Koninkryksverkondigers berig
Hulle het hulle lewenswyse verander
JY HET hulle ongetwyfeld al gesien wanneer hulle met ander op straat gesels, mense van huis tot huis besoek of Christenvergaderinge by hulle Koninkryksale bywoon. Ons praat van die goed versorgde jongmense onder Jehovah se Getuies. Jy het dalk die gevolgtrekking gemaak dat hulle Getuies is omdat hulle ouers hulle geleer het om Getuies te wees, en dit is die geval met baie van hulle. Daarenteen het van hierdie jongmense ’n agtergrond wat baie anders is, en hulle vorige lewenswyse was heeltemal anders as die lewe wat hulle nou lei. Trouens, diegene wat op die volgende bladsy getoon word, het eers met groepe omgegaan vir wie misdaad en dwelmmisbruik iets alledaags is. Wat het hulle laat besluit om hulle lewe so geheel en al te verander? Kom ons besoek ’n dorp in Noorweë en ontmoet van die jongmense wat sulke veranderinge gemaak het.
Die grondslag vir die verandering
Toe twee Getuies Annette in hulle werk van huis tot huis ontmoet het, was sy 19 jaar oud. “Ek is dikwels aangesê om nooit met Jehovah se Getuies te praat nie, maar ek was nuuskierig en het hulle ingenooi”, vertel sy. Sy het dwelms gebruik sedert sy 11 was, en sy was by verskeie inbrake en motordiefstalle betrokke.
Die goeie nuus van die Koninkryk het ’n indruk op haar gemaak. Sy was veral deur die opstandingshoop aangemoedig, aangesien sy haar moeder verloor het toe sy vyf jaar oud was. Daarom het sy ’n gratis Bybelstudie aanvaar en die vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon. Sy het vir haar kêrel en vir ander vertel wat sy geleer het. Die reaksie daarop? Hulle wou niks daarmee te doen gehad het nie en het Annette daarvan beskuldig dat sy gebreinspoel word. Nietemin het van dié wat die meeste daarteen gekant was die Bybel begin bestudeer.
Neem byvoorbeeld vir Espen, ’n jong man van 20. Hy het die goeie nuus van die Koninkryk by Annette se kêrel gehoor, en hy wou onmiddellik ’n Bybelstudie hê. Hy het egter ’n tronkstraf van vier maande afgewag omdat hy by dwelmsmokkelary en, soos Annette, by verskeie inbrake betrokke was. Hy het ook tabak, dagga en ander dwelms gebruik. Nou waarom sal iemand wat by sulke dinge betrokke was die Bybel wil studeer? Espen het begin besef hoe leeg en doelloos sy lewenswyse is. Hy vertel: “Ek is aangetrek deur die Bybel se beloftes van ’n toekoms wat my ’n doel in die lewe gee. Ek het dus begin studeer om te sien of ek die waarheid vertel is.”
Ander wil die Bybel bestudeer
Ongeveer dié tyd het ’n jong man uit dieselfde kring jongmense die goeie nuus gehoor en ook begin studeer en vergaderinge begin bywoon. Daarna is ’n studie met nog een van hierdie jeugdiges begin, en hy het vergaderinge begin bywoon. Kort daarna het nog ’n jong man by sy vriende aangesluit en saam met hulle die Bybel bestudeer en geestelik vordering gemaak. Toe was nog ’n jeugdige in dieselfde groep beïndruk deur die positiewe veranderinge wat sy vriende gemaak het, en binne ’n kort tydjie wou hy die Bybel bestudeer.
Gilbert, ’n jong musikant uit dieselfde groep, het toe die Bybel begin bestudeer. Albei sy ouers het aan kanker gesterf en daarom was die Bybel se opstandingshoop vir hom ’n vertroosting (Johannes 5:28, 29). Hy het ook dagga gebruik en ’n losbandige lewe gelei, en dit was sy ambisie om ’n rockster te word. Maar mettertyd het hy goeie geestelike vordering gemaak en kort daarna besluit om ’n Getuie vir Jehovah te word. Uiteindelik het Espen se jonger broer die Bybel begin ondersoek en met die Getuies begin assosieer.
Bybelwaarhede verander lewens
’n Groot verandering het plaasgevind in die lewens van hierdie jongmense wat slordig aangetrek het, onversorgde hare gehad het en by dwelms, diefstal en ander misdade betrokke was. Annette is ’n goeie Koninkryksverkondiger en het ongeveer ’n jaar lank as ’n pionier gedien. Espen en Gilbert het al as hulppioniers gedien, en hulle is ook bedieningsknegte. Hulle albei het met iemand in die Christengemeente getrou. Nog vier van die eertydse groep is ywerige Koninkryksverkondigers!
Wat van die vonnis van vier maande wat Espen moes uitdien? Vanweë die veranderinge wat hy in sy lewe aangebring het, is sy vonnis verander na 80 uur gemeenskapswerk. Met die goedkeuring van die polisie en van andere het hy hierdie ure bestee om by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies te werk. Die polisie was baie tevrede met hierdie reëling.
Ja, baie jongmense reg oor die wêreld het ’n kriminele verlede. Maar die waarheid van God se Woord het vir hulle antwoorde op lewensbelangrike vrae gegee en ’n sekere hoop vir die toekoms. Gevolglik is hulle nie meer misdadigers of dwelmgebruikers nie, en hulle loop nie meer in slordige klere rond nie. Omdat hulle hulle lewenswyse verander het, is hulle presies soos die mense wat hierbo genoem word—jong, goed versorgde en bedrywige Getuies van Jehovah. Hulle wil aan ander die Bybel se blywende oplossings vir die probleme wat so baie jongmense vandag ervaar, bekend maak.—Sien 1 Korinthiërs 6:9-11.
[Prent op bladsy 8]
Noorweegse jongmense neem die waarheid aan