Sal planne vir internasionale veiligheid slaag?
“DIT lyk of die Koue Oorlog, wat die wêreld meer as 40 jaar lank in sy greep gehad het, met God se genade geëindig het”, sê One World, ’n tydskrif van die WRK (Wêreldraad van Kerke). “Dit lyk of die belangrike gebeurtenisse in Sentraal- en Oos-Europa . . . veel goeds inhou vir vrede en veiligheid in Europa en die res van die wêreld”, voeg Anglikaanse skrywer John Pobee van die WRK se Program vir Teologiese Opvoeding by.
Verteenwoordigers van die WRK is nie die enigstes wat God en die mens se planne vir internasionale veiligheid met mekaar koppel nie. In April 1991, kort ná die oorlog in die Persiese Golf, het pous Johannes Paulus ’n boodskap aan die destydse sekretaris-generaal van die VN, Javier Pérez de Cuéllar, gestuur waarin hy gesê het: “Die biskoppe van die Katolieke Kerke van die Midde-Ooste en die Weste het vertroue in die werk van die Verenigde Nasies . . . Hulle hoop dat diegene wat as gevolg van die onlangse oorlog in ernstige nood verkeer deur middel van die Verenigde Nasies en sy gespesialiseerde organisasies stellig internasionale sensitiwiteit en solidariteit sal vind.”
Boonop was die Vatikaan een van die 35 State wat die Verdrag van Helsinki in 1975, asook die Stockholm-dokument in 1986 geformuleer en onderteken het. Toe die Verenigde Nasies 1986 tot “Internasionale Vredesjaar” uitgeroep het, het die Pous daarop gereageer deur verteenwoordigers van die wêreld se vernaamste godsdienste te nooi om deel te neem aan die “Wêreldbiddag om vrede”. In Oktober 1986 het die verteenwoordigers van Boeddhistiese, Hindoe-, Islamitiese, Sjintoïstiese, Anglikaanse, Lutherse, Grieks-Ortodokse, Joodse en ander gelowe saam in Assisi, Italië, gesit en om die beurt om wêreldvrede gebid.
Die Anglikaanse Aartsbiskop van Kantelberg het ’n paar jaar later tydens ’n preek wat hy in Rome gelewer het na die bogenoemde geleentheid verwys. “In Assisi”, het hy gesê, “het ons gesien dat die Biskop van Rome [die Pous] die Christenkerke kon saamroep. Ons kon saam bid, saam praat en saam optree vir die vrede en welsyn van die mensdom . . . Tydens daardie inisiatief van gebed om wêreldvrede het ek gevoel dat ek in die teenwoordigheid van die God is wat gesê het: ‘Kyk, Ek maak iets nuuts.’”
Ander godsdienste, wat nie by Assisi teenwoordig was nie, is egter ook optimisties oor die mens se planne vir internasionale veiligheid. ’n Hoofartikel in Die Kerkbode, die amptelike koerant van Suid-Afrika se Nederduits Gereformeerde Kerk, het gesê: “Ons beleef die oorgang na ’n nuwe wêreldorde. Wat ’n paar jaar gelede ondenkbaar was, gebeur voor ons oë. Die toenadering tussen die Sowjet-Unie en die Weste wat op die groot wêreldtoneel plaasvind, het wye streekimplikasies. In ons deel van die wêreld praat jarelange teenstanders en verbete vyande met mekaar en breek die drang na ‘vrede’ oral deur . . . Vanuit ’n Christelike perspektief moet elke poging om vrede tussen mense te bewerkstellig, verwelkom word. Ons kan bid vir vrede in ons tyd.”
Seën God die mens se planne vir internasionale veiligheid?
Wat sê die Bybel?
Waar die Bybel van vertroue op mensepogings praat, waarsku dit ons onomwonde: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan” (Psalm 146:3, 4). Die vooruitgang wat vandag met betrekking tot vrede gemaak word, lyk moontlik belowend. Maar ons moet realisties wees. Die mens se mag is beperk. Die mens begryp gebeurtenisse dikwels nie ten volle nie. Mense kan selde die onderstrominge, die verskuilde kragte, onderskei wat hulle slimste planne verydel.
Sewehonderd jaar voor Jesus, in die dae van die profeet Jesaja, het die Joodse leiers planne beraam vir veiligheid deur soos vandag internasionale verdrae met buurlande te sluit. In daardie dae het die godsdiensleiers ook die dinge ondersteun wat die politici gedoen het. Maar Jesaja het gewaarsku: “Neem ’n besluit, en dit sal verydel word; maak ’n afspraak, en dit sal nie tot stand kom nie” (Jesaja 8:10). Hulle plan het jammerlik misluk. Kan dieselfde vandag gebeur?
Ja, dit kan, aangesien God deur daardie selfde profeet aangekondig het dat Hy Sy eie manier het om veiligheid op die aarde te bewerkstellig. Dit sal nie deur enige mense-organisasie wees nie, maar deur ’n afstammeling van die Israelitiese koning Dawid (Jesaja 9:5, 6). Hierdie Erfgenaam van koning Dawid is Jesus Christus wat, toe hy deur Pontius Pilatus ondervra is, erken het dat hy ’n Koning is, maar gesê het: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36; Lukas 1:32). Trouens, Jesus sou ’n hemelse Koninkryk hê. En dit—nie die Verenigde Nasies of enige ander aardse politieke nasie nie—gaan blywende, betroubare veiligheid op hierdie aarde bewerkstellig.—Daniël 2:44.
Jesus Christus het voorspel dat sy Koninkryk vanuit die hemel sou begin regeer op ’n tydstip wanneer daar “oorloë en gerugte van oorloë” sou wees en wanneer ‘die een nasie teen die ander sou opstaan’. Die vervulling van profesieë toon dat daardie gebeurtenis in 1914 plaasgevind het en identifiseer die jare sedertdien as “die voleinding van die stelsel van dinge”.—Mattheüs 24:3, 6-8, vgl. NW.
Wat beteken dit? Dat die tyd wat vir hierdie huidige wêreldstelsel oorbly beperk is en dat dit binnekort sal verstryk. Is dit rede tot kommer of hartseer? Nie as ons aan die wreedheid, die onregverdigheid, die onderdrukking, die oorloë en al die lyding dink wat hierdie stelsel van dinge kenmerk nie. Dit sal beslis ’n verligting wees om onder ’n heerser te wees van wie God se Woord die Bybel sê: “Op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE.”—Jesaja 11:2.
Ware veiligheid op aarde
Daar sal, om die waarheid te sê, nie ware veiligheid op die aarde wees totdat Jesaja se profesie onder heerskappy van God se Koninkryk op ’n wêreldskaal vervul word nie: “Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie” (Jesaja 65:17). Ongeag hoeveel gebede godsdiensleiers ten behoewe van hierdie wêreld doen, menseplanne vir internasionale veiligheid kan nie die wyse waarop God vrede en veiligheid gaan bring, vervang nie.
Die wêreldwye, blywende veiligheid wat God se Koninkryk sal inlui, sal wonderlik wees. Hier is net een van die beskrywings wat in die Bybel aangetref word: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek.”—Miga 4:3, 4.
Net die veiligheid wat God self waarborg, kan blywend en betroubaar wees. Stel dus gerus jou vertroue in hom pleks van in prinse. Dan sal jy vind dat die psalmis se woorde waar is: “Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God, wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is; wat trou bly tot in ewigheid.”—Psalm 146:5, 6.
[Venster op bladsy 7]
Die Katolieke Kerk en die internasionale politiek
“Hoewel Christus gesê het dat sy koninkryk ‘nie van hierdie wêreld is nie’, het hooggeplaaste geestelikes en die pousdom as instelling sedert die tyd van Konstantyn op groot skaal aan internasionale en nasionale politieke stryde deelgeneem.”—The Catholic Church in World Politics, deur professor Eric Hanson van die Jesuïtiese Universiteit van Santa Clara.