Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 11/15 bl. 23-28
  • Berou wat na God teruglei

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Berou wat na God teruglei
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • STAPPE WAT NA GOD TERUGLEI
  • TEREGWYSING MET DIE WOORD VAN GOD
  • “WYS PERSONE . . . VOOR ALLE TOESKOUERS TEREG”
  • IS HY BEROUVOL?
  • ‘WERKE WAT BY BEROU PAS’
  • HELP DIE GEMEENTE
  • Hoe om liefde en genade aan sondaars te betoon
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Bewaar die vrede en reinheid van die gemeente
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Aanvaar altyd Jehovah se dissipline
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Hulp vir dié wat uit die gemeente verwyder word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 11/15 bl. 23-28

BEROU WAT NA GOD TERUGLEI

“Die goedgunstige hoedanigheid van God probeer om jou tot berou te bring.”—Rom. 2:4, NW.

1, 2. Wat moet ons omtrent sonde en God se beskouing besef?

ELKEEN van ons kan bemoedig word deur die psalmis Dawid se woorde:

“Barmhartig en genadig is die HERE,

lankmoedig en groot van goedertierenheid.

Hy handel met ons nie na ons sondes

en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.

Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders,

so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.

Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is,

gedagtig dat ons stof is.”—Ps. 103:8, 10, 13, 14.

2 Selfs al besef God dat ons almal sondaars is, wil hy ons help en is hy bereid om te vergewe (Ps. 32:1, 2). Maar ons begrip van God sou nie akkuraat gewees het as ons nie sy hele beskouing van sonde aanvaar het nie. Hoewel Psalm 103 ons verseker dat Jehovah “al [ons] ongeregtigheid vergewe”, toon dit ook ons verpligtinge wanneer dit sê: “Die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, . . . vir die wat . . . aan sy bevele dink om dié te doen.”—Ps. 103:3, 17, 18.

3. Waarom is berou noodsaaklik?

3 Gestel ’n persoon doen ernstige sonde, is nie berouvol nie en soek nie God se vaderlike barmhartigheid nie, maar hou aan om te sondig. Wat dan? Exodus 34:6, 7 gee ons ’n beskrywing van Jehovah. Nadat dit sy barmhartigheid, sy lankmoedigheid en gewilligheid om sonde te vergewe, beklemtoon het, voeg dit by: “Maar [Hy sal] nooit ongestraf laat bly nie.” (Vergelyk Numeri 25:1-5; Esegiel 33:12, 13.) Ons moet gevolglik nie van sy barmhartigheid misbruik maak of dit as vanselfsprekend aanvaar nie. Wat moet ’n ware aanbidder dan doen wanneer hy in sonde verval?

STAPPE WAT NA GOD TERUGLEI

4. Hoe kan ons vergifnis ontvang? (2 Kron. 7:13, 14)

4 ’n Christen wat teen God se wet gesondig het, het vergifnis nodig. Wie kan dit skenk? In werklikheid net God. Die apostel Johannes het geskryf: “As ons ons sondes [aan God] bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”—1 Joh. 1:9; 2:1.

5, 6. Watter raad bevat Jakobus 5:14-16, en waarom is dit redelik dat ’n oortreder hierdie raad toe pas?

5 In die geval van ernstige sonde raai God wyslik aan dat ’n Christen wat sy “sondes bely” ’n bykomende stap moet doen. In ’n verband wat klaarblyklik verwys na geestelike siekte wat met “sonde” gepaard gaan, het die dissipel Jakobus geskryf: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge [of, ouere manne] van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid . . . En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.”—Jak. 5:14-16.

6 Hierdie stap is redelik, want ’n Christen wat ernstige sonde gedoen het, toon ’n mate van geestelike swakheid en het ’n behoefte aan hulp. Hy kan baat vind by die gebede van geloof van die ‘ouere manne van die gemeente’. Hulle is ook in ’n posisie om vir hom Bybelse raad en hulp te gee sodat hy sy geestelike krag kan herwin. Party oortredings is daarbenewens ook sondes teen die Christengemeente, want hulle doen God se volk smaad en leed aan. Dit maak dit selfs meer gepas dat so ’n sondaar die ouere manne se hulp inroep.—2 Kor. 2:10.

7. Hoe word die ouere manne van sonde verwittig sodat hulle kan help? (Spr. 28:23; 29:24)

7 Dit toon wysheid en nederigheid aan die kant van die Christen wat hom skuldig gemaak het aan ernstige sonde as hy die ouere manne uit sy eie nader. “Hy wat sy oortredinge bedek [“wegsteek”, Lamsa], sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spr. 28:13). Weens verleentheid, ’n skuldgevoel of ’n gebrek aan hartgrondige droefheid nader ’n sondaar soms nie die ouere manne soos Jakobus aanraai nie. Enige Christen wat van die sonde bewus is, moet die oortreder aanspoor om sy sonde die rug toe te keer en die nodige geestelike hulp te soek. As die oortreder steeds nie na die ouere manne toe wil gaan nie, moet die ander Christen hulle daarvan verwittig sodat hulle die nodige hulp kan verleen. Dit moet alle Christene se begeerte wees om ‘’n sondaar van sy dwaalweg te bekeer’ en aldus ‘sy siel uit die dood te red’.—Jak. 5:19, 20.

TEREGWYSING MET DIE WOORD VAN GOD

8. Hoe gaan ouere manne tydens ’n komiteevergadering te werk?

8 Wanneer ’n regterlike komitee met ’n oortreder vergader, vra hulle Jehovah se leiding in gebed. Op ’n wyse wat vir liefdevolle herders gepas is, bespreek die ouere manne die oënskynlike probleem geduldig met die indiwidu (Ef. 5:1, 2; 1 Pet. 5:2, 3). Selfs al is daar getuies wat kan staaf dat daar oortree is, spoor die regterlike komitee die persoon aan om nie alleen die oortreding openhartig te bespreek nie, maar ook die dinge wat daartoe aanleiding gegee het en hoe hy daaromtrent voel (Deut. 19:15; Joh. 8:17). Waarom is dit nodig?

9, 10. Wat probeer die ouere manne tydens ’n komitee saak doen? (Ps. 51:15)

9 Al bewys die ouere manne wat die saak aanhoor die persoon se skuld of oortuig hulle hom van oortreding, is dit hulle hoofdoel om hulle Christenbroer wat afgedwaal het, te help. Hulle wil hom tot berou beweeg sodat “verkwikking van die aangesig van die Here mag kom” (Hand. 3:19). As die persoon nie die oortreding erken, nie die ernstige aard daarvan besef of die nodigheid vir berou sien nie, moet hulle ‘oortuigende bewys van sy sonde en van regverdigheid’ lewer. (Vergelyk Johannes 16:8, NW.) Maar wanneer hulle sulke godvrugtige teregwysing gee, moet hulle nie wraaksugtig of hardvogtig wees nie. Die Bybel spoor ons aan: “Weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Tim. 4:1, 2). Deur die sondaar ferm, vriendelik en geduldig tereg te wys, kan hulle moontlik sy hart bereik en hom help om die oortreding te haat en na God terug te keer.—Jer. 3:12, 13.

10 Ons kan uit Esra se voorbeeld leer. Hy het duidelik vir die Jode hulle sonde getoon. Dit was nie hoofsaaklik om hulle skaam te maak nie, maar om hulle daarmee te laat ophou, om hulle harte te bereik, om hulle die oortreding te laat haat en hulle berouvol te maak. Hulle moes hulle sondes voor Jehovah bely en dienooreenkomstig optree deur alles in hulle vermoë te doen om hulle oortreding ongedaan te maak (Esra 10:7-14). Die komitee wat ’n geval van growwe sonde hanteer, wil eweneens die oortreder help om die erns van die oortreding te besef en om in sy hart die nodigheid vir berou te sien.—Jes. 1:18.

“WYS PERSONE . . . VOOR ALLE TOESKOUERS TEREG”

11. Wie het Skriftuurlike teregwysing nodig?

11 Waar dit kom by regterlike vergaderinge met oortreders, pas ouere manne die apostel Paulus se woorde aan Timotheüs toe: “Wys persone wat sonde beoefen voor alle toeskouers [letterlik, “ten aanskoue van almal”] tereg, sodat ook die ander kan vrees” (1 Tim. 5:20, NW). Hierdie oortreders is persone wat ‘in sonde volhard’ (Revised Standard Version) of “voortgaan in sonde” (New American Standard Bible) tot op die tydstip dat hulle tereggewys word.

12. Hoe pas ’n regterlike komitee die raad in 1 Timotheüs 5:20 toe?

12 In die eerste eeu kon Timotheüs, as ’n afgevaardigde van die apostel Paulus, daardie skriftelike instruksie persoonlik uitvoer ‘ten aanskoue van almal’ wat by die saak betrokke was, met die oortreder teenwoordig. Vandag word sulke teregwysing gewoonlik gegee deur ’n aangewese komitee van ouere manne in plaas van ’n indiwidu. Die hele gemeente is nie noodwendig by die saak betrokke nie. Teen die einde van die regterlike komitee se vergadering, nadat die persoon se skuld bewys is, gee die ouere manne Skriftuurlike teregwysing in verband met die oortreding. Die persone wat getuienis afgelê het oor die sonde is teenwoordig, en sulke ingeligte persone word genooi om die Bybel se teregwysing aan te hoor. Dit word aldus “voor alle toeskouers” of ‘ten aanskoue van almal’ gegee. Hierdie persone, wat “die ander” is wat in 1 Timotheüs 5:20 gemeld word, kan sodoende gehelp word om ’n heilsame vrees vir sonde te hê en om die nodigheid te sien om sonde en die omstandighede wat daartoe aanleiding kan gee, te vermy.

IS HY BEROUVOL?

13. Met watter uitdaging het die ouere manne te kampe in ’n geval van ernstige sonde?

13 Een van die grootste uitdagings vir ouere manne wat gevalle van oortreding hanteer, is om te besluit of die sondaar ware berou toon. Hulle moet nie bloot na die uiterlike oordeel nie. Omdat hulle nie harte kan lees nie, moet hulle goeie oordeel, balans en wysheid aan die dag lê wanneer hulle bepaal hoe ernstig die oortreding is, wat God se wet daaromtrent sê en wat die sondaar sê en doen.

14, 15. Waarom moet die ouere manne versigtig wees wanneer hulle besluit of iemand berouvol is?

14 Die ouere manne moet nie oorhaastig tot die gevolgtrekking kom dat berou bestaan nie. Waarom nie? Wel, as hulle verkeerdelik oordeel dat ’n sondaar berouvol is, kan dit ’n nadelige uitwerking op die hele kudde hê. Maar let asseblief op ’n kontrasterende Bybelse voorbeeld van ’n oortreder in die gemeente in Korinthe. Nadat hy ’n ruk lank uitgesit was, is hy herstel omdat hy waarlik berouvol was. Hoe sou die broers hom toe behandel? Met vertroue in die oordeel dat hy berouvol was, is die Korinthiërs vriendelik aangespoor om hom ‘te vergewe en te vertroos’ en hulle “liefde aan hom te bevestig” (2 Kor. 2:6-8). Dit is vandag dieselfde wanneer ’n komitee tot die gevolgtrekking kom dat ’n oortreder berouvol is. Maar as hulle die saak verkeerd beoordeel het en ’n oortreder wat nie waarlik berouvol was nie aan die gemeente teruggegee het, sou hulle die morele en geestelike reinheid van al die lede van die kudde in gevaar stel.—1 Kor. 5:6.

15 Waarna kan die komitee soek om te bepaal of die oortreder waarlik berouvol is? ’n Persoon wat berouvol is, probeer nie om sy slegte handelwyse te vergoelik of goed te praat nie. Hy erken in sy verstand die verkeerdheid van wat hy gedoen het en is in sy hart innig spyt omdat hy teen God gesondig het (Jer. 3:25; Hand. 3:19). Die ouere manne wat ’n saak hanteer, moet dus seker maak dat sulke spyt of droefheid bestaan.

16, 17. (a) Wat is die verskil tussen die “droefheid van die wêreld” en ‘godvrugtige droefheid’? (Hebr. 12:16, 17). (b) Hoe sal trane of tekens van emosie die ouere manne se oordeel beinvloed?

16 Die ouere manne moet onderskei tussen die “droefheid van die wêreld” en “droefheid volgens die wil van God” wat “berou” veroorsaak wat “tot redding lei” (2 Kor. 7:10, vgl. NW). ’n Oortreder kan bedroef wees weens ’n gevoel van persoonlike mislukking, skaam voel omdat hy aan die kaak gestel is of droefgeestig wees oor die moontlikheid dat hy dissipline moet ontvang. Maar sulke “droefheid van die wêreld” beteken nie dat hy bedroef is omdat hy teen God gesondig het of God en Sy volk smaad aangedoen het nie, dinge wat aanduidings van ‘godvrugtige droefheid’ is. Al het Esau trane gestort omdat hy sy eersgeboortereg verloor het, het Jehovah geweet dat Esau in sy hart nie waarlik berouvol was nie. As ’n persoon wat ernstige sonde gedoen het in trane uitbars, moet die ouere manne probeer vasstel of dit as gevolg van ‘godvrugtige droefheid’ is. Dit kan die geval wees. In Esra se dag het die volk met ’n “groot geween” geween nadat hulle sy opregte gebed oor hulle sonde gehoor het, en Petrus het bitterlik geween omdat hy Jesus verloën het.—Gen. 25:29-34; 27:34; Esra 10:1; Luk. 22:59-62.

17 Hierdie Skriftuurlike voorbeelde beklemtoon waarom die ouere manne nie bloot volgens ’n vertoon van emosie kan oordeel nie. Persone se emosionele samestelling en beheersing verskil. Die belangrike saak is dus dat die oortreder se hart geraak word, dat hy ’n foltering ervaar of innig spyt is omdat hy teen Jehovah oortree het en sy verhouding met God benadeel het, of daar nou trane is of nie (Ps. 51:3-6). Die ouere manne sal dienooreenkomstig waarskynlik vra of die oortreder net soos Dawid sy sondes in gebed aan Jehovah bely het en om God se vergifnis gevra het.—Ps. 32:3-5; 41:5; Jer. 31:19.

18. Hoe is belydenis ter sake?

18 As die oortreder vrywillig sy sondes voor die ‘ouere manne van die gemeente’ bely het, kan dit ’n nuttige aanduiding van sy harttoestand wees (Jak. 5:14, 16). Maar gestel dat hy nie uit sy eie kom bely het nie en dat hy met bewyse of die getuienis van getuies gekonfronteer moes word? Hy kan nog steeds (daar in die vergadering) bereik word sodat hy sy sonde erken. (Let op die voorbeeld van Dawid se berou oor sy sonde met Batseba, in 2 Samuel 12:1-13.) Maar die komitee moet veral versigtig wees wanneer baie teregwysing nodig was voordat die oortreder begin het om blyke van berou te lewer. Hulle moet oortuig wees van die oortreder se veranderde hartstoestand en dat hy ’n ywer het om die onreg te herstel en heeltemal vasbeslote is om dit in die toekoms te vermy.—2 Kor. 7:10, 11, vgl. NW; Openb. 3:19.

19. Hoe moet ’n berouvolle oortreder oor die gemeente voel?

19 ’n Oortreder moet bedroef wees oor die smaad wat hy God se gemeente aangedoen het. Toe Dawid gesondig het deur die volk te tel en besef het wat hy gedoen het, het hy sy dwase optrede erken. En toe hy die drastiese gevolge vir die hele nasie gesien het, is hy beweeg om te sê: “Kyk, ek het gesondig, en ek het verkeerd gehandel, maar wat het hierdie skape gedoen?” (2 Sam. 24:10, 17). Toon die oortreder dus ware berou oor die smaad, probleme en droefheid wat hy die gemeente aangedoen het?

‘WERKE WAT BY BEROU PAS’

20-22. (a) Na watter “werke” of “vrugte” sal die ouere manne soek? (b) Lig toe hoe ’n berouvolle persoon sulke “vrugte” kan voortbring.

20 Die apostel Paulus het persone vermaan om “berou te kry en hulle tot God te keer deur werke te doen wat by berou pas” (Hand. 26:20, NW). Toe die Jode in Nehemia se dag berouvol was omdat hulle vir hulle vreemde vroue geneem het, het hulle spesifieke stappe gedoen wat van berou getuig het. (Neh. 9:1, 2; vergelyk Jona 3:5-10.) Wanneer die ouere manne ’n geval van growwe sonde hanteer, sal hulle gevolglik wil uitvind of die oortreder ‘vrugte voortbring wat by berou pas’.—Matt. 3:8, NW.

21 Het hy, as hy teen ’n persoon gesondig het, sy sonde aan daardie persoon bely en om vergifnis gevra? Gestel dit was ’n geval van owerspel. Het hy dit aan sy onskuldige huweliksmaat bely en om vergifnis gevra? Of het die oortreder, as hy skuldig was aan bedrog, stappe gedoen om vir die verlies te vergoed? In sekere omstandighede sal hy nie al die skade wat hy aangerig het ongedaan kan maak nie. Maar lewer hy bewys dat redelike stappe gedoen sal word om vir enige verlies te vergoed? (Luk. 19:8). Die vraag is: Tot watter mate het die skuldige die ‘vrugte voortgebring wat by berou pas’?

22 Die sonde was moontlik die gevolg van ’n veronagsaming van Skriftuurlike raad. Hy het miskien gereeld saam met wêreldse kollegas gaan ontspan, en hierdie ongesonde omgang het dalk tot onsedelikheid gelei. Het die oortreder daardie omgang gestaak? (Spr. 13:20; 1 Pet. 4:3, 4). En het hy hom ingespan om gereeld saam met God se volk te vergader, en het hy ’n hartgrondige begeerte getoon om God as ’n reine aanbidder te loof? Nie een van hierdie ‘vrugte’ is op sigself die maatstaf om te bepaal of die sondaar berouvol is nie. Die ouere manne sal wil weet of hy heilsame omgang het, Christenvergaderinge bywoon en ywerig in die velddiens is, want hulle aanvaar God se beskouing dat daar “werke” moet wees “wat by berou pas”.

23. Wat moet die komitee in ag neem in die geval van herhaalde sonde?

23 Dit moet vir die regterlike komitee ’n saak van groot erns wees om die gemeente rein te hou en hulle moet veral versigtig wees as die oortreder homself oor ’n lang tydperk in die geheim aan growwe sonde skuldig gemaak het. Dit geld ook vir ’n geval waar ’n persoon ’n sondepatroon gevorm het en dan oënskynlik berouvol is. Hy het moontlik verskeie kere verkeerde dinge gedoen, maar omdat hy skynbaar berouvol was, is hy elke keer tereggewys en toegelaat om in die gemeente te bly. Nou het hy weer gesondig. In sulke gevalle moet die ouere manne, met die welsyn van die hele kudde in gedagte, kyk of sy lewe waarlik blyke lewer dat hy “vrugte voortbring wat by berou pas”. Het hy nie deur sy lewenswyse getoon dat dit ernstig te betwyfel is of hy in God se gemeente hoort nie?—Ps. 119:104; Rom. 12:9.

24. Wat bepaal of bykomende vergaderinge met ’n oortreder gehou sal word? (Hos. 5:4; Matt. 21:30)

24 Soms is ’n sondaar verstok of strydlustig en toon hy geen ware berou nie ondanks die opregte en geduldige pogings van die ouere manne (Pred. 8:11). Hulle is nie verplig om herhaaldelik met so ’n oortreder te vergader asof hulle by hom pleit of hom probeer smeek om berou te kry nie. Maar in party gevalle sal hulle dit nodig ag om weer met die sondaar te vergader as hulle nie seker is oor sy gevoelens, beweegredes en berou nie. Nadat hy tyd gehad het om te bid en oor die Skriftuurlike bespreking na te dink, sal die vraag of hy berouvol is moontlik opgeklaar kan word.

25. Waarom rus daar ’n groot verantwoordelikheid op ouere manne in die geval van oortreding?

25 Die ouere manne se verantwoordelikheid om vas te stel of daar ware berou is, is ’n gewigtige. Hulle moet barmhartig wees en oortreders wat waarlik berouvol is, help. Maar hulle moet ook waak teen misplaaste simpatie wat daartoe kan lei dat gevaarlike “suurdeeg” in die gemeente bly.—Gal. 5:9.

HELP DIE GEMEENTE

26. Hoe kan party gevalle hanteer word as min mense van die oortreding weet?

26 In party gevalle het ernstige sonde nie algemene kennis geword nie, en sal dit waarskynlik ook nie gebeur nie. Net ’n paar indiwidue, soos die gesin of die paar getuies, is moontlik van die sonde bewus. (Al is hulle “toeskouers”, moet die ouere manne hulle duidelik laat verstaan dat dit liefdeloos sal wees om daaroor te skinder.) As die regterlike komitee seker is dat die oortreder berouvol is, bestaan daar geen nodigheid om die saak verder rugbaar te maak nie, want die “toeskouers” het almal die Skriftuurlike teregwysing aangehoor, en die sondaar is berouvol.

27, 28. Wanneer kan dit raadsaam wees om die gemeente in te lig dat iemand tereggewys is?

27 In ander gevalle is baie in die gemeente en/of die gemeenskap bewus van die sonde. Of die sonde is van so ’n aard dat dit ongetwyfeld mettertyd bekend sal word. So ’n geval moet anders hanteer word. Die hele gemeente moet gerus gestel word dat die saak behoorlik hanteer is. En hulle kan baat vind by Skriftuurlike raad wat hulle kan help om ’n heilsame vrees vir sonde te hê.

28 Of daar kan ’n geval wees waar die ouere manne meen dat ’n mate van versigtigheid aan die dag gelê moet word. Byvoorbeeld: Al is die oortreder nou waarlik berouvol, het hy moontlik in die verlede getoon dat hy nie by sy besluit kan bly om die weg na sonde te vermy nie. Uit besorgdheid dat die gemeente nie in gevaar gestel moet word deur iemand in hulle midde wat ’n verderflike invloed geword het nie, kan die komitee van ouere manne besluit dat ’n leersame Skriftuurlike toespraak gehou moet word.

29, 30. (a) Hoe sal die ouere manne die gemeente inlig? (b) Wat is die voordeel daaraan verbonde as party gevalle so hanteer word?

29 In elk van hierdie gevalle kan die gemeentelike ouere manne reël dat die saak tydens die weeklikse diensvergadering behartig word, nie tydens ander vergaderinge nie. Daar kan tydens die diensvergadering aangekondig word dat die voormalige oortreder deur ’n regterlike komitee tereggewys is en berou getoon het. Die regterlike komitee kan dit ook nodig ag om hom sekere beperkings op te lê. Hulle kan hom onder meer die voorreg ontneem om vergaderingdele te behartig, die gemeente in gebed voor te gaan of moontlik tydens vergaderinge tekste te lees of kommentaar te lewer. As die komitee beperkings opgelê het, kan hulle vir die ouere manne sê of hulle meen dat dit vir die gemeente aangekondig moet word. Sulke beperkings kan geleidelik in die toekoms opgehef word.

30 Dieselfde aand, maar effens later op die diensvergaderingprogram, kan ’n toegewese ouere man ’n ferme Skriftuurlike toespraak hou. Hy moet nie die oortreder by naam noem of enige vertroulike besonderhede wat tydens die regterlike komitee se vergadering aan die lig gekom het, bekend maak nie. Maar hy kan bespreek wat God se Woord se oor die betrokke soort dwaling of sonde, die gevaar daar van en hoe om dit te vermy. Die hele gemeente kan by so ’n Skriftuurlike vermaning baat vind.—2 Tim. 4:1, 2.

31. Hoe moet ons oor God se beskouing van berou voel?

31 Ons behoort almal Jehovah se gewilligheid om ware berou te aanvaar diep te waardeer. Ons moet beslis nie ,die genade van God tevergeefs ontvang nie’ (2 Kor. 6:1). As ’n persoon dit sou doen deur te sondig en nie berouvol te wees nie, het God beveel dat die gemeente strenger stappe moet doen. Hierdie stappe sal in ons volgende nommer bespreek word.

[Venster op bladsy 28]

WAT HET JY OOR BEROU GELEER?

As ons ernstige sonde doen, moet ons dit voor God bely en ook die raad in sy Woord toepas deur die hulp van die ‘ouere manne’ in te roep.

Tydens ’n vergadering van die regterlike komitee probeer die ouere manne om skuld vas te stel en om die oortreder te help om berou te kry.

‘Teregwysing voor alle toeskouers’ tydens hierdie vergadering sluit diegene in wat teenwoordig is as getuies of wat van die sonde weet.

’n Persoon wat waarlik berouvol is, is in sy hart spyt omdat hy teen God en Sy volk gesondig het en hulle smaad aangedoen het.

Die ouere manne sal soek na bewyse van ‘werke wat by berou pas’.

Hoewel die komitee die oortreder wil help, sal hulle ook die gemeente teen verdorwenheid wil beskerm.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel