Bybelgeografie—Is dit akkuraat?
DIE son het so pas in Palestina ondergegaan. Dit is die jaar 1799. Ná ’n hele dag op mars in die hitte het die Franse leër kamp opgeslaan, en Napoleon, die opperbevelhebber, rus in sy tent. Een van sy knegte lees by flikkerende kerslig hardop uit ’n Franse Bybel.
Dit het blykbaar dikwels tydens Napoleon se krygstog in Palestina gebeur. “Wanneer ons op die ruïnes van daardie eertydse dorpies kamp opgeslaan het”, het hy later in sy memoirs geskryf, “het hulle elke aand hardop uit die Skrif gelees . . . Die analogie en die juistheid van die beskrywings was treffend: ná soveel eeue en veranderinge is hulle steeds akkuraat wat hierdie land betref.”
Reisigers na die Midde-Ooste vind dit vandag inderdaad maklik om plekke uit te ken waar Bybelgebeure plaasgevind het. Voordat die Franse leër Egipte verower het, het buitelanders nie veel oor daardie antieke land geweet nie. Toe het wetenskaplikes en geleerdes, wat deur Napoleon na Egipte gebring is, besonderhede van Egipte se gewese grootsheid aan die wêreld begin bekend maak. Dit was gevolglik makliker om ’n mens die “swaar werk” voor te stel waaraan die Israeliete destyds onder slawerny onderwerp is.—Exodus 1:13, 14.
Die nag toe die Israeliete uit Egipte vrygelaat is, het hulle by Raämses bymekaargekom en toe tot “aan die kant van die woestyn” getrek (Exodus 12:37; 13:20). Daarna het God hulle beveel om ‘om te draai’ en ‘laer op te slaan by die see’. Vanweë hierdie vreemde optrede het Egipte se koning gedink dat hulle “verdwaal” het en met sy leër en 600 strydwaens uitgetrek om sy gewese slawe weer gevange te neem.—Exodus 14:1-9.
Die uittog
Volgens Josephus, ’n geskiedskrywer van die eerste eeu G.J., het die Egiptiese leër die Israeliete “in ’n nou plek” ingedryf en hulle “tussen onbeklimbare kranse en die see” vasgekeer. Niemand weet vandag met sekerheid presies waar die Israeliete die Rooi See oorgesteek het nie. Dit is egter maklik om die gebeurtenis te visualiseer as ’n mens van ’n bergreeks oor die noordelike kant van die Rooi See uitkyk. Die berg word interessant genoeg Jebel ʽAtaqah genoem, wat “Berg van verlossing” beteken. Tussen hierdie bergreeks en die Rooi See is daar ’n klein vlakte wat vernou tot ’n punt waar die uitlopers feitlik tot in die see loop. Aan die ander kant van die Rooi See is daar ’n oase met baie fonteine, met die naam ʽAyun Musaʼ, wat “fonteine van Moses” beteken. Die seebodem tussen hierdie twee punte daal geleidelik, terwyl dit elders skielik tot ’n diepte van tussen 9 en 18 meter daal.
Ongelowige teoloë van die Christendom het al die wonderwerk probeer wegredeneer wat God verrig het toe hy die water van die Rooi See gekloof en die Israeliete op droë grond laat ontvlug het. Hulle sê dat die gebeurtenis eintlik in ’n vlak moeras of vlei noord van die Rooi See plaasgevind het. Maar dit stem nie met die Bybelverslag ooreen nie, wat herhaaldelik sê dat hulle die Rooi See oorgesteek het waar daar genoeg water was om Farao en sy hele leër te verdrink, ja, hulle te verswelg.—Exodus 14:26-31; Psalm 136:13-15; Hebreërs 11:29.
Die woestyn Sinai
Die onherbergsame toestande van die Sinai-skiereiland word aanskoulik beskryf in die Bybelverslag oor Israel se swerftogte (Deuteronomium 8:15). Kon ’n hele volk werklik aan die voet van die berg Sinai vergader om God se Wet te ontvang en later terugtrek en “op ’n afstand” staan? (Exodus 19:1, 2; 20:18). Is daar ’n plek wat groot genoeg is sodat ’n skare wat na raming driemiljoen getel het só kon rondbeweeg?
’n Negentiende-eeuse reisiger en Bybelkenner, Arthur Stanley, het die omgewing van die berg Sinai besoek en die toneel wat sy geselskap gesien het toe hulle Ras Safsafa geklim het só beskryf: “Dit het ons dadelik getref, net soos almal wat dit al gesien en dit beskryf het. . . . Hier was ’n diep, wye, geel vlakte wat reg tot by die voet van die kranse strek . . . As ’n mens in ag neem dat daar in hierdie streek feitlik geen vlaktes voorkom wat tot teen ’n berg loop soos hier nie, is die feit dat so ’n vlakte gevind kan word, en dít boonop in die omgewing van die tradisionele Sinai, werklik belangrike getuienis dat die verhaal waar is.”
Die Beloofde Land
In die 40ste jaar van Israel se swerftog in die woestyn het Moses die kenmerke van die land wat hulle op die punt gestaan het om binne te gaan soos volg beskryf: “Die HERE jou God bring jou in ’n goeie land, ’n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom.”—Deuteronomium 8:7.
Die akkuraatheid van hierdie belofte is spoedig ondervind toe die hele volk—mans, vroue, kinders en vreemdelinge—in die waterryke vallei van Sigem tussen die berg Ebal en die berg Gerisim vergader het. Ses stamme het aan die voet van die berg Gerisim gestaan. Die ander ses stamme het aan die oorkant van die vallei aan die voet van die berg Ebal vergader om die Goddelike seëninge aan te hoor wat die volk sou geniet as hulle Jehovah se Wet gehoorsaam, asook die vervloekinge wat oor hulle sou kom as hulle God se Wet nie gehoorsaam nie (Josua 8:33-35). Maar was daar genoeg plek sodat die volk in hierdie nou vallei kon vergader? En hoe het hulle almal sonder moderne klanktoerusting gehoor?
Jehovah God kon die stemme van die Leviete wonderdadig versterk het. Maar so ’n wonderwerk was blykbaar nie nodig nie. Die akoestiek in hierdie vallei is uitstekend. “Alle reisigers”, het die 19de-eeuse Bybelkenner Alfred Edersheim geskryf, “stem oor twee dinge saam: 1. Dat daar hoegenaamd geen probleem was om enigiets wat in die vallei gesê is duidelik van Ebal sowel as Gerisim te hoor nie. 2. Dat daar tussen hierdie twee berge genoeg staanplek vir al die Israeliete was.”
Nog ’n 19de-eeuse Bybelkenner, William Thomson, het sy ondervinding in daardie vallei in sy boek The Land and the Book beskryf: “Ek het geskreeu om die eggo te hoor en my toe voorgestel hoe dit moes gewees het toe die Leviete met harde stemme uitgeroep het . . . ‘Vervloek is die man wat ’n gesnede of gegote beeld maak, ’n gruwel vir Jehovah.’ En dan die magtige skare se dawerende AMEN! tien keer harder, wat optrek en al hoe harder word en heen en weer van Ebal na Gerisim en van Gerisim na Ebal weerklink.”—Vergelyk Deuteronomium 27:11-15.
Die laagte van Jisreël
Noord van Sigem lê nog ’n vrugbare vallei, wat van onder seespieël styg en ’n groot vlakte word. Hierdie hele streek word die laagte van Jisreël genoem, wat na die stad Jisreël vernoem is. Noord van die vallei is die heuwels van Galilea waar Jesus se tuisdorp, Nasaret, geleë is. “Nasaret”, verduidelik George Smith in sy boek The Historical Geography of the Holy Land, “lê in ’n kom tussen heuwels; maar wanneer jy na die rand van hierdie kom klim, . . . wat ’n uitsig het jy tog nie! [Die laagte van Jisreël] lê voor jou, met sy . . . slagvelde . . . Dit is ’n kaart van Ou Testamentiese geskiedenis.”
Argeoloë het in hierdie vallei die ruïnes van stadskoninkryke opgegrawe wat deur Israel in die dae van Josua verower is, naamlik Taänag, Megiddo, Jokneam en moontlik Kedes (Josua 12:7, 21, 22). In hierdie selfde omgewing het Jehovah sy volk, in die dae van rigter Barak en rigter Gideon, op wonderdadige wyse van uiters magtige vyande verlos.—Rigters 5:1, 19-21; 6:33; 7:22.
Eeue later het koning Jehu deur die vallei na die stad Jisreël gery om Jehovah se oordeel aan Isebel en die afvallige huis van Agab te voltrek. Na die Ooste sou ’n mens Jehu se manskappe van die wagtoring in Jisreël af maklik op ’n afstand van 19 kilometer kon sien aankom. Daar sou dus baie tyd gewees het vir koning Joram om ’n eerste en daarna ’n tweede boodskapper te perd uit te stuur en, eindelik, vir koning Joram van Israel en koning Ahasia van Juda om hulle strydwaens in te span en Jehu tegemoet te gaan voordat hy die stad Jisreël bereik het. Jehu het Joram net daar doodgemaak. Ahasia het gevlug, maar is later gewond en het by Megiddo gesterf (2 Konings 9:16-27). George Smith skryf die volgende aangaande slagvelde soos die bogemelde: “Dit is opvallend dat nie een van die vertellings . . . iets onjuis met betrekking tot die geografie bevat nie.”
Jesus het ongetwyfeld dikwels oor die laagte van Jisreël uitgekyk en nagedink oor die opwindende oorwinnings wat daar behaal is, met die wete dat hy, die beloofde Messias, die rol van ’n Grotere Josua, ’n Grotere Barak, ’n Grotere Gideon en ’n Grotere Jehu sou vervul ter regverdiging van Jehovah se soewereiniteit. Trouens, die Bybel gebruik Megiddo, die mees strategies geleë stad in hierdie vallei, as ’n simbool van die plek waar God se oorlog van Armageddon (wat “die berg Megiddo” beteken) sal plaasvind. Dit sal ’n wêreldwye oorlog wees waarin Jesus Christus, as Koning van die konings, alle vyande van God en van die Christengemeente, God se ware volk, sal vernietig.—Openbaring 16:16; 17:14.
Die Bybel vertel dat verwoede Jode van Nasaret eenkeer probeer het om Jesus oor “die rand van die berg waarop hulle stad gebou was” na sy dood te gooi (Lukas 4:29). Dit is interessant dat daar suidwes van die hedendaagse stad Nasaret ’n 12 meter hoë krans is waar hierdie insident kon plaasgevind het. Jesus het van sy vyande ontvlug, en die Bybel sê verder dat ‘hy afgekom het na Kapernaüm’ (Lukas 4:30, 31). Kapernaüm, aan die see van Galilea, lê inderdaad heelwat laer.
Ander buiten Napoleon het al vanweë hierdie en baie ander besonderhede hulle verbasing uitgespreek oor die akkuraatheid van Bybelgeografie. “Daar is talryke topografiese verwysings in die [Bybel] en hulle is geheel en al aanneemlik”, het William Thomson in The Land and the Book geskryf. “Dit is onmoontlik om nie beïndruk te wees deur die getroue ooreenkoms tussen die geskrewe geskiedenis en die natuurlike geografie van die Ou sowel as die Nuwe Testament nie”, sê Arthur Stanley in Sinai and Palestine.
Die verstommende akkuraatheid van die Bybel met betrekking tot geografiese besonderhede is maar een bewys dat dit nie bloot ’n boek van menslike oorsprong is nie. Die vorige drie nommers van Die Wagtoring het soortgelyke artikels oor die Bybel gehad. Ons nooi jou om die ander drie dele in hierdie reeks te bekom en te lees.
[Kaart op bladsy 7]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
LAAGTE VAN JISREËL
Jisreël
Nasaret
Taänag
Megiddo
Jokneam
Kedes
N
SEE VAN GALILEA
GROOT SEE
myl
kilometer
5
10
10
20
[Erkenning]
Based on a map copyrighted by Pictorial Archive (Near Eastern History) Est. and Survey of Israel.
[Prent op bladsy 5]
Israel het die Wet by die berg Sinai ontvang
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.