Muntstukke met God se naam daarop
KYK goed na die silwermuntstukke wat hier getoon word. Die Duitse koning Willem V het hulle tydens sy bewind vanaf 1627 tot 1637 laat munt. Op daardie tydstip was Sentraal-Europa in die greep van die Dertigjarige Oorlog, ’n stryd tussen Katolieke en Protestante. Willem V het hom by die Protestante geskaar. Om die ontsaglike koste van die oorlog te dek, het hy al sy silwer geneem en muntstukke daarvan laat maak.
Interessant genoeg, die afbeeldings op baie van die muntstukke vertoon die son wat God se naam, Jehovah, in die vorm van die Hebreeuse Tetragrammaton, omring. Daar is ook ’n palmboom, wat sterkte aandui. Die implikasie is dat die boom, hoewel dit deur die wind gebuig word, ongebroke bly as gevolg van God se beskerming. Die naam Jehovah verskyn op die Latynse omskrif op die muntstuk, wat vertroue in sy beskermende sorg uitspreek.
Pleks dat hierdie gebruik van God se naam God se beskerming tot gevolg gehad het, was dit in werklikheid nutteloos, want Jehovah kies nie kant in die gewelddadige konflikte van die mensdom nie. Trouens, die Dertigjarige Oorlog kon nie God se goedkeuring geniet het nie. “Volgens matige skattings”, sê Funk & Wagnalls New Encyclopedia, “het nie minder nie as die helfte van die Duitse volk tydens die oorlog omgekom. Tallose Duitse stede, dorpe, dorpies en plase is vernietig. Ongeveer twee derdes van die nywerheids-, landbou- en handelsinrigtings in Duitsland was in puin.”
Die gebruik van die naam Jehovah op hierdie muntstukke herinner ’n mens aan die bevel wat aan Israel gegee is: “Jy mag die Naam van [Jehovah, NW] jou God nie ydellik gebruik nie” (Exodus 20:7). Hierdie muntstukke getuig nietemin dat die Goddelike naam, Jehovah, lank reeds aan mense in Duitsland bekend is. Hoe goed ken jy die God wat daardie naam dra?