12). Maar die Messias se voorloper het sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf en sal binnekort uit die dode opgewek word om die lewe in God se nuwe wêreld van regverdigheid te geniet.—Johannes 5:28, 29; 2 Petrus 3:13.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel