Onthou jy?
Het jy dit geniet om die onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? As jy het, sal jy dit interessant vind om die volgende te onthou:
▫ Waarom het die Israelitiese verkenners besluit om in die huis van Ragab die hoer te oornag?
Die Israelitiese verkenners het volgens God se Wet geleef, dus het hulle nie om onsedelike redes in Ragab se huis oornag nie. Hulle het waarskynlik geredeneer dat hulle teenwoordigheid in ’n prostituut se huis minder agterdog in die stad sou wek. Haar huis se ligging op die stadsmuur sou dit moontlik ook makliker maak om te ontsnap. Maar Jehovah het hulle bowenal na ’n sondaar gelei wie se hart so gunstig geraak is deur berigte van God se handelinge met die Israeliete dat sy berou gehad het en haar lewenswyse verander het.—12/15, bladsye 24-5.
▫ Watter uitwerking het woede op ons gesondheid?
Studies toon dat woede die afskeiding van spanningshormone bevorder. Herhaalde uitbarstings van woede kan ’n wanbalans tussen die beskermende en die nadelige soorte cholesterol veroorsaak, wat ons aan die risiko van kardiovaskulêre siekte blootstel.—12/15, bladsy 32.
▫ Watter wenke kan ons help om ons verspreiding van Die Wagtoring en die Ontwaak! te verbeter?
Wees Wagtoring- en Ontwaak!-bewus; hou die aanbieding eenvoudig; wees aanpasbaar deur ’n paar kort aanbiedings voor te berei; stel ’n persoonlike doelwit.—1/1, bladsye 24-5.
▫ Waarom is Moses so ’n goeie teokratiese voorbeeld wat ons kan navolg?
Moses het hom tot Jehovah gewend vir leiding oor sake. Hy het geen eersug gehad nie, maar was besorg oor Jehovah se heerlikheid. Hy het sterk geloof gehad en het nooit vergeet dat Jehovah eintlik die Heerser van die nasie Israel was nie.—1/15, bladsy 11.
▫ Wat is party maniere waarop Goddelike onderrigting die oorwinning behaal?
Goddelike onderrigting behaal die oorwinning deurdat dit Jehovah se volk ’n progressiewe begrip van die waarheid gee. Dit bring mense tot die geestelike lig en dit toon aan die sagmoediges hoe hulle God “in gees en waarheid” kan aanbid (Johannes 4:24). Goddelike onderrigting behaal ook die oorwinning oor beproewinge en die goddelose wêreld.—2/1, bladsye 10-12.
▫ Wat is die sleutel tot suksesvolle raadgewing?
Die sleutel is behoorlike respek vir die ander persoon en sy reg om met waardigheid behandel te word. ’n Christenraadgewer moet dus vriendelik en ferm wees, maar moet die een wat raad ontvang sy waardigheid gun.—2/1, bladsy 28.
▫ Hoe het dit gekom dat die Rooms-Katolieke Kerk die Maria-Hemelvaart as ’n leerstelling aanvaar het?
In die eerste eeue ná Jesus se dood het die Christene glad nie aan die tenhemelopneming van Maria geglo nie. Nadat die Drie-eenheidsleer egter ’n amptelike kerkleerstelling geword het, is daar begin om ’n al hoe belangriker rol aan Maria toe te skryf. Die Maria-Hemelvaartteorie is eers op 1 November 1950 as ’n dogma aangeneem, toe pous Pius XII aangekondig het: “Ons verklaar dit as ’n dogma wat deur God geopenbaar is.”—Munificentissimus Deus.—2/15, bladsye 26-7.
▫ Wat het die twee mandjies vye, die goeie vye en die slegte vye, in Jeremia hoofstuk 24 afgebeeld?
Die goeie vye het die Jode afgebeeld wat aanvanklik in ballingskap na Babilon weggevoer is, waarvan ’n oorblyfsel na Juda sou terugkeer. Die slegte vye was ’n afbeelding van koning Sedekia en diegene wat saam met hom teen koning Nebukadnesar gerebelleer het ondanks die feit dat hulle in God se naam ’n eed afgelê het. Ons het eweneens in hedendaagse tye die oorblyfsel van geestelike Israel, wat goeie vrugte in hulle lewe voortbring, in teenstelling met die geestelikes van die Christendom, wat slegte vrugte voortbring.—3/1, bladsye 14-16.
▫ Wie was die Quartodecimane, en waarom is hulle vir hedendaagse Christene van belang?
Ná die tyd van die apostels was daar party wat die Here se Aandmaal volgens die apostoliese patroon elke jaar op 14 Nisan gevier het. Hulle is mettertyd “Veertienders”, of Quartodecimane, genoem. Dit is vandag van belang, want dit toon dat daar, selfs ná die dood van die apostels, party was wat die regte weg gevolg het en Jesus se dood een maal per jaar op 14 Nisan herdenk het.—3/15, bladsye 4-5.
▫ Wie was William Whiston?
Hy was ’n briljante 18de-eeuse geleerde in Engeland, wat ’n intieme metgesel van sir Isaac Newton was. Whiston het die Christelike Griekse Geskrifte vertaal, het die Drie-eenheidsleer openlik teëgestaan en was ’n dosent in sterrekunde en wiskunde. Maar Whiston word waarskynlik die beste onthou vir sy Engelse vertaling van die geskrifte van die Joodse geskiedskrywer Flavius Josephus.—3/15, bladsye 26-8.
▫ Hoe is die mens na God se beeld geskape? (Genesis 1:27).
Die mens is geskape met die vermoë om God se voortreflike eienskappe van liefde, geregtigheid, wysheid en mag—asook ander eienskappe—aan die dag te lê.—4/1, bladsy 25.