Help jou gesin om tot in God se nuwe wêreld behoue te bly
“Uself, o Jehovah, sal hulle behoed; U sal elkeen beskerm teen hierdie geslag, tot onbepaalde tyd.”—PSALM 12:7, NW.
1, 2. (a) Hoe vaar sommige gesinne onder die druk van die laaste dae? (b) Hoe kan Christengesinne daarna streef om behoue te bly?
“VANDAG is my hart vol vreugde!”, het ’n Christen- ouere man, John, opgewonde gesê. Die rede vir hierdie vreugde? “My 14-jarige seun en 12-jarige dogter is gedoop”, het hy vertel. Maar sy vreugde het nie daar geëindig nie. “My 17-jarige seun en 16-jarige dogter het albei die afgelope jaar as hulppioniers gedien”, het hy bygevoeg.
2 Die toepassing van Bybelbeginsels help baie gesinne in ons midde om soortgelyke welslae te geniet. Sommige ondervind egter probleme. “Ons het vyf kinders”, skryf ’n Christen-egpaar, “en dit word al hoe moeiliker om hulle te help. Hierdie ou stelsel het reeds een van ons kinders geëis. Dit lyk asof ons jong tieners op die oomblik Satan se hoofteiken is.” Daar is ook egpare wat ernstige huweliksprobleme ondervind, en met tye lei dit daartoe dat hulle uitmekaar gaan of skei. Gesinne wat Christelike eienskappe aankweek, sal nietemin die “groot verdrukking” oorleef en tot in God se nuwe wêreld behoue bly (Mattheüs 24:21; 2 Petrus 3:13). Wat kan jy dan doen om te verseker dat jou gesin behoue sal bly?
Verbeter julle kommunikasie
3, 4. (a) Hoe belangrik is kommunikasie in die gesinslewe, en waarom is daar dikwels probleme in hierdie verband? (b) Waarom moet mans daarna streef om goeie luisteraars te wees?
3 Goeie kommunikasie is die lewensaar van ’n gesonde gesin; wanneer dit ontbreek, neem spanning en stres toe. “Planne misluk sonder beraadslaging, maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand”, sê Spreuke 15:22. ’n Huweliksraadgewer sê interessant genoeg die volgende: “Die algemeenste klagte wat ek van vrouens hoor vir wie ek raad gee, is: ‘Hy praat nie met my nie’, en ‘Hy luister nie na my nie’. En wanneer ek vir hulle mans van hierdie klagte vertel, hoor hulle ook nie wat ek sê nie.”
4 Wat veroorsaak ’n gebrek aan kommunikasie? Eerstens is daar die feit dat mans en vroue verskil, en dat hulle dikwels op opmerklik verskillende maniere kommunikeer. ’n Artikel het opgemerk dat ’n man “geneig is om direk en prakties” in sy gesprekke te wees, terwyl “[’n vrou] bowenal graag ’n empatieke luisteraar wil hê”. As dit ’n probleem in jou huwelik is, moet jy daarna streef om sake te verbeter. ’n Christenman moet hom dalk daarop toelê om ’n beter luisteraar te word. “Elke mens”, sê Jakobus, “moet gou wees om te hoor, stadig om te praat” (Jakobus 1:19). Leer om nie vir jou vrou bevele te gee, haar te vermaan of vir haar te preek wanneer sy maar net ‘medelye’ wil hê nie (1 Petrus 3:8). “Wie sy woorde inhou, besit kennis”, sê Spreuke 17:27.
5. Wat is sommige maniere waarop mans hulle gedagtes en gevoelens beter kan uitdruk?
5 Aan die ander kant is daar “’n tyd om te spreek”, en jy moet dalk leer om jou gedagtes en gevoelens meer geredelik uit te druk (Prediker 3:7). Prys jy jou vrou byvoorbeeld mildelik vir haar prestasies? (Spreuke 31:28). Toon jy jou dankbaarheid vir haar harde werk om jou te help en om na die huishouding om te sien? (Vergelyk Kolossense 3:15.) Of miskien moet jy vrygewiger met jou “liefdesbetuigings” wees (Hooglied 1:2, NW). Aan die begin sal jy dalk ongemaklik voel wanneer jy dit doen, maar dit kan baie help om jou vrou van jou liefde vir haar te verseker.
6. Wat kan vrouens doen om gesinskommunikasie te verbeter?
6 Wat van Christenvrouens? Een vrou het gesê haar man weet dat sy hom waardeer, en daarom hoef sy dit nie vir hom te sê nie. Maar mans wil ook waardeer word, pluimpies ontvang en geprys word (Spreuke 12:8). Moet jy jou nie dalk in hierdie opsig vryeliker uitspreek nie? Miskien moet jy daarenteen meer aandag gee aan hoe jy luister. Het jy geleer hoe om jou man liefdevol en taktvol uit te vra as hy dit moeilik vind om sy probleme, vrese of bekommernisse openlik te bespreek?
7. Wat kan veroorsaak dat huweliksrusies ontstaan, en hoe kan hulle voorkom word?
7 Selfs paartjies wat gewoonlik goed oor die weg kom, kan natuurlik nou en dan ’n kommunikasieprobleem hê. Emosie oorheers dalk gesonde oordeel of ’n kalm bespreking ontaard dalk skielik in ’n heftige argument (Spreuke 15:1). “Ons almal struikel dikwels”; maar ’n huweliksrusietjie beteken tog nie die einde van ’n huwelik nie (Jakobus 3:2). “Toorn en geskreeu” is egter onvanpas en vernietigend in enige verhouding (Efesiërs 4:31). Herstel gou die vrede wanneer kwetsende woorde gewissel is (Mattheüs 5:23, 24). Rusies kan dikwels in die eerste plek voorkom word as julle albei Paulus se woorde in Efesiërs 4:26 toepas: “Laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie.” Ja, praat probleme uit terwyl hulle nog klein is en maklik opgelos kan word; moenie wag tot julle emosies soos ’n kruitvat raak nie. As julle elke dag ’n paar minute daaraan bestee om sake van belang te bespreek, kan dit baie help om goeie kommunikasie te bevorder en misverstande te voorkom.
‘Die ernstige vermaning van Jehovah’
8. Waarom dryf sommige jongmense van die waarheid af weg?
8 Dit lyk asof sommige ouers daarmee tevrede is dat hulle kinders sonder veel leiding grootword. Die kinders woon vergaderinge by en gaan nou en dan in die velddiens uit, maar dikwels het hulle nie hulle eie verhouding met God opgebou nie. Mettertyd kan “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë” baie sulke jongmense van die waarheid af laat wegdryf (1 Johannes 2:16). Hoe tragies sou dit tog wees as ouers Armageddon oorleef, maar hulle kinders as slagoffers agterbly omdat hulle ouers hulle pligte in die verlede versuim het!
9, 10. (a) Wat behels dit om kinders “in die dissipline en ernstige vermaning van Jehovah” groot te maak? (b) Waarom is dit belangrik dat kinders toegelaat word om hulle gevoelens vryelik uit te spreek?
9 Paulus het gevolglik geskryf: “Julle, vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en ernstige vermaning van Jehovah groot te maak” (Efesiërs 6:4, NW). As jy dit wil doen, moet jy self deeglik bekend wees met Jehovah se standaarde. Jy moet die regte voorbeeld stel wanneer dit kom by jou keuse van vermaak, persoonlike studie, vergaderingbywoning en velddiens. Paulus se woorde impliseer ook dat ’n ouer (1) sy kinders fyn moet waarneem en dat hy (2) goeie kommunikasie met hulle moet behou. Dán eers sal hy weet waarin hulle “ernstige vermaning” nodig het.
10 Dit is natuurlik dat adolessente ’n mate van onafhanklikheid wil hê. Maar jy moet wakker wees vir duidelike tekens van wêreldse invloed in hulle spraak, denke, kleredrag en persoonsversorging, asook hulle keuse van vriende. ’n Wyse vader het die volgende gesê soos dit in Spreuke 23:26 opgeteken is: “My seun, gee my jou hart.” Het jou kinders die vrymoedigheid om hulle gedagtes en gevoelens aan jou bekend te maak? Wanneer kinders nie onmiddellike bestrawwing vrees nie, sal hulle baie makliker hulle eerlike opinie uitspreek oor dinge soos buitemuurse bedrywighede, afsprake, hoër onderwys of Bybelwaarhede self.
11, 12. (a) Hoe kan maaltye gebruik word om gesinskommunikasie aan te moedig? (b) Wat kan die resultaat wees as ’n ouer voortdurend probeer om kommunikasie met sy kinders aan te moedig?
11 In baie lande is dit gebruiklik dat gesinne saam eet. Aandete kan dus ’n goeie geleentheid bied vir al die gesinslede om opbouende gesprekke te geniet. Die gesinsmaaltyd word alte dikwels deur TV en ander afleidings verdring. Jou kinders was egter ure lank as ’t ware gevange gehou in die skool en aan wêreldse denke blootgestel. Maaltye is ’n goeie tyd om met jou kinders te kommunikeer. “Ons gebruik maaltye om oor dinge te gesels wat gedurende die dag gebeur het”, sê een ouer. Maaltye hoef nogtans nie pynlike tugtigingsessies of kruisverhore te word nie. Hou die atmosfeer ontspanne en aangenaam!
12 Dit is nogal ’n uitdaging om jou kinders sover te kry om vryelik met jou te kommunikeer en dit kan oneindige geduld van jou verg. Mettertyd sal jy egter hartverblydende resultate sien. “Ons 14-jarige seun was terneergedruk en in homself gekeer”, sê een besorgde moeder. “Deur ons gebede en volharding het hy nou begin om openhartig met ons te gesels!”
’n Gesinstudie wat opbou
13. Waarom is vroeë opvoeding van kinders so belangrik, en hoe kan dit gedoen word?
13 “Ernstige vermaning” sluit ook formele onderrig in God se Woord in. Soos in Timotheüs se geval, moet kinders “van kleins af” opgevoed word (2 Timotheüs 3:15). Vroeë opvoeding versterk kinders vir situasies waarin hulle geloof tydens hulle skooljare getoets kan word—verjaarsdagvieringe, patriotiese seremonies of godsdienstige vakansiedae. Sonder voorbereiding vir sulke toetse kan ’n kind se geloof dalk verpletter word. Maak dus gebruik van die hulpmiddels wat die Wagtoringgenootskap vir klein kindertjies voorsien het, soos die boeke Luister na die Groot Onderwyser en My boek met Bybelverhalea.
14. Hoe kan die gesinstudie gereeld gehou word, en wat het jy gedoen om ’n gereelde gesinstudie te hê?
14 Nog iets waaraan daar aandag geskenk moet word, is die gesinstudie wat maklik ongereeld, vervelig en meganies kan raak sodat dit vir die ouers sowel as die kinders ’n las is. Hoe kan jy sake verbeter? Eerstens moet jy ‘die tyd uitkoop’ om die studie te hou, en nie toelaat dat dit ter wille van TV-programme of ander afleidings ter syde gestel word nie (Efesiërs 5:15-17). “Ons het dit moeilik gevind om ons gesinstudie gereeld te hou”, erken ’n gesinshoof. “Ons het verskillende tye probeer tot ons uiteindelik ’n tyd later in die aand gevind het wat vir ons prakties is. Nou hou ons ons gesinstudie gereeld.”
15. Hoe kan jy jou gesinstudie by die behoeftes van jou gesin aanpas?
15 Vervolgens moet jy die spesifieke behoeftes van jou gesin in ag neem. Baie gesinne geniet dit om hulle weeklikse Wagtoring-studie saam voor te berei. Maar jou gesin het dalk van tyd tot tyd spesifieke vraagstukke wat bespreek moet word, waaronder probleme waarmee die kinders by die skool te kampe het. Die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk en artikels in Die Wagtoring en die Ontwaak! kan in hierdie behoefte voorsien. “Wanneer ons agterkom dat een van ons seuns se gesindheid reggestel moet word”, sê ’n vader, “spits ons ons aandag toe op die spesifieke hoofstuk in die Jongmense vra-boek wat daardie probleem bespreek.” Sy vrou voeg by: “Ons probeer aanpasbaar wees. As ons iets vir ons studie beplan het, en daar ontstaan ’n behoefte om iets anders te bespreek, verander ons na gelang van daardie behoefte.”
16. (a) Hoe kan jy seker maak dat jou kinders verstaan wat hulle leer? (b) Wat moet gewoonlik vermy word wanneer ’n gesinstudie gehou word?
16 Hoe kan jy seker maak dat jou kinders werklik verstaan wat hulle leer? Die Meesteronderrigter, Jesus, het beskouingsvrae gevra, soos “Wat dink jy?” (Mattheüs 17:25). Jy kan probeer uitvind wat jou kinders werklik dink deur dieselfde te doen. Moedig elke kind aan om in sy of haar eie woorde te antwoord. Dit spreek vanself dat as jy kwaad word of geskok is wanneer hulle hulle eerlike opinie gee, hulle volgende keer dalk twee keer sal dink voordat hulle weer openhartig teenoor jou is. Bly dus kalm. Moenie die gesinstudie in ’n geleentheid vir tugtiging verander nie. Dit moet aangenaam, opbouend, wees. “As ek uitvind dat een van my kinders ’n probleem het”, sê een vader, “bespreek ek dit later met hom.” “Wanneer die kind alleen genader word”, voeg ’n moeder by, “is hy nie verleë nie en is hy meer geneë om vryelik te praat as wanneer hy gedurende die gesinstudie raad gegee word.”
17. Wat kan gedoen word om die gesinstudie interessant te maak, en wat het jou gesin prakties gevind?
17 Dit kan nogal ’n uitdaging wees om jou kinders sover te kry om aan die gesinstudie deel te neem, veral wanneer hulle ouderdomme verskil. Jonger kinders is geneig om kriewelrig en rusteloos te raak of kan net ’n rukkie konsentreer. Wat kan jy doen? Probeer om die atmosfeer van die studie ontspanne te hou. As jou kinders net ’n rukkie kan konsentreer, kan jy korter, maar meer studieperiodes probeer. Dit help ook as jy entoesiasties is. “As ons leiding gee, dan met toewyding” (Romeine 12:8, NAV). Sorg dat almal betrek word. Kleiner kinders kan dalk op die prente kommentaar lewer of eenvoudige vrae beantwoord. Tieners kan miskien gevra word om bykomende navorsing te doen of om die materiaal wat bespreek word prakties toe te pas.
18. Hoe kan ouers God se Woord by elke geleentheid by hulle kinders inskerp, en met watter resultaat?
18 Moenie jou geestelike onderrigting egter tot een uur per week beperk nie. Skerp God se Woord by elke geleentheid by jou kinders in (Deuteronomium 6:7). Luister na hulle. Vermaan en troos hulle wanneer dit nodig is. (Vergelyk 1 Thessalonicense 2:11.) Toon medelye en ontferming (Psalm 103:13; Maleagi 3:17). As jy dit doen, sal jou kinders ‘jou vreugde verskaf’, en jy sal hulle help om tot in God se nuwe wêreld behoue te bly.—Spreuke 29:17.
“’n Tyd om te lag”
19, 20. (a) Watter rol speel ontspanning in die gesinslewe? (b) Wat is sommige maniere waarop ouers ontspanning vir hulle gesin kan reël?
19 Daar is “’n tyd om te lag, . . . ’n tyd om van vreugde rond te spring” (Prediker 3:4). Die Hebreeuse woord vir “lag” kan ook vertaal word met uitdrukkings soos “vrolik wees”, “speel”, “vermaak” of selfs “feesvier” (2 Samuel 6:21; Job 40:24; Rigters 16:25, NAV; Exodus 32:6, NAV; Genesis 26:8). Spel kan voordelig wees en dit is vir kinders en jongmense belangrik. In Bybeltye het ouers vermaak en ontspanning vir hulle gesinne gereël. (Vergelyk Lukas 15:25.) Doen jy dieselfde?
20 “Ons besoek openbare parke”, sê ’n Christenman. “Ons nooi van die jong broers saam en speel ’n balspel en hou piekniek. Hulle het baie pret en geniet opbouende geselskap.” ’n Ander ouer sê ook: “Ons beplan dinge wat ons saam met ons seuns kan doen. Ons gaan swem, speel ’n balspel, gaan saam op vakansie. Maar ons hou vermaak op sy plek. Ek beklemtoon die feit dat ’n mens ’n balans moet handhaaf.” Opbouende ontspanning, soos gepaste gesellighede of uitstappies na dieretuine en museums, kan baie help om te keer dat ’n kind aangetrek word deur die genot wat die wêreld bied.
21. Hoe kan ouers keer dat hulle kinders voel dat hulle iets ontneem word omdat hulle nie wêreldse vakansiedae vier nie?
21 Dit is ook belangrik dat jou kinders nie moet voel dat hulle van dinge ontneem word omdat hulle nie verjaarsdae of onchristelike vakansiedae vier nie. Met ’n bietjie beplanning van jou kant af kan hulle uitsien na talle genotvolle tye die hele jaar deur. ’n Goeie ouer het tog nie die een of ander vakansiedag as ’n verskoning nodig om sy liefde op ’n materiële wyse te betoon nie. Soos sy hemelse Vader, ‘weet hy om goeie gawes aan sy kinders te gee’—en dit spontaan.—Mattheüs 7:11.
Verseker ’n ewige toekoms vir jou gesin
22, 23. (a) Waarvan kan godvresende gesinne verseker wees namate die groot verdrukking nader kom? (b) Wat kan gesinne doen om tot in God se nuwe wêreld behoue te bly?
22 Die psalmis het gebid: “Uself, o Jehovah, sal hulle behoed; U sal elkeen beskerm teen hierdie geslag, tot onbepaalde tyd” (Psalm 12:7, NW). Druk van Satan gaan gewis toeneem—veral teen gesinne wat Getuies van Jehovah is. Maar dit is moontlik om hierdie steeds toenemende aanval te weerstaan. Met Jehovah se hulp en die volgehoue vasbeslotenheid en harde werk van mans, vrouens en kinders kan gesinne—waaronder jou gesin—die hoop hê om deur die groot verdrukking behoue te bly.
23 Mans en vrouens, laat daar vrede en harmonie in julle huwelik wees deur julle godgegewe rol te vervul. Ouers, hou aan om die regte voorbeeld vir julle kinders te stel, en koop die tyd uit om hulle die opvoeding en dissipline te gee wat hulle só nodig het. Gesels met hulle. Luister na hulle. Hulle lewe is op die spel! Kinders, luister na julle ouers en wees gehoorsaam aan hulle. Met Jehovah se hulp kan julle welslae behaal en ’n ewige toekoms in God se komende nuwe wêreld vir julleself verseker.
[Voetnoot]
a Kassetopnames is ook in sommige tale beskikbaar.
Onthou jy?
◻ Hoe kan mans en vrouens hulle kommunikasie met mekaar verbeter?
◻ Hoe kan ouers hulle kinders in die “ernstige vermaning van Jehovah” grootmaak? (Efesiërs 6:4, NW)
◻ Wat is sommige maniere waarop die gesinstudie opbouend en interessanter gemaak kan word?
◻ Wat kan ouers doen om ontspanning en vermaak vir hulle gesin te reël?
[Venster op bladsy 16]
Musiek—’n Kragtige Invloed
Die skrywer van ’n boek oor kinderopvoeding sê: “As ek voor ’n gehoor moes staan . . . en losbandige drinkpartye en bedwelming deur kokaïen, dagga en enige ander hallusinogene dwelms goedpraat, sou hulle my verstom aankyk. . . . [Tog] gee ouers dikwels vir hulle kinders geld om plate en bandopnames te koop wat hierdie dinge openlik voorstaan” (Raising Positive Kids in a Negative World, deur Zig Ziglar). In die Verenigde State word seksueel eksplisiete rap-lirieke byvoorbeeld deur baie jongmense gesing. Help jy jou kinders om selektief te wees wat hulle keuse van musiek betref?
[Prent op bladsy 15]
Maaltye kan aangename geleenthede wees wat gesinseenheid en kommunikasie aanmoedig