Die strewe na vryheid in Senegal
LANGS die kus by Dakar, die moderne hoofstad van Senegal, lê die klein eilandjie Gorée. Op hierdie eiland het ’n wrede herinnering aan ’n donker deel van die geskiedenis staande gebly—’n slawehuis wat in 1776 gebou is.
Dit is een van baie sulke huise waar tussen 150 en 200 slawe tot drie maande lank in smerige toestande opgesluit is voordat hulle na verafgeleë plekke gestuur is. Gesinne is opgebreek, sodat gesinslede mekaar nooit weer gesien het nie; die vader is moontlik na Louisiana in Noord-Amerika gestuur, die moeder na Brasilië of Kuba en die kinders na Haïti, Guyana of Martinique. Wat ’n verontagsaming van menslike vryheid was dit tog! Dit is ook ’n sterk herinnering aan die feit dat vryheid ’n kosbare voorreg is wat nie alle mense altyd beskore was nie.
Ek het dit alles geleer uit ’n toeristebrosjure wat ek gelees het op ’n vliegtuig onderweg na Senegal, die westelikste land op die groot boggel van Wes-Afrika. Senegal se savannegebied lê tussen woestyne na die noorde en ooste en digte oerwoude na die suide. Hier kan jy die majestueuse, langlewende baobabboom vind met sy snaakse vrug wat apebrood genoem word en waarvan kremetart verkry word. Dit is ook die land van ape en kleurryke voëls en van ongewone dorpies wat half versteek tussen mangoplantasies lê.
Ek het teruggesit en oor my langverwagte besoek aan hierdie poort tot Wes-Afrika gedink. Vandag geniet Senegal, met sy sewemiljoen inwoners van baie verskillende etniese agtergronde, volkome vryheid. Maar is dit moontlik dat ’n mens fisies vry kan wees en tog ’n slaaf kan wees van gewoontes en bygelowe wat jou van ware vryheid beroof? Ek het met afwagting daarna uitgesien om my geestelike broers te ontmoet en eerstehands uit te vind watter vordering die waarheid wat mense vrymaak in daardie deel van die wêreld maak.—Johannes 8:32.
‘Jehovah wil hê dat julle hierdie gebou moet gebruik’
Eerste op my program was ’n besoek aan die Wagtoringtak en -sendinghuis in Dakar. Toe ons by ’n moderne gebou in ’n stil woonbuurt aankom, het ek ’n groot J op die voorkant opgemerk. My eerste vraag tydens die toer van die takkantoor was waarvoor die letter J staan.
“Dit is baie interessant”, het my gids verduidelik. “Toe ons in 1985 na groter fasiliteite gesoek het, het ons hierdie gebou besoek, wat toe in aanbou was. Maar ons het gemeen dat dit te groot vir ons behoeftes was. Toe die eienaar hoor dat ons Getuies van Jehovah is, wou hy die gebou baie graag aan ons verhuur omdat hy geweet het hoe eerlik ons is. ‘Ek is seker dat julle God, Jehovah, wil hê dat julle hierdie gebou moet gebruik’, het hy gesê. ‘Kyk, daar is selfs ’n groot J op die voorkant! Toe ek dit daar laat aanbring het, wou ek hê dat dit vir my naam John moet staan, maar nou is ek seker dit staan vir die naam van God, Jehovah!’ En ons is bly dat ons hierdie pragtige gebou al die afgelope vyf jaar kan gebruik.”
Ek wou vervolgens weet hoe daar met die predikingswerk in Senegal begin is.
“Die bevrydende waters van die waarheid is in die vroeë vyftigerjare na Senegal gebring deur een van Jehovah se Getuies wat vir ’n werkskontrak van Frankryk af hierheen gekom het. In 1965 is ’n takkantoor in Dakar geopen om na die werk in die Franssprekende lande Senegal, Mali en Mauretanië, sowel as die Engelssprekende land Gambië, om te sien. Sedert 1986 sien ons ook om na die werk in Guinee-Bissau, waar Portugees gepraat word.”
Ek het geweet dat meer as 90 persent van die bevolking hier nie Christene is nie en ek het gewonder watter vordering daar gemaak is. “Dit is waar dat baie mense in hierdie lande nie met die Bybel vertroud is nie”, het my gids gesê, “maar die werk gaan teen ’n bestendige pas voort. In Januarie 1991 was ons verheug toe ons 596 Koninkryksverkondigers gehad het. Dit toon dat die plaaslike broers en die sendelinge baie hard gewerk het.”
“Ek hoor dat hier baie sendelinge is”, het ek opgemerk.
“Ja, hier is omtrent 60 sendelinge wat in die verskillende gebiede werk wat onder ons toesig is, en hulle het van 13 lande af gekom. Hulle werk hard en het grootliks daartoe bygedra dat daar ’n goeie grondslag vir die werk gelê is. Hierdie gees word deur die plaaslike broers weerspieël in hulle liefde en ywer vir die waarheid. Ten spyte van probleme soos werkloosheid en uiters beperkte geldmiddele bring talle broers elke maand 15 uur en meer in die veldbediening deur. Ons hoop dat jy party van hierdie ywerige werkers tydens jou besoek sal ontmoet.”
Ek het beslis daarna uitgesien.
In die veldbediening saam met sendelinge
Margaret (wat langer as 20 jaar in die sendingdiens is) het aangebied om my saam met haar na haar gebied in die middestad te neem. Ons het met ’n car rapide (vinnige motor) gery om ’n voorsmakie van die plaaslike lewe te kry. Dit was in werklikheid ’n klein bussie wat kort-kort stilgehou het. Daar was 25 passasiers in die bussie, en as hulle almal skraal was, kon ek my indink dat die rit amper gemaklik sou wees. Die twee dames wat my bankie gedeel het, was beslis nie skraal nie, maar ek het die situasie met ’n glimlag verduur.
“In my gebied in die middestad kan jy baie interessante dinge sien”, het Margaret verduidelik toe ons ons bestemming bereik. “Sien jy daardie kleurryke sandale?” het sy gevra, en na ’n paar van die stalletjies op die sypaadjie gewys. “Hulle word van gekleurde skaap- en bokvel gemaak.” Ons het die sandaalmakers genader en Margaret het met haar aanbieding in hulle taal, Wolof, begin. Hulle het aandagtig geluister en is bekoor deur die prente van Adam en Eva in die kleurryke brosjure.
Smouse wat hier as bana-bana-mans bekend staan, het ons weldra genader en ons ’n eindelose verskeidenheid goedere aangebied. Party het besems gehad; ander het met klere, slotte, medisyne, beursies, lemoene en selfs lewende voëls gesmous. Een wou ’n kora aan my verkoop, ’n snaarinstrument wat van ’n halwe kalbas gemaak is, met ’n stok vir ’n nek; dit word met altwee hande bespeel. Ek het gesien dat daar op die agterkant ’n klein afbeelding van ’n masker was wat van leer, die horing van ’n bok en klein “gelukbringer”-skulpe gemaak is. Ons het verduidelik dat ons niks kon koop wat met tekens versier is wat moontlik aan towery of onchristelike ritusse gekoppel is nie. Tot ons verbasing het die bana-bana-man saamgestem en gesê dat hy self ’n Moslem is. Hy het die kora agter sy lang, vloeiende gewaad, of boubou, weggesteek en aandagtig geluister terwyl Margaret die brosjure, wat in Arabies was, vir hom aangebied het. Hy was so opgewonde dat hy dit onmiddellik begin lees het. Nadat hy ons hartlik bedank het, is hy daar weg met die brosjure en die onverkoopte kora. Ons was oortuig dat hy die brosjure by die huis sou bestudeer.
Ek het later met John gepraat, wat ook al meer as 20 jaar ’n sendeling is.
“Die mense hier is baie vriendelik, en jy kan met amper almal praat wat jy teëkom”, het John vir my gesê. “Die algemene groet ‘assalam alaikum’ beteken ‘vrede vir jou’, en die meeste mense is vredeliewend. Dit is die land van teranga, of gasvryheid, en dit word deur vriendelikheid, hartlikheid en vrolikheid weerspieël.” Dit het vir my makliker geword om te verstaan waarom soveel jong Getuies uit die buiteland hulle families en vriende kon agterlaat om in hierdie sendingveld te dien.
Bevry om die voltydse bediening te betree
Die sendinggees het ’n diepgaande invloed op die plaaslike Getuies gehad. Dit is veral duidelik omdat algemene werkloosheid die voltydse pionierdiens werklik ’n uitdaging maak. Marcel en Lucien, wat van baie skadelike gewoontes bevry is toe hulle die Bybelwaarheid geleer het, verduidelik:
“Ons wou ons waardering toon deur die pionierdiens te betree. Maar dit is moeilik om deeltydse werk te kry. Ons het tuinwerk probeer, maar dit het nie uitgewerk nie. Klerewassery het te veel van ons tyd in beslag geneem. Nou is ons in die bakkerybedryf, en met sekere winkels as ons gereelde klante werk dit baie goed.” Dit het ongetwyfeld baie geloof en vernuf, sowel as opregte inspanning van hulle geverg, maar dit toon dat dit moontlik is om die voltydse bediening te betree selfs wanneer daar moeilike ekonomiese toestande heers.
Toe Michel die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het hy aan die universiteit in Dakar klas geloop. “Die onsedelike gesindheid van soveel van die studente het my terneergedruk gemaak, en verwarrende vrae het my gekwel”, het hy vertel. “Waarom was die mens slawe van soveel skadelike gewoontes en toestande? Die Bybel het my die antwoorde gegee. Dit was soos ’n berg van my skouers af. Hoewel my ouers daarop aangedring het dat ek my studies moes voortsit, het ek aan die hulppionierdiens deelgeneem, en ek het toe die res van die tyd wat ek op universiteit moes deurbring as ’n gewone pionier gedien. Wat my die grootste vreugde verskaf, is nie die najaging van ’n loopbaan in ’n stelsel wat binnekort gaan eindig nie, maar om die goeie nuus as pionier aan ander te vertel.” Michel dien nou as ’n spesiale pionier in Mbour.
Poligamie teenoor Christelike monogamie
Plaaslike gewoontes strook nie altyd met Christelike beginsels nie, en dit kan unieke uitdagings oplewer. Alioune, die presiderende opsiener in een van die ses gemeentes van Jehovah se Getuies in die groter Dakar-stad en omstreke vertel: “Toe ek die bevrydende waarheid die eerste keer gehoor het, het ek twee vrouens gehad. As ’n belydende Moslem is ek deur my godsdiens toegelaat om selfs meer te hê. My vader het vier vrouens gehad, en die meeste van my vriende het ’n hele paar gehad. Dit is iets wat algemeen in Afrika voorkom.” Maar watter uitwerking het hierdie lewenswyse gehad?
“Om meer as een vrou te hê, kan baie probleme veroorsaak”, het Alioune verduidelik, “veral wat die kinders betref. Ek het tien kinders by my eerste vrou en twee by my tweede vrou. In sulke gesinne is die vader dikwels ’n vreemdeling vir sy kinders, sodat hulle nie by sy hulp of dissipline baat vind nie. Terloops, poligamie het my ook nie teen owerspel beskerm nie. Dit is eerder selfbeheersing, ’n vrug van God se gees, wat dit gedoen het.” Wat het Alioune derhalwe gedoen?
“Ek het my tweede vrou na haar ouerhuis teruggestuur”, het hy verder vertel, “en taktvol verduidelik dat dit nie was omdat ek enigsins fout met haar gevind het nie, maar dat ek aan God se vereistes wou voldoen. Ek het spesiale reëlings getref om materieel en geestelik na my kinders om te sien en ek is dankbaar dat hulle Jehovah ook vandag dien. Van die nege wat verkondigers is, is vyf gedoop, twee dien as spesiale pioniers en die ander drie as gewone en hulppioniers. Die waarheid het my werklik van die baie probleme gevrywaar wat met die grootmaak van kinders gepaard gaan.”
Fetisj-aanbidding teenoor ware aanbidding
Volgende op my reisprogram was ’n besoek aan die Casamance-streek in die suide. Ek is beïndruk deur hoe vars en groen alles gelyk het. Hierdie gebied, waardeur die magtige Casamance-rivier vir sowat 300 kilometer vloei, is baie waterryk, en rys, graan en grondbone word in oorvloed verbou. Oral op die platteland is ronde, twee-verdieping hutte met grasdakke in die vorm van ’n tregter om reënwater vir die droë seisoen op te vang. Die hoofstad, Ziguinchor, is in die beskutting van ’n groot palmplantasie gebou. Ek was verheug om ’n ywerige gemeente van Jehovah se volk hier aan te tref.
Dominic, ’n sendeling wat in Ziguinchor en omgewing werk, het vir my gesê dat die predikingswerk in hierdie gebied baie goed vorder. “Net tien jaar gelede”, het hy gesê, “was daar 18 verkondigers in die Ziguinchor-gemeente. Nou is daar 80. Om na hierdie groot vermeerdering om te sien het ons ’n pragtige nuwe Koninkryksaal gebou en rooi klei gebruik wat reg op die saal se perseel was. Die projek het as groot getuienis vir die gemeenskap gedien. Gunstige kommentaar is gelewer deur diegene wat gesien het hoe mense van soveel verskillende stamme in vrede saamwerk. By ’n onlangse kringbyeenkoms was ons hoogste bywoningsyfer 206, en 4 is gedoop.”
Baie mense in hierdie deel van Senegal volg steeds die animistiese oortuigings van hulle voorouers na, en hoewel hulle beweer dat hulle Christene of Moslems is, aanbid hulle fetisje. Ek het aandagtig geluister na die verhaal wat Victor, ’n ouere man in die Ziguinchor-gemeente, my vertel het.
“Ek het grootgeword in ’n groot gesin in Guinee wat fetisj-aanbidding beoefen het. By my geboorte het my vader my aan ’n sekere gees, of demon, toegewy. Om die demon se guns te verkry, het ek gereeld ’n swart tas onder die bed uitgehaal, ’n klein altaar opgerig en bloedofferandes aan die horing, wat my demonbeskermer voorgestel het, geoffer. Selfs nadat ek ’n Katoliek geword het, het ek gevoel dat ek steeds ’n slaaf van die demone was. Toe ek na Senegal verhuis het, het Jehovah se Getuies die Bybel met my begin studeer. Ek en my vrou het geleer dat ons nie kon aanhou om ‘deel te hê aan die tafel van Jehovah en ook aan die tafel van die duiwels nie’ (1 Korinthiërs 10:21). Maar toe ek opgehou het om offerandes te bring, het die demone ons begin aanval. Ek was bang om die swart tas met al sy demoniese voorwerpe weg te gooi, omdat ek van ’n man geweet het wat heeltemal waansinnig geword het toe hy dit gedoen het.” In wat ’n wanhopige situasie het Victor hom tog bevind!
“Die woorde in Romeine 8:31, 38, 39 het ons uiteindelik die nodige krag gegee om ontslae te raak van alles wat met fetisj-aanbidding te doen gehad het. Noudat ons ons vertroue in Jehovah gestel het, is ons werklik bevry. My hele gesin het die wonderlike hoop om vir ewig op ’n aardse paradys te lewe, waar die hele mensdom bevry sal wees van die invloed van bose demone.”
Eindelik het die tyd vir my vertrek aangebreek. Terwyl ek my tasse gepak het, het ek oor my onvergeetlike besoek aan Senegal nagedink. Hoe geloofversterkend was dit tog om soveel mense te ontmoet wat bevry is van slawerny aan dwelmmisbruik, onsedelikheid en bygeloof en wat nou ware vryheid geniet. Ten spyte van moeilike ekonomiese toestande vind hulle vreugde en vergenoegdheid in hulle diens aan Jehovah, wat hulle die gewisse hoop op ewige lewe op ’n paradysaarde gegee het. Hoe dankbaar is ons tog teenoor hom wat dit moontlik gemaak het dat sulke goeie nuus nie net in Senegal nie, maar ook wêreldwyd gedurende die “jaar van die welbehae van die HERE” verkondig kan word! (Jesaja 61:1, 2).—Bygedra.
[Kaart op bladsy 8]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
SENEGAL
St. Louis
Louga
Thiès
Dakar
Kaolack
GAMBIË
Banjul
[Prente op bladsy 9]
Die bevrydende waters van die waarheid word vryelik in die dorpies verkondig
Sendinghuis en takkantoor van Jehovah se Getuies in Dakar, Senegal
[Prent op bladsy 10]
Langs die kus hoor die mense van Senegal ook die Christelike boodskap