Godsdiens—’n Onderwerp wat taboe is?
“DAAR is twee onderwerpe wat ek nooit bespreek nie: godsdiens en politiek!” Dit is ’n algemene reaksie wanneer Jehovah se Getuies met ander oor die Bybel praat. En die standpunt is verstaanbaar.
Wanneer mense oor politiek praat, kan humeure opvlam en kan dit ’n rusie tot gevolg hê. Baie word nie deur leë beloftes bedrieg nie en besef dat politici dikwels slegs na mag, roem en rykdom streef. Ongelukkig lei politieke verskille soms tot geweld.
‘Maar’, redeneer jy moontlik, ‘is dieselfde nie ook waar van godsdiens nie? Het godsdiensywer nie talle hedendaagse konflikte ontketen nie?’ In Noord-Ierland was Rooms-Katolieke en Protestante lank in ’n stryd met mekaar gewikkel. In die Balkan ding lede van die Oos-Ortodokse Kerk, Rooms-Katolieke en ander mee om grondgebied. Wat is die gevolg? Wreedhede en voortdurende vyandigheid.
Wanneer mense in lewensgevaar verkeer, probeer baie hulle persoonlike opvattings en dié van hulle gesinne geheim hou. Vanweë die eeue lange godsdiensvyandigheid tussen mense van die Christendom en aanhangers van ander vreemde asook etniese godsdienste in Afrika het ouers hulle kinders twee name gegee wat ’n mate van beskerming bied, ’n gebruik wat vandag nog voortbestaan. Sodoende kan ’n jong seun hom voordoen as ’n kerklidmaat of as ’n lid van ’n ander godsdiens deur die een naam te gebruik maar nie die ander nie. Wanneer iemand se godsdiensopvattings hom sy lewe kan kos, is dit geen wonder dat hy huiwer om godsdiens openlik te bespreek nie.
Godsdiens is vir ander ’n onderwerp wat taboe is selfs wanneer hulle lewe nie in gevaar is nie. Hulle vrees dat ’n bespreking oor hulle opvattings met iemand van ’n ander geloof tot ’n sinlose argument sal lei. Nog ander meen dat alle gelowe goed is. Solank iemand tevrede is met wat hy glo, sê hulle, is dit nutteloos om oor die verskille te praat.
Selfs ernstige studente wat die wese van godsdiens bestudeer, verskil onder mekaar. The New Encyclopædia Britannica erken in sy artikel “The Study and Classification of Religions”: “Daar is selde . . . eenstemmigheid onder geleerdes oor die wese van [godsdiens] . . . Daarom het die onderwerp, deur sy hele geskiedenis heen, geskilpunte gehad.”
Een woordeboek definieer godsdiens as “die uitdrukking van die mens se geloof in en eerbied vir ’n bomenslike mag wat as die skepper en regeerder van die heelal erken word”. Dit sou vereis dat godsdiens ’n belangrike rol in die lewe speel. Godsdiens was dan ook ’n universele faktor by die vorming van die mensegeskiedenis. “Daar is geen gemeenskap”, sê die Oxford Illustrated Encyclopedia of Peoples and Cultures, “wat nie deur die een of ander vorm van godsdiens orde en sin aan die lewe probeer gee het nie.” Aangesien dit grondbeginsels soos die “orde” en “sin” van die lewe bevat, behoort godsdiens sekerlik iets anders as argumente en twisgesprekke te verdien. Dit verdien eerder bespreking—dit wil sê, deeglike oorweging—met iemand anders. Maar met wie, en watter voordeel sal dit inhou?