Jehovah se woord kry die oorhand!
“Die woord van Jehovah [het] op magtige wyse bly groei en die oorhand gekry.”—HANDELINGE 19:20, “NW”.
1. Wat sal in hierdie studie van die Bybelboek Die Handelinge van die Apostels gedek word?
JEHOVAH het ’n deur tot bedrywigheid geopen. Paulus, “’n apostel van die heidene”, sou in die besonder aan die spits van daardie werk staan (Romeine 11:13). Trouens, in ons voortgesette studie van Die Handelinge van die Apostels sal ons sien hoe hy op opwindende sendingreise gaan.—Handelinge 16:6–19:41.
2. (a) Hoe het die apostel Paulus van omstreeks 50 G.J. tot 56 G.J. as ’n goddelik geïnspireerde skrywer gedien? (b) Wat het gebeur terwyl God Paulus se bediening en dié van ander geseën het?
2 Paulus was ook ’n goddelik geïnspireerde skrywer. Van omstreeks 50 G.J. tot 56 G.J. het hy 1 en 2 Thessalonicense in Korinthe, Galasiërs in daardie stad of in Siriese Antiochië, 1 Korinthiërs in Efese, 2 Korinthiërs in Macedonië en Romeine in Korinthe geskryf. En “die woord van Jehovah het op magtige wyse bly groei en die oorhand gekry” terwyl God Paulus se bediening en dié van ander geseën het.—Handelinge 19:20, NW.
Van Asië tot Europa
3. Hoe het Paulus en sy metgeselle ’n goeie voorbeeld gestel wat leiding deur die heilige gees betref?
3 Paulus en sy metgeselle het ’n goeie voorbeeld gestel wat die aanvaarding van leiding deur die heilige gees betref (16:6-10). Die gees het hulle, miskien deur middel van hoorbare openbarings, drome of visioene, verhinder om in die distrik Asië en die provinsie Bithinië te preek, wat later met die goeie nuus bereik is (Handelinge 18:18-21; 1 Petrus 1:1, 2). Waarom het die gees hulle verhinder om vroeër daarheen te gaan? Arbeiders was min, en die gees het hulle na vrugbaarder gebiede in Europa gelei. Vandag is dit ook die geval. As die toegang tot een gebied versper word, preek Jehovah se Getuies elders, met die versekering dat God se gees hulle na skaapgeaarde mense sal lei.
4. Wat was die reaksie op die gesig wat Paulus gehad het van ’n Macedoniër wat om hulp smeek?
4 Paulus en sy metgeselle het toe Misië, ’n streek in Klein-Asië, as ’n sendingveld “verbygegaan”. In ’n gesig het Paulus egter ’n Macedoniër gesien wat om hulp gesmeek het. Die sendelinge het dus onmiddellik na Macedonië, ’n streek van die Balkanskiereiland, gegaan. Baie Getuies word eweneens deur die heilige gees gelei om nou te dien waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is.
5. (a) Waarom kan daar gesê word dat Jehovah se woord in Filippi die oorhand gekry het? (b) In watter opsig is talle hedendaagse Getuies soos Lidia?
5 Jehovah se woord het in Macedonië die oorhand gekry (16:11-15). Filippi, ’n kolonie waar hoofsaaklik Romeinse burgers gewoon het, het blykbaar min Jode en geen sinagoge gehad nie. Die broers het dus na ’n “bidplek” langs ’n rivier buitekant die stad gegaan. Onder hulle was Lidia, moontlik ’n Joodse proseliet van Thiatire, ’n stad in Klein-Asië wat bekend was vir sy kleurnywerheid. Sy het purper kleurstof of materiaal en klere wat daarmee gekleur is, verkoop. Nadat Lidia en haar huisgesin gedoop is, het sy so opreg gasvryheid betoon dat Lukas geskryf het: “Sy het ons gedwing.” Ons is dankbaar vir sulke susters vandag.
’n Tronkbewaarder word ’n gelowige
6. Hoe het demonaktiwiteit tot die gevangeneming van Paulus en Silas in Filippi gelei?
6 Satan moes woedend gewees het oor geestelike ontwikkeling in Filippi, want demonaktiwiteit aldaar het tot die gevangeneming van Paulus en Silas gelei (16:16-24). Hulle is dae lank gevolg deur ’n slavin met ’n “waarsêende gees” (letterlik, “’n gees van python”). Die demon het moontlik Pythiese Apollo, ’n god wat kwansuis ’n slang genaamd pyʹthon doodgemaak het, verpersoonlik. Die meisie het vir haar eienaars groot wins ingebring deur waarsêery. Sy het dalk vir boere gesê wanneer om te plant, vir jongmeisies wanneer om te trou en vir delwers waar hulle na goud moes soek! Sy het die broers aanhou volg en geskreeu: “Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.” Die demon het haar dit dalk laat sê sodat dit sou lyk asof haar voorspellings goddelik geïnspireer was, maar demone het geen reg om verklarings oor Jehovah en sy voorsiening vir redding te maak nie. Toe Paulus moeg word vir die teistering het hy die demon in Jesus se naam uitgedryf. Omdat hulle onderneming geruïneer was, het die slavin se eienaars Paulus en Silas na die mark gesleep, waar hulle met stokke geslaan is (2 Korinthiërs 11:25). Toe is hulle in die gevangenis gewerp en is hulle voete in die blok vasgemaak. Sulke apparate kon gestel word sodat dit ’n mens se bene uitmekaar trek en baie pyn veroorsaak.
7. Vir wie en hoe was die opsluiting van Paulus en Silas in Filippi ’n seën?
7 Hierdie gevangeneming het tot seëninge vir die tronkbewaarder en sy huisgesin gelei (16:25-40). Omstreeks middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing, omdat hulle seker was dat hy met hulle was (Psalm 42:9). Skielik het ’n aardbewing die deure oopgeslinger en alle boeie losgemaak toe kettings uit balke of mure geruk is. Die tronkbewaarder was bang dat hy met die dood gestraf sou word omdat sy gevangenes ontsnap het. Hy was van plan om selfmoord te pleeg toe Paulus uitgeroep het: “Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier.” Die tronkbewaarder het Paulus en Silas na buite gebring en gevra hoe hy gered kan word. “Glo in die Here Jesus” was die antwoord. Toe hulle die woord van Jehovah hoor, ‘is hy en al sy mense onmiddellik gedoop’. Watter vreugde het dit tog nie verskaf nie!
8. Hoe het Filippi se regters opgetree, en wat kon bereik word as hulle hul fout in die openbaar sou erken?
8 Die daaropvolgende dag het regters opdrag gegee dat Paulus en Silas losgelaat moes word. Maar Paulus het gesê: ‘Hulle het ons onveroordeeld geslaan, ons wat Romeinse burgers is, en ons in die gevangenis gewerp. Wil hulle ons nou in die geheim uitwerp? Laat hulle self kom en ons uitlei.’ As die regters hulle fout in die openbaar erken, sou hulle dalk huiwerig wees om ander Christene te slaan en in die gevangenis te werp. Omdat hulle Romeinse burgers nie uit die land kon sit nie, het die regters gekom en die broers gevra om te gaan, maar hulle het eers gegaan nadat hulle medegelowiges aangemoedig het. Soortgelyke belangstelling beweeg lede van die Bestuursliggaam en ander reisende verteenwoordigers nou om God se volk aardwyd te besoek en aan te moedig.
Jehovah se woord kry die oorhand in Thessalonika en Berea
9. Deur middel van watter metode, wat Jehovah se Getuies steeds gebruik, het Paulus “verklaar en bewys” dat die Messias moes ly en uit die dode moes opstaan?
9 God se woord het vervolgens in Thessalonika, Macedonië se hoofstad en vernaamste seehawe, die oorhand gekry (17:1-9, vgl. NW). Daar het Paulus met Jode geredeneer en “verklaar en bewys” dat die Messias moes ly en uit die dode moes opstaan. (Paulus het dit gedoen deur profesieë te vergelyk met gebeurtenisse wat in vervulling gaan, soos Jehovah se Getuies vandag doen.) Derhalwe het sommige Jode, talle proseliete en ander mense gelowiges geword. Toe party afgunstige Jode ’n volksoploop bewerk maar Paulus en Silas nie kon vind nie, het hulle Jason en ander broers na die stadsowerhede geneem en hulle van sedisie aangekla, ’n valse aanklag wat steeds teen Jehovah se volk ingebring word. Maar die broers is losgelaat nadat hulle “genoegsame waarborg” gegee het.
10. In watter sin het Jode in Berea die Skrifte ‘sorgvuldig ondersoek’?
10 Paulus en Silas het daarna na die stad Berea gegaan (17:10-15, vgl. NW). Daar het die Jode ‘die Skrifte sorgvuldig ondersoek’, soos Jehovah se Getuies mense vandag aanmoedig om te doen. Daardie Bereane het nie aan Paulus getwyfel nie, maar het navorsing gedoen om te bewys dat Jesus die Messias is. Die gevolg? Baie Jode en sommige Grieke (miskien proseliete) het gelowiges geword. Toe Jode van Thessalonika die skare opgesweep het, het die broers Paulus na die kus vergesel, waar ’n paar mense van sy geselskap dalk aan boord van ’n skip gegaan het wat na Piraeus (hedendaagse Piraiévs), die hawestad van Athene, gevaar het.
Jehovah se woord kry die oorhand in Athene
11. (a) Hoe het Paulus in Athene met vrymoedigheid getuig, maar wie het met hom gestry? (b) Wat het sommige geïnsinueer toe hulle Paulus ’n “praatjiesmaker” genoem het?
11 In Athene het Paulus met vrymoedigheid getuig (17:16-21). Vanweë Paulus se woorde oor Jesus en die opstanding het filosowe met hom gestry. Sommige was Epikureërs, wat plesier beklemtoon het. Ander was Stoisyne, wat self-dissipline beklemtoon het. ‘Wat wil hierdie praatjiesmaker tog sê?’ het party gevra. “Praatjiesmaker” (letterlik, “saadpikker”) het geïnsinueer dat Paulus soos ’n voël was wat sade oppik en brokkies kennis uitdeel maar wysheid kortkom. Ander het gesê: “Dit lyk of hy ’n verkondiger is van vreemde gode.” Dit was ’n ernstige aanklag, want Sokrates het sy lewe weens so ’n aanklag verloor. Paulus is kort daarna na die Areopagus (Marsheuwel) geneem, moontlik waar die hoër hof in die opelug naby die Akropolis vergader het.
12. (a) Watter aspekte van goeie openbare redevoering is duidelik in Paulus se toespraak op die Areopagus? (b) Watter punte het Paulus gemeld in verband met God, en wat was die gevolge?
12 Paulus se toespraak op die Areopagus was ’n uitstekende voorbeeld van ’n toespraak met ’n doeltreffende inleiding, logiese ontwikkeling en oortuigende argumente—soos die Teokratiese Bedieningskool van Jehovah se Getuies ons leer (17:22-34). Hy het gesê dat die Atheners meer godsdienstig as ander was. Hulle het selfs ’n altaar “Aan ’n onbekende God” gehad, waarskynlik om te voorkom dat enige godheid oor die hoof gesien word! Paulus het van die Skepper gepraat wat “uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak” het en die “bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het”, soos wanneer die Kanaäniete uitgeroei sou word (Genesis 15:13-21; Daniël 2:21; 7:12). Hierdie God kan gevind word, “want ons is ook sy geslag”, het Paulus gesê. Hy het hier gesinspeel op die skepping van die mens deur Jehovah en het hulle digters Aratos en Kleanthes aangehaal. As God se geslag moet ons nie dink dat die volmaakte Skepper soos ’n afgod is wat deur ’n onvolmaakte mens gemaak is nie. God het eens sulke onkunde oorgesien, maar het mense nou vertel dat hulle hul moet bekeer, want hy het ’n dag bepaal om mense te oordeel deur die Een wat hy aangestel het. Aangesien Paulus “die evangelie van Jesus” verkondig het, het sy gehoor geweet hy bedoel dat Christus daardie Regter sou wees (Handelinge 17:18; Johannes 5:22, 30). Gesprekke oor bekering het die Epikureërs verveel, en Griekse filosowe kon kommentare oor onsterflikheid aanvaar maar nie oor die dood en die opstanding nie. Soos baie mense wat deesdae die goeie nuus veronagsaam, het party blykbaar gesê: “Ons sal u weer hieromtrent hoor.” Maar die regter Dionisius en ander het gelowig geword.
God se woord kry die oorhand in Korinthe
13. Hoe het Paulus hom in die bediening onderhou, en watter hedendaagse parallel vind ons?
13 Paulus het na Korinthe, hoofstad van die provinsie Achaje, gegaan (18:1-11). Daar het hy Aquila en Priscilla gevind, wat daarheen gekom het toe keiser Claudius Jode wat nie Romeinse burgers was nie, beveel het om Rome te verlaat. Paulus het saam met hierdie Christenegpaar tente gemaak om hom in die bediening te onderhou (1 Korinthiërs 16:19; 2 Korinthiërs 11:9). Dit was harde werk om stywe bokhaarvel te sny en aanmekaar te werk. Jehovah se Getuies voorsien insgelyks in hulle materiële behoeftes deur sekulêre werk te doen, maar hulle beroep is die bediening.
14. (a) Wat het Paulus gedoen toe hy in Korinthe aanhoudend deur Jode teëgestaan is? (b) Hoe is Paulus daarvan verseker dat hy in Korinthe moes bly, maar hoe word Jehovah se volk vandag gelei?
14 Korinthe se Jode het aangehou om godslasterlike dinge te spreek terwyl Paulus Jesus se Messiasskap verkondig het. Hy het dus sy klere uitgeskud om te toon dat hy geen verdere verantwoordelikheid teenoor hulle het nie, en het vergaderinge in die huis van Titius Justus, waarskynlik ’n Romein, begin hou. Baie (waaronder die voormalige hoof van die sinagoge Crispus en sy huisgesin) het gedoopte gelowiges geword. As Joodse vyandigheid Paulus miskien laat wonder het of hy in Korinthe moes bly, is twyfel uit die weg geruim toe die Here in ’n gesig vir hom gesê het: ‘Wees nie bevrees nie. Spreek, want Ek is met jou en niemand sal jou kwaad aandoen nie. Ek het baie mense in hierdie stad.’ Paulus het derhalwe aangehou om die woord van God altesaam ’n jaar en ses maande lank daar te verkondig. Hoewel Jehovah se volk nie nou visioene ontvang nie, help gebed sowel as leiding deur die heilige gees hulle om eweneens wyse besluite te neem ten opsigte van Koninkryksbelange.
15. Wat het gebeur toe Paulus voor goewerneur Gallio gebring is?
15 Jode het Paulus na goewerneur Junius Gallio gebring (18:12-17). Hulle het geïnsinueer dat Paulus onwettig proseliete maak—’n valse aanklag wat Griekse geestelikes nou teen Jehovah se Getuies inbring. Gallio was daarvan bewus dat Paulus nie aan skelmstreke skuldig was nie en dat die Jode hulle min geskeel het aan die welsyn van Rome en sy wet, en hy het hulle dus weggejaag. Toe toeskouers Sosthenes, die nuwe hoof van die sinagoge, geslaan het, het Gallio nie ingemeng nie, miskien omdat hy gedink het dat die vermeende opstoker van volksoproer teen Paulus sy verdiende loon gekry het.
16. Waarom was dit aanvaarbaar dat Paulus sy hare skeer as gevolg van ’n gelofte?
16 Paulus het van die Egeïese hawe Kenchreë na Efese, ’n stad in Klein-Asië, geseil (18:18-22). Voor daardie reis “het hy sy hoof geskeer, want hy het ’n gelofte gedoen”. Daar word nie gemeld of Paulus die gelofte gedoen het voordat hy Jesus se volgeling geword het en of dit die begin of einde van die geloftetydperk was nie. Christene is nie onder die Wet nie, maar dit was godgegewe en heilig, en dit was nie ’n sonde om so ’n gelofte te doen nie (Romeine 6:14; 7:6, 12; Galasiërs 5:18). In Efese het Paulus met die Jode geredeneer, en belowe om terug te keer as dit God se wil was. (Daardie belofte is later vervul.) Sy tweede sendingreis het geëindig toe hy na Siriese Antiochië teruggekeer het.
Jehovah se woord kry die oorhand in Efese
17. Watter onderrig het Apollos en ander ten opsigte van doop nodig gehad?
17 Paulus het spoedig met sy derde sendingreis begin (ca. 52-56 G.J.) (18:23–19:7). Intussen het Apollos in Efese onderrig aangaande Jesus gegee, maar hy het net van Johannes se doop as simbool van berou oor sondes teen die Wetsverbond geweet. Priscilla en Aquila ‘het die weg van God noukeuriger vir hom uitgelê’, waarskynlik deur te verduidelik dat om soos Jesus gedoop te word, behels het dat ’n mens onderdompeling ondergaan en die heilige gees op hom uitgegiet word. Na doop met die heilige gees op Pinkster 33 G.J. moes enigiemand wat met Johannes se doop gedoop is weer in Jesus se naam gedoop word (Mattheüs 3:11, 16; Handelinge 2:38). Later is ongeveer 12 Joodse mans wat Johannes se doop ondergaan het in Efese “gedoop in die Naam van die Here Jesus”. Dit is die enigste melding in die Skrif van mense wat herdoop is. Toe Paulus hulle die hande opgelê het, het hulle die heilige gees en twee wonderdadige tekens ontvang dat hulle vir hemelse lewe aanvaar is—hulle het in tale gespreek en geprofeteer.
18. Waar het Paulus getuig terwyl hy in Efese was, en wat was die gevolge?
18 Paulus het beslis besig gebly in Efese, ’n stad met ongeveer 300 000 inwoners (19:8-10, vgl. NW). Efese se tempel van die godin Artemis was een van die antieke wêreld se sewe wonders, en sy skouburg het sitplek vir 25 000 gehad. In die sinagoge het Paulus ‘oorredingskrag gebruik’ deur oortuigende argumente aan te bied, maar hy het van hulle weggegaan toe sommige kwaadgespreek het van die Weg, of leefwyse wat op geloof in Christus gegrond was. Paulus het twee jaar lank daagliks in die skool van Tirannus gespreek, en “die woord” het deur die hele distrik Asië versprei.
19. Wat het in Efese gebeur wat veroorsaak het dat ‘Jehovah se woord’ aldaar ‘bly groei en die oorhand gekry het’?
19 God het getoon dat Paulus se werk sy goedkeuring wegdra deur hom in staat te stel om genesings te doen en duiwels uit te dryf (19:11-20, vgl. NW). Maar die sewe seuns van die owerpriester Skeva kon nie ’n duiwel in die naam van Jesus uitdryf nie omdat hulle nie God en Christus verteenwoordig het nie. Hulle is selfs gewond deur die duiwelbesetene! Dit het mense bang gemaak, en “die Naam van die Here Jesus is groot gemaak”. Diegene wat gelowiges geword het, het hulle okkultegebruike laat vaar en in die openbaar hulle boeke verbrand wat blykbaar besweringe en towerspreuke bevat het. Lukas het geskryf: “Aldus het die woord van Jehovah op magtige wyse bly groei en die oorhand gekry.” Vandag help God se knegte ook om mense van demonisme te bevry.—Deuteronomium 18:10-12.
Godsdiensonverdraagsaamheid is tevergeefs
20. Waarom het die silwersmede van Efese ’n oproer aangehits, en hoe is dit beëindig?
20 Jehovah se Getuies het al dikwels woedende skares teëgekom, en dit was ook die geval met Christene in Efese (19:21-41, vgl. NW). Toe al hoe meer mense gelowig geword het, het Demetrius en ander silwersmede geld verloor omdat minder mense hulle silwertempeltjies van Artemis, die vrugbaarheidsgodin met die baie borste, gekoop het. ’n Skare wat deur Demetrius opgesweep is, het Paulus se metgeselle Gajus en Aristarchus na die skouburg geneem, maar die dissipels het Paulus nie toegelaat om in te gaan nie. Selfs sommige kommisarisse van feeste en spele het hom gesmeek om nie die kans te waag nie. Die skare het ongeveer twee uur lank geskreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!” Die stadsklerk (wat die hoof van die munisipale regering was) het uiteindelik gesê dat die ambagsmanne hulle klagtes by ’n regter kon indien, wat die gesag gehad het om regsbeslissings te maak, of hulle saak kon in ’n “wettige vergadering” van burgers beslis word. Anders kon Rome diegene wat hierdie onwettige vergadering gehou het, aankla van oproerigheid. Met hierdie woorde het hy die vergadering ontbind.
21. Op watter manier het God Paulus se werk geseën, en hoe seën hy die werk van Jehovah se Getuies vandag?
21 God het Paulus gehelp om etlike toetse te deurstaan en het sy pogings geseën om mense te help om godsdiensdwalinge te verwerp en die waarheid aan te neem. (Vergelyk Jeremia 1:9, 10.) Hoe dankbaar is ons tog dat ons hemelse Vader ons werk insgelyks seën! Gevolglik ‘groei die woord van Jehovah’ nou soos in die eerste eeu, ‘en kry dit die oorhand’.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Watter voorbeeld het Paulus gestel wat die aanvaarding van leiding deur die heilige gees betref?
◻ Deur watter metode, wat Jehovah se knegte steeds gebruik, het Paulus dinge “verklaar en bewys”?
◻ Watter ooreenkoms is daar tussen reaksies op Paulus se toespraak op die Areopagus en die predikingswerk van Jehovah se Getuies?
◻ Hoe het Paulus hom in die bediening onderhou, en watter hedendaagse parallel het dit?
◻ Hoe het God die werk van Jehovah se Getuies vandag geseën, soos hy Paulus se werk geseën het?
[Prente op bladsy 16, 17]
Jehovah se woord het die oorhand gekry in
1. Filippi
2. en 3. Athene
4. en 6. Efese
5. Rome
[Erkenning]
Foto no. 4: Manley Studios