Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 2/15 bl. 5-7
  • Kan beelde jou nader aan God bring?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan beelde jou nader aan God bring?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Duur, fyn afgewerk, maar nutteloos
  • Die Katolieke beskouing
  • Verlok deur ’n vyand
  • Hoe om nader aan God te kom
  • Beelde
    Ontwaak!—2014
  • Die verering van beelde—’n geskilpunt
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Moet God deur middel van beelde aanbid word?
    Ontwaak!—2008
  • Die Christelike beskouing van beelde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 2/15 bl. 5-7

Kan beelde jou nader aan God bring?

MUSEUMS is vandag vol Egiptiese, Babiloniese en Griekse beelde. Standbeelde wat eens voorwerpe van vurige aanbidding was, word nou as blote kunswerke ten toon gestel. Hulle krag het slegs bestaan in die verbeelding van diegene wat hulle aanbid het. Toe die volke wat hulle vereer het mettertyd van die toneel verdwyn het, het die beelde se gewaande krag ook verdwyn. Die beelde is aan die kaak gestel as magteloos—wat hulle inderdaad altyd was—lewelose voorwerpe van hout, klip of metaal.

Wat van die beelde wat vandag deur mense vereer en aanbid word? Is hierdie beelde enigsins magtiger as die eertydse Egiptiese, Babiloniese en Griekse beelde? Het hulle die mens werklik gehelp om nader aan God te kom?

Met elke geslag wat verbygaan, lyk dit of die mensdom al hoe verder van God afdwaal. En wat kan die hele wêreld se beelde daaraan doen? As hulle sonder sorg gelaat word, versamel hulle stof en verroes en verrot hulle uiteindelik. Hulle kan nie vir hulleself sorg nie, wat nog te sê enigiets vir die mens doen. Maar nog belangriker, wat sê die Bybel oor hierdie saak?

Duur, fyn afgewerk, maar nutteloos

Dit verbaas ons nie dat die Bybel beelde aan die kaak stel as nutteloos en as geheel en al onbevoeg om hulle aanbidders te help om nader aan God te kom nie. Hoewel godsdiensbeelde gewoonlik duur en fyn afgewerk is, toon die Bybel hulle werklike waarde wanneer dit sê: “Hulle afgode is silwer en goud, ’n werk van mensehande. Hulle het ’n mond, maar praat nie; hulle het oë, maar sien nie; ore het hulle, maar hoor nie; hulle het ’n neus, maar ruik nie; hande, maar hulle tas nie; voete, maar hulle loop nie; hulle gee geen geluid deur hul keel nie. Die wat hulle maak, sal net soos hulle word—elkeen wat op hulle vertrou.”—Psalm 115:4-8.

Die Bybel stel afgode nie net as waardeloos aan die kaak nie, maar dit praat ook afkeurend van beelde en hulle aanbidders: “Soos ’n voëlverskrikker in ’n komkommertuin is hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie. Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die gesnede beeld; want sy gegote beeld is ’n leuen, en daar is geen gees in hulle nie. Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny.”—Jeremia 10:5, 14, 15.

Die Katolieke beskouing

Baie mense wat hulle voor godsdiensbeelde neerbuig, wat sulke beelde aanbid, kerse vir hulle opsteek en hulle soen, beskou hulleself weliswaar nie as afgodedienaars of beeldaanbidders nie. Katolieke beweer byvoorbeeld dat hulle beelde van Christus en Maria vereer, nie omdat die beelde self enige goddelikheid besit nie, maar op grond van wie deur die beelde voorgestel word. The World Book Encyclopedia sê dat “beelde in die Rooms-Katolieke Kerk vereer word as simbole van die persone wat deur hulle voorgestel word”. Die Katolieke geestelikes het die mense geleer dat dit geoorloof is om ’n beeld te vereer so lank die verering ondergeskik is aan dit wat God self toekom.

Feit is dat hierdie beelde vereer word. Selfs die New Catholic Encyclopedia gee toe dat sulke verering “’n daad van aanbidding is”. Jesus Christus het egter die gebruik van beelde as hulpmiddele om God te nader uitgesluit toe hy gesê het: “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). Dit is dus geen wonder dat die Christene van die eerste eeu die gebruik van beelde in aanbidding verwerp het nie.

Nogtans het die godsdienste van die Christendom vandag baie meer beelde as al die ander godsdienste. Ja, ondanks al die geskiedkundige en skriftuurlike bewyse wat toon hoe dwaas dit is om ’n beeld te vereer, hou naamchristene wêreldwyd aan om in hulle opregte soeke na God voor beelde te buig en hulle te aanbid. Waarom?

Verlok deur ’n vyand

Die profeet Jesaja het gesê dat beeldaanbidders van sy tyd nie die dwaasheid van hulle dade raakgesien het nie omdat hulle oë “toegesmeer [is], sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie” (Jesaja 44:18). Wie kan so ’n invloed op mense uitoefen? Die ikonoklastiese konsilie van 754 G.J. het verklaar dat die verering van beelde deur Satan in omloop gebring is met die doel om die mens weg te lok van die ware God. Was hierdie gevolgtrekking juis?

Ja, want dit stem ooreen met die geïnspireerde Bybel wat eeue tevore gesê het dat God se vernaamste vyand, Satan die Duiwel, mense se “sinne verblind het” sodat die waarheid “op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:4). Wanneer ’n mens derhalwe ’n beeld vereer, dien jy in werklikheid die belange van die demone pleks van nader aan God te kom.—1 Korinthiërs 10:19, 20.

Hoe om nader aan God te kom

Beelde kan ons nie help om nader aan God te kom nie. Die Grootse Skepper, Jehovah God, verafsku die verering van beelde (Deuteronomium 7:25). “Jehovah is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis” (Nahum 1:2, NW). Hy sê: “Ek is Jehovah. Dit is my naam; en aan niemand anders sal ek my eie heerlikheid gee nie, nog my lof aan gesnede beelde” (Jesaja 42:8, NW). Gevolglik waarsku die Bybel dat diegene wat beelde vereer “die koninkryk van God nie sal beërwe nie”.—Galasiërs 5:19-21.

Tog is Jehovah ook ’n barmhartige en vergewensgesinde God. Die Bybel praat van dié wat hulle van hulle afgode tot God gewend het en wat regverdig verklaar is nadat hulle hul afgodiese gebruike gestaak het (1 Korinthiërs 6:9-11; 1 Thessalonicense 1:9). Hulle het ag gegee op Jesus se woorde: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”—Johannes 4:24.

’n Opregte studie van die Bybel sal toon dat dit nie moeilik is om nader aan God te kom nie (Handelinge 17:26-28). Hy het ’n hartlike, liefdevolle, toeganklike persoonlikheid en hy nooi ons en verwag van ons om ’n intieme verhouding met hom op te bou.—Jesaja 1:18.

Jehovah se Getuies nooi jou om ons hemelse Vader as ’n Persoon te leer ken, en om meer omtrent sy naam, Jehovah, en sy eienskappe en handelinge met die mensdom uit te vind. Deur die bladsye van sy Woord, die Bybel, sal jy verstaan waarom jy werklik nie aanskouingsmiddele soos standbeelde en prente nodig het om tot God te nader nie. Ja, “nader tot God, en Hy sal tot [jou] nader”.—Jakobus 4:8.

[Venster op bladsy 6]

Geskiedskrywers wys op die volgende:

◻ “Dit is ’n alombekende feit dat Boeddhisme, wat in die sesde eeu v.G.J. gestig is, nie voor omstreeks die eerste eeu G.J. enige beeld van sy stigter gehad het nie.”

“Die Hindoetradisie was eeue lank wesenlik anikonies [sonder afgode of beelde].”

“Hindoeïsme sowel as Boeddhisme was aanvanklik anikonies en het net geleidelik beelde in hulle aanbidding aanvaar. Die Christendom het dieselfde gedoen.”—The Encyclopedia of Religion, deur Mircea Eliade.

◻ “Dit blyk duidelik uit verskeie Bybelse verslae dat die ware aanbidding van God sonder beelde was. . . . Ook in die NT [Nuwe Testament] word die aanbidding van vreemde gode en afgode verbied.”—New Catholic Encyclopedia.

◻ “Beelde was onbekend in die vroeë Christene se aanbidding.”—Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature, deur McClintock en Strong.

◻ “Nóg in die Nuwe Testament, nóg in enige egte geskrifte uit die eerste eeu van die Christelike godsdiens kan daar enige teken gevind word van die gebruik van standbeelde of prente in die Christene se aanbidding, hetsy in openbare of private aanbidding.”—A Concise Cyclopedia of Religious Knowledge, deur Elias Benjamin Sanford.

◻ “Die vroeë Christene sou die blote gedagte daaraan om beelde in die kerke te plaas met afsku bejeen het, en sou dit as niks minder as afgodediens beskou het om hulle voor [beelde] neer te buig of voor hulle te aanbid nie.”—History of the Christian Church, deur John Fletcher Hurst.

◻ “Die maak en verering van tekeninge van Christus en die heiliges is konsekwent in die vroeë kerk teengestaan.”—The New Encyclopædia Britannica.

◻ “Hoewel die vroeë Kerk nie afkerig was van kuns nie, het dit nietemin geen beelde van Christus gehad nie.”—Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge.

[Prent op bladsy 7]

Jesus het beklemtoon dat God diegene soek wat “die Vader in gees en waarheid . . . aanbid”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel