Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 5/1 bl. 21-23
  • Opwindende visioene wat ons geloof versterk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Opwindende visioene wat ons geloof versterk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Christus gee liefdevolle raad
  • Die Lam maak ’n boekrol oop
  • Die Koninkryk word gebore!
  • Jehovah se knegte tree op
  • Twee simboliese vroue
  • Christus oorwin en regeer
  • Bybelboek nommer 66—Openbaring
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • ’n Oorsig van Openbaring
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Glanspunte uit die boek Openbaring—II
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Oorsig van Openbaring
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 5/1 bl. 21-23

Opwindende visioene wat ons geloof versterk

Glanspunte uit Openbaring

JEHOVAH se dienskneg Johannes is op die klein eiland Patmos, aan die weskus van Klein-Asië. Daar sien hierdie bejaarde apostel wonderlike dinge—simbolies, dikwels skrikwekkend en werklik betekenisvol! Hy bevind hom in die dag van die Here, wat begin het toe Jesus in 1914 op die troon geplaas is en wat tot aan die einde van Sy Duisendjarige Heerskappy strek. Al sien Johannes gebeurtenisse wat tydens die mensdom se donkerste uur sal plaasvind, gee hy ’n uitmuntende voorskou van Christus se Duisendjarige Heerskappy! Watter seëninge sal die gehoorsame mensdom tog nie dan geniet nie!

Johannes het hierdie visioene in die Bybelboek Openbaring opgeteken. Dit is ongeveer in 96 G.J. geskryf en kan ons geloof in die God van profesieë, Jehovah, en in sy Seun, Jesus Christus, versterk.—Sien vir besonderhede die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee word.

Christus gee liefdevolle raad

In die begin van die openbaring van God deur Christus verskyn daar briewe aan sewe gemeentes van Jesus se mede-Koninkrykserfgename (1:1–3:22). In die algemeen bevat die briewe lof, vestig hulle die aandag op probleme, voorsien hulle teregwysing en/of bemoediging en meld hulle seëninge wat uit getroue gehoorsaamheid voortspruit. Hoewel die Efesiërs volhard het, het hulle hul eerste liefde verlaat. Die geestelik ryk gemeente in Smirna word aangemoedig om te midde van vervolging getrou te bly. Vervolging het nie die gemeente in Pergamus oorwin nie, maar hulle het sektevorming verdra. Ondanks Christene in Thiatire se groter bedrywighede heers ’n Isebel-invloed daar. Die gemeente in Sardis moet geestelik wakker word, die een in Filadelfia word aangespoor om vas te hou aan wat hulle het en die louwarm Laodicense het geestelike genesing nodig.

Watter uitstekende woorde om toekomstige hemelse konings—trouens, alle Christene—op te lei! Het enigeen van ons byvoorbeeld louwarm geword? Tree dan daadwerklik op! Word so verkwikkend soos ’n koppie koue water op ’n warm dag, maar begin ook om vurige ywer vir Jehovah en sy diens te openbaar.—Vergelyk Mattheüs 11:28, 29; Johannes 2:17.

Die Lam maak ’n boekrol oop

Jehovah word vervolgens in glansende heerlikheid op sy troon gesien (4:1–5:14). Hy word deur 24 ouderlinge en vier lewende wesens omring. In sy hand het hy ’n boekrol wat met sewe seëls verseël is. Wie kan die boekrol oopmaak? Net die Lam, Jesus Christus, is waardig om dit te doen!

Dramatiese gebeurtenisse vind plaas wanneer die Lam ses van die seëls oopmaak (6:1–7:17). Wanneer die eerste seël oopgemaak word, verskyn Christus op ’n wit perd, ontvang hy ’n kroon (in 1914) en gaan hy voort om te oorwin. Wanneer nog drie seëls oopgemaak word, bring ander perderuiters oorlog, hongersnood en die dood oor die mensdom. Wanneer die vyfde seël oopgemaak word, roep diegene wat ter wille van Christus ’n marteldood gesterf het uit dat hulle bloed gewreek moet word, en aan elkeen word “wit klere” gegee, wat ’n regverdige posisie aandui wat verband hou met hulle opstanding om onsterflike geesskepsele met koninklike voorregte te wees. (Vergelyk Openbaring 3:5; 4:4.) Wanneer die sesde seël oopgemaak word, word die dag van die wraak van God en van die Lam deur ’n aardbewing ingelui. Maar “die vier winde van die aarde”, wat vernietigende oordeel simboliseer, word teruggehou totdat die 144 000 diensknegte van God verseël is. Wanneer hulle met God se gees gesalf word en as sy geestelike seuns aangeneem word, ontvang hulle vooruit ’n bewys—’n seël, of pand—van hulle hemelse erfenis. Slegs ná hulle getoets is, sal die verseëling permanent wees (Romeine 8:15-17; 2 Korinthiërs 1:21, 22, NW). En hoe verbaas moes Johannes tog gewees het om “’n groot menigte” uit alle nasies te sien—’n menigte wat die hoop op die ewige lewe in ’n aardse paradys het! Hulle kom uit “die groot verdrukking”, ’n tyd van ongeëwenaarde ellende vir die mensdom.

Watter skrikwekkende gebeurtenisse vind tog plaas wanneer die sewende seël oopgemaak word! (8:1–11:14). Ná ’n halfuur lange stilte, sodat die gebede van die heiliges gehoor kan word, word vuur van die altaar na die aarde gegooi. Daarna maak sewe engele hulle gereed om basuine te blaas wat God se plae oor die Christendom bekend maak. Die basuine word deur die hele tyd van die einde tot en met die groot verdrukking geblaas. Vier basuine lui plae in oor die aarde, die see, die varswaterbronne en die son, maan en sterre. Wanneer die vyfde basuin geblaas word, kom daar sprinkane te voorskyn wat gesalfde Christene afbeeld wat uitgekom het om sedert 1919 oorlog te voer. Met die sesde basuingeskal is daar ’n aanval deur perderuiters. Ter vervulling daarvan verkondig die gesalfdes, wat sedert 1935 deur die “groot menigte” aangevul word, die pynigende oordeelsboodskappe teen die Christendom se godsdiensleiers.

Johannes eet vervolgens ’n klein boekrol, wat aandui dat die gesalfdes hulle toewysing aanvaar en gevoed word uit die deel van God se Woord met uitinge van goddelike oordele wat hulle teen die Christendom verkondig. Die apostel word beveel om die tempelheiligdom te meet, wat daarop dui dat Jehovah se voornemens met betrekking tot die tempelreëling beslis vervul sal word en dat diegene wat daaraan verbonde is goddelike standaarde moet nakom. Daarna profeteer God se “twee getuies” in saklinne. Hulle word doodgemaak maar word later opgewek. Dit is vervul in 1918-19 toe hulle predikingswerk byna ’n doodhou deur hulle vyande toegedien is, maar Jehovah se knegte het wonderdadig herleef om hulle bediening te hervat.

Die Koninkryk word gebore!

Die sewende basuingeskal kondig die geboorte van die Koninkryk aan (11:15–12:17). In die hemel baar ’n simboliese vrou (Jehovah God se hemelse organisasie) ’n manlike kind (God se Koninkryk met Christus as Koning), maar die draak (Satan) probeer tevergeefs om hom te verslind. Die klimaks van die oorlog in die hemel kom ná die Koninkryk se geboorte in 1914 wanneer die seëvierende Migael (Jesus Christus) die draak en sy engele na die aarde toe neerwerp. Daar gaan die draak voort om oorlog te voer teen die gesalfde oorblyfsel van die hemelse vrou se saad.

Johannes sien daarna ’n wilde dier waarvan ’n weersinwekkende beeld gemaak word (13:1-18). Hierdie politieke wilde dier met sewe koppe en tien horings kom uit “die see”, die oproerige volksmassa waaruit menseregering voortspruit. (Vergelyk Daniël 7:2-8; 8:3-8, 20-25.) Wie gee hierdie simboliese dier sy gesag? Niemand anders nie as Satan, die draak! En stel jou dit net voor! Johannes sien hoe ’n dier met twee horings (die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid) van hierdie politieke monster ’n “beeld” maak, wat nou as die Verenigde Nasies bekend staan. Talle word gedwing om die wilde dier te aanbid en sy “merk” te aanvaar deur dinge op sy manier te doen en toe te laat dat hy hulle lewe regeer. Maar Jehovah se Getuies verwerp die demoniese merk van die wilde dier geheel en al!

Jehovah se knegte tree op

Daar word gesien hoe verskeie knegte van God optree wanneer die sewe skale van sy grimmigheid uitgegooi word (14:1–16:21). Luister! Op die hemelse berg Sion kan Johannes die 144 000 hoor asof hulle ’n nuwe lied sing. ’n Engel wat in die middel van die lug vlieg, het ewige goeie nuus om aan die bewoners van die aarde te verkondig. Wat toon dit? Dat Jehovah se Getuies die hulp van engele het om die Koninkryksboodskap te verkondig.

Johannes moet verstom wees om te sien hoe die wynstok van die aarde afgeoes word en hoe hele nasies verpletter word wanneer die parskuip van die grimmigheid van God getrap word. (Vergelyk Jesaja 63:3-6; Joël 3:12-14.) Op Jehovah se bevel gooi die sewe engele vervolgens die sewe skale van goddelike grimmigheid uit. Die aarde, die see en die varswaterbronne, asook die son, die troon van die wilde dier en die Eufraatrivier word deur die uitgieting van die eerste ses skale getref. Stel jou voor hoe opgewonde Johannes raak wanneer hy sien hoe demoniese propaganda mensekonings vir God se oorlog van Armageddon versamel. En die gevolge is vernietigend wanneer die sewende skaal in die lug uitgegooi word.

Twee simboliese vroue

Johannes is beslis opgewonde om die einde van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, te sien en om die vreugdevolle gebeurtenisse te aanskou wat ná haar vernietiging plaasvind (17:1–19:10). Dronk van die bloed van die heiliges word sy op ’n skarlakenrooi wilde dier met sewe koppe en tien horings (die Volkebond en sy opvolger, die Verenigde Nasies) gesien. Ag, maar wat ’n vernietiging ly sy wanneer die horings teen haar draai!

Daar word hemelse stemme gehoor wat Jah vir die vernietiging van Babilon die Grote loof. En dawerende lof kondig die bruilof van die Lam en sy bruid, die verrese gesalfdes, aan!

Christus oorwin en regeer

Daarna sien Johannes die Koning van die konings wanneer hy die hemelse leërs lei om Satan se stelsel te vernietig (19:11-21). Ja, Jesus, “Die Woord van God”, voer oorlog teen die nasies. Die apostel sien hoe die wilde dier (Satan se politieke organisasie) en die valse profeet (die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid) in “die vuurpoel”, ’n simbool van algehele, ewige vernietiging, gewerp word.

Wat gebeur vervolgens? Wel, Johannes sien hoe Satan in die afgrond gewerp word. Daarna volg ’n voorskou van Christus se Duisendjarige Heerskappy, waartydens Jesus en sy verrese medeheersers die mensdom oordeel en die gehoorsames tot menslike volmaaktheid verhef! (20:1-10). Die tyd breek nou aan vir ’n finale toets. Nadat Satan uit die afgrond vrygelaat is, sal hy uitgaan om die volmaakte mensdom te verlei, maar dan sal al die demone en al die mense wat teen God in opstand gekom het, vernietig word.

Hoe moet dit Johannes tog boei, wanneer hy teruggaan in tyd, om te sien hoe almal in die doderyk (Hades, die mens se gemeenskaplike graf) en die see opgewek word en voor God, wat op ’n groot wit troon sit, geoordeel word! (20:11-15). En watter verligting sal die regskapenes tog geniet wanneer die dood en Hades in die poel van vuur gewerp word om nooit weer slagoffers te eis nie!

Aan die einde van Johannes se visioene sien hy die Nuwe Jerusalem (21:1–22:21). Daardie regeringstad daal uit die hemel neer en straal lig uit aan die nasies. Deur die Nuwe Jerusalem vloei ’n “rivier van die water van die lewe”, wat skriftuurlike waarheid en elke ander godgegewe voorsiening afbeeld wat op Jesus se offerande gegrond is om gehoorsame mense van sonde en die dood te red en hulle die ewige lewe te gee (Johannes 1:29; 17:3; 1 Johannes 2:1, 2). Op elke oewer van hierdie rivier sien Johannes bome met blare wat tot genesing lei, wat deel van Jehovah se voorsiening afbeeld om die ewige lewe aan gehoorsame mense te gee. Die slotboodskappe van God en Christus word deur ’n uitnodiging gevolg. Hoe wonderlik is dit tog om te hoor hoe die gees en die bruid almal wat dors het, uitnooi om te ‘kom, en die water van die lewe te neem, verniet’! En wanneer ons Openbaring se slotwoorde lees, stem ons ongetwyfeld saam met Johannes se geesdriftige uitroep: “Amen, ja kom, Here Jesus.”

[Venster/Prent op bladsy 21]

Bly wakker: Te midde van die profetiese woorde oor God se oorlog van Armageddon word daar gesê: “Kyk, Ek [Jesus Christus] kom soos ’n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie” (Openbaring 16:15). Dit is dalk ’n verwysing na die pligte van die opsiener, of beampte, van die tempelberg in Jerusalem. Gedurende die wagdiens het hy deur die tempel gegaan om te sien of die Levitiese wagte wakker was op hulle pos en of hulle aan die slaap geraak het. Enige wag wat geslaap het, is met ’n stok geslaan, en sy klere kon as straf verbrand word sodat hy beskaam is. Aangesien Armageddon nou so naby is, is die gesalfde oorblyfsel van die “koninklike priesterdom”, of “geestelike huis”, vasbeslote om geestelik wakker te bly. Hulle metgeselle, die “groot menigte”, wat ’n aardse hoop het, moet dit ook doen, want hulle verrig ook heilige diens aan God by die tempel (1 Petrus 2:5, 9; Openbaring 7:9-17). Veral Christen- ouere manne moet op hulle hoede wees teen slegte toestande wat in die gemeente kan ontwikkel. Omdat hulle wakker bly, hou alle lojale aanbidders by God se geestelike tempel hulle “klere” aan, wat hulle geëerde diens as Getuies van Jehovah beteken.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel