’n Ooreenstemmende losprys vir almal
“Die Seun van die mens [het] nie gekom . . . om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.”—MATTHEÜS 20:28.
1, 2. (a) Waarom kan daar gesê word dat die losprys God se grootste gawe aan die mensdom is? (b) Watter voordeel hou dit in om die losprys te ondersoek?
DIE losprys is God se grootste gawe aan die mensdom. Ons kan weens “die verlossing deur die losprys” “vergifnis van ons oortredinge” kry (Efesiërs 1:7, NW). Dit is die grondslag van ’n hoop op die ewige lewe, hetsy in die hemel of op ’n paradysaarde (Lukas 23:43, NW; Johannes 3:16). En as gevolg daarvan kan Christene selfs nou ’n rein posisie voor God geniet.—Openbaring 7:14, 15.
2 Die losprys is derhalwe nie iets vaags of abstraks nie. Omdat die losprys wetlik op goddelike beginsels gegrond is, kan dit werklike, tasbare voordele meebring. Sekere aspekte van hierdie leerstelling is dalk ‘swaar om te verstaan’ (2 Petrus 3:16). Maar jy sal vind dat dit die moeite werd is om die losprys noukeurig te ondersoek, want dit is ’n blyk van God se allesoortreffende liefde vir die mensdom. As jy begryp wat die losprys beteken, verstaan jy ’n belangrike aspek van God se ondeurgrondelike “rykdom en wysheid en kennis”.—Romeine 5:8; 11:33.
Geskille wat besleg moet word
3. Hoe het ’n losprys nodig geword, en waarom kon God nie net die mensdom se sondigheid verskoon nie?
3 Die losprys het nodig geword weens die sonde van die eerste mens, Adam, wat vir sy nakomelinge ’n nuttelose erfenis van siekte, kwale, droefheid en pyn nagelaat het (Romeine 8:20). Op grond van hulle oorgeërfde onvolmaaktheid is al Adam se nakomelinge “kinders van die toorn”, wat die dood verdien (Efesiërs 2:3; Deuteronomium 32:5). God kon nie aan beginsellose sentiment toegee en die mensdom uit die staanspoor net vergewe nie. Sy eie Woord toon dat ‘die loon van die sonde die dood is’ (Romeine 6:23). As God die mensdom se sondigheid verskoon het, sou hy sy eie regverdige standaarde moes veronagsaam, sy eie wetlike geregtigheid ongeldig moes maak! (Job 40:3). Maar “geregtigheid en reg is die grondslag van [God se] troon” (Psalm 89:15). As hy enigsins van geregtigheid afwyk, sal hy net wetteloosheid aanmoedig en sy posisie as universele Soewerein ondermyn.—Vergelyk Prediker 8:11.
4. Watter geskille is deur Satan se opstand geopper?
4 God moes ook ander geskille besleg wat deur Satan se opstand geopper is, geskille wat baie belangriker is as die mens se haglike toestand. Satan het God se goeie naam beswadder deur Jehovah daarvan te beskuldig dat hy ’n leuenaar en ’n wrede diktator is wat sy skepsele kennis en vryheid ontsê het (Genesis 3:1-5). Boonop het Satan dit laat lyk of God misluk het deur God se voorneme om die aarde met regverdige mense te vul oënskynlik te dwarsboom (Genesis 1:28; Jesaja 55:10, 11). Satan het hom ook veroorloof om God se lojale knegte te laster deur te beweer dat hulle Hom net om selfsugtige redes dien. As hulle onder druk geplaas word, het Satan gespog, sal nie een van hulle aan God lojaal bly nie!—Job 1:9-11.
5. Waarom kon God Satan se aantygings nie ignoreer nie?
5 Hierdie aantygings kon nie geïgnoreer word nie. As hulle onbeantwoord gelaat is, sou vertroue in en steun vir God se heerskappy uiteindelik ondermyn word (Spreuke 14:28). Sou daar nie chaos dwarsdeur die heelal geheers het as wet en orde agteruitgegaan het nie? God was dit dus aan homself en aan sy regverdige weë verskuldig om sy soewereiniteit te verheerlik. Hy was dit aan sy getroue knegte verskuldig om hulle toe te laat om hulle onwrikbare lojaliteit teenoor hom te toon. Dit het beteken dat die toestand van die sondige mens op so ’n manier aandag moes kry dat die belangrikste geskille voorkeur geniet het. Hy het later vir Israel gesê: “Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil.”—Jesaja 43:25.
Die losprys: ’n Bedekking
6. Wat is party van die terme wat in die Bybel gebruik word om die middel waardeur God die mensdom red te beskryf?
6 In Psalm 92:6 lees ons: “Hoe groot is u werke, o HERE; baie diep is u gedagtes!” Dit verg derhalwe inspanning van ons om te begryp wat God vir die mensdom gedoen het. (Vergelyk Psalm 36:6, 7.) Gelukkig help die Bybel ons om dinge te verstaan deur ’n paar terme te gebruik wat God se grootse werke uit verskeie oogpunte beskryf of illustreer. Die Bybel praat van die losprys as ’n koop, ’n versoening en ’n verlossing (Psalm 49:9; Daniël 9:24; Galasiërs 3:13; Kolossense 1:20; Hebreërs 2:17). Maar die uitdrukking wat dit miskien die beste beskryf, is die een wat Jesus self in Mattheüs 20:28 gebruik het: “Die Seun van die mens [het] nie gekom . . . om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys [Grieks, luʹtron] vir baie.”
7, 8. (a) Wat leer ons uit die Griekse en Hebreeuse woorde vir losprys? (b) Illustreer hoe ’n losprys ooreenstemming vereis.
7 Wat is ’n losprys? Die Griekse woord luʹtron kom van ’n werkwoord wat beteken “om los te laat”. Dit is gebruik om geld te beskryf wat betaal is in ruil vir die loslating van krygsgevangenes. In die Hebreeuse Geskrifte kom die woord vir losprys, koʹfer, egter van ’n werkwoord wat “bedek” of “oortrek” beteken. God het byvoorbeeld vir Noag gesê om die ark met pik te bedek (ka·farʹ) (Genesis 6:14, NW). Om sondes los te koop, of te versoen, beteken uit hierdie oogpunt dus om sondes te bedek.—Psalm 65:4, vgl. NW, vers 3.
8 Die Theological Dictionary of the New Testament sê dat koʹfer “altyd ’n ekwivalent”, of ’n ooreenstemming, “aandui”. Daarom het die vorm van die verbondsark se deksel (kap·poʹreth) met die ark self ooreengestem. Goddelike geregtigheid vereis eweneens “lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet” om sondes te versoen, of los te koop (Deuteronomium 19:21). Soms kan geregtigheid egter geskied as ’n ekwivalent aangebied word in die plek van swaar straf. Ter toeligting: Exodus 21:28-32 praat van ’n bees wat ’n mens stoot sodat hy sterf. As die eienaar van die bees se neiging bewus was, maar nie behoorlike voorsorg getref het nie, kon hy gedwing word om met sy eie lewe vir die lewe van die slagoffer te betaal! Maar sê nou die eienaar was net gedeeltelik daarvoor verantwoordelik? Hy sou ’n koʹfer, iets om sy oortreding te bedek, nodig hê. Aangestelde regters kon hom ’n losprys, of boete, as ’n loskoopprys oplê.
9. Hoe illustreer ’n situasie in verband met Israel se eersgeborenes die presiesheid wat ’n loskoopprys vereis?
9 ’n Ander Hebreeuse term wat met “loskoop” verband hou, is pa·dhahʹ, ’n werkwoord wat basies “verlos” beteken. Numeri 3:39-51 illustreer hoe presies die loskoopprys moes wees. Omdat God die eersgeborenes van die Israeliete tydens Pasga 1513 v.G.J. van teregstelling gered het, het hulle aan hom behoort. Hy kon dus vereis het dat elke Israelitiese eersgebore seun hom in die tempel dien. In plaas daarvan het God ’n ‘loskoopprys’ (pidh·joomʹ, selfstandige naamwoord wat van pa·dhahʹ afgelei is) aanvaar, en beveel: “Jy moet vir My . . . die Leviete neem in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel.” Maar die plaasvervanging moes presies wees. Daar is ’n sensus gehou van die stam van Levi: 22 000 mans. Daarna, ’n sensus van alle Israelitiese eersgeborenes: 22 273 mans. Slegs deur ’n “losprys” van vyf sikkels vir elke individu te betaal kon die 273 ekstra eersgeborenes van tempeldiens verlos, of verskoon, word.
’n Ooreenstemmende losprys
10. Waarom kon diereoffers nie die mensdom se sondes voldoende bedek nie?
10 Die voormelde illustreer dat ’n losprys die ekwivalent moet wees van dit wat daardeur vervang, of bedek, word. Die diereoffers wat geloofsmanne soos Abel en ander sedertdien geoffer het, kon nie werklik mense se sondes bedek nie, aangesien mense bo redelose diere verhewe is (Psalm 8:5-9). Paulus kon dus skryf dat ‘die bloed van stiere en bokke onmoontlik die sonde kan wegneem’. Sulke offerandes kon bloot dien as ’n sinnebeeldige, of simboliese, bedekking in afwagting op die losprys wat sou kom.—Hebreërs 10:1-4.
11, 12. (a) Waarom was dit nie nodig dat miljarde mense ’n offerdood sterf om die mensdom se sondigheid te bedek nie? (b) Wie alleen kon as “’n ooreenstemmende losprys” dien, en wat is die doel van sy dood?
11 Die losprys wat so afgebeeld is, moes die presiese ekwivalent van Adam wees, aangesien die doodstraf wat God Adam met reg opgelê het tot die veroordeling van die menseras gelei het. “Hulle almal [sterwe] in Adam”, sê 1 Korinthiërs 15:22. Dit was dus nie nodig dat miljarde mense ’n offerdood sterf om met elke individu van Adam se nageslag ooreen te stem nie. ‘Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld ingekom en deur die sonde die dood’ (Romeine 5:12). En “aangesien die dood deur ’n mens is”, kon verlossing van die mensdom ook “deur ’n mens” kom.—1 Korinthiërs 15:21.
12 Die mens wat die losprys moes wees, moes ’n volmaakte mens van vlees en bloed wees—die presiese gelyke van Adam (Romeine 5:14). ’n Geesskepsel of ’n “godmens” sou nie die skaal van geregtigheid balanseer nie. Slegs ’n volmaakte mens, iemand wat nie onder die Adamiese doodvonnis was nie, kon “’n ooreenstemmende losprys”, een wat volkome met Adam ooreenstem, aanbied (1 Timotheüs 2:6, NW).a Deur sy lewe vrywillig op te offer, kon hierdie “laaste Adam” die loon vir die sonde van die “eerste mens, Adam” betaal.—1 Korinthiërs 15:45; Romeine 6:23.
13, 14. (a) Vind Adam en Eva baat by die losprys? Verduidelik. (b) Hoe strek die losprys Adam se nakomelinge tot voordeel? Illustreer.
13 Nòg Adam, nòg Eva vind egter by die losprys baat. Die Mosaïese Wet het hierdie beginsel bevat: “Julle mag geen losgeld aanneem vir die lewe van ’n moordenaar wat skuldig is om te sterwe nie” (Numeri 35:31). Adam is nie verlei nie; dus was sy sonde moedswillig, opsetlik (1 Timotheüs 2:14). Dit het neergekom op die moord van sy nakomelinge, want hulle het nou sy onvolmaaktheid oorgeërf en is sodoende ter dood veroordeel. Dit is duidelik dat Adam dit verdien het om te sterf, want as ’n volmaakte man het hy moedswillig gekies om ongehoorsaam aan God se wet te wees. Dit sou strydig met Jehovah se regverdige beginsels wees as hy die losprys ten behoewe van Adam aangewend het. Maar die feit dat die loon vir Adam se sonde betaal is, maak wel voorsiening daarvoor dat die doodvonnis oor Adam se nakomelinge tot niet verklaar word! (Romeine 5:16). Die vernietigende krag van sonde word wetlik by sy bron afgesny. Die losprysbetaler ‘smaak die dood vir elkeen’ en dra die gevolge van sonde vir al Adam se kinders.—Hebreërs 2:9; 2 Korinthiërs 5:21; 1 Petrus 2:24.
14 Ter toeligting: Stel jou ’n groot fabriek voor met honderde werknemers. ’n Oneerlike fabrieksbestuurder maak die onderneming bankrot; die fabriek maak toe. Honderde is nou werkloos en kan nie hulle rekeninge betaal nie. Hulle huweliksmaats, kinders en, ja, skuldeisers ly almal vanweë daardie een man se korrupsie! Dan kom ’n ryk weldoener en betaal die maatskappy se skuld af en maak die fabriek weer oop. Die uitdelging van daardie een skuld bring op sy beurt volkome verligting aan die talle werknemers, hulle gesinne en die skuldeisers. Maar deel die oorspronklike bestuurder in die nuwe voorspoed? Nee, hy is in die tronk en het dus sy werk permanent verloor! Die uitdelging van Adam se een skuld bevoordeel eweneens miljoene van sy nakomelinge—maar nie Adam nie.
Wie voorsien die losprys?
15. Wie kon ’n losprys vir die mensdom voorsien, en waarom?
15 Die psalmis se weeklaag was: “Niemand kan ooit ’n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend).” The New English Bible sê dat die losprys “vir ewig bo sy vermoë [was] om te betaal” (Psalm 49:8, 9). Wie sou dan die losprys voorsien? Net Jehovah kon die volmaakte “Lam . . . wat die sonde van die wêreld wegneem”, voorsien (Johannes 1:29). God het nie die een of ander engel gestuur om die mensdom te red nie. Hy het die hoogste offer gebring deur sy eniggebore Seun, “die een in wie hy hom besonder verlustig het” te stuur.—Spreuke 8:30, NW; Johannes 3:16.
16. (a) Hoe is God se Seun as ’n volmaakte mens gebore? (b) Wat kon Jesus wettig genoem word?
16 Deur sy gewillige deelname aan die goddelike reëling het God se Seun “Homself ontledig” van sy hemelse natuur (Filippense 2:7). Jehovah het die lewenskrag en die persoonlikheidspatroon van sy eersgebore hemelse Seun na die baarmoeder van ’n Joodse maagd genaamd Maria oorgedra. Heilige gees het toe ‘oor haar gekom’, wat ’n waarborg was dat die kind wat in haar baarmoeder gegroei het heilig sou wees, volkome vry van sonde (Lukas 1:35; 1 Petrus 2:22). As mens sou hy Jesus genoem word. Maar hy kon wettig ‘die tweede Adam’ genoem word, want hy het volmaak met Adam ooreengestem (1 Korinthiërs 15:45, 47). Jesus kon homself dus offer as “’n lam sonder gebrek en vlekkeloos”, ’n losprys vir die sondige mensdom.—1 Petrus 1:18, 19.
17. (a) Aan wie is die losprys betaal, en waarom? (b) Waarom word die omruiling gedoen, aangesien God in elk geval die losprys voorsien en ontvang?
17 Aan wie sou daardie losprys egter betaal word? Die Christendom se teoloë het eeue lank geredeneer dat dit aan Satan die Duiwel betaal is. Feit is dat die mensdom onder sonde “verkoop” is en dus onder die beheer van Satan gekom het (Romeine 7:14; 1 Johannes 5:19). Dit is nogtans Jehovah, nie Satan nie, wat ‘straf eis’ vir oortreding (1 Thessalonicense 4:6, NW). Psalm 49:8 sê dus uitdruklik dat die losprys “aan God” betaal moet word. Jehovah stel die losprys beskikbaar, maar nadat die Lam van God geoffer is, moet die waarde van sy losprys aan God betaal word. (Vergelyk Genesis 22:7, 8, 11-13; Hebreërs 11:17.) Dit verlaag nie die losprys tot ’n nuttelose, meganiese omruiling, asof geld uit een sak geneem en in ’n ander gesit is nie. Die losprys behels nie soseer ’n fisiese omruiling as ’n wetlike transaksie nie. Deur daarop aan te dring dat ’n losprys betaal word—selfs ten koste van homself—het Jehovah bevestig dat sy regverdige beginsels nie verander nie.—Jakobus 1:17.
“Dit is volbring!”
18, 19. Waarom moes Jesus ly?
18 In die lente van 33 G.J. was dit tyd dat die losprys betaal word. Jesus Christus is op valse aanklagte in hegtenis geneem, skuldig bevind en aan ’n teregstellingspaal genael. Hy het “met sterk geroep en trane” ’n smeekbede tot God gedoen as gevolg van die geweldige pyn en die vernedering wat hy moes verduur (Hebreërs 5:7). Was dit nodig dat Jesus so moes ly? Ja, want deur tot die einde toe “lojaal, skuldeloos, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” te bly, het Jesus die geskil ten opsigte van die onkreukbaarheid van God se knegte met dramatiese finaliteit besleg.—Hebreërs 7:26, NW.
19 Christus se lyding het ook gehelp om hom te vervolmaak vir sy rol as Hoëpriester vir die mensdom. In dié bevoegdheid sal hy nie ’n kil, afsydige burokraat wees nie. “Want deurdat hy self gely het toe hy op die proef gestel is, kan hy diegene wat op die proef gestel word, te hulp snel” (Hebreërs 2:10, 18, NW; 4:15, NW). Met sy laaste asem kon Jesus triomfantlik uitroep: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30). Hy het nie net sy eie onkreukbaarheid bewys nie, maar hy het ook daarin geslaag om die grondslag te lê vir die redding van die mensdom—en nog belangriker, die verdediging van Jehovah se soewereiniteit!
20, 21. (a) Waarom is Christus opgewek? (b) Waarom is Jesus Christus “lewend gemaak in die gees”?
20 Op watter manier sou die losprys egter vir die sondige mensdom aangewend word? Wanneer? Hoe? Hierdie kwessies is nie aan die toeval oorgelaat nie. Op die derde dag na Christus se dood het Jehovah hom opgewek (Handelinge 3:15; 10:40). Deur hierdie betekenisvolle daad, ’n feit wat deur honderde ooggetuies bevestig is, het Jehovah nie net sy Seun se getroue diens beloon nie maar hom die geleentheid gegee om sy verlossingswerk te voltooi.—Romeine 1:4; 1 Korinthiërs 15:3-8.
21 Jesus is “lewend gemaak in die gees”, deurdat sy aardse oorskot op die een of ander onvermelde manier weggedoen is (1 Petrus 3:18, NW; Psalm 16:10; Handelinge 2:27). As geesskepsel kon die verrese Jesus nou triomfantlik na die hemel terugkeer. Watter uitbundige gejuig moes daar tog nie by daardie geleentheid in die hemel gewees het nie! (Vergelyk Job 38:7.) Jesus het nie teruggekeer bloot om sy verwelkoming te geniet nie. Hy het gekom om ander werk te doen, wat onder andere behels het dat hy dit vir die hele menseras moontlik maak om by sy losprys baat te vind. (Vergelyk Johannes 5:17, 20, 21.) Die volgende artikel sal bespreek presies hoe hy dit gedoen het en wat dit vir die mensdom beteken.
[Voetnoot]
a Die Griekse woord wat hier gebruik word, an·tiʹlu·tron, verskyn nêrens anders in die Bybel nie. Dit is verwant aan die woord wat Jesus in Markus 10:45 vir losprys (luʹtron) gebruik het. Maar The New International Dictionary of New Testament Theology wys daarop dat an·tiʹlu·tron ‘die gedagte van omruiling beklemtoon’. Die New World Translation gee dit gepas weer met “ooreenstemmende losprys”.
Hersieningsvrae
◻ Watter geskille was selfs van groter belang as die redding van die mensdom?
◻ Wat beteken dit om sondaars “los te koop”?
◻ Met wie moes Jesus ooreenstem, en waarom?
◻ Wie voorsien die losprys, en aan wie word dit betaal?
◻ Waarom was dit nodig dat Christus as ’n gees opgewek word?
[Prent op bladsy 13]
Diereoffers was nie voldoende om mense se sondes te bedek nie; hulle het die groter offerande wat sou kom, afgebeeld