Moses met horings—’n eienaardige kunsvoorstelling
AS JY al ooit in Italië was, het jy heel moontlik Michelangelo se beroemde standbeeld van die sittende Moses gesien wat nou in die Kerk van St. Petrus in Kettings, in Rome, staan. Hoe eienaardig lyk die 16de-eeuse beeldhouwerk tog, want dit beeld Moses uit met horings op sy kop! Trouens, ’n hele paar kunstenaars het Moses met horings uitgebeeld. Hoe so? Is daar enige Bybelse grondslag vir hierdie idee?
Die Latynse Vulgaat-vertaling van die Bybel sê dat Moses se gesig na sy gesprek met God op die berg Sinai “horings” gehad het. (Exodus 34:29, 30, 35; vergelyk Douay Version.) Die Vulgata is algemeen in die Christendom gebruik en het dus die manier beïnvloed waarop tekste verstaan is.
Maar die Hebreeuse woord wat met “horings” vertaal word, het ook die betekenis van ‘strale afgee’ of ‘blink’. (Sien voetnoot in die Douay Version by Exodus 34:29.) Volgens die Theological Wordbook of the Old Testament verwys die woord na “die vorm van ’n horing(s) eerder as die substansie”. En grafies voorgestel, lyk ligstrale nogal na horings.
Dit is te verstane dat Moses se gesig strale afgegee het, want Jehovah se heerlikheid het kort tevore by hom verbygegaan (Exodus 33:22; 34:6, 7). Paulus bevestig dat dit die juiste begrip is en skryf van “die heerlikheid” van Moses se gesig, nie van sy “horings” nie.—2 Korinthiërs 3:7.
’n Juiste begrip van Bybelterminologie lei dus tot ’n dieper kennis van die Bybelverslag. Gevolglik is die horings op Michelangelo se beroemde Moses-beeld bloot ’n eienaardige kunsvoorstelling wat gespruit het uit ’n vertaalfout wat lankal reggestel is.
[Foto-erkenning op bladsy 7]
Based on Short History of Art