Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 9/15 bl. 26-27
  • “Hou aan om te toets of julle in die geloof is”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Hou aan om te toets of julle in die geloof is”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bedienaars van die God van vertroosting
  • Volbring die heiligmaking en wees vrygewig
  • Paulus—’n simpatieke apostel
  • Hou aan om te toets!
  • Bybelboek nommer 47—2 Korinthiërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Leer ken die vroeë Christene
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Oorsig van 2 Korintiërs
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
  • Bybelboek nommer 46—1 Korinthiërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 9/15 bl. 26-27

“Hou aan om te toets of julle in die geloof is”

Glanspunte in Tweede Korinthiërs

DIE apostel Paulus was besorg oor die Christene in Korinthe. Hoe sou hulle die raad beskou wat hy in sy eerste brief aan hulle gegee het? Hy was in Macedonië toe Titus daar aangekom het met die gunstige verslag dat die brief die Korinthiërs tot bekering bedroef het. Hoe verheug moes Paulus tog gewees het!—2 Korinthiërs 7:8-13.

Paulus het Tweede Korinthiërs waarskynlik ná die middel van 55 G.J. in Macedonië geskryf. In hierdie brief het hy stappe bespreek wat gedoen is om die gemeente rein te hou, hulle begeerte aangewakker vir bydraes aan behoeftige gelowiges in Judea en sy apostelskap verdedig. Baie van die dinge wat Paulus gesê het, kan ons help om ‘aan te hou toets of ons in die geloof is’ (13:5, NW). Wat kan ons dus uit hierdie brief leer?

Bedienaars van die God van vertroosting

Die apostel het getoon dat ons ander moet troos en vir hulle moet bid soos God ons in al ons verdrukking troos (1:1–2:11). Hoewel Paulus en sy metgeselle onder geweldige druk verkeer het, het God hulle verlos. Maar die Korinthiërs kon help deur ten behoewe van hulle te bid, net soos ons vir ander moet bid wat die ware geloof aanneem. Maar wat van die onsedelike man wat in 1 Korinthiërs hoofstuk 5 gemeld word? Hy was blykbaar uitgesit maar het tot inkeer gekom. Hoe vertroos moes hy tog gewees het toe die Korinthiërs hom vergewe en liefdevol in hulle midde herstel het.

Paulus se woorde kan ons waardering vir die Christelike bediening vergroot en kan ons standpunt ten opsigte van die ware geloof versterk (2:12–6:10, vgl. NAV). Bedienaars van die nuwe verbond is selfs bevoorreg om in ’n “triomftog” te wees waar God aan die spits staan! Paulus en sy medewerkers het dié kosbare bediening gehad weens die barmhartigheid wat aan hulle bewys is. Hedendaagse gesalfdes het soos hulle ’n bediening van die versoening. Maar alle Getuies van Jehovah maak ander ryk deur middel van hulle bediening.

Volbring die heiligmaking en wees vrygewig

Paulus toon aan ons dat Christenbedienaars die heiligmaking in die vrees van Jehovah moet volbring (6:11–7:16). As ons standvastig in die geloof wil bly, moet ons nie in dieselfde juk saam met ongelowiges verenig word nie, en ons moet van vleeslike en geestelike besoedeling gereinig word. Die Korinthiërs het stappe gedoen om die gemeente rein te hou deur die onsedelike kwaaddoener uit te sit, en Paulus was bly dat sy eerste brief hulle bedroef het sodat dit ’n bekering tot redding teweeggebring het.

Ons leer ook dat godvresende bedienaars vir hulle vrygewigheid beloon word (8:1–9:15). Paulus het met betrekking tot die bydraes vir behoeftige “heiliges” die puik voorbeeld van die Macedoniërs gemeld. Hulle was uitermate vrygewig, en hy het gehoop dat die Korinthiërs dieselfde vrygewigheid sou openbaar. Hulle gawes—en ons s’n—moet van ganser harte wees, want “God het ’n blymoedige gewer lief”, en hy maak sy volk ryk tot alle milddadigheid.

Paulus—’n simpatieke apostel

Wanneer ons as bedienaars enigiets in Jehovah se diens verrig, moet ons in hom roem, nie in onsself nie (10:1–12:13). Trouens, dit is slegs met geestelike wapens wat ‘deur God kragtig’ gemaak is dat ons valse redenasies omver kan werp. Die grootpraterige “superfyn apostels” onder die Korinthiërs kon nooit Paulus se volharding as ’n bedienaar van Christus ewenaar nie. Maar sodat hy homself nie te veel verhef nie, het God nie sy “doring in die vlees”—moontlik swak oë of daardie valse apostels—verwyder nie. Paulus sou in elk geval eerder in sy swakhede roem sodat “die krag van Christus” soos ’n tent oor hom kon bly. As ’n man wat standvastig in die geloof gebly het, het hy bewys dat hy nie aan die superfyn apostels ondergeskik is nie. Die Korinthiërs het die bewyse van apostelskap gesien wat Paulus onder hulle gelewer het “met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade”.

As ’n bedienaar en as ’n apostel het Paulus die geestelike belange van medegelowiges op die hart gedra, net soos ons moet doen (12:14–13:13). Hy ‘sou homself baie graag vir hulle siele wou uitgee’. Maar Paulus het gevrees dat as hy in Korinthe aankom, hy party sou vind wat hulle nog nie van die werke van die vlees bekeer het nie. Daarom het hy almal aangeraai om hulself aan te hou toets of hulle in die geloof is en gebid dat hulle “geen kwaad mag doen nie”. Ten slotte het hy hulle aangemoedig om hulle te verheug, om reggehelp en vertroos te word, om eensgesind te wees en in vrede te lewe. Watter puik raad is dit tog ook vir ons!

Hou aan om te toets!

Paulus se tweede brief aan die Korinthiese Christene stel dus verskeie maniere voor waarop ons kan aanhou toets of ons in die geloof is. Sy woorde moet ons gewis aanspoor om ander te troos, net soos God ons in al ons verdrukking troos. Wat die apostel aangaande die Christenbediening gesê het, moet ons aanspoor om dit getrou uit te voer terwyl ons die heiligmaking in die vrees van Jehovah volbring.

As ons Paulus se raad toepas, sal ons dalk heel moontlik vrygewiger en hulpvaardiger wees. Sy woorde moet ons nietemin aanspoor om in Jehovah, nie in onsself nie, te roem. Dit behoort ons liefdevolle besorgdheid teenoor medegelowiges te vergroot. En hierdie en ander gedagtes in Tweede Korinthiërs kan ons beslis help om ‘aan te hou toets of ons in die geloof is’.

[Venster/Prent op bladsy 26]

WEERSPIEËL JEHOVAH SE HEERLIKHEID: Toe Moses van die berg Sinai afgekom het met die tafels van die Getuienis het sy gesig geblink omdat God met hom gepraat het (Exodus 34:29, 30). Paulus het dit gemeld en gesê: “Terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou [“weerspieël”, NW], word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korinthiërs 3:7-18). Eertydse handspieëltjies is van metale soos brons of koper gemaak en is blink gepoleer sodat dit goeie weerkaatsende oppervlaktes gehad het. Soos spieëls weerkaats die gesalfdes God se heerlikheid wat van Jesus Christus op hulle skyn en word hulle progressief ‘verander na die beeld’ van Jehovah se Seun wat Sy heerlikheid weerspieël (2 Korinthiërs 4:6; Efesiërs 5:1). Deur middel van die heilige gees en die Skrif skep God “die nuwe persoonlikheid” in hulle, wat ’n weerspieëling van sy eie eienskappe is (Efesiërs 4:24, NW; Kolossense 3:10, NW). Hetsy ons ’n hemelse of ’n aardse hoop het, ons moet daardie persoonlikheid openbaar en die voorreg koester om God se heerlikheid in ons bediening te weerspieël.

[Venster/Prent op bladsy 27]

“WAPENS VAN DIE GEREGTIGHEID”: Een manier waarop Paulus en sy metgeselle hulle as dienaars van God aanbeveel het, was “deur die wapens van die geregtigheid in die regter- en linkerhand” (2 Korinthiërs 6:3-7). Die regterhand is gebruik om die swaard te hanteer, en die linkerhand om die skild vas te hou. Hoewel Paulus en sy medewerkers van alle kante aangeval is, was hulle vir geestelike oorlogvoering toegerus. Dit is teen valse onderrigters en “superfyn apostels” gevoer sodat die Korinthiese gemeente se aandag nie afgelei sou word van hulle toegewydheid aan Christus nie. Paulus het nie wapens van die sondige vlees—listigheid, bedrieglikheid of slinksheid—gebruik nie (2 Korinthiërs 10:8-10; 11:3, 12-14; 12:11, 16, NW). “Die wapens” wat gebruik word is eerder regverdige, of billike, middele om ware aanbidding te midde van alle aanvalle te bevorder. Jehovah se Getuies gebruik nou sulke “wapens van die geregtigheid” met dieselfde doel.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel