Die week wat die wêreld verander het
“Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here [Jehovah]!”—MATTHEÜS 21:9, vgl. NW.
1. Watter twee kontrasterende groepe is geraak deur gebeure verlede Augustus?
“DRIE HARTVERSKEURENDE DAE WAT DIE WÊRELD GESKUD HET.” In Augustus 1991 het opskrifte soos hierdie in die media die feit beklemtoon dat die wêreld binne ’n paar dae omgekeer kan word. Die laaste dae van Augustus was inderdaad uiters gebeurtenisvol, nie net vir die wêreld nie, maar ook vir ’n groep van wie Jesus gesê het: “Hulle [is] nie van die wêreld . . . nie.” Hierdie groep staan vandag bekend as Jehovah se Getuies.—Johannes 17:14.
2, 3. (a) Hoe is vryheid ondanks ’n dreigende oorlog in Zagreb beklemtoon? (b) Hoe is sterk geloof in Odessa beloon?
2 Daar is gereël dat die eerste internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies wat tot nog toe vir Joego-Slawië beplan is van 16 tot 18 Augustus gehou sou word. Dit sou op stuk van sake ook die eerste groot byeenkoms van Jehovah se volk wees in ’n land wat op die randjie van ’n burgeroorlog gestaan het. Plaaslike Getuies het twee maande lank hard gewerk saam met vrywilligers van naburige lande om die HAŠK Građanski-sokkerstadion in Zagreb geheel en al op te knap. Dit was silwerskoon, ’n ideale plek vir die “Liefhebbers van Goddelike Vryheid”-byeenkoms. Duisende internasionale afgevaardigdes het beplan om dit by te woon, onder andere 600 van die Verenigde State. Terwyl die gevaar van ’n burgeroorlog gedreig het, is daar gesê: “Die Amerikaners sal nooit kom nie.” Maar hulle, asook afgevaardigdes van baie ander lande, het wel gekom. Daar is verwag dat 10 000 die byeenkoms sou bywoon, maar op die laaste dag was daar 14 684 in die stadion! Almal is ryklik geseën omdat hulle nie ‘hulle onderlinge byeenkoms versuim het nie’.—Hebreërs 10:25.
3 Gedurende die drie dae na die Zagreb-byeenkoms is ’n mislukte staatsgreep in die Sowjetunie uitgevoer. Op daardie tydstip het liefhebbers van goddelike vryheid die laaste voorbereidsels getref vir hulle byeenkoms in Odessa in die Oekraïne. Kon die byeenkoms gehou word? Met sterk geloof het die broers die laaste afwerkings aan die algehele opknapping van die stadion gedoen, en die afgevaardigdes het steeds aangekom. Dit was soos ’n wonderwerk toe die staatsgreep beëindig is. ’n Heuglike byeenkoms is op 24, 25 Augustus gehou, met ’n opkoms van 12 115, en 1 943—16 persent van die opkomshoogtepunt—is gedoop! Hierdie nuwe Getuies, asook die veteraanhandhawers van onkreukbaarheid, was verheug dat hulle met volle vertroue in Jehovah na die byeenkoms gekom het.—Spreuke 3:5, 6.
4. Watter voorbeeld van Jesus het die Getuies in Oos-Europa nagevolg?
4 Hierdie getroue Getuies het hulle Voorbeeld, Jesus Christus, nagevolg. Hy het nooit nagelaat om die feeste by te woon wat Jehovah ingestel het nie, selfs toe die Jode hom wou doodmaak. Toe hy na Jerusalem gekom het vir sy laaste Pasga het hulle in die tempel gestaan en gevra: “Wat dink julle, sal Hy nie na die fees kom nie?” (Johannes 11:56). Maar hy het wel gekom! Dit het die weg berei vir ’n week wat deur ’n ommekeer in die loop van die mensegeskiedenis ’n klimaks bereik het. Kom ons hersien nou ’n paar van die hoogtepunte van daardie week—8 tot 14 Nisan op die Joodse kalender.
8 Nisan
5. Waarvan is Jesus bewus terwyl hy op 8 Nisan 33 G.J. na Betanië reis?
5 Op hierdie dag kom Jesus en sy dissipels in Betanië aan. Jesus sal hier ses nagte deurbring in die huis van sy geliefde vriend Lasarus, wat hy onlangs uit die dood opgewek het. Betanië is naby Jerusalem. Jesus het privaat reeds vir sy dissipels gesê: “Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en skrifgeleerdes; en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene om Hom te bespot en te gesel en te kruisig; en op die derde dag sal Hy opstaan” (Mattheüs 20:18, 19). Jesus is ten volle bewus daarvan dat hy nou pynlike beproewinge moet deurmaak. Maar terwyl daardie uiters beproewende tyd nader kom, ontsien hy geen moeite om sy broers te dien nie. Mag ons altyd “hierdie gesindheid . . . wat ook in Christus Jesus was”, hê.—Filippense 2:1-5; 1 Johannes 3:16.
9 Nisan
6. Wat doen Maria op die aand van 9 Nisan, en wat sê Jesus vir Judas?
6 Na sononder, wanneer 9 Nisan begin, geniet Jesus ’n maaltyd by die huis van Simon wat vroeër melaats was. Dit is hier waar Lasarus se suster Maria kosbare, welriekende olie op Jesus se kop en voete uitgooi en nederig sy voete met haar hare afdroog. Wanneer Judas hierteen beswaar maak, sê Jesus: “Laat haar staan; sy het dit bewaar vir die dag van my begrafnis.” Toe hulle hoor dat baie van die Jode na Betanië gaan en geloof in Jesus stel, beraam die owerpriesters planne om hom en Lasarus dood te maak.—Johannes 12:1-7.
7. Hoe word Jehovah se naam op die oggend van 9 Nisan verheerlik, en wat voorspel Jesus?
7 Vroeg in die oggend vertrek Jesus na Jerusalem. Skares gaan uit om hom te ontmoet en swaai palmtakke en roep uit: “Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel.” Jesus vervul dan die profesie in Sagaria 9:9 deur op ’n esel na die stad te ry. Wanneer hy naby Jerusalem kom, ween hy daaroor en voorspel hy dat die Romeine ’n skans daarom sal bou en dit sal verpletter—’n profesie wat 37 jaar later ’n treffende vervulling sou hê. (Dit voorspel ook niks goeds vir die Christendom nie, wat, soos eertydse Jerusalem, afvallig geword het.) Die Joodse leiers wil Jesus nie as hulle koning hê nie. Hulle roep woedend uit: “Kyk, die hele wêreld loop agter Hom aan.”—Johannes 12:13, 19.
10 Nisan
8. Hoe toon Jesus op 10 Nisan diepe eerbied vir Jehovah se huis van aanbidding, en wat volg daarop?
8 Jesus besoek weer eens die tempel. Vir ’n tweede keer gooi hy gierige handelaars en geldwisselaars uit. Kommersialisme—“geldgierigheid”—moenie in Jehovah se huis van aanbidding posvat nie! (1 Timotheüs 6:9, 10). Jesus gaan binnekort sterf. Hy gebruik die voorbeeld van ’n saad wat geplant word om dit toe te lig. Die oorspronklike saad sterf, maar dit ontkiem en bring ’n halm voort wat baie graankorrels dra. Jesus se dood sal eweneens tot die ewige lewe lei vir die menigtes wat geloof in hom beoefen. Jesus is ontsteld oor sy naderende dood en bid dat sy Vader se naam daardeur verheerlik sal word. As antwoord hierop word God se stem kragtig uit die hemel gehoor deur almal wat teenwoordig is: “Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”—Johannes 12:27, 28.
11 Nisan—’n dag van bedrywigheid
9. (a) Hoe gebruik Jesus vroeg op die dag van 11 Nisan illustrasies om die afvallige Jode te veroordeel? (b) Wie verbeur volgens Jesus se gelykenis ’n wonderlike geleentheid?
9 Jesus en sy dissipels vertrek weer van Betanië af vir ’n dag vol bedrywigheid. Jesus gebruik drie illustrasies om te toon waarom die afvallige Jodedom veroordeel word. Hy het ’n onvrugbare vyeboom vervloek, en die verdorde toestand daarvan beeld die ontroue, onvrugbare Joodse nasie af. Wanneer hy die tempel binnegaan, beskryf hy hoe onwaardige landbouers van ’n heer se wingerd uiteindelik selfs die heer se seun en erfgenaam doodmaak—dit beeld af hoe die Jode dit wat Jehovah aan hulle toevertrou het, misbruik het, en hoe hulle Jesus uiteindelik sal doodmaak. Hy beskryf ’n bruilof wat berei is deur ’n koning—Jehovah—wie se genooide gaste (die Jode) die uitnodiging selfsugtig van die hand wys. Daarom word die uitnodiging aan vreemdelinge—die nie-Jode—gerig, en van hulle aanvaar dit. Maar ’n man wat sonder ’n bruilofskleed gevind word, word uitgegooi. Hy beeld die skynchristene van die Christendom af. Baie Jode van Jesus se dag is genooi “maar min [is] uitverkies” om onder die 144 000 verseëldes te wees wat die hemelse Koninkryk beërwe.—Mattheüs 22:14; Openbaring 7:4.
10-12. (a) Waarom bestraf Jesus die Joodse geestelikes, en watter skerp veroordeling spreek hy oor daardie geveinsdes uit? (b) Hoe word oordeel uiteindelik aan die afvallige Jodedom voltrek?
10 Die skynheilige Joodse geestelikes soek ’n geleentheid om Jesus gevange te neem, maar hy beantwoord ’n paar van hulle strikvrae en laat hulle verstom staan voor die mense. O, daardie afvallige godsdienstige Jode! Hoe onomwonde bestraf Jesus hulle tog nie! Hulle smag na prominensie, kenmerkende kleredrag en hoogdrawende titels, soos “Rabbi” en “Vader”, net soos baie geestelikes in ons dag. Jesus sê wat die reël is: “Wie homself verhoog, sal verneder word.”—Mattheüs 23:12.
11 Jesus veroordeel daardie godsdiensleiers skerp. Sewe keer roep hy uit: “Wee julle”, en hy noem hulle blinde leiers en geveinsdes. En elke keer gee hy ’n duidelike rede vir die veroordeling. Hulle verhinder toegang tot die Koninkryk van die hemele. Wanneer hulle ’n bekeerling in hulle strikke vang, word hy twee maal ’n voorwerp vir Gehenna, omdat hy waarskynlik reeds vernietiging verdien weens vorige growwe sondes of blinde godsdiensywer. “Julle dwase en blindes”, sê Jesus, want die Fariseërs stel meer belang in die goud van die tempel as wat hulle daarin belangstel om suiwer aanbidding daar te handhaaf. Hulle veronagsaam geregtigheid, barmhartigheid en getrouheid wanneer hulle ’n tiende van die veelbegeerde kruisement, dille en komyn betaal, maar veronagsaam die gewigtiger sake van die Wet. Rituele gewassery sal nooit hulle innerlike besmetting verwyder nie—net ’n hart wat deur geloof in Jesus se naderende offer gereinig is, kan dit regkry. Hulle innerlike geveinsdheid en wetteloosheid weerspreek enige “gewitte” uiterlike.—Mattheüs 23:13-29.
12 Ja, dit is inderdaad wee vir die Fariseërs, wat waarlik “kinders is van die wat die [eertydse] profete vermoor het”! Hulle is slange, ’n addergeslag, bestem vir Gehenna, want hulle sal nie net vir Jesus doodmaak nie, maar ook diegene wat hy uitstuur. Dit is ’n oordeel wat aan “hierdie geslag” voltrek sal word. Ter vervulling word Jerusalem 37 jaar later geheel en al vernietig.—Mattheüs 23:30-36.
13. In watter situasies word Jesus se opmerkings oor tempelbydraes vandag weerspieël?
13 Voordat hy die tempel verlaat, praat Jesus met lof van ’n arm weduwee wat twee geldstukkies—“alles wat sy gehad het om van te lewe”—in die skatkis gooi. Wat ’n kontras met die gierige rykes wat net bydraes ingooi om gesien te word! Soos daardie arm weduwee is Jehovah se Getuies vandag bereid om hulle tyd, energie en geld op te offer om die wêreldwye Koninkrykswerk te ondersteun en uit te brei. Hoe anders tog as daardie beginsellose TV-evangeliste wat hulle kuddes melk en weelderige ryke vir hulself bou!—Lukas 20:45–21:4.
Terwyl 11 Nisan ten einde loop
14. Watter woorde van smart uiter Jesus, en hoe antwoord hy sy dissipels se vraag?
14 Jesus ween oor Jerusalem en sy mense en sê: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Mattheüs 23:37-39). Later, wanneer hulle op die Olyfberg sit, vra Jesus se intieme dissipels hom hieroor uit, en Jesus antwoord hulle deur die teken te beskryf waardeur sy teenwoordigheid in Koninkryksmag en die voleinding van Satan se bose stelsel van dinge gekenmerk sal word.—Mattheüs 24:1–25:46; Markus 13:1-37; Lukas 21:5-36.
15. Watter teken gee Jesus oor sy teenwoordigheid om te oordeel, en van wanneer af word dit vervul?
15 Jesus praat van Jehovah se oordeel wat binnekort aan die tempel voltrek gaan word en toon dat dit ’n tipe is van toekomstige rampspoedige gebeure tydens die voleinding van die hele stelsel van dinge. Daardie tyd van sy teenwoordigheid sal gekenmerk word deur die uitbreek van oorlog op ’n ongeëwenaarde skaal, asook deur hongersnood, aardbewings en pessiektes, sowel as liefdeloosheid en ongeregtigheid. Hoe waar is dit tog van ons 20ste-eeuse wêreld sedert 1914!
16, 17. Watter wêreldgebeure beskryf Jesus, en hoe moet Christene op die profesie reageer?
16 ’n Klimaks sal bereik word in ’n “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie”. Aangesien dit so vernietigend soos die Vloed van Noag se dag sal wees, waarsku Jesus ons om nie by wêreldse strewes betrokke te raak nie. “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.” Hoe bly kan ons tog wees dat die Heer ’n gesalfde “getroue en verstandige dienskneg” aangestel het om die waarskuwing te laat hoor en om oorvloedige geestelike voedsel vir hierdie dag van sy teenwoordigheid te voorsien!—Mattheüs 24:21, 42, 45-47.
17 In ons 20ste eeu het ons gesien hoe daar “op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid [is] . . . en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom.” Maar Jesus sê vir ons: “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.” En hy waarsku ons: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.” Net as ons wakker bly, kan ons tydens sy teenwoordigheid ’n goedgekeurde posisie hê voor Jesus, “die Seun van die mens”.—Lukas 21:25-28, 34-36.
18. Watter bemoediging kan ons uit Jesus se gelykenis van die tien maagde en van die talente kry?
18 Jesus sluit sy meesterlike oorsig van hedendaagse gebeure af deur drie illustrasies te gee. Ten eerste beklemtoon hy weer in die gelykenis van die tien maagde hoe belangrik dit is om ‘te waak’. Dan, in die gelykenis van die diensknegte en talente toon hy hoe harde werk beloon word deur ’n uitnodiging om ‘in die vreugde van die heer in te gaan’. Gesalfde Christene, wat in hierdie gelykenisse voorafgeskadu word, asook die ander skape, kan baie bemoedig word deur hierdie gelykenisse.—Mattheüs 25:1-30.
19, 20. Watter wonderlike hedendaagse verhouding word in Jesus se gelykenis van die skape en die bokke uitgebeeld?
19 Die derde illustrasie praat van Jesus se teenwoordigheid in Koninkryksmag wanneer hy kom om op sy glorieryke hemelse troon te sit. Dit is ’n tyd wanneer die nasies geoordeel word en die volke van die aarde in twee groepe verdeel word, een groep wat uit sagmoedige, skaapgeaarde mense bestaan en die ander wat uit hardnekkige, bokagtige mense bestaan. Die skape het hulle ingespan om te toon dat hulle die Koning se broeders—die oorblywende gesalfdes op die aarde in hierdie tyd van die wêreld se einde—ondersteun. Hierdie skape word beloon met die lewe, terwyl die ondankbare bokke in die ewige verderf weggaan.—Mattheüs 25:31-46.
20 Wat ’n wonderlike verhouding sien ons tog tussen die ander skape en die Koning se broeders in hierdie voleinding van die stelsel van dinge! Hoewel die gesalfde oorblyfsel die grootste werklas aan die begin van die Koning se teenwoordigheid gedra het, maak die miljoene ywerige ander skape nou 99,8 persent van God se knegte op die aarde uit (Johannes 10:16). En hulle het getoon dat hulle bereid is om ‘honger, dors, naaktheid, siekte en gevangenskap’ as medewerkers van die gesalfde handhawers van onkreukbaarheid te verduur.a
12 Nisan
21. Wat vorder op 12 Nisan, en hoe?
21 Die sameswering om Jesus dood te maak, vorder. Judas besoek die owerpriesters by die tempel en stem in om Jesus vir 30 silwerstukke te verraai. Daar is selfs ’n profesie oor hierdie gebeurtenis.—Sagaria 11:12.
13 Nisan
22. Watter voorbereidsels word op 13 Nisan getref?
22 Jesus, wat in Betanië aanbly, waarskynlik om te bid en te peins, stuur sy dissipels in Jerusalem in om na ’n “sekere iemand” te gaan soek. In ’n groot bovertrek in hierdie man se huis berei hulle die Pasga (Mattheüs 26:17-19). Wanneer die son op 13 Nisan ondergaan, sluit Jesus hom by hulle aan vir die belangrikste viering van alle tye. Wat lê nou voor op 14 Nisan? Ons volgende artikel sal dit bespreek.
[Voetnoot]
a Die volgende artikel sal ons help om die intieme verhouding tussen die gesalfde klein kuddetjie en die ander skape des te meer te waardeer.
Wat is jou antwoord ter opsomming?
◻ Hoe het party van 8 tot 10 Nisan gasvryheid aan Jesus betoon en hom verwelkom?
◻ Hoe het Jesus die skynheilige geestelikes op 11 Nisan aan die kaak gestel?
◻ Watter groot profesie het Jesus gegee, en hoe word dit vandag vervul?
◻ Hoe het gebeure hulle afgespeel om ’n klimaks op 12 en 13 Nisan te bereik?
[Prent op bladsy 12]
Jesus praat met lof van die arm weduwee wat twee geldstukkies—alles wat sy gehad het—bygedra het