Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 5/15 bl. 21-23
  • “Trek die volle wapenrusting van God aan”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Trek die volle wapenrusting van God aan”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die wapenrusting
  • Bid by elke geleentheid, bly staande
  • “Trek die volle wapenrusting van God aan”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Jehovah sal jou beskerm – Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Demone—Hoe kan ons hulle weerstaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Bly staande teen Satan se liste!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 5/15 bl. 21-23

“Trek die volle wapenrusting van God aan”

CHRISTENE wat wapenrusting dra? Waarom moet hulle sulke oorlogstoerusting opneem? Is hulle dan nie liefhebbers van vrede nie? (2 Timotheüs 2:24). Ja, hulle is. Alle ware Christene is nietemin betrokke by ’n stryd—’n stryd waarin hulle probeer, nie om dood te maak nie, maar om te oorwin.

As Satan nie in opstand gekom het nie, sou so ’n stryd nooit nodig gewees het nie. Maar hy het in opstand gekom, en hy het Adam en Eva mislei om by hom in sy opstand aan te sluit. Sedertdien lê die wêreldstelsel wat ontwikkel het in die mag van “die Bose”, Satan die Duiwel (1 Johannes 5:19). Diegene wat hulle aan die regmatige Soewerein, Jehovah, onderwerp, moet die invloed van die wêreld en sy heerser weerstaan. Hulle moet stry vir hulle geestelike lewe. Daarom word Christene aangespoor: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.”—Efesiërs 6:11.

Die wapenrusting

Let op dat ons “die volle wapenrusting van God” nodig het om behoorlik beskerm te wees. Kom ons kyk vervolgens na elke deel van hierdie wapenrusting wat deur die apostel Paulus beskryf word en ondersoek onsself eerlik om vas te stel of ons ten volle vir geestelike oorlogvoering toegerus is.—Efesiërs 6:14-17.

“Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord” (Efesiërs 6:14a). In Bybeltye het soldate ’n lyfband van leer gedra wat tot 15 sentimeter breed was. Hierdie lyfband het die lendene help beskerm. Wanneer ’n soldaat sy lyfband vasgemaak het, het dit beteken dat hy gereed is vir die stryd.

Hoe gepas is dit dan tog dat goddelike waarheid met ’n soldaat se lyfband vergelyk word! Dit lig gepas toe dat ons God se Woord van waarheid baie na aan ons moet hou, asof ons dit soos ’n lyfband aan ons vasmaak. Ons moet diep nadink oor die gedagte-inhoud van God se Woord. Dit sal ons beskerm sodat ons nie deur leuens en bedrog mislei word nie. Daarbenewens sal Jehovah se woorde ons geestelik onderskraag en versterk en ons onkreukbaarheid verstewig.

“Met die borswapen van die geregtigheid aan” (Efesiërs 6:14b). ’n Soldaat se borswapen het ’n lewensbelangrike orgaan—die hart—beskerm. In ons godgegewe geestelike wapenrusting beskerm geregtigheid dus ons hart. In die Skrif is die hart ’n gepaste simbool van ons innerlike—ons gevoelens, gedagtes en begeertes. Aangesien die Bybel ook sê dat die hart geneig is om kwaad te doen, is dit lewensbelangrik om ’n vasbeslotenheid aan te kweek om aan Jehovah se standaard van geregtigheid vas te hou (Jeremia 17:9). Gehoorsaamheid aan God moet nie ’n huigelagtige uiterlike vertoon wees nie; dit moet uit ons hart kom. Dit vereis dat ons ’n sterk liefde vir geregtigheid en net so ’n sterk haat vir goddeloosheid aankweek (Psalm 45:8). Gevolglik sal ons hart beskerm word.

“As skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie [“goeie nuus”, NW] van vrede” (Efesiërs 6:15). Het jy hierdie skoene aan jou voete? Neem hulle jou gereeld in die veldbediening uit om die goeie nuus te verkondig? Streef jy daarna om die gehalte van jou predikings- en onderrigtingsbedrywighede te verbeter? Ons vind weliswaar in sekere gebiede min reaksie. Mense staan dalk onverskillig, stel nie belang nie of is ons vyandiggesind. Ons kan selfs vervolg word as gevolg van ons predikingswerk. Maar as Christene dit deurstaan, kweek hulle volharding aan, ’n eienskap wat ’n mens teen Satan se aanvalle beskerm. Hoewel Paulus vervolg is, was hy ’n ywerige prediker, en ons word aangemoedig om ‘navolgers van hom te word, soos hy dit van Christus was’.—1 Korinthiërs 11:1.

As ons met die Koninkrykspredikingswerk besig bly, versterk dit ons vertroue in die goeie nuus. Daarbenewens stel dit Jehovah se gees in staat om deur ons te werk in die uitvoering van sy wil. Trouens, sulke werk maak ons medewerkers van die engele—selfs van Jehovah God (1 Korinthiërs 3:9; Openbaring 14:6). En as ons “oorvloedig in die werk van die Here” is, maak dit ons “standvastig, onbeweeglik” (1 Korinthiërs 15:58). Watter wonderlike beskerming bied dit ons tog!

“Neem die [groot] skild van die geloof op” (Efesiërs 6:16, vgl. NW). ’n Eertydse soldaat het hom met ’n groot skild teen spiese en pyle beskerm. As hy nie ’n skild gebruik het nie, kon hy ernstig verwond word of selfs sy lewe verloor het. Christene moet selfs dodeliker wapens—“die vurige pyle van die Bose”—trotseer. Dit sluit al die middele in wat Satan gebruik om ons geloof te verswak en ons geestelik dood te maak. Dit is dinge soos vervolging, leuens, misleidende wêreldse filosofieë, materialistiese verlokkinge en die versoeking om onsedelikheid te pleeg. Ons het ’n groot skild nodig om ons teen al hierdie dinge te beskerm. Geen deel van ons kan met veiligheid onbeskermd gelaat word nie.

Abraham en sy vrou, Sara, het sterk geloof gehad. Toe hulle te oud was om kinders te hê, het hulle geloof in God se belofte gestel dat ’n saad uit hulle gebore sou word. Later het Abraham merkwaardige geloof aan die dag gelê toe hy die opdrag gehoorsaam het om Isak, sy enigste seun by sy geliefde Sara, op te offer. Jehovah het Abraham se hand teëgehou en ’n plaasvervanger voorsien wat hy kon offer. Maar Abraham was gereed om sy gehoorsaamheid te betoon. Waarom? Omdat hy die vaste geloof gehad het dat Jehovah sy seun kon opwek en die beloftes oor hom kon vervul.—Romeine 4:16-21; Hebreërs 11:11, 12, 17-19.

Moses het ook die soort geloof gehad wat ons nodig het. Hy het die rykdom van Egipte verwerp en verkies om eerder saam met God se volk verdruk te word. Waarom? Omdat hy geglo het dat Jehovah bestaan en dat hy die Israeliete sou red. Moses se geloof was so sterk dat ‘hy volgehou het soos een wat die Onsienlike sien’.—Hebreërs 11:6, 24-27.

Het ons ook so ’n sterk geloof in Jehovah? Is ons verhouding met Jehovah so heg dat dit amper is asof ons hom kan sien? Is ons bereid om enige opoffering te maak of enige beproewing te verduur om ons verhouding met God te behou? Het ons algehele geloof in Jehovah? (Hebreërs 11:1). Indien wel, sal Satan se vurige pyle nie deur ons skild van die geloof kan dring nie.

“Neem aan die helm van verlossing” (Efesiërs 6:17a). ’n Soldaat se helm het sy kop en gevolglik die brein—die orgaan van senukoördinasie en van gedagtes—beskerm. Die Christelike hoop op verlossing word met ’n helm vergelyk omdat dit die verstand beskerm. ’n Christen se verstand is deur juiste kennis vernuwe, maar dit behoort steeds aan ’n swak en onvolmaakte mens (Romeine 7:18; 12:2). As ons ons verstand voed met geloofafbrekende, onrein denke wat deur die gees van hierdie wêreld voortgebring word, sal ons vertroue in ons verlossing vervaag en dalk uiteindelik sterf. As ons daarenteen aanhou om ons verstand met die versterkende woorde van God te voed, sal ons hoop lewendig en duidelik bly. Sit jy jou helm van verlossing stewig op jou kop?

“Die swaard van die Gees—dit is die woord van God” (Efesiërs 6:17b). Die gesegde dat aanval die beste verdediging is, is waar in Christelike oorlogvoering. Terwyl ons voete, waaraan ons die bereidheid vir die goeie nuus van vrede as skoene het, ons tussen die ongelowiges neem, is ons nie ongewapen nie. God se Woord, die Bybel, dien as ’n kragtige swaard om geestelike leuens en dwaalbegrippe oop te vlek en om opregte mense te help om geestelike vryheid te vind.—Johannes 8:31, 32.

Jesus het die krag van hierdie wapen getoon toe hy as ’t ware in ’n geveg met Satan die Duiwel was. Toe hy in die woestyn versoek is, het Jesus hom teen drie aanvalle van Satan verdedig deur God se Woord op doeltreffende wyse te gebruik en te sê: “Daar is geskrywe” (Mattheüs 4:1-11). As ons leer om hierdie swaard op ’n bekwame wyse te gebruik, kan ons sagmoediges help om uit Satan se mag bevry te word. Gemeentelike ouere manne gebruik ook God se Woord om die kudde te beskerm teen individue wat die geloof van die swakkeres probeer vernietig.—Handelinge 20:28-30.

Dit is nie maklik vir ’n soldaat om vaardig met die swaard te raak nie. Opleiding en toegewyde oefening oor ’n lang tydperk is nodig om dit op ’n vaardige wyse te gebruik. In geestelike oorlogvoering verg dit eweneens baie studie en gereelde oefening in die bediening om God se Woord op ’n bekwame wyse te gebruik. Laat ons ons gerus inspan om bedrewe geestelike swaardvegters te word, mense wat “die woord van die waarheid reg sny”.—2 Timotheüs 2:15.

Bid by elke geleentheid, bly staande

Al die dele van ons geestelike wapenrusting is noodsaaklik om ons onkreukbaarheid aan God te handhaaf. Maar hoe kan ons hierdie wapenrusting aanhou? Dit sal ons help om ons wapenrusting aan te hou as ons die Bybel gereeld bestudeer, vir Christelike vergaderinge voorberei en dan aandagtig luister en daaraan deelneem (2 Timotheüs 3:16; Hebreërs 10:24, 25). Gereelde en ywerige velddiens saam met goeie Christelike omgang sal ook help om ons geestelike aanvals- en verdedigingswapenrusting in ’n goeie toestand te hou.—Spreuke 13:20; Romeine 15:15, 16; 1 Korinthiërs 15:33.

Dit is ook belangrik dat ons die regte gesindheid aankweek. Ons moenie toelaat dat die verlokkinge van hierdie wêreld ons aandag aflei nie. Laat ons eerder ’n ‘suiwer oog’ aankweek (Mattheüs 6:19-24, vgl. NW). Ons moet ook, in navolging van Jesus Christus, leer om geregtigheid lief te hê en ongeregtigheid te haat (Hebreërs 1:9). Al hierdie dinge help ons om ons godgegewe geestelike wapenrusting aan te hou.

Nadat Paulus elke deel van die geestelike wapenrusting bespreek het, sluit hy af deur te sê: “Terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (Efesiërs 6:18). Lojale soldate bly in aanraking met die leërhoofkwartier en hulle gehoorsaam bevele. As Christensoldate moet ons voortdurend in aanraking bly met ons Soewerein, Jehovah God, deur sy groot “gebieder van die nasies”, Jesus Christus (Jesaja 55:4). Dit kan gedoen word, nie deur oppervlakkige gebed nie, maar deur hartgrondige smeekbedes wat ’n gehegtheid en diepe toegewydheid aan Jehovah weerspieël. Deur gereeld met Jehovah te kommunikeer, ontvang ons elke dag krag om ons in die stryd te onderskraag.

Jesus het gesê: “Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:33). Jehovah wil ook hê dat ons moet seëvier. Namate die apostel Paulus se dood nader gekom het, kon hy sê: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (2 Timotheüs 4:7). Mag ons ook so kan sê oor ons aandeel in die oorlog. As dít werklik ons begeerte is, laat ons “staande . . . bly teen die liste van die duiwel” deur die volle wapenrusting van God aan te hou.—Efesiërs 6:11.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel