Wanneer ’n dierbare sterf
“MY MA is in 1981 aan kanker dood. Sy was my pleegma. Dit was vir my en my pleegbroer baie moeilik om haar dood te aanvaar. Ek was 17, en my broer was 11. Ek het my ma baie gemis. Ek is as ’n Katoliek grootgemaak, en omdat ek geleer is dat sy in die hemel is, wou ek my lewe neem om by haar te wees. Sy was my beste vriendin.”—Roberta, 25 jaar oud.
Het jy al ’n soortgelyke ondervinding gehad? Indien wel, dan weet jy hoe pynlik dit is wanneer ’n dierbare sterf. Dit lyk so onregverdig dat die dood die mag het om iemand wat jy liefhet weg te neem. En wanneer dit gebeur, kan dit baie moeilik wees om te aanvaar dat jy nooit weer met jou dierbare sal kan praat, saam met hom sal kan lag of hom sal kan vashou nie. En soos Roberta se woorde toon, word daardie pyn nie verlig as jy vertel word dat jou dierbare in die hemel is nie.
Maar hoe sal jy voel as jy weet dat dit moontlik is om in die nabye toekoms met jou afgestorwe dierbare herenig te word, nee, nie in die hemel nie, maar hier op die aarde onder vreedsame, regverdige toestande? En sê nou jy leer ook dat mense dan die vooruitsig sal hê om volmaakte gesondheid te geniet en dat hulle nooit sal hoef te sterf nie? ‘Dit is beslis net wensdenkery!’ sê jy dalk.
En tog het Jesus Christus in die eerste eeu G.J. onomwonde gesê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Johannes 11:25). Dit was ’n belofte dat die dooies weer sal lewe—voorwaar ’n opwindende vooruitsig!
Maar jy wonder dalk: ‘Is daar goeie rede om so ’n belofte te glo? Hoe kan ek seker wees dat dit nie net wensdenkery is nie? En as daar rede is om dit te glo, wat sal die vervulling van hierdie belofte vir my en my dierbares beteken?’ Die volgende artikel sal hierdie en ander vrae bespreek.