Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 5/15 bl. 24-27
  • Ons vind horende ore onder die Goajiro-Indiane

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons vind horende ore onder die Goajiro-Indiane
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Eerste indrukke
  • Op soek na huise
  • Ons ontmoet die Goajiro van aangesig tot aangesig
  • ’n Onverwagte opkoms
  • Suksesvolle opvolgwerk
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 5/15 bl. 24-27

Ons vind horende ore onder die Goajiro-Indiane

DIE bejaarde vrou, wat in die koelte van ’n groot boom gesit het en geklee was in ’n lang, wye, swart rok, het soos iemand uit ’n ander wêreld gelyk. Sy het ook ’n taal gepraat wat vir ons vreemd geklink het. “Julle moet weer kom”, het sy geesdriftig gesê. Sy het na 50 ander van haar rasgenote gewys wat om haar gesit het en bygevoeg: “Ons almal wil hê dat julle weer moet kom. Kom elke week!”

Wie is hierdie mense? Waarom was hulle so gretig dat ons weer moes kom al het hulle ons nog nooit tevore ontmoet nie? Laat ons julle vertel van ’n dag wat ons deurgebring het onder die Goajiro-Indiane wat die La Guajira-skiereiland in Noordoos-Colombia en aangrensende Noordwes-Venezuela bewoon.

Eerste indrukke

Ons het van Venezuela se hoofstad, Caracas, af vertrek, en ons eerste stilhouplek was Maracaibo. Toe ons die stad binnegaan, het ons drie jong vroue, geklee in lang, wye, kleurryke rokke, langs die pad sien stap. Hulle gelaatstrekke het van die gewone Venezolaan s’n verskil—hoë wangbene, ’n bruin vel en steil swart hare. Ons het hulle loslittige en grasieuse manier van stap opgemerk, en ons belangstelling is behoorlik geprikkel deur ons eerste vlugtige blik van Goajiro-Indiane.

Die dag vir ons besoek aan die La Guajira-skiereiland het aangebreek. Dit was ’n helder, wolklose dag. Voor die oggendson té warm geword het, het 50 van ons op ’n bus geklim, opgewonde omdat ons ’n aandeel kon hê aan die spesiale landswye veldtog om die Bybel se boodskap na afgeleë dele hier in Venezuela te neem. Ons was op pad na die dorp Paraguachón op die grens met Colombia.

Nadat ons die stad Maracaibo agtergelaat het, is ons deur talle dorpies en gehuggies, elkeen met ’n mark en ’n klompie stalletjies wat gevlegte sandale en die lang, kleurryke kledingstukke, wat mantas genoem word, verkoop. Elke dorpie het in die middel ’n netjiese plaza en ’n kerk in pastelkleure gehad wat aan die hele plek ’n vrolike voorkoms verleen het. Al die mense het Indiaanse gelaatstrekke gehad. Hoewel hulle voorkoms vir ons so vreemd was, moes ons ons daaraan herinner dat hierdie ras van die oorspronklike Venezolane is.

Op soek na huise

Uiteindelik het ons ons bestemming bereik. Ons bus het van die pad afgedraai en langs ’n lae muur in die koelte van ’n boom met ’n ontsaglike kroon stilgehou. Anderkant die muur het die dorpskool gestaan. Die skool was toe, want dit was Sondag.

Ons het in twee groepe verdeel en in teenoorgestelde rigtings gegaan om na huise te soek. Ons moes almal uitnooi na ’n Bybeltoespraak in Goajiro wat om drie-uur die middag op die skoolterrein gehou sou word. Evelinda, ’n Goajiro-Indiaan van geboorte, was ons metgesel. Hopelik sou dit vir ons ’n beter ontvangs verseker, want hoewel ons Spaans kon praat, het ons nie ’n woord Goajiro geken nie.

Toe ons eers uit die dorpie is, moes ons ver stap van die een huis tot by die ander. Terwyl ons met ’n lang, reguit pad langs gestap het, wat aan weerskante met digte struikgewasse begroei was, het ’n seuntjie van ongeveer tien langs ons ingeval en begin saamstap terwyl hy ons met onverbloemde nuuskierigheid aangestaar het. Evelinda het vir hom geglimlag en in Goajiro aan hom verduidelik wat die doel van ons besoek aan die gebied was. Sy naam was Omar, en nadat ons hom na die toespraak uitgenooi het, het hy hom uit die voete gemaak.

Ons het van die pad af uitgedraai en ’n grondpaadjie gevolg wat nog klam was van die laaste reëns. Ons het verneem dat dit van die paadjies is wat deur smokkelaars tussen Colombia en Venezuela gebruik word. Die sterk geur van welige plantegroei het swaar in die lug gehang. Die bedompige hitte was ietwat neerdrukkend, maar dit het nie ons geesdrif gedemp nie. Enige ongemak was egter vergete toe die paadjie deur digte, tropiese plantegroei skielik op ’n groot, oop gedeelte uitkom—’n tipiese Goajiro-opstal.

Ons ontmoet die Goajiro van aangesig tot aangesig

’n Stuk of tien bokke, met pragtige wit, swart en rooibruin vlekke, het rustig in die koelte gelê en herkou. ’n Vrou in ’n hangmat tussen twee bome het haar baba gelê en voed. ’n Paar kleuters het daar naby gespeel. Die vrou was net buitekant ’n heining van latte en draad wat ’n grasdakhuisie van klei en riet omring het. Daar was enkele oop afdakkies op die werf. Een was ooglopend die kombuis, waar ’n houtvuur op die grond tussen ’n paar groot kookpotte gebrand het. Bokvelle het daar naby gehang om droog te word.

’n Man by die hek het, toe hy ons sien aankom, vorentoe gehardloop en twee bankies vir ons naby die vrou in die hangmat neergesit. Evelinda het die man en die vrou in hulle taal gegroet en die skriftuurlike hoop vir die toekoms aan hulle verduidelik met behulp van die prente in die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! Die rustige toestande in die buurt het ons laat besef dat internasionale krisisse of die toename in roofaanvalle in oorbevolkte lae-inkomste-buurte nie gepaste onderwerpe hier sou wees nie. Een Getuie in die groep het verduidelik dat die Goajiro-Indiane van nature ietwat teruggetrokke is en dat dit dus belangrik is om reg aan die begin van jou besoek hartlikheid en ’n persoonlike belangstelling aan die dag te lê. “Ons vra hulle dikwels uit oor die gesin se welstand, oor die oes, of hulle onlangs reën gehad het, ensovoorts”, het sy gesê. “Dit open vir jou die weg om vir hulle van God se Koninkryk te vertel en vir hulle te toon dat Jehovah binnekort ’n einde gaan bring aan alle lyding en aan Satan die Duiwel vir wie hulle veral ’n groot vrees koester.

Terwyl Evelinda gepraat het, het haar luisteraars beaam wat sy gesê het, en spoedig het nog ’n vrou en ’n hele paar kinders by ons aangesluit. Ons het vantevore verneem dat die Goajiro-wet ’n man toelaat om meer as een vrou te hê. Kon dit hier die geval wees? Dit het ons laat dink aan Yenny, ’n aantreklike 21-jarige Goajiro wat in Maracaibo woon. ’n Ryk Goajiro-man het ’n goeie bruidsprys vir haar aangebied. Maar haar ouers, wat nie Getuies van Jehovah is nie, het nie oor die aangeleentheid saamgestem nie. Hoewel haar ma ten gunste van die huwelik was, het Yenny se pa nee gesê. Die man was reeds met Yenny se suster getroud!

Aan die einde van Evelinda se aanbieding het die man ’n brosjure geneem. Die vrou wat agter hom gestaan het, het ook een gevra, en ons het met genoeë vir haar een laat kry. Teen hierdie tyd het die res van ons vriende ons al verbygesteek. Ons het dus die gesin na die toespraak die middag uitgenooi en in die pad geval, want ons wou nie in hierdie onbekende plaasgebied verdwaal nie.

Een Getuie in die groep het vertel wat met hom gebeur het. ’n Man in ’n hangmat het aandagtig geluister terwyl sy vrou verversings gaan haal het—twee glase chicha, wat van gemaalde mielies gemaak word. Ons broer het dit beleefd geneem en gedrink. Later het sy Goajiro-metgesel, Magaly, verduidelik hoe die drankie gemaak word. Gewoonlik word die mieliepitte deur iemand fyngekou! Sy kon nie help om uit te bars van die lag toe sy sien hoe hy om die kiewe verbleek nie.

’n Ander Goajiro-man, wat duidelik beïndruk was deur ons broers se poging om sy huis met die Bybel se boodskap te bereik, het met ’n swaaibeweging uit sy hangmat gespring. Nadat hy ’n hemp aangetrek het, het hy hulle na ’n verskuilde gehuggie gelei wat hulle oorgeslaan het.

Toe ons deur ’n ander oop gedeelte gestap het waar van ons vriende met die volwassenes van die gesin gesels het, het ons ’n groepie kaal kleingoed met opgeswelde magies doodstil onder ’n boom sien staan. Ons het verneem dat hierdie toestand te wyte is aan ’n kombinasie van wanvoeding en parasiete. Baie van hierdie mense het nie lopende water en elektrisiteit nie. Dit beteken natuurlik dat hulle geen yskaste, waaiers of ligte het nie.

’n Onverwagte opkoms

Die oggend het verbygevlieg. Op pad terug na die bus toe om ons middagete te gaan geniet, het ons gewonder hoeveel van die mense wat ons uitgenooi het die middag na die Bybeltoespraak sou kom.

Teen 2:45 nm. het ons gewonder of ons busgroep die enigste gehoor vir ons Goajiro-broer sou wees wat ’n toespraak van 45 minute in die taal van die plaaslike gemeenskap voorberei het. Maar nee! Die eerste gesinnetjie het skugter die skoolterrein binnegekom. Hulle moes verbaas gewees het toe almal hulle so hartlik verwelkom het. In die volgende paar minute het talle ander opgedaag, en dit was duidelik dat party ver geloop het. Die gesin by wie ons die klompie bokke gesien het, was ook daar! Hoe anders het die vrou wat in die hangmat gelê het nou in haar deftige, swart manta gelyk! Selfs klein Omar met wie ons langs die pad gepraat het, het gekom, blykbaar op sy eie. Namate ander gekom het, het die lang betontrap by die skool wat as sitplek moes dien, volgeraak. Toe ons vriendelike busbestuurder dit sien, het hy sitplekke uit die bus begin sleep sodat die mense gedurende die toespraak daarop kon sit.

Altesaam 55 Goajiro-Indiane het gesit en luister terwyl Eduardo die Bybeltoespraak gehou het. Maar hulle het nie in algehele stilte gesit en luister nie. As hulle saamgestem het met iets wat die spreker gesê het, het hulle dit met ’n gemompel of ’n harde h’m! beaam. Toe hy oor die naderende einde van goddeloosheid gepraat het, het die bejaarde vrou wat aan die begin gemeld is van haar laat hoor. “Ja, daar is baie goddeloosheid”, het sy hard genoeg gesê sodat almal kon hoor. “Trouens, daar sit van die goddelose mense nou hier saam met ons. Ek hoop hulle luister goed!” Broer Eduardo het taktvol op die kommentaar gereageer en toe met sy toespraak voortgegaan.

Na afloop van die toespraak het een van ons groep ’n foto geneem. Die Goajiro’s het daarvan gehou en wou weet of hulle hulle brosjures Jy kan vir ewig op die aarde lewe! vir die volgende foto omhoog moes hou. Daarna het party stadigaan begin wegstap, maar sowat die helfte het gebly en toegekyk terwyl ons op die bus geklim het. Hulle het ons laat belowe dat ons weer sou kom en toe gestaan en wuif totdat hulle die bus nie meer kon sien nie.

Onderwyl ons weggery het, het ons gevoel dat dit gewis ’n voorreg was om die goeie nuus van God se Koninkryk na hierdie mense te kon neem. In baie gevalle was dit inderdaad die eerste keer wat hulle die goeie nuus gehoor het. Getuies in Maracaibo het al klaar oor hulle volgende besoek begin praat. Sou hierdie verhaal hier eindig?

Suksesvolle opvolgwerk

Die broers het twee weke later teruggegaan. ’n Groot hoeveelheid Bybellektuur is by die mense gelaat, belangstellendes is weer besoek en tuisbybelstudies is begin. Daarbenewens het 79 Indiane die tweede openbare vergadering bygewoon wat in die opelug gehou is. By daardie geleentheid het die broers verduidelik dat hulle as gevolg van ’n kringbyeenkoms eers oor drie weke pleks van oor twee weke sou terugkom. Die Indiane was ontsteld: “Ons kan voor daardie tyd doodgaan!” het een van hulle gesê. Hulle het gevra wat ’n kringbyeenkoms is. Dit het vir hulle so interessant geklink dat hulle besluit het hulle wil dit ook bywoon! Reëlings is getref, en 34 van hulle kon die byeenkoms in Maracaibo bywoon waar Goajiro-sprekende broers hulle gehelp het om die Spaanse program te volg.

Dit is die wil van Jehovah dat “alle soorte mense . . . tot ’n juiste kennis van die waarheid kom” (1 Timotheüs 2:3, 4, NW). Wat ’n vreugde is dit tog om sulke belangstelling onder hierdie waarheidsoekende Indiane op die La Guajira-skiereiland te sien!

[Venster op bladsy 26]

Lewens verryk deur Bybelwaarheid

Iris en Margarita, twee tienderjarige Goajiro’s, was verheug om die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! te sien. Hulle het egter ’n probleem gehad. Hulle kon nie lees nie. Die Getuie wat hulle besoek het, het aangebied om hulle met behulp van die boekie Learn to Read and Write te help. Die meisies was baie opgewonde toe hulle in ’n japtrap die naam Jehovah kon skryf en reg uitspreek.

Namate hulle vordering gemaak het, is hulle met verwondering vervul oor die wonderlike hoop wat in die Bybel aan ons gebied word. Hulle is veral getref deur die belofte dat die hele mensdom vryheid sal geniet. “Ons tieners het maar ’n treurige lewe hier”, het hulle verduidelik. “Ons ouers reël gewoonlik dat ons trou as ons nog baie jonk is, en die voortdurende gevaar bestaan dat ons verkrag kan word.”

Dit was ’n hoogtepunt vir Iris en Margarita toe hulle ’n kringbyeenkoms in Maracaibo kon bywoon. Hulle gesigte het die blydskap uitgestraal wat in hulle harte was, veral wanneer die liedere gesing is. Hulle het altyd gretig voor die deur gewag wanneer die Getuie vir hulle Bybelstudie gekom het, en hulle het nooit ’n openbare toespraak gemis wat in hulle dorpie gehou is nie. Hierdie jong meisies voel dat hulle lewe waarlik verryk is deur ’n kennis van Jehovah God en sy voornemens.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel