Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 5/1 bl. 3-4
  • Voorsien godsdiens in jou behoeftes?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Voorsien godsdiens in jou behoeftes?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Soortgelyke materiaal
  • Bybelboek nommer 5—Deuteronomium
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Leer ken Jehovah se weë
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Moses—Hoe sy lewe jou raak
    Ontwaak!—2004
  • Hoe was Jesus Christus ’n profeet soos Moses?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 5/1 bl. 3-4

Voorsien godsdiens in jou behoeftes?

LUG, water, voedsel, huisvesting—dit word universeel as menslike behoeftes erken. Daarsonder staar ontberinge en die dood ’n mens in die gesig. Lank gelede het die Israelitiese leier Moses egter die aandag op ’n ander menslike behoefte gevestig, een wat selfs belangriker as voedsel of water is. Moses het gesê dat “’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom”.—Deuteronomium 8:3, NAV.

Moses het deur middel van hierdie insigryke woorde getoon hoe belangrik dit is dat ons godsdiens- of geestelike behoeftes vervul word. Hy het getoon dat ons lewe in werklikheid van die vervulling van daardie behoeftes afhang! Gedurende die 40 jaar wat die Israeliete in die woestyn rondgetrek het, het hulle letterlik aan die lewe gebly deur middel van ‘die woorde wat uit die mond van God gekom het’. Hulle het ’n situasie oorleef wat andersins noodlottig sou gewees het. Op God se bevel het voedsel wat manna genoem is wonderdadig uit die lug geval. Water het uit rotse gekom om hulle dors te les. Maar God het meer gedoen as om in hulle fisiese behoeftes te voorsien. Moses het gesê: ‘Die HERE jou God onderrig jou soos ’n man sy seun onderrig.’—Deuteronomium 8:4, 5; Exodus 16:31, 32, NAV; 17:5, 6.

Dit is nie aan die Israeliete self oorgelaat om te probeer uitwerk wat op sedelike of godsdiensgebied reg of verkeerd is nie. Hulle het riglyne van God self ontvang. Hy het hulle die Mosaïese Wet gegee, ’n merkwaardige stel wette wat ’n gesonde dieet, streng sanitêre reëls en heilsame sedelike en godsdiensbeginsels bevat het. God het dus na die gesondheid en geestelike welsyn van Israel omgesien. Hulle het gelewe van ‘die woorde wat uit die mond van God gekom het’.

Israel het dus ’n skerp teenstelling met ander nasies gevorm. In Moses se dag was Egipte die heersende wêreldmoondheid. Dit was ’n baie godsdienstige land. Die World Book Encyclopedia sê: “Die eertydse Egiptenare het geglo dat verskillende godhede (gode en godinne) elke aspek van die natuur en elke menslike bedrywigheid beïnvloed. Hulle het dus baie godhede aanbid. . . . In elke Egiptiese stad en dorp het mense, benewens die vernaamste godhede, hulle eie spesiale god aanbid.”

Het hierdie politeïstiese aanbidding in die geestelike behoeftes van die Egiptenare voorsien? Nee. Egipte het ’n land geword waar bygelowigheid en verdorwe seksuele gebruike baie algemeen was. Pleks dat die Egiptiese lewenswyse lewe en gesondheid bevorder het, het dit “kwaai siektes” tot gevolg gehad (Deuteronomium 7:15). Dit is dus geen wonder dat die Bybel met minagting van die Egiptiese gode gepraat het en hulle “drekgode” genoem het nie.—Esegiël 20:7, 8.

Daar heers vandag ’n soortgelyke situasie. Die meeste mense het ten minste die een of ander geloofsverband; daar is min wat hulleself as Godloos sou bestempel. Maar dit is duidelik dat godsdiens oor die algemeen nie in die mensdom se geestelike behoeftes voorsien het nie. Sou ons vandag die probleme van oorlog, rassisme, hongersnood en voortdurende armoede gehad het as mense werklik gelewe het volgens “elke woord wat uit die mond van God kom”? Natuurlik nie! Daar is nogtans min mense wat daaraan sou dink om van godsdiens te verander. Ja, party is nie eens bereid om godsdiens te bespreek of nuwe godsdiensidees te oorweeg nie!

’n Man in Ghana, Wes-Afrika, het byvoorbeeld vir ’n Christenbedienaar gesê: “Ek glo dat God hom deur ons kragtige priesters en priesteresse aan ons as Afrikane geopenbaar het, net soos hy hom aan die Jode deur hulle profete geopenbaar het. Dit is jammer dat party van my mede-Afrikane nie hulle eie priesters erken nie, maar eerder van Jesus, Mohammed en ander praat.”

In talle tradisionele Afrika-gemeenskappe word die Christelike godsdiens as die wit man se godsdiens beskou—’n ingevoerde stelsel wat veel meer kwaad as goed gedoen het. Maar sal vooroordeel jou help of hinder in jou pogings om jou geestelike behoeftes te vervul? In Afrika is daar ’n spreekwoord wat lui: “’n Mens steek nie albei hande in die kosbak net omdat jy honger is nie.” So ’n eetgewoonte is onmanierlik sowel as gevaarlik—veral as jy nie weet wat in die bak is nie! Tog kies baie mense hulle godsdiens nie op grond van ’n ernstige ondersoek nie, maar op grond van sentiment of familietradisie.

Die aanbidding wat in jou geestelike behoeftes voorsien, moet ‘’n heilige diens met jou denkvermoë’ wees (Romeine 12:1, NW). Dit moet ’n weloorwoë, intelligente keuse wees. Laat ons derhalwe die kwessie van ’n mens se keuse van godsdiens uit die oogpunt van die Afrikaan beskou. Wat hierop volg, sal egter vir lesers in alle wêrelddele van belang wees.

[Prent op bladsy 3]

Moses het getoon hoe belangrik dit is dat ons geestelike behoefte vervul word

[Prent op bladsy 4]

As gevolg van Afrika se ervaring met die Christendom se sendelinge is party bevooroordeeld teenoor die Bybel

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel