Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 6/15 bl. 3-4
  • Waarom die Bybel se akkuraatheid toets?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom die Bybel se akkuraatheid toets?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Bybel—Kom dit werklik van God af?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • ’n Unieke bron van hoër wysheid
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
  • 4. Wetenskaplike akkuraatheid
    Ontwaak!—2007
  • Stem die wetenskap met die Bybel ooreen?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 6/15 bl. 3-4

Waarom die Bybel se akkuraatheid toets?

Hoe beskou jy die Bybel? Party glo vas dat dit God se openbaring aan die mens is. Ander glo dat dit ’n doodgewone boek is. En dan is daar dié wat nie seker is nie. As jy enigsins oor die Bybel se oorsprong twyfel, is daar dwingende redes waarom jy dit moet ondersoek en sekerheid moet kry.

TOT die 18de eeu is die Bybel allerweë in lande van die Christendom as die Woord van God gerespekteer. Maar van die 19de eeu af het al hoe meer onderrigters, wetenskaplikes en selfs teoloë en kerkleiers openlik hulle twyfel oor die Bybel se akkuraatheid begin uitspreek.

Gevolglik het Bybelkritiek so algemeen geword dat baie die Bybel veroordeel sonder dat hulle eers weet wat dit bevat. In die plek van die Bybel wend baie mense in die Christendom hulle nou tot menslike filosofieë. Nogtans het die hedendaagse filosofie nie ’n veiliger of gelukkiger wêreld tot stand gebring nie. Dit is een baie goeie rede waarom ’n mens die Bybel moet ondersoek en vasstel of sy riglyne tot geluk en sukses lei.

Nog ’n rede waarom ’n mens die Bybel se akkuraatheid moet toets, is die wonderlike dinge wat dit vir die mensdom in die vooruitsig stel. Psalm 37:29 sê byvoorbeeld: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Openbaring 21:3-5). Watter uitwerking het sulke beloftes op jou? Hulle gee ’n mens sekerlik voldoende rede om die Bybel te ondersoek en vas te stel of dit betroubaar is.

Hierdie tydskrif het nog altyd die waaragtigheid van die Bybel voorgestaan en het al dikwels bewys van sy akkuraatheid gelewer. Daar is etlike gebiede waarop die Bybel se akkuraatheid getoets kan word. Verskeie nommers van Die Wagtoring sal jou help om die volgende vrae te beantwoord: Stem die feite wat oor eertydse geskiedenis bekend is met die Bybel ooreen? Is sy voorspellings akkuraat? Is sy raad prakties, of het hedendaagse onderrigters en filosowe bewys dat die Bybel uitgedien is?

Geografie is nog ’n gebied waarop jy die Bybel se akkuraatheid kan toets. Heidense mites bots dikwels met geografiese feite. Talle volke van die ou tyd het byvoorbeeld verhale vertel van reise na die sogenaamde wêreld van die dooies. Die boek A Guide to the Gods verduidelik aangaande die eertydse Grieke: “Die aarde is gesien as ’n plat oppervlak omring deur ’n ontsaglike watermassa wat Oseaan genoem is. Aan die anderkant was die Hiernamaalse Wêreld, ’n sombere woesteny wat oortrek was met donker plante wat geen vrugte gedra het nie.” Toe dit as ’n mite bewys is, moes heidense filosowe ’n ander plek vir hulle sogenaamde hiernamaalse wêreld vind. “’n Geskikte plek is gevind, onder die aarde, wat deur verskeie grotte met hierdie wêreld verbind is”, verduidelik die skrywer Richard Carlyon. Vandag weet ons dat dít ook ’n mite is. Daar bestaan nie so ’n onderwêreld of ’n deurgang nie.

In teenstelling met die mites van volke van die ou tyd bevat die Bybel nie die verkeerde begrip dat die aarde plat is nie. Dit verstrek eerder die wetenskaplike waarheid dat die aarde ’n ronde voorwerp is wat oor niks hang (Job 26:7; Jesaja 40:22). Wat van die ander geografiese beskrywings wat in die Bybel voorkom? Is hulle mitologies, of is dit moontlik om Bybelse gebeure akkuraat te visualiseer wanneer ’n mens die hedendaagse Egipte—waaronder die Sinai-skiereiland—en die Israel van vandag besoek?

[Prent op bladsy 3]

“Hy sit bo die kring van die aarde.”—Jesaja 40:22

‘Hy hang die aarde op oor ’n niks.’—Job 26:7

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel