Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 5/1 bl. 22-26
  • Volharding lei tot vooruitgang

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volharding lei tot vooruitgang
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Klein begin
  • Ek streef daarna om my pa se voorbeeld te volg
  • ’n Deelname aan Koninkryksdiens
  • Vrymoedigheid ten spyte van teenstand
  • ’n Getroue en lojale helper
  • Jehovah het my vasberadenheid geseën
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Volharding bring vreugde mee
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Jehovah bewaar ons
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderskraag deur my vertroue in Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 5/1 bl. 22-26

Volharding lei tot vooruitgang

SOOS VERTEL DEUR JOSÉ MAGLOVSKY

Toe die polisieman my aan die arm gryp, het ek rondgekyk op soek na my pa. Maar sonder dat ek geweet het, is hy reeds na die polisiestasie toe geneem. Toe ek daar aankom, het die polisie beslag gelê op al ons publikasies, met inbegrip van ons Bybels, en dit op die vloer gestapel. “Sit julle selfs die Bybels op die vloer neer?” het my pa gevra toe hy dit sien. Die bevelvoerder het verskoning gevra, die Bybels opgetel en hulle op die tafel gesit.

HOE het ons in die polisiestasie beland? Waarmee was ons besig gewees? Was ons in ’n ateïstiese polisiestaat, sodat selfs die Bybel van ons af weggeneem is? Om hierdie vrae te beantwoord, sal ons moet teruggaan na 1925, na voor ek nog gebore is.

In daardie jaar het my pa, Estefano Maglovsky, en my ma, Juliana, die eertydse Joego-Slawië verlaat en na Brasilië verhuis en in Sao Paulo gaan woon. Hoewel my pa ’n Protestant en my ma ’n Katoliek was, was godsdiens nie ’n verdelende faktor tussen hulle nie. Trouens, tien jaar later het iets gebeur wat hulle op godsdiensvlak bymekaargebring het. My pa se swaer het vir hom ’n volkleurboekie in Hongaars gebring oor die toestand van die dooies. Hy het die boekie as ’n geskenk ontvang en my pa gevra om dit te lees en hom sy mening oor die inhoud te gee, veral die deel oor die “hel”. My pa het die boekie die hele nag lank gelees en weer gelees, en die volgende dag, toe sy swaer gekom het om sy mening te hoor, het my pa met oortuiging gesê: “Hier is die waarheid!”

’n Klein begin

Aangesien dit een van Jehovah se Getuies se publikasies was, het hulle albei na die Getuies gaan soek om meer oor hulle oortuiging en leerstellings uit te vind. Toe daar uiteindelik met hulle in aanraking gekom is, het ’n hele paar van ons familielede Bybelbesprekings saam met die Getuies begin hou. In daardie selfde jaar, 1935, is ’n gereelde Bybelstudie in Hongaars begin wat deur gemiddeld agt mense bygewoon is, en sedertdien is daar nog altyd gereelde Bybelstudies in ons huis gehou.

Nadat my pa die Bybel twee jaar lank bestudeer het, het hy hom in 1937 laat doop en het hy ’n geesdriftige Getuie van Jehovah geword wat aan die huis-tot-huis-predikingswerk deelgeneem het en ook as ’n aangestelde kneg en studiehouer gedien het. Hy het die eerste gemeente in Sao Paulo, in die Vila Mariana-deel, help stig. Die gemeente is later na die middestad verskuif en het as die Sentraal-gemeente bekend begin staan. Tien jaar later is die tweede gemeente gevorm, in die Ypiranga-gebied, en my pa is daar as gemeentekneg aangestel. In 1954 is ’n derde gemeente, in die Moinho Velho-deel, gevorm waar hy ook as gemeentekneg gedien het.

Kort nadat daardie groep goed gevestig is, het hy ’n nabygeleë groep in Sao Bernardo do Campo begin help. Danksy Jehovah se seën op die pogings van hierdie klein groepies Getuies oor die jare heen was die groei so wonderbaarlik dat daar in 1994 oor die 70 000 verkondigers in die 760 gemeentes in Sao Paulo en omstreke was. Ongelukkig het my pa nie hierdie groei beleef nie. Hy het in 1958 op die ouderdom van 57 gesterf.

Ek streef daarna om my pa se voorbeeld te volg

’n Uitstaande karaktertrek van my pa, soos met ander ryp Christene, was sy gasvryheid. (Sien 3 Johannes 1, 5-8.) Ons was gevolglik bevoorreg om Antonio Andrade en sy vrou en seun, wat in 1936 saam met broer en suster Yuille van die Verenigde State na Brasilië gekom het, as gaste te hê. Nog gaste in ons huis was Harry Black en Dillard Leathco, twee gegradueerdes aan die Wagtoring-Bybelskool Gilead wat in 1945 die eerste sendelinge was wat na Brasilië toe gestuur is. Baie ander het ná hulle gekom. Hierdie broers en susters was ’n voortdurende bron van bemoediging vir almal in ons gesin. Uit waardering hiervoor en ter wille van my gesin het ek daarna gestreef om my pa se voorbeeld na te volg wat die Christelike eienskap gasvryheid betref.

Hoewel ek net nege jaar oud was toe my pa die waarheid in 1935 geleer het, het ek, as die oudste seun, hom in sy teokratiese bedrywighede begin vergesel. Ons almal het hom na die vergaderinge by die Koninkryksaal vergesel wat by die Getuies se hoofkwartier in Sao Paulo in Eça de Queiroz-straat, nommer 141, gehou is. Danksy die onderrigting en opleiding wat my pa my gegee het, het ek ’n brandende begeerte ontwikkel om Jehovah te dien, en in 1940 het ek my aan Jehovah toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer in wat nou die besoedelde Tietê-rivier is wat deur die middel van Sao Paulo vloei.

Ek het gou geleer wat dit beteken om ’n gereelde verkondiger van die goeie nuus te wees, die waarheidsboodskap in ander te plant en nat te gooi en tuisbybelstudies met hulle te hou. As ek nou na die duisende toegewyde Getuies van Jehovah in Brasilië kyk, ervaar ek groot vreugde in die wete dat ek deur Hom gebruik is om baie van hulle te help om tot ’n kennis van die waarheid te kom of hulle waardering daarvoor te vergroot.

Onder diegene wat ek gehelp het, was Joaquim Melo, wat ek in die deur-tot-deur-bediening ontmoet het. Ek het met drie ander mans gesels wat geluister het, maar sonder veel belangstelling. Toe het ek ’n jong seun opgemerk wat by ons aangesluit en aandagtig geluister het. Omdat ek sy belangstelling kon sien, het ek my aandag op hom gevestig en hom, ná ’n goeie getuienis, na die Gemeentelike Boekstudie genooi. Hy het nie die studie bygewoon nie, maar wel vir die Teokratiese Bedieningskool opgedaag en daarna gereeld vergaderinge bygewoon. Hy het goeie vordering gemaak, is gedoop en het ’n hele paar jaar lank gedien as ’n reisende opsiener vergesel deur sy vrou.

Dan was daar Arnaldo Orsi wat ek by my werksplek ontmoet het. Ek het gereeld vir ’n medewerker getuig, maar opgelet dat ’n bebaarde jong man altyd geluister het, en daarom het ek direk met hom begin praat. Hy was van ’n stoere Katolieke familie maar het baie vrae gevra oor dinge soos rook, die kyk na pornografiese films en die beoefening van die verweerkuns judo. Ek het vir hom gewys wat die Bybel sê, en tot my vreugde en verbasing het hy my die volgende dag oorgenooi om te kom kyk hoe hy sy pyp en aansteker saam met sy kruisbeeld breek, sy pornografiese films vernietig en sy baard afskeer. Hy was ’n ander man in ’n kwessie van minute! Hy het ook opgehou om judo te beoefen en gevra dat ek daagliks die Bybel met hom studeer. Ondanks teenkanting van sy vrou en pa, het hy met die hulp van die broers wat naby hom gewoon het geestelik goeie vooruitgang gemaak. In ’n kort tydjie is hy gedoop en vandag dien hy as ’n gemeentelike ouer man. Sy vrou en kinders het ook die waarheid aangeneem.

’n Deelname aan Koninkryksdiens

Toe ek ongeveer 14 was, het ek by ’n reklamefirma begin werk waar ek geleer het om reklameborde te verf. Dit het baie nuttig te pas gekom, en jare lank was ek die enigste broer in Sao Paulo wat gebruik is om die plakkate en oorhoofse spandoeke te verf wat openbare toesprake en byeenkomste van Jehovah se Getuies geadverteer het. Ek het byna 30 jaar lank die voorreg gehad om as opsiener van die byeenkomsafdeling te dien waar die inligtingstekens geverf is. Ek het altyd my vakansie gespaar sodat ek by die byeenkoms kon werk, en ek het selfs in die byeenkomssaal geslaap sodat ek die inligtingstekens betyds kon klaarkry.

Ek het ook die geleentheid gehad om met die Genootskap se klankmotor te werk, wat op daardie stadium ’n groot nuwigheid was. Ons het ons Bybelpublikasies op ’n tafeltjie geplaas, en terwyl die klankmotor ’n opname van ’n boodskap uitgesaai het, het ons met die mense gesels wat uit hulle huise gekom het om te sien wat aangaan. ’n Ander metode wat ons gebruik het om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, was die draagbare grammofoon, en ek het nog die plate wat gebruik is om die Genootskap se publikasies aan te bied. Baie Bybellektuur is gevolglik versprei.

In daardie dae het die Katolieke Kerk lang optogte in die strate van Sao Paulo gehou, dikwels met mans aan die voorpunt om ’n weg te baan. Een Sondag het ek en my pa Die Wagtoring en Ontwaak! op straat aangebied toe ’n lang optog verskyn. My pa het soos gewoonlik sy hoed opgehad. Een van die mans aan die voorpunt van die optog het geskreeu: “Haal af jou hoed! Sien jy nie daar kom ’n optog nie?” Toe my pa nie sy hoed afhaal nie, het meer mans gekom en ons eenkant teen ’n winkelvenster vasgedruk en ’n oproerigheid veroorsaak. Dit het die aandag van ’n polisieman getrek wat kom kyk het wat aangaan. Een van die mans het hom aan die arm geneem om met hom te praat. “Haal jou hand van my uniform af!” het die polisieman beveel en die man se hand weggeklap. Toe het hy gevra wat aangaan. Die man het verduidelik dat my pa weier om sy hoed vir die optog af te haal en bygevoeg: “Ek is ’n apostoliese Rooms-Katoliek.” Die onverwagte antwoord was: “Jy sê jy’s ’n Romein? Gaan dan terug na Rome toe! Ons is nou in Brasilië.” Toe het hy na ons gedraai en gevra: “Wie was eerste hier?” Toe my pa antwoord dat dit ons was, het die polisieman die mans weggestuur en vir ons gesê om voort te gaan met ons werk. Hy het langs ons gestaan totdat die hele optog verby was—en my pa se hoed het opgebly!

Sulke voorvalle was seldsaam. Maar wanneer dit wel gebeur het, was dit bemoedigend om te weet dat daar mense was wat in geregtigheid vir minderhede geglo het en wat nie voor die Katolieke Kerk neergebuig het nie.

By ’n ander geleentheid het ek ’n tiener ontmoet wat belangstelling getoon het en gevra het dat ek die volgende week moet terugkom. Met my herbesoek het hy my vriendelik ontvang en binnegenooi. Hoe verbaas was ek tog toe ek vind dat ek omring is deur ’n bende jongmense wat my spot en probeer uitlok! Die situasie het vererger en ek het gedink dat hulle my enige oomblik gaan aanval. Ek het vir die een wat my genooi het, gesê dat as enigiets met my gebeur hy alleen daarvoor aanspreeklik sou wees en dat my familie weet waar ek is. Ek het hulle gevra om my te laat gaan en hulle het ingestem. Maar voor ek geloop het, het ek gesê dat as enigeen alleen met my wou praat ek beskikbaar sou wees. Later het ek gehoor dat hulle ’n fanatiese groep en vriende van die plaaslike priester was wat hulle opgesteek het om hierdie vergadering te reël. Ek was bly dat ek uit hulle kloue was.

In die begin was die vooruitgang in Brasilië natuurlik stadig, byna onwaarneembaar. Ons was in die aanvanklike “plant”-stadium met min tyd tot ons beskikking om dit te “bewerk” en die vrugte van ons arbeid te “oes”. Ons het altyd onthou dat die apostel Paulus geskryf het: “Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het dit deurentyd laat groei; sodat nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi iets is, maar God wat dit laat groei” (1 Korintiërs 3:6, 7). Met die koms van die eerste twee Gilead-gegradueerdes in 1945 het ons gevoel dat die tyd vir hierdie langverwagte groei aangebreek het.

Vrymoedigheid ten spyte van teenstand

Groei sou egter nie sonder teenstand kom nie, veral nadat die Tweede Wêreldoorlog in Europa uitgebreek het. Daar was direkte vervolging omdat mense oor die algemeen asook die owerheid nie ons neutrale standpunt verstaan het nie. By een geleentheid, in 1940, terwyl ons in die middel van Sao Paulo met plakkate straatwerk gedoen het, het ’n polisieman van agter af gekom, die plakkate afgeruk en my aan die arm gegryp om my polisiestasie toe te neem. Ek het rondgekyk op soek na my pa, maar hy was nêrens te sien nie. Ek was onbewus van die feit dat hy en verskeie ander broers en susters, onder andere broer Yuille wat oor die werk in Brasilië toesig gehou het, reeds na die polisiestasie geneem was. Daar het ek, soos die inleidingsparagraaf toon, weer by my pa aangesluit.

Aangesien ek minderjarig was, kon ek nie aangehou word nie en is ek nie lank daarna nie deur ’n polisieman huis toe geneem na my ma toe. Daardie selfde aand is die susters ook vrygelaat. Later het die polisie besluit om die broers, ongeveer tien van hulle, vry te laat, almal behalwe broer Yuille. Die broers het egter daarop aangedring: “Óf ons almal gaan, óf niemand gaan nie.” Die polisie was onwrikbaar en almal het gevolglik die nag saam in ’n koue kamer op ’n sementvloer geslaap. Die volgende dag is almal onvoorwaardelik vrygelaat. Broers is verskeie kere in hegtenis geneem omdat hulle met plakkate getuig het. Die plakkate het ’n openbare toespraak en ook ’n boekie getiteld Fascism or Freedom geadverteer, en party owerhede het gedink dit beteken dat ons ten gunste van Fascisme was, wat natuurlik tot misverstande gelei het.

Verpligte militêre diens het ook probleme vir die jong broers teweeg gebring. Ek was in 1948 die eerste een in Brasilië wat weens hierdie geskil tronk toe gegaan het. Die owerheid het eenvoudig nie geweet wat om met my te maak nie. Ek is na die weermagbarakke in Caçapava oorgeplaas waar ek groente in die tuin moes plant en versorg asook die kamer moes skoonmaak wat deur die offisiere gebruik is om in te skerm. Ek het baie geleenthede gehad om te getuig en publikasies onder die manne te versprei. Die bevelvoerende offisier was die eerste een om ’n eksemplaar van die Genootskap se boek Kinders te aanvaar. Later is ek selfs aangewys om godsdiensklasse vir ongeveer 30 of 40 soldate te gee, wat nie oefeninge kon doen nie en tot ’n kamer beperk was. Uiteindelik, ná ongeveer tien maande in die tronk, is ek verhoor en vrygelaat. Ek is dankbaar teenoor Jehovah wat my die krag gegee het om die dreigemente, vernedering en spot wat ek van sommige van die manne ontvang het die hoof te bied.

’n Getroue en lojale helper

Op 2 Junie 1951 is ek met Barbara getroud, en sedertdien was sy ’n lojale en getroue metgesel in die opvoeding en grootmaak van ons kinders in “die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” (Efesiërs 6:4). Vier van ons vyf kinders dien Jehovah met vreugde in verskillende hoedanighede. Ons hoop is dat hulle, saam met ons, sal voortgaan om in die waarheid te volhard en tot die vooruitgang van die organisasie en die werk wat gedoen word by te dra. Die familielede in die bygaande foto is almal toegewyde knegte van Jehovah, almal behalwe die jongste, ’n baba. Vier is ouer manne waarvan twee ook gewone pioniers is, en dit illustreer hoe waar Spreuke 17:6 is: “Kindskinders is ’n kroon vir grysaards, en vir die kinders is hulle pa ’n eer.”

Nou, op 68, is my gesondheid nie van die beste nie. In 1991 is ek vir ’n driedubbele hartomleiding en later ’n angioplastiek opgeneem. Ek is egter bly dat dit vir my moontlik is om steeds as presiderende opsiener in ’n gemeente in Sao Bernardo do Campo te dien en in die voetspore van my pa te volg wat onder die eerstes was wat die werk hier begin het. Ons geslag is inderdaad uniek vanweë die geleentheid wat ons het om aan die eenmalige voorreg deel te neem om die oprigting van Jehovah se Messiaanse Koninkryk aan te kondig. Daarom moet ons nooit Paulus se woorde aan Timoteus vergeet nie: “Jy egter . . . , doen die werk van ’n evangelis, voer jou bediening ten volle uit.”—2 Timoteus 4:5.

[Prent op bladsy 23]

My ouers, Estefano en Juliana Maglovsky

[Prent op bladsy 26]

José en Barbara saam met lede van hulle familie toegewyde knegte van Jehovah

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel