Waar klop jy aan om advies?
HET iemand al ooit vir jou vervalste geld gegee? Miskien nie, maar hoe sal jy reageer as iemand jou vertel dat vervalste geld in omloop is? Sal jy aanstoot neem? Natuurlik nie! Jy sal waarskynlik dankbaar wees dat jy gewaarsku is en versigtig wees om nie van jou swaar verdiende, egte geld vir die vervalstes te verruil nie.
Die meeste van ons ontvang van tyd tot tyd advies of waarskuwings. Party waarskuwings is weliswaar nuttiger as ander. Maar al kan ons nie die persoonlike waarde van sekere advies of raad insien nie, gee die feit dat dit aangebied is ons immers nog geen rede om aanstoot te neem nie.
In werklikheid het almal nou en dan hulp en advies nodig. Niemand het ál die antwoorde nie. Weens die ekonomiese en politieke onbestendigheid om ons heen het almal ’n vaste hoop vir die toekoms nodig. In ’n wêreld waar byna die helfte van alle huwelike op egskeiding uitloop, waar tienerswangerskap hoogty vier en waar seksueel oorgedraagde siektes algemeen is, is daar ’n dringende behoefte aan verstandige, praktiese leiding. Ouers het hulp nodig om die beste manier te bepaal om hulle kinders in hierdie wanordelike stelsel van dinge groot te maak. Tienderjariges het hulp nodig met hulle teenstrydige emosies en met druk wat oorweldigend lyk. Almal het hulp nodig om praktiese morele waardes uit te werk in ’n wêreld waar oneerlikheid, onsedelikheid en geweld al hoe meer aanvaar word.
Waar kan sulke hulp gevind word? Die Bybel, God se geïnspireerde Woord, is verreweg die beste bron van raad oor die daaglikse lewe. Die psalmis van die ou tyd het geskrywe: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Psalm 119:105). Diegene wat God se Woord lees en toepas, vermy die meeste van die slaggate wat vandag bestaan. Dit is een rede waarom Jehovah se Getuies elke jaar honderdmiljoene ure daaraan bestee om hulle bure te besoek en die Bybel met hulle te bespreek. Nietemin luister baie mense nie, en sommige neem selfs aanstoot. Waarom?
Bevooroordeeld—Waarom?
Wel, baie mense is besonder liggeraak as hulle raad ontvang, veral oor die kwessie van godsdiens. Selfs kerklidmate wil nie altyd na hulle leraars se raad luister nie. Een Britse geestelike het gekla: “Elkeen het sy eie idees en dit word net so goed soos die leraar s’n geag.” Gevolglik verbaas dit ons nie dat mense nie na ’n vreemdeling op hulle drumpel wil luister nie.
Buitendien het baie nog steeds hegte, emosionele bande met hulle kerk, al lewe ons in ’n skeptiese eeu. Soos een ensiklopedie opgemerk het: “Godsdiens raak die diepste gevoelens van tallose mense.” Sulke mense sien nie die nodigheid daarvan om met iemand van ’n ander godsdiens oor die Bybel te praat nie, selfs al handel die bespreking oor hoe om ’n oplossing vir hulle probleme te vind.
Ander wil nie die Bybel bespreek nie omdat hulle so baie skynheiligheid en verdorwenheid in godsdiens gesien het. Dit ontstig hulle dat sommige godsdiensleiers onsedelikheid goedpraat, of hulle verafsku die skaamtelose gierigheid van talle televisie-evangeliste. Miskien het hulle hul onttrek toe ’n geestelike sy gesag gebruik het om een kant teen ’n ander in ’n politieke stryd te steun. Dit lyk vir hulle of godsdiens meer probleme veroorsaak as wat dit oplos.
Dit is wesenlike probleme waaroor sulke mense kla. Uit ’n godsdienstige oogpunt beskou, is daar hope “valse geld” in omloop. Maar om waardevolle hulp uit die Bybel om hierdie rede te verwerp, is tog net so onlogies soos om egte geld te verwerp omdat valse banknote in omloop is!
En soos ons reeds gemeld het, het almal raad nodig in hierdie wêreld van moeilike besluite en gevaarlike situasies. Is daar enige manier waarop jy verstandige leiding kan kry oor die aanvaarding van advies? Is dit onnodig of selfs verkeerd om met iemand van ’n ander godsdiens oor die Bybel te praat? Is dit moontlik om ontvanklik genoeg te wees om goeie raad te aanvaar en tog nie deur valse advies verlei te word nie? Wat sê die Bybel hieroor?