Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 10/1 bl. 4-7
  • Vrede en veiligheid—uit watter bron?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrede en veiligheid—uit watter bron?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe relevant?
  • Die dieperliggende probleme
  • Wat van vrede en veiligheid?
  • Die mens se manier of God se manier?
  • Vrede en veiligheid—deur God se Koninkryk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Vrede en veiligheid—die hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Vrede van God af—Wanneer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Ware vrede en veiligheid is ophande!
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 10/1 bl. 4-7

Vrede en veiligheid​—uit watter bron?

HOEWEL die Verenigde Volke waardevolle dienste op sekere gebiede verrig het, moet enigiemand wat tred hou met die nuus erken dat dit ver te kort geskiet het wat vrede en veiligheid betref. Die organisasie se vurigste voorstanders erken dit openlik.

Reeds in 1953, slegs agt jaar na sy ontstaan, het Dag Hammarskjöld, die destydse sekretaris-generaal, erken: “Terwyl ons voorgangers van ’n nuwe hemel gedroom het, is ons grootste hoop dat ons toegelaat mag word om die ou aarde te red.” Ses-en-twintig jaar later is C. William Maynes, ’n Amerikaanse adjunkminister van buitelandse sake, gedwing om te erken: “Die hoofdoel van die Veiligheidsraad en die Algemene Vergadering was die handhawing van internasionale vrede en veiligheid. . . . Julle het bewyse dat die organisasie in sy vernaamste doel misluk het.”

Hoe relevant?

Die feit is dat die meeste van die belangrike besluite rakende vrede en veiligheid gedurende die afgelope 40 jaar buite die Verenigde Volke geneem is. In 1982 het sekretaris-generaal Javier Perez de Cuellar die feit betreur dat “die Organisasie vanjaar keer op keer, hiervoor of daarvoor, opsy geskuif of afgejak is in situasies waarin dit ’n belangrike en konstruktiewe rol moes, en kon, gespeel het.” Waarom is dit die geval?

Party wys op die verbasende toename in die organisasie se ledetal as ’n rede. Die oorspronklike 51 lede het tot meer as 150 toegeneem, en elkeen het ’n gelyke stem in die Algemene Vergadering. Maar party van hierdie nasies is baie klein. Die eiland St. Christopher en Nevis, die 158ste nasie wat by die organisasie aangesluit het, het ’n bevolking van minder as 50 000 maar dit het ’n gelyke stem met China, wie se bevolking op bykans duisendmiljoen staan. Hierdie reëling gee kleiner nasies weliswaar die geleentheid om hulle stem te laat hoor; maar dit spoor die groter moondhede nouliks aan om die organisasie se besluite ernstig op te neem.

Shirley Hazzard roer ’n tweede probleem aan: “Die Verenigde Volke-organisasie is nie met uitvoerende mag beklee nie, behalwe vir sover dit berus by juis daardie lede wat dwang die nodigste het.” Met ander woorde, die organisasie kan besluite neem, maar kan dit merendeels nie toepas nie. Gewigtige wêreldprobleme word gereeld breedvoerig bespreek. Voorstelle word plegtig aangeneem​—en dan vergeet. In 1982 het die VV se sekretaris-generaal die “gebrek aan respek vir die besluite deur diegene tot wie dit gerig is”, betreur.

Daar is organisatoriese probleme​—en daar is ander wat deur analiste gemeld word. Maar daar is dieperliggende, ernstiger redes waarom die Verenigde Volke gefaal het.

Die dieperliggende probleme

“Dit het toe moontlik gelyk om, as ’n eerste prioriteit, ’n stelsel vir die handhawing van internasionale vrede en veiligheid onder die bepalinge van die Handves in te stel”, het Javier Perez de Cuellar gesê oor die idealisme van die stigters van die organisasie. “Wat het van daardie grootse droom geword? Dit is weldra vertroebel deur die geskille tussen die groot moondhede. . . . Dit het boonop geblyk dat die wêreld ’n ingewikkelder, baie wanordeliker plek is as wat daar gehoop is.”

Trouens, daar was nooit enige kans dat die Verenigde Volke vrede en veiligheid sou bring nie. Die taak was eenvoudig te moeilik. Die sekretaris-generaal se kommentaar herinner ons aan die woorde van die profeet Jeremia: “[Dit behoort] nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Mense, met hulle beperkte wysheid en vermoëns, sal nooit die probleem om vrede en veiligheid vir almal te bring, kan oplos nie.

Die sekretaris-generaal het gesê dat die stigters van die Verenigde Volke gevind het dat die wêreld “ingewikkelder” is as wat hulle gehoop het. Daar is ’n fundamentele rede vir hierdie situasie, en hulle was blykbaar nie daarvan bewus nie. Maar die apostel Johannes het dit soos volg verduidelik: “Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose” (1 Johannes 5:19). Die Bybel deel ons mee dat “die Bose”, Satan, vandag ‘wee vir die bewoners van die aarde’ veroorsaak omdat hy “groot woede” het (Openbaring 12:12). Die wrede werklikheid van Satan en sy invloed het die Verenigde Volke se vredespogings gedoem nog voordat die organisasie gestig is.

Onthou ook dat die Verenigde Volke-organisasie ’n kind van hierdie wêreld is en derhalwe sy eienskappe geërf het. Die swakhede, euwels en verdorwenheid wat die individuele nasies kenmerk, kom ook onvermydelik in die Verenigde Volke voor. Alexander Solzhenitsyn het glo in 1972 gesê: “Die Verenigde Volke-organisasie het ’n kwarteeu gelede, met groot verwagtinge van die hele mensdom, in aansyn gekom. Helaas, in ’n onsedelike wêreld het dit ook onsedelik geword.” Die Bybel waarsku: “Geen vrede, sê die HERE, vir die goddelose nie!” (Jesaja 48:22). ’n “Onsedelike” organisasie kan nooit vrede en veiligheid bring nie.

Wat van vrede en veiligheid?

Sal die feit dat 1986 tot “Internasionale Vredesjaar” uitgeroep word dan ’n verskil maak? Dit is hoogs onwaarskynlik, aangesien die voormelde probleme nooit deur mense opgelos kan word nie. Die “Vredesjaar” sal die mensdom net so min nader aan vrede en veiligheid bring as wat die “Jaar van die Kind” in 1979 die die lot van kinders wêreldwyd verbeter het of die “Internasionale Jaar van die Vrou” in 1975 die wêreld ’n beter plek vir vroue gemaak het.

Maar as die mensdom wil voortbestaan, is dit duidelik dat iemand iets omtrent vrede en veiligheid moet doen. Die nasies met kernwapens kan vandag die meeste lewe op aarde vernietig. Gesofistikeerde konvensionele wapens eis elke jaar ’n skrikwekkende aantal lewens. Ware vrede lyk onbereikbaarder as ooit! As die Verenigde Volke nie hierdie probleme kan oplos nie, wie kan?

’n Kykie na die geskiedenis bied ’n hoopvolle antwoord. Sowat 3 000 jaar gelede het koning Dawid, ’n Midde-Oosterse stryderkoning, oor ’n toekomstige heerser geskryf wat daarin sou slaag om internasionale vrede te bring. In ’n gebed vir hierdie heerser het Dawid gesê: “Die berge sal vrede dra vir die volk, en die heuwels, deur geregtigheid. In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie.”​—Psalm 72:3, 7.

Watter heerser kan sulke blywende vrede bring? Dawid het nie die aandag gevestig op ’n mense-organisasie nie, maar op sy God, Jehovah, as die een deur wie se gesag dit sou gebeur. Was dit blote wensdenkery? Nee. Dawid se seun, Salomo, het op dieselfde God vertrou, en gedurende sy bewind het Jehovah Sy mag op ’n tipiese wyse getoon deur vrede te bring vir Salomo se koninkryk, wat in een van die mees oorloggeteisterde gebiede op aarde geleë was. Salomo was nie ’n stryderkoning nie, maar gedurende sy bewind het “Juda en Israel veilig gewoon . . . elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan [in die noorde] tot Berseba [in die suide], al die dae van Salomo”.​—1 Konings 4:25.

Daardie vrede het natuurlik nie voortgeduur nie. Die Israeliete het in die weë van die onsedelike wêreld verval en hulle Godgegewe veiligheid verloor. Maar meer as twee eeue later, toe die wrede Assiriërs ’n veldtog van vrede deur verskrikking onderneem het, het die profeet Jesaja die koms voorspel van die Koning wat deur Salomo afgeskadu is. Hy het geskryf: “Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, . . . Vredevors​—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde.”​—Jesaja 9:5, 6.

Wie is daardie “Vredevors”? Meer as 700 jaar na Jesaja, terwyl die Romeinse wêreldmoondheid sy weergawe van internasionale vrede en veiligheid probeer toepas het, het daardie Koning in Dawid se land, Judea, as Jesus Christus verskyn. Hy het sy landgenote vertel van God se Koninkryk, waarvan hy die Koning sou wees. Dit sou ’n hemelse Koninkryk wees en sal dus die probleme ten opsigte van Satan se invloed en die mens se ingebore onvermoë om homself te regeer, kan oplos. Jesus se landgenote het skynbaar die Romeinse bewind verkies en het Jesus geregtelik laat vermoor. Soos die geskiedenis duidelik getuig, is hy nietemin uit die dood opgewek en het hy na die hemel opgevaar waar hy gewag het op God se vasgestelde tyd vir hom om as Koning van God se Koninkryk te begin regeer.

Trouens, die vervulling van Bybelprofesie dui ons dag aan as die tyd vir daardie groot gebeurtenis. Dit was die geboorte van God se Koninkryk in die hemel en die daaropvolgende uitwerping van Satan na die aarde wat Satan se “groot woede” en ‘wee vir die bewoners van die aarde’ veroorsaak het (Openbaring 12:7-12). Die gevolg? Oorloë en ander mense-ellende, soos Jesus self voorspel het. Die aarde het die toneel geword van “benoudheid van nasies in hulle radeloosheid”.​—Lukas 21:25, 26; Mattheüs 24:3-13.

Die mens se manier of God se manier?

Jesus se profesieë, wat amper 2 000 jaar oud is, bied ’n juister beskrywing van wêreldtoestande as die optimistiese verklarings wat 40 jaar gelede met die stigting van die Verenigde Volke gemaak is. Die versuim van daardie organisasie om ’n uitweg te vind, beklemtoon net die juistheid van die Bybel se voorspellings. Waarlik, in die woorde van Jesaja, “die boodskappers van vrede ween bitterlik” uit frustrasie oor hulle mislukkings.​—Jesaja 33:7.

Dit beklemtoon ’n laaste rede waarom die Verenigde Volke nooit daarin kan slaag om vrede op die aarde te bewerkstellig nie. Hy probeer dit op ’n manier doen wat heeltemal strydig is met God se manier. Volgens Jehovah se verklaarde voornemens sal vrede nie deur die samewerking van hierdie wêreld se nasies bewerkstellig word nie, maar deurdat hulle heeltemal deur God se Koninkryk vervang word (Daniel 2:44). Dag Hammarskjöld het gesê dat hy hom daarvoor beywer om “die ou aarde te red”. As hy hiermee bedoel het die huidige wêreldstelsel wat bestaan uit onafhanklike politieke nasies, was sy verwagtinge van die begin af tot mislukking gedoem. Die feit is dat die “ou aarde” plek moet maak vir ’n nuwe stelsel. “Die wêreld gaan verby” (1 Johannes 2:17). Niks kan dit red nie, nie eens ’n Verenigde Volke-organisasie nie.

Met die oog op die nasionalistiese selfsug van die nasies is daar net een realistiese benadering tot vrede en veiligheid. Slegs God se Koninkryk kan die soort vrede bring waarna die mens hunker sedert hy uit die tuin van Eden gesit is. Hier is een beskrywing van die veiligheid wat die Koninkryk se bedrywighede sal meebring: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”​—Openbaring 21:4.

Klink daardie belofte onrealisties? Dit is in der waarheid die enigste hoop wat ons het, en die volgende nommer van Die Wagtoring sal die rede hiervoor breedvoeriger bespreek. Intussen wil ons jou aandag op ’n belangrike feit vestig: Die geskiedenis van die Verenigde Volke het nog nie geëindig nie. Daardie organisasie speel ’n belangrike rol in toekomstige gebeure. Ons spoor jou aan om die volgende twee artikels te lees, wat die toekoms van die Verenigde Volke-organisasie in die lig van Bybelprofesie bespreek.

[Prent op bladsy 5]

Die taak om vrede te bring, is eenvoudig te moeilik vir die Verenigde Volke

[Erkenning]

U.S. Army photo

[Prent op bladsy 6]

‘Die hele wêreld lê in die mag van die Bose.’ Dit sluit die Verenigde Volke in

[Prent op bladsy 7]

Die Verenigde Volke sal nooit sedeliker wees as die individuele nasies waaruit dit bestaan nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel