Laat selfbeheersing in julle bestaan en oorvloedig wees
“Voeg by julle geloof . . . selfbeheersing.”—2 PETRUS 1:5, 6, NW.
1. In watter ongewone situasie kan ’n Christen ’n getuienis gee?
JESUS het gesê: “Voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot ’n getuienis vir hulle” (Mattheüs 10:18). As jy voor ’n goewerneur, ’n regter of ’n president moes verskyn, waaroor sou jy praat? Dalk eers oor die rede waarom jy daar is, die aanklag teen jou. God se gees sal jou help om dit te doen (Lukas 12:11, 12). Maar kan jy dink dat jy oor selfbeheersing sou praat? Beskou jy dit as ’n belangrike deel van ons Christelike boodskap?
2, 3. (a) Hoe het dit gekom dat Paulus vir Felix en Drusilla kon getuig? (b) Waarom was selfbeheersing in daardie situasie ’n gepaste onderwerp vir Paulus om oor te praat?
2 Kom ons beskou ’n werklike voorbeeld. Een van Jehovah se getuies is in hegtenis geneem en verhoor. Toe hy ’n geleentheid gegee is om te praat, wou hy verduidelik wat hy as ’n Christen, as ’n getuie, glo. As jy die verslag ondersoek, sal jy vind dat hy ’n oortuigende getuienis gelewer het “oor geregtigheid en selfbeheersing en die toekomstige oordeel”. Ons verwys na ’n ondervinding wat die apostel Paulus in Cesarea gehad het. ’n Voorlopige verhoor is gehou. “’n Paar dae daarna het Felix gekom saam met Drusilla, sy vrou, wat ’n Jodin was, en het Paulus laat haal en hom aangehoor oor die geloof in Christus” (Handelinge 24:24).Volgens die geskiedenis het Felix “elke soort wreedheid en wellus beoefen, en die mag van koning met al die instinkte van ’n slaaf uitgeoefen”. Hy was reeds twee keer tevore getroud toe hy Drusilla oorreed het om van haar man te skei (wat ’n oortreding van God se wet was) en sy derde vrou te word. Dit was moontlik sý wat van die nuwe godsdiens, die Christelike geloof, wou hoor.
3 Paulus het toe gepraat “oor geregtigheid en selfbeheersing en die toekomstige oordeel” (Handelinge 24:25). Dit sou die onderskeid getoon het tussen God se standaarde van geregtigheid en die wreedheid en ongeregtigheid waaraan Felix en Drusilla ’n aandeel gehad het. Paulus het dalk gehoop om Felix sover te kry om in sy geval reg te laat geskied. Maar waarom het hy “selfbeheersing en die toekomstige oordeel” gemeld? Hierdie twee onsedelike mense wou weet wat “geloof in Christus” behels. Daar moes derhalwe vir hulle getoon word dat ’n volgeling van Christus sy gedagtes, spraak en dade in toom moet hou, want dit is wat selfbeheersing in werklikheid behels. Alle mense is aanspreeklik voor God vir hulle denke, woorde en dade. Die oordeel wat die goewerneur en sy vrou van God sou ontvang, was dus gewigtiger as enige oordeel wat Felix in Paulus se saak sou uitspreek (Handelinge 17:30, 31; Romeine 14:10-12). ’n Mens kan verstaan waarom “Felix baie bang geword” het toe hy Paulus se boodskap gehoor het.
Dit is belangrik, maar nie maklik nie
4. Waarom is selfbeheersing ’n belangrike deel van die ware Christelike geloof?
4 Die apostel Paulus het selfbeheersing as ’n noodsaaklike deel van die Christelike geloof erken. Die apostel Petrus, een van Jesus se intieme metgeselle, het dit onderskryf. Toe hy aan diegene geskryf het wat “deelgenote van die Goddelike natuur” in die hemel sou word, het Petrus hulle gemaan om sekere noodsaaklike eienskappe soos geloof, liefde en selfbeheersing aan die dag te lê. Selfbeheersing was dus by hierdie versekering ingesluit: “As hierdie dinge in julle bestaan en oorvloedig is, sal hulle verhoed dat julle onbedrywig of onvrugbaar is met betrekking tot die juiste kennis van ons Here Jesus Christus.”—2 Petrus 1:1, 4-8, NW.
5. Waarom moet ons veral oor selfbeheersing besorg wees?
5 Maar jy weet dat dit makliker is om te sê dat ons selfbeheersing aan die dag moet lê as wat dit in werklikheid is om dit in ons daaglikse lewe te beoefen. Een rede is dat selfbeheersing maar seldsaam is. In 2 Timotheüs 3:1-5 het Paulus gesindhede beskryf wat in ons tyd, in “die laaste dae”, sou heers. Een eienskap wat ons tyd sou kenmerk, is dat baie “sonder selfbeheersing” sou wees (NW). Ons sien dit oral om ons, nie waar nie?
6. Hoe word ’n gebrek aan selfbeheersing vandag geopenbaar?
6 Baie mense glo dat dit eintlik goed vir ’n mens is om “jou nie in te hou nie” of om “stoom af te blaas”. Hulle beskouing word versterk deur prominente rolmodelle wat alle selfbeheersing oorboord gooi en hulle eenvoudig aan hulle drange oorgee. Ter toeligting: Baie wat van professionele sport hou, het aan oordadige uitinge van emosie, selfs gewelddadige uitinge van woede, gewoond geraak. Kan jy aan gevalle dink, selfs net in die pers, waar wreedaardige gevegte of oproerigheid onder skares by sportwedstryde uitgebreek het? Maar ons het nie nodig om baie tyd te wy aan voorbeelde van ’n gebrek aan selfbeheersing om ons punt te stel nie. ’n Mens kan baie dinge opnoem waarin ons selfbeheersing aan die dag moet lê—ons inname van voedsel en drank, ons gedrag teenoor die ander geslag en die tyd en geld wat aan stokperdjies bestee word. Maar pleks van baie aspekte van selfbeheersing kortliks te bespreek, kan ons een belangrike aspek ondersoek waarin ons selfbeheersing moet beoefen.
Selfbeheersing ten opsigte van ons emosies
7. Watter aspek van selfbeheersing verdien spesiale aandag?
7 Baie van ons slaag redelik goed daarin om ons handelinge te beheers of in toom te hou. Ons steel nie, swig nie voor onsedelikheid nie of pleeg nie moord nie; ons weet wat God se voorskrifte aangaande sulke oortredings is. Maar hoe goed slaag ons daarin om ons emosies te beheers? Diegene wat nie emosionele selfbeheersing aankweek nie, verloor in baie gevalle naderhand hulle selfbeheersing in hulle optrede. Laat ons dus aan ons emosies aandag gee.
8. Wat verwag Jehovah van ons ten opsigte van ons emosies?
8 Jehovah God verwag nie dat ons robotte moet wees nie, met ander woorde dat ons geen emosies het of toon nie. Jesus het by Lasarus se graf “geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel”. Toe ‘het Jesus geween’ (Johannes 11:32-38). Hy het ’n heel ander emosie getoon toe hy, met volmaakte beheer oor sy optrede, die geldwisselaars uit die tempel uitgedryf het (Mattheüs 21:12, 13; Johannes 2:14-17). Sy getroue dissipels het ook diepe emosies getoon (Lukas 10:17; 24:41; Johannes 16:20-22; Handelinge 11:23; 12:12-14; 20:36-38; 3 Johannes 4). Tog het hulle besef dat selfbeheersing noodsaaklik is sodat hulle emosies nie tot sonde lei nie. Efesiërs 4:26 stel dit baie duidelik: “Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie.”
9. Waarom is dit so belangrik om ons emosies te beheers?
9 Daar is ’n gevaar dat ’n Christen oënskynlik selfbeheersing aan die dag lê, terwyl sy emosies in werklikheid buite beheer raak. Onthou die reaksie wat ontstaan het toe God Abel se offerande goedgekeur het: “Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang. En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou” (Genesis 4:5-7). Kain het nie sy emosies beheers nie, wat daartoe gelei het dat hy Abel vermoor het. Onbeheerste emosies het tot ’n onbeheerste daad gelei.
10. Wat leer ’n mens uit Haman se voorbeeld?
10 Beskou ook die voorbeeld uit die dae van Mordegai en Ester. Die amptenaar Haman het woedend geword omdat Mordegai nie voor hom wou buig nie. Later het Haman verkeerdelik gedink dat hy begunstig sou word. “Op dié dag het Haman bly en opgeruimd heengegaan; maar toe Haman Mordegai in die poort van die koning sien en dat hy nie opstaan of vir hom bevrees is nie, was Haman met woede vervul teen Mordegai. Maar Haman het hom bedwing; en [hy het] by sy huis gekom” (Ester 5:9, 10). Hy het maklik die emosie vreugde ervaar. Tog is hy net so maklik met woede vervul toe hy bloot die persoon gesien het teen wie hy ’n wrok gekoester het. Dink jy die Bybel gee te kenne dat Haman ’n voorbeeld van selfbeheersing was waar dit sê dat hy “hom bedwing” het? Beslis nie. Haman het tydelik sy dade en enige emosionele reaksie beheers, maar hy het nie sy afgunstige woede beheers nie. Sy emosies het gemaak dat hy ’n moord beplan het.
11. Watter probleem het in die gemeente in Filippi bestaan, en wat kon daartoe aanleiding gegee het?
11 Dit kan Christene vandag eweneens tot groot nadeel strek as hulle nie hulle emosies beheers nie. Party meen moontlik: ‘Ag, dit sal nie ’n probleem in die gemeente wees nie.’ Maar dit was al ’n probleem gewees. Daar het ernstige onenigheid tussen twee gesalfde Christene in Filippi ontstaan, waaroor die Bybel nie uitwei nie. Dink aan die volgende moontlikheid: Euodia het ’n paar broers en susters oorgenooi vir ’n maaltyd of ’n aangename geselligheid. Sintiche is nie genooi nie, en dit het haar seergemaak. Dalk het sy daarop gereageer deur Euodia by ’n latere geleentheid nie te nooi nie. Toe het albei begin om by die ander een fout te soek; mettertyd het hulle skaars met mekaar gepraat. Was die basiese probleem onder daardie omstandighede dat iemand nie na ’n maaltyd genooi is nie? Nee. Dit was maar net die vonkie. Toe hierdie twee gesalfde susters versuim het om hulle emosies te beheers, het die vonkie ’n bosbrand geword. Die probleem het voortgeduur en gegroei totdat ’n apostel tussenbeide moes tree.—Filippense 4:2, 3.
Jou emosies en jou broers
12. Waarom gee God ons die raad wat in Prediker 7:9 opgeteken is?
12 Dit is weliswaar nie maklik om ’n mens se emosies te beheers wanneer jy voel dat iemand jou te na gekom, seergemaak of met vooroordeel behandel het nie. Jehovah weet dit, want hy neem menseverhoudinge al van die ontstaan van die mensdom af waar. God maan ons: “Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergernis rus in die boesem van die dwase” (Prediker 7:9). Let daarop dat God eers op die emosies aandag vestig en nie op die optrede nie (Spreuke 14:17; 16:32; Jakobus 1:19). Vra jou af: ‘Moet ek harder probeer om my emosies te beheers?’
13, 14. (a) Wat ontwikkel dikwels in die wêreld omdat mense nie hulle emosies beheers nie? (b) Watter dinge kan daartoe lei dat Christene wrokke koester?
13 Baie mense in die wêreld wat nie hulle emosies beheers nie, begin vendettas—bitter, selfs gewelddadige, vyandskappe oor ’n werklike of veronderstelde onreg wat teen hulle of ’n familielid gepleeg is. As emosies eers buite beheer geraak het, kan dit lank ’n skadelike uitwerking hê. (Vergelyk Genesis 34:1-7, 25-27; 49:5-7; 2 Samuel 2:17-23; 3:23-30; Spreuke 26:24-26.) Christene moet, ongeag hulle nasionale of kulturele agtergrond, sulke bittere vyandskappe en wrokke beslis beskou as verkeerd, sleg en as iets wat vermy moet word (Levitikus 19:17). Beskou jy dit ook as selfbeheersing ten opsigte van jou emosies as jy dit vermy om wrokke te koester?
14 Net soos in die geval van Euodia en Sintiche kan versuim om jou emosies te beheers vandag ook tot probleme lei. ’n Suster voel dalk dat sy te na gekom is omdat sy nie na ’n huweliksonthaal genooi is nie. Of miskien was haar kind of neef of niggie nie genooi nie. Of dalk het ’n broer ’n tweedehandse motor by ’n mede-Christen gekoop en het dit kort daarna onklaar geraak. Wat ook al die rede, dit het gekrenkte gevoelens veroorsaak, emosies is nie beheers nie en die betrokke persone het ontsteld geraak. Wat nou?
15. (a) Wat was al die ongelukkige gevolge wanneer daar ’n wrok tussen Christene bestaan het? (b) Watter Bybelse raad het betrekking op ’n neiging om wrokke te koester?
15 As ’n ontstelde persoon hom nie daarop toelê om sy emosies te beheers en met sy broer vrede te maak nie, kan ’n wrok ontwikkel. Daar was al gevalle waar ’n Getuie gevra het om nie na ’n sekere Gemeentelike Boekstudie aangewys te word nie, omdat hy “nie ooghare het vir” die een of ander Christen of gesin wat in daardie Boekstudie is nie. Hoe jammer tog! Die Bybel sê dat dit ’n nederlaag sou wees as Christene mekaar voor wêreldse howe daag, maar sou dit nie ook ’n nederlaag wees as ons ’n broer ignoreer omdat hy ons of een van ons familielede op die een of ander manier in die verlede te na gekom het nie? Toon ons emosies dat ons ons familie belangriker ag as vrede met ons broers en susters? Sê ons dat ons bereid sou wees om vir ons suster te sterf, maar ons emosies beïnvloed ons in so ’n mate dat ons nou skaars met haar praat? (Vergelyk Johannes 15:13.) God sê duidelik vir ons: “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; . . . as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn.”—Romeine 12:17-19; 1 Korinthiërs 6:7, NW.
16. Watter goeie voorbeeld het Abraham gestel wat die beheersing van emosies betref?
16 Ons kom nader daaraan om beheer oor ons emosies te herwin as ons vrede maak of die oorsaak van die probleem uit die weg ruim, pleks van toe te laat dat verbittering voortduur. Onthou toe die land nie groot genoeg was om Abraham sowel as Lot se groot troppe te dra nie en daar gevolglik twis onder hulle veewagters ontstaan het. Het Abraham hom deur sy emosies laat oorheers? Of het hy selfbeheersing aan die dag gelê? Dit strek hom tot eer dat hy met ’n vreedsame oplossing vir hierdie aangeleentheid vorendag gekom het; laat elkeen sy eie gebied hê. En hy het Lot eerste laat kies. Abraham het later ten behoewe van Lot gaan veg, wat bewys dat hy glad nie bitter was en nie ’n wrok gekoester het nie.—Genesis 13:5-12; 14:13-16.
17. Hoe het Paulus en Barnabas by een geleentheid gefaal, maar wat het daarna gebeur?
17 Ons kan meer omtrent selfbeheersing leer uit ’n insident waarby Paulus en Barnabas betrokke was. Nadat hulle jare lank metgeselle was, het hulle ’n meningsverskil gehad oor die kwessie of hulle Markus op ’n reis moes saamneem. “Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het. Barnabas het toe vir Markus geneem en met ’n skip na Siprus toe vertrek” (Handelinge 15:39, NAV). Die feit dat hierdie geestelike ryp manne nie hulle emosies by daardie geleentheid beheers het nie, moet vir ons ’n waarskuwing wees. As dit met hulle kon gebeur, kan dit met ons ook gebeur. Hulle het egter nie toegelaat dat ’n permanente breuk of ’n vendetta ontwikkel nie. Die verslag toon dat hierdie broers beheer oor hulle emosies herwin het en later in vrede saamgewerk het.—Kolossense 4:10; 2 Timotheüs 4:11.
18. Wat kan die ryp Christen doen as gevoelens gekwets is?
18 Ons kan verwag dat daar gekwetste gevoelens, selfs wrokke, onder God se volk sal wees. Dit was so in die Hebreeuse tye sowel as in die dae van die apostels. Dit was ook al so onder Jehovah se hedendaagse knegte, want ons is almal onvolmaak (Jakobus 3:2). Jesus het sy volgelinge aangespoor om vinnig op te tree om sulke probleme tussen broers op te los (Mattheüs 5:23-25). Maar dit is nog beter om die probleme in die eerste plek te voorkom deur selfs groter selfbeheersing aan te kweek. As jy seergemaak of gekwets voel deur ’n relatief klein dingetjie wat jou broer of suster gesê of gedoen het, sal dit nie beter wees as jy net jou emosies beheers en eenvoudig daarvan vergeet nie? Is dit werklik nodig om die ander persoon te konfronteer, asof jy nie tevrede sal wees totdat daardie persoon erken het dat hy verkeerd was nie? In watter mate is jy werklik in beheer van jou emosies?
Dit is moontlik!
19. Waarom is dit gepas dat ons bespreking oor die beheersing van ons emosies gehandel het?
19 Ons het hoofsaaklik een aspek van selfbeheersing, die beheersing van ons emosies, bespreek. En dit is ’n belangrike saak, want as ons nie ons emosies kan beheers nie, kan dit daartoe lei dat ons beheer verloor oor ons tong, ons geslagsdrange, ons eetgewoontes en baie ander aspekte van die lewe waarin ons selfbeheersing aan die dag moet lê (1 Korinthiërs 7:8, 9; Jakobus 3:5-10). Maar moenie moed verloor nie, want jy kan groter selfbeheersing aankweek.
20. Hoe kan ons seker wees dat ’n mens wel groter selfbeheersing kan aankweek?
20 Jehovah is bereid om ons te help. Hoe kan ons daarvan seker wees? Wel, selfbeheersing is ’n vrug van sy gees (Galasiërs 5:22). Na die mate waarin ons ons dus daarop toelê om waardig te wees om heilige gees van Jehovah af te ontvang en die vrug daarvan aan die dag te lê, dermate kan ons verwag om meer selfbeheersing te hê. Moet nooit Jesus se versekering vergeet nie: “Die hemelse Vader [sal] die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid.”—Lukas 11:13; 1 Johannes 5:14, 15.
21. Wat is jy vasbeslote om in die toekoms ten opsigte van selfbeheersing en jou emosies te doen?
21 Moenie dink dit gaan maklik wees nie. En dit sal dalk moeiliker wees vir party wat grootgeword het onder mense wat hulle emosies vrye teuels gegee het, vir party met ’n meer prikkelbare geaardheid of vir party wat net nooit probeer het om selfbeheersing aan die dag te lê nie. Vir so ’n Christen kan dit ’n ware uitdaging wees om selfbeheersing in hom te laat bestaan en oorvloedig te laat wees. Tog is dit moontlik (1 Korinthiërs 9:24-27, NW). Namate die einde van die huidige stelsel van dinge al hoe nader kom, sal die spanning en druk toeneem. Ons gaan nie minder selfbeheersing nodig hê nie, maar meer, baie meer! Neem jou selfbeheersing in oënskou. As jy aspekte sien waarin jy moet verbeter, moet jy jou daarop toelê (Psalm 139:23, 24). Vra God om meer van sy gees. Hy sal jou verhoor en jou help sodat selfbeheersing in jou sal bestaan en oorvloedig sal wees.—2 Petrus 1:5-8, NW.
Punte om oor na te dink
◻ Waarom is dit so belangrik om jou emosies te beheers?
◻ Wat het jy uit die voorbeelde van Haman en van Euodia en Sintiche geleer?
◻ Wat sal jy opreg probeer doen as daar rede tot aanstoot is?
◻ Hoe kan selfbeheersing jou help om nie ’n wrok te koester nie?
[Prent op bladsy 18]
Toe Paulus voor Felix en Drusilla verskyn het, het hy oor geregtigheid en selfbeheersing gepraat