Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 1/1 bl. 10-15
  • Dien Jehovah met vreugde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dien Jehovah met vreugde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geleenthede vir vreugde
  • Vreugde in Jehovah se werk
  • Oorvloedige vreugde
  • Volhard met vreugde
  • Vreugde wat versterk
  • Vreugde — ’n Eienskap wat ons van God kry
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Dien Jehovah met vreugde van hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Wees blymoedig in ’n wêreld vol moeilikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Dien Jehovah met ’n vrolike hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 1/1 bl. 10-15

Dien Jehovah met vreugde

“Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.”—PSALM 100:2.

1, 2. (a) Hoe het rassisme in Berlyn, Duitsland, na vore gekom, maar hoe het die stryd om ’n “Duisendjarige Ryk” gevaar? (b) Watter kontras met 1936 kon daar in Julie 1990 in die Olympia-stadion gesien word, en waarop is die vreugde gegrond van die internasionale groep wat daar byeengekom het?

DIE toneel is die Olympia-stadion, Berlyn. Vier-en-vyftig jaar vroeër het ’n opspraakwekkende gebeurtenis in hierdie pragtige stadion plaasgevind toe Nazi-diktator Adolf Hitler na bewering ’n swart Amerikaanse naelloper wat vier goue medaljes gewen het minagtend behandel het. Dit was voorwaar ’n slag vir Hitler se rassistiese aanspraak op “Ariese meerderwaardigheid”!a Maar nou, op 26 Julie 1990, is swartes, wittes en geles—’n verenigde volk uit 64 nasies, altesaam 44 532—hier vergader vir die “Suiwer Taal”-Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies. Watter vreugde was daar tog op daardie Donderdagmiddag! Na die dooptoespraak het 1 018 kandidate hard “Ja!” en weer “Ja!” uitgeroep om hulle toewyding aan Jehovah God, om sy wil te doen, te bevestig.

2 Dit duur 19 minute vir hierdie nuwe Getuies om uit die stadion op pad na die doopbad te loop. En gedurende daardie hele tyd weerklink dawerende applous deur die enorme stadion. Wenners tydens die Olimpiese Spele het nooit applous gehoor soos dié wat hierdie honderde, wat uit talle nasies kom en die geloof betoon wat die wêreld oorwin, verwelkom nie (1 Johannes 5:3, 4). Hulle vreugde is vas gegrond op die vertroue dat God se Koninkryksheerskappy deur Christus beslis duisend jaar van wonderlike seëninge vir die mensdom gaan meebring.—Hebreërs 6:17, 18; Openbaring 20:6; 21:4, 5.

3. Watter waarheid is deur die vertroue van die byeenkomsgangers beklemtoon, en hoe?

3 Daar is geen rasse- of nasionalistiese haat hier nie, want almal spreek die suiwer taal van God se Woord, en sodoende word die waarheid van Petrus se woorde bevestig: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.”—Handelinge 10:34, 35; Sefanja 3:9, NW.

4. Onder watter toestande het die meeste van die byeenkomsgangers gelowiges geword, en hoe is hulle gebede beantwoord?

4 Baie van die byeenkomsgangers in Berlyn het gelowiges geword gedurende lang jare van verdrukking tydens die Nazi-era (1933-45) sowel as die sosialistiese era wat daarop gevolg het in Oos-Duitsland, waar die verbod op Jehovah se Getuies kort gelede, op 14 Maart 1990, volgens wet opgehef is. Gevolglik het baie van hulle “die woord in baie verdrukking ontvang . . . met die blydskap van die Heilige Gees” (1 Thessalonicense 1:6). Hulle het nou groter vryheid om Jehovah te dien, en hulle vreugde ken geen perke nie.—Vergelyk Jesaja 51:11.

Geleenthede vir vreugde

5. Hoe het Israel hulle verlossing deur Jehovah by die Rooi See gevier?

5 Die feit dat die beperkings op ons broers in Oos-Europa, en onlangs in dele van Afrika en Asië, opgehef is, herinner ons aan verlossings deur Jehovah in vroeër tye. Ons onthou Jehovah se magtige daad by die Rooi See, en hoe Israel se danklied ’n klimaks bereik het met die woorde: “o HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?” (Exodus 15:11). Verheug ons ons nie steeds in die wonderlike dade wat Jehovah ten behoewe van sy volk doen nie? Beslis!

6. Wat kan ons leer uit Israel se gejubel in 537 v.G.J.?

6 Daar was groot vreugde in 537 v.G.J. toe Israel ná gevangenskap in Babilon in sy land herstel is. Jehovah se volk kon nou, soos Jesaja voorspel het, verklaar: “Ja, God is my heil, ek sal vertrou en nie vrees nie; want die HERE HERE is my krag en psalm, en Hy het my tot heil geword.” Watter vreugde tog! En hoe sou die nasie daardie vreugde uitspreek? Jesaja vervolg: “En julle sal in dié dag sê: Dank die HERE, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is! Psalmsing tot eer van die HERE, want Hy het heerlike dinge gedoen.” Hulle kon nou “jubel” en sy magtige dade ‘bekend maak op die hele aarde’, net soos Jehovah se bevryde knegte vandag doen.—Jesaja 12:1-6.

Vreugde in Jehovah se werk

7. Watter bevrydings het in 1919 gejubel veroorsaak?

7 In hedendaagse tye het Jehovah se knegte begin jubel toe hy hulle in 1919 wonderdadig bevry het. Op 26 Maart van daardie jaar is lede van die Bestuursliggaam uit die Amerikaanse tronk vrygelaat waar hulle nege maande lank weens valse aanklagte van sedisie aangehou is. Hoe vreugdevol was die verwelkoming tog wat by die Brooklyn-Bethel op hulle gewag het! Daarbenewens kon al die lede van die gesalfde oorblyfsel nou verheug wees omdat hulle geestelik bevry is van Babilon die Grote, die godsdiensstelsel waarin Satan die hele wêreld vasgevang het.—Openbaring 17:3-6; 18:2-5.

8. Watter verassende vrystelling is in 1919 by die byeenkoms by Cedar Point aangekondig, en watter oproep tot aksie was daar?

8 Die geskiedkundige gebeure van 1919 is bekroon deur die byeenkoms van God se volk wat van 1-8 September in Cedar Point, Ohio, VSA, gehou is. Op die vyfde dag van daardie byeenkoms, “Medewerkersdag”, het die president van die Wagtoringgenootskap, J. F. Rutherford, ’n toespraak met die titel “Kondig die Koninkryk aan” voor ’n gehoor van 6 000 mense gelewer. Nadat hy Openbaring 15:2 en Jesaja 52:7 bespreek het, het hy vir sy toehoorders gesê dat ’n nuwe tydskrif, The Golden Age (nou bekend as die Ontwaak!), tweeweekliks gepubliseer sal word, spesifiek om in die veld te versprei. Ten slotte het hy gesê: “Diegene wat heeltemal toegewy is aan die Heer; diegene wat onbevrees is, wie se harte rein is, wat God en die Heer Jesus met hulle hele verstand, krag, siel en wese liefhet, sal verheug wees om, soos daar geleentheid daarvoor is, aan hierdie werk deel te neem. Vra die Heer om sy leiding sodat hy van jou ’n ware, getroue en bekwame ambassadeur kan maak. Gaan dan voort om hom met ’n vreugdelied in jou hart te dien.”

9, 10. Hoe het Jehovah die publikasie van Die Wagtoring en die Ontwaak! geseën?

9 Daardie “vreugdelied” is dwarsdeur die aarde gehoor! Baie van ons lesers het ongetwyfeld daaraan deel gehad om die verspreiding van die Ontwaak! te laat styg tot die huidige syfer van 12 980 000 eksemplare van elke nommer in 64 tale. Die Ontwaak! is Die Wagtoring se medetydskrif en is ’n kragtige werktuig om belangstellendes na die waarheid te lei. ’n Pioniersuster in ’n Oosterse land wat ’n gereelde tydskrifroete het, was verbaas toe sy sien dat die huisbewoner, elke keer as sy die jongste tydskrifte aflewer, die ekwivalent van R18 tot die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies bydra—werklik ’n blyk van waardering vir die Koninkrykswerk!

10 Die Wagtoring gaan nou sy 112de jaar van publikasie binne en het ’n oplaag van 15 290 000 in 111 tale, waarvan 59 wêreldwyd gelyktydig met dieselfde inhoud verskyn. Die gesalfde oorblyfsel gaan soos ’n getroue bestuurder voort om waarderende lesers “hulle rantsoen [van geestelike voedsel] op tyd te gee” (Lukas 12:42). Gedurende 1990 het Jehovah se Getuies gerapporteer dat hulle 2 968 309 nuwe en hernieude intekeninge op die twee tydskrifte verkry het, ’n vermeerdering van 22,7 persent vergeleke met 1989.

Oorvloedige vreugde

11. (a) Watter beroep is in 1922 by Cedar Point op God se volk gedoen? (b) Hoe is die gejubel uitgebrei?

11 Daar was ook oorvloedige vreugde toe God se volk, waarvan daar destyds 10 000 was, in September 1922 vir ’n tweede byeenkoms in Cedar Point vergader het, waar 361 gedoop is. In sy toespraak “Die koninkryk van die hemele het naby gekom”, wat op Mattheüs 4:17 gebaseer was, het broer Rutherford opgebou tot die besielende klimaks: “Die wêreld moet weet dat Jehovah God is en dat Jesus Christus die Koning van die konings en die Here van die here is. Dit is die dag der dae. Kyk, die Koning heers! Julle is sy reklame-agente. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.” Diegene wat tydens daardie byeenkoms saam gejubel het, het toegeneem totdat daar in 1989 wêreldwyd meer as 6 600 000 by 1 210 byeenkomste van Jehovah se Getuies vergader het, waar 123 688 gedoop is.

12. (a) In watter onskatbare vreugde kan God se hedendaagse volk deel? (b) Hoe balanseer ons ons diens aan Jehovah met gehoorsaamheid aan “die hoër owerhede”?

12 Jehovah se Getuies stel hulle vryheid hoog op prys. Hulle verheug hulle bowenal in die hedendaagse vervulling van Jesus se woorde: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Wat ’n vreugde is dit tog om van die verborgenhede en bygelowe van die valse godsdiens bevry te word! Watter onskatbare vreugde om Jehovah en sy Seun te ken en hulle medewerkers te word, met die vooruitsig op die ewige lewe! (Johannes 8:32; 17:3; 1 Korinthiërs 3:9-11). God se knegte waardeer dit ook wanneer die “hoër owerhede” van hierdie wêreld waaronder hulle lewe hulle vryheid erken om die wonderlike hoop van Jehovah se Koninkryk onder Christus te verkondig. Hulle betaal gewillig “aan die keiser wat die keiser toekom”, terwyl hulle terselfdertyd “aan God [betaal] wat God toekom”.—Romeine 13:1-7, NW; Lukas 20:25.

13. Hoe het Jehovah se Getuies hulle vreugde oor verlossing van verdrukking betoon?

13 As menslike owerhede egter hierdie verpligting teenoor God probeer beperk, antwoord Jehovah se Getuies soos die apostels geantwoord het: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” Nadat die heersers die apostels met daardie geleentheid vrygelaat het, het hulle ‘met blydskap weggegaan’. Hoe het hulle daardie vreugde betoon? “Hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is” (Handelinge 5:27-32, 41, 42). Hedendaagse Getuies van Jehovah is eweneens bly wanneer hulle groter vryheid gegun word om aan hulle bediening deel te neem. In baie lande waar Jehovah dit moontlik gemaak het, lewer hulle blyk van hulle groot vreugde deur ’n kragtige getuienis vir Jehovah se naam en die inkomende Koninkryk deur Jesus Christus te lewer.—Vergelyk Handelinge 20:20, 21, 24; 23:11; 28:16, 23.

Volhard met vreugde

14. Hoe oortref hierdie vreugde, wat ’n vrug van die gees is, die vreugde wat deur ’n woordeboek gedefinieer word?

14 Wat is hierdie groot vreugde wat deur ware Christene ondervind word? Dit is baie dieper en blywender as die kortstondige vreugde van ’n wenner by die Olimpiese Spele. Dit is ’n vrug van God se heilige gees, wat God gee aan diegene wat “Hom gehoorsaam is” (Handelinge 5:32). Die woordeboek Webster’s definieer vreugde as ‘dieper gesetel as genot, stralender of duideliker sigbaar as blydskap’. Vir die Christen het vreugde selfs ’n dieper betekenis. Dit is ’n kragtige, versterkende eienskap omdat dit op ons geloof gebaseer is. “Die vreugde van Jehovah is julle vesting” (Nehemia 8:10, NW). Die vreugde van Jehovah, wat deur God se volk aangekweek word, oortref die oppervlakkige opwinding wat mense van vleeslike, wêreldse genot kry by verre.—Galasiërs 5:19-23.

15. (a) Hoe het getroue Christene ondervind dat volharding gekoppel is aan vreugde? (b) Haal ’n paar tekste aan wat bemoedigende versekering gee om vreugde te behou.

15 Dink ’n bietjie aan ons broers in die Oekraine. Toe die ‘hoër owerheid’ duisende van hulle in die vroeë vyftigerjare na Siberië verban het, het hulle baie swaar gekry. Toe die owerheid hulle later amnestie verleen het, was hulle dankbaar, maar nie almal het teruggekeer na waar hulle vandaan gekom het nie. Waarom nie? Hulle werk in die Ooste het hulle aan Jakobus 1:2-4 herinner: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.” Hulle wou aanhou om in daardie vreugdevolle oeswerk te volhard, en watter vreugde het dit tog by onlangse byeenkomste van Jehovah se Getuies in Pole verskaf om Getuies van so ver uit die Ooste as Pasifiese kusgemeenskappe te verwelkom. Volharding en vreugde gaan hand aan hand om hierdie vrug voort te bring. Ja, almal wat vreugdevol in Jehovah se diens volhard, kan sê: “Nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil. Die HERE Here is my sterkte.”—Habakuk 3:18, 19; Mattheüs 5:11, 12.

16. Hoe moet die goeie voorbeeld van Jeremia en Job ons in ons velddiens bemoedig?

16 Maar hoe kan ons ons vreugde behou wanneer ons onder hardkoppige teenstanders getuig? Onthou dat God se profete in soortgelyke omstandighede ’n vreugdevolle beskouing behou het. Toe Jeremia vervolg is, het hy gesê: “Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want u Naam is oor my uitgeroep, HERE, God van die leërskare!” (Jeremia 15:16). Wat ’n voorreg is dit tog om Jehovah se naam te dra en vir daardie naam te getuig! Ons ywerige persoonlike studie en volle deelname aan Christelike vergaderinge bou ons op sodat ons aanhou om ons in die waarheid te verheug. Ons vreugde sal gesien kan word in ons gedrag wanneer ons velddiens doen en in ons Koninkryksglimlag. Selfs terwyl Job bittere beproewinge deurgemaak het, kon hy van sy teenstanders sê: “Ek het hulle altyd toegelag—hulle het dit gewoonlik nie geglo nie—en die lig van my aangesig het hulle nie neergewerp nie” (Job 29:24, NW). Soos getroue Job hoef ons nie mismoedig te raak wanneer teenstanders ons bespot nie. Glimlag! Ons gesig kan ons vreugde weerspieël en horende ore win.

17. Watter vrug kan volharding met vreugde dra?

17 Terwyl ons gebied keer op keer dek, kan ons volharding en vreugde regskapenes beïndruk en hulle aanspoor om ons wonderlike hoop te ondersoek. Wat ’n vreugde is dit tog om gereelde Bybelstudies met hulle te hou! En watter vreugde ervaar ons tog wanneer hulle die kosbare waarhede van God se Woord in hulle hart aanneem en ons uiteindelik in Jehovah se diens vergesel! Dan kan ons sê, soos die apostel Paulus vir nuwe gelowiges in sy dag gesê het: “Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms? Want julle is ons eer en blydskap” (1 Thessalonicense 2:19, 20). Dit verskaf beslis vreugde wat tevredenheid meebring wanneer ons nuwelinge na die waarheid van God se Woord lei en hulle help om toegewyde, gedoopte Getuies te word.

Vreugde wat versterk

18. Wat sal ons help om verskeie hedendaagse beproewinge te verduur?

18 Daar is in ons daaglikse lewe baie situasies wat volharding vereis. Fisiese siektes, depressie en ekonomiese ontbering is maar net ’n paar van hulle. Hoe kan die Christen sy vreugde behou sodat hy hierdie beproewinge kan verduur? Dit kan gedoen word deur jou na God se Woord te wend vir vertroosting en leiding. In beproewende tyd kan dit ook baie verkwikkend wees om die psalms te lees of na voorlesings daarvan te luister. En let op Dawid se wyse raad: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Psalm 55:23). Jehovah is waarlik die “Hoorder van die gebed”.—Psalm 65:3.

19. Watter vertroue kan ons, soos Dawid en Paulus, hê?

19 Omdat ons as mense swak is, staan Jehovah se organisasie altyd gereed om ons, deur middel van sy publikasies en gemeentelike ouere manne, met ons probleme te help. Dawid maan hartlik: “Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hý sal dit uitvoer.” Hy kon ook sê: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” In ons omgang met die Christengemeente sal ons besef “die hulp van die regverdiges is van die HERE, [hy is] hulle toevlug in tyd van benoudheid” (Psalm 37:5, 25, 39). Laat ons altyd Paulus se raad volg: “Daarom gee ons nie moed op nie, . . . omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”—2 Korinthiërs 4:16-18.

20. Wat sien ons met die oog van die geloof, en wat laat dit ons doen?

20 Ons kan met ons oë van die geloof sien dat Jehovah se nuwe stelsel ophande is. Watter weergalose vreugdes en seëninge sal tog daar wees! (Psalm 37:34; 72:1, 7; 145:16). Laat ons, ter voorbereiding vir daardie wonderlike tyd, ag gee op die woorde van Psalm 100:2: “Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.”

[Voetnoot]

a Wat “Ariese meerderwaardigheid” betref, het The New York Times van 17 Februarie 1940 die woorde van ’n Katolieke bestuurskomiteelid van die Universiteit van Georgetown aangehaal wat gesê het dat “hy Adolf Hitler hoor sê het dat die Heilige Romeinse Ryk, wat ’n Germaanse ryk was, herstel moes word”. Maar geskiedskrywer William L. Shirer het die uitslag beskryf: “Hitler het gespog dat die Derde Ryk wat op 30 Januarie 1933 gebore is duisend jaar sou voortduur, en die Nazi’s het dikwels daarna verwys as die ‘Duisendjarige Ryk’. Dit het twaalf jaar en vier maande bestaan.”

Ter hersiening:

◻ Watter vreugdevolle oorwinning oor rassisme kan vandag gesien word?

◻ Wat het God se eertydse volk laat sing en jubel?

◻ Hoe het ware vreugde in hedendaagse tye vermeerder?

◻ Hoe gaan volharding en vreugde hand aan hand?

◻ Hoe kan ons ons vreugde behou?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel