Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 2/1 bl. 5-7
  • Sal die goeie ooit boosheid oorwin?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sal die goeie ooit boosheid oorwin?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Boosheid word beveg in Dachau
  • Oorwin die boosheid in ons
  • Die Duiwel word tot niet gemaak
  • ‘Hulle sal geen kwaad doen nie’
  • Wat maak ons goed of sleg?
    Ontwaak!—2010
  • Die goeie versus boosheid—’n eeue oue stryd
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Hoe die goeie die kwaad sal oorwin
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 2/1 bl. 5-7

Sal die goeie ooit boosheid oorwin?

BYNA tweeduisend jaar gelede was Jesus Christus, ’n onskuldige man, by ’n hofsaak betrokke waarin sy lewe op die spel gestaan het. Bose mense het saamgesweer om hom dood te maak omdat hy die waarheid gespreek het. Hy is valslik van opsweping beskuldig, en die skare het luidrugtig op sy teregstelling aangedring. ’n Romeinse goewerneur, wat meer waarde aan sy eie politieke aansien geheg het as aan die lewe van ’n eenvoudige timmerman, het Jesus tot ’n wrede dood veroordeel. Op die oog af het dit gelyk asof boosheid geseëvier het.

Maar die nag voor sy teregstelling het Jesus vir sy dissipels gesê: “Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:33). Wat het hy bedoel? Deels dat die boosheid in die wêreld hom nie verbitterd gemaak het en hom ook nie op ’n soortgelyke wyse laat optree het nie. Die wêreld het hom nie in ’n bose vorm ingedruk nie. (Vergelyk Romeine 12:2, Phillips.) Selfs toe hy gesterf het, het hy ten behoewe van dié gebid wat hom tereggestel het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”—Lukas 23:34.

Jesus het bewys—tot sy dood toe—dat boosheid oorwin kan word. Hy het sy volgelinge aangespoor om hulle eie stryd teen boosheid te voer. Hoe kan hulle dit doen? Deur ag te gee op die skriftuurlike raad om ‘niemand kwaad vir kwaad te vergeld nie’ en ‘die kwaad deur die goeie te oorwin’, soos Jesus gedoen het (Romeine 12:17, 21). Maar is so ’n weg werklik suksesvol?

Boosheid word beveg in Dachau

Else, ’n Duitse vrou wat ’n gevangene in Dachau was, het ’n kosbare geskenk vir ’n 14-jarige Russiese meisie gegee, die geskenk van geloof en hoop.

Dachau was ’n berugte konsentrasiekamp waar duisende gesterf het en honderde, onder andere hierdie jong Russiese meisie, aan grusame mediese eksperimente onderwerp is. Dit het gelyk asof Dachau die beliggaming was van boosheid. Nogtans het goedheid selfs in sulke oënskynlik onvrugbare grond ontkiem en selfs vermeerder.

Else het innig jammer gevoel vir hierdie jong tienermeisie wat ook gedwing is om toe te kyk terwyl die SS-wagte haar ma wreed verkrag het. Else het haar eie lewe in gevaar gestel en geleenthede gesoek om met die meisie oor goedheid en boosheid en oor die skriftuurlike hoop van ’n opstanding te praat. Sy het haar jong vriendin geleer om eerder lief te hê as te haat. En die Russiese meisie het die afgryslikhede van Dachau danksy Else oorleef.

Else het dit gedoen omdat sy die selfopofferende voorbeeld van Christus wou navolg. As een van Jehovah se Getuies het sy geleer om nie kwaad vir kwaad te vergeld nie, en haar geloof het haar beweeg om ander te help om dieselfde te doen. Hoewel sy in Dachau gely het, het sy ’n sedelike oorwinning oor ’n bose bewind behaal. En sy was nie die enigste nie.

Paul Johnson het in sy boek A History of Christianity gesê: “[Jehovah se Getuies] het geweier om enigsins met die Nazi-staat saam te werk, omdat hulle dit as geheel en al boos veroordeel het. . . . Sewe-en-negentig persent is op een of ander manier vervolg.” Was dit ’n hopelose stryd? In die boek Values and Violence in Auschwitz het die Poolse sosioloog Anna Pawelczynska aangaande die Getuies gesê: “Hierdie groepie gevangenes was ’n onbeweeglike ideologiese krag, en hulle het hulle stryd teen Nazisme gewen.”

Vir die meeste van ons is die vernaamste stryd eerder ’n stryd teen die boosheid in ons as teen die boosheid van buite. Dit is ’n innerlike stryd.

Oorwin die boosheid in ons

Die apostel Paulus het hierdie stryd soos volg beskryf: “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek” (Romeine 7:19). Soos Paulus goed geweet het, is dit nie altyd natuurlik om die goeie te doen nie.

Eugenioa is ’n jong Spanjaard wat twee jaar lank teen sy bose neigings gestry het. Hy verduidelik: “Ek moes myself baie streng behandel. Van jongs af was ek geneig om onsedelik te wees. As ’n tiener het ek gewillig aan homoseksuele orgieë deelgeneem, en ek moet eerlik wees dat ek daardie soort lewenstyl geniet het.” Waarom wou hy uiteindelik verander?

“Ek wou God behaag, en ek het uit die Bybel geleer dat hy nie die manier waarop ek lewe, goedkeur nie”, het Eugenio gesê. “Daarom het ek besluit om ’n ander soort mens te word en by God se riglyne te bly. Ek moes elke dag stry teen negatiewe, vuil gedagtes wat steeds my verstand gevul het. Ek was vasbeslote om hierdie stryd te wen, en ek het voortdurend om God se hulp gebid. Na twee jaar was die ergste verby, maar ek is steeds streng met myself. Maar die stryd was die moeite werd. Ek het nou selfrespek, ’n goeie huwelik en bowenal ’n goeie verhouding met God. Ek weet uit ondervinding dat bose gedagtes verdryf kan word voordat hulle vrugte dra—as jy jou werklik inspan.”

Die goeie oorwin boosheid elke keer wanneer ’n bose gedagte verwerp word, elke keer wanneer ons weier om kwaad vir kwaad te vergeld. Maar hoewel sulke oorwinnings belangrik is, skakel dit nie die twee vernaamste bronne van boosheid uit nie. Hoe hard ons ook al probeer, ons kan nie ons oorgeërfde swakhede geheel en al oorkom nie, en Satan oefen steeds ’n bose invloed op die mensdom uit. Sal hierdie situasie ooit verander?

Die Duiwel word tot niet gemaak

Jesus se getrouheid tot die dood toe was ’n groot slag vir Satan. Die Duiwel se poging om Jesus se onkreukbaarheid te verbreek het misluk, en daardie mislukking was die begin van die einde vir Satan. Soos die Bybel verduidelik, het Jesus die dood ervaar sodat ‘Hy deur die dood die duiwel tot niet kon maak’ (Hebreërs 2:14). Na sy opstanding het Jesus vir sy dissipels gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde” (Mattheüs 28:18). En hierdie mag sou gebruik word om die werke van Satan tot niet te maak.

Die boek Openbaring beskryf die dag wanneer Jesus Satan uit die hemel sou werp. Hierdie aartsboosdoener sou, saam met sy demone, tot die omgewing van die aarde beperk word. As gevolg hiervan waarsku die Bybel ons dat boosheid sal floreer: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”—Openbaring 12:7-9, 12.

Bybelprofesieë toon dat hierdie geskiedkundige gebeurtenis reeds plaasgevind het—ongeveer die tyd van die Eerste Wêreldoorlog.b Dit verklaar die merkbare toename in boosheid wat ons vandag sien. Maar Satan sal binnekort geheel en al beperk word sodat hy niemand meer kan beïnvloed nie.—Sien Openbaring 20:1-3.

Wat beteken al hierdie dinge vir die mensdom?

‘Hulle sal geen kwaad doen nie’

As Koning van God se Koninkryk sal Jesus binnekort sy ‘mag op die aarde’ gebruik en ’n program organiseer om mense geestelik te heronderrig. ‘Die inwoners van die wêreld sal geregtigheid leer’ (Jesaja 26:9). Die voordele sal vir almal duidelik wees. Die Bybel verseker ons: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig . . . nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”—Jesaja 11:9.

Baie van ons bose neigings kan selfs nou oorkom word. Wanneer daar nie meer demoniese invloed is nie, sal ons sekerlik baie makliker kan “afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is”.—1 Petrus 3:11.

Ons het alle rede om vol vertroue te wees dat die goeie boosheid sal oorwin, want God is goed en met sy hulp kan diegene wat graag die goeie wil doen boosheid oorkom soos Jesus deur sy eie voorbeeld getoon het (Psalm 119:68). Diegene wat nou bereid is om boosheid te bestry, kan daarna uitsien om op ’n gereinigde aarde te lewe onder die heerskappy van God se Koninkryk, ’n regering wat daartoe verbind is om boosheid vir ewig uit te roei. Die psalmis het dit wat sou volg, beskryf: “Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar. Trou spruit uit die aarde, en geregtigheid kyk uit die hemel neer.”—Psalm 85:11, 12.

[Voetnote]

a Nie sy regte naam nie.

b Vir meer inligting sien bladsye 20-2 van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel