Ons vind vryheid op “Die eiland van eensame mans”
DIE boot wat die ligte deinings van die Golf van Nicoya deurklief het, was nie vol nie. Dit was egter nie aan ’n toeristetekort toe te skryf nie. Hier by Costa Rica se kus aan die Stille Oseaan het die wolklose lug, smaraggroen water, wit sandstrande en wuiwende klapperbome nog nooit gefaal om diegene op soek na ’n tropiese paradys te lok nie. Ek was egter nie hier met vakansie nie—en die ander passasiers ook nie.
“Die eiland van eensame mans”
Ons was op pad na San Lucas-eiland, ’n strafkolonie wat deur Costa Rica se Departement van Justisie bestuur word. San Lucas-eiland was vroeër een van die berugste tronke in Latyns-Amerika. Die meeste van die gevangenes was geharde misdadigers, en diegene wat hierheen gestuur is, het gou geleer hoe om vir hulleself te sorg. Die owerheid het net die allernodigste voorsien, terwyl die gevangenes hulle eie rangorde ingestel het en gesukkel het om hulle persoonlike lot te verbeter. Diegene wat probeer ontsnap het, is dikwels deur sterk seestrome meegesleur of deur haaie doodgemaak.
’n Voormalige gevangene op San Lucas-eiland, José León Sánchez, het in die vroeë vyftigerjare ’n boek geskryf wat op sy eie lewe in die strafkolonie gebaseer is. Sy reguit, wrede, maar feitlike verhaal, La Isla de los Hombres Solos (Die eiland van eensame mans), het gou ’n blitsverkoper in Mexiko en Sentraal-Amerika geword. In Costa Rica het dit ’n sterk reaksie by die publiek uitgelok.
Die regering was op daardie tydstip besig om sy strafinrigtings te moderniseer. Klem is op hervorming eerder as straf gelê, en die doodsvonnis is afgeskaf. Met die belangstelling wat Sanchez se boek veroorsaak het, het veranderinge ook op San Lucas-eiland plaasgevind. Prisoniers is bees- en varkboerdery, visvang en ander vaardighede geleer. Hulle het ook gewasse geplant om te verkoop en kon in die wins deel. Die woongeriewe is ook verbeter. Teen die begin van die sestigerjare het San Lucas ’n modelhervormingsentrum vir minimumsekuriteit-gevangenes geword.
Ek was terdeë bewus van die eiland se berugte geskiedenis toe ek van die boot op die klein kaai afklim. Maar ek was hier as ’n tronkbewaarder, nie as ’n prisonier nie. Ek was 18 toe ek by die Nasionale Polisiemag aangesluit het, en omdat ek groot was vir my ouderdom was my eerste opdrag om as bewaarder na San Lucas-eiland te gaan.
’n Prisonier en tog vry
Ek is deur Katolieke nonne en priesters grootgemaak, en die idee van ’n brandende hel het my altyd met vrees vervul. Vir my was die belangrikste ding in my lewe om te verhoed dat ek in die hel beland. Dit het my egter dronkgeslaan omdat die meeste mense hulle blykbaar glad nie veel daaroor bekommer nie. Die priester het miskien in die klas daaroor gepraat, maar buite die klaskamer wou niemand oor godsdiens of die Bybel praat nie. Hulle het beweer dat hulle in ’n helse vuur glo, maar hulle het min gedoen om hulle gedrag te beheer.
Die situasie op San Lucas was nie veel anders nie. Hoewel baie van die bewaarders en gevangenes dieselfde oortuiging bely het, het dit skynbaar nie juis ’n indruk op hulle gemaak nie. Onwelvoeglike taal en onrein gebruike was alledaags. ’n Medebewaarder is eenkeer gevang toe hy dagga na die eiland gesmokkel het en hy het toe self ’n gevangene geword! Die bewaarder wat net hoër in rang as ek was, het ’n verskriklike humeur gehad en het opstandige gevangenes twee maal tot ’n vuisgeveg uitgedaag. Aangesien ek baie tyd gehad het, het ek dikwels diep nagedink oor die dinge wat ek op die eiland waargeneem het. As ’n onervare jongman was ek verward en ontnugter.
Een aand het Franklin, ’n betroubare gevangene, my genooi om na ’n Bybelbespreking te luister. Al het ek nie juis belanggestel nie, het ons gou aan die gesels geraak.
“Dit moet moeilik wees om ’n prisonier te wees en die Bybel te bestudeer”, het ek gesê. Ek het Franklin se antwoord nooit vergeet nie.
“Ek is liggaamlik ’n prisonier”, het hy gesê, “maar geestelik is ek vry.”
Hoe graag wou ek tog daardie soort vryheid verstaan!
Getuies op San Lucas
Dit het geblyk dat Franklin die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer. Familielede en vriende is Sondae op die eiland toegelaat. Een of twee bote het dikwels tot 30 Getuies oor die baai van die Puntarenasgemeente af gebring. As ’n nuweling was ek verbaas om te sien hoe beamptes die Getuies net by die kontrolepunte deurlaat, terwyl al die ander deeglik deursoek word. Wat my nog meer verbaas het, was die feit dat die Getuies die gevangenes en die bewaarders met ewe veel respek behandel het en met almal oor hulle Bybelse boodskap gepraat het.
Op hierdie Sondae het ’n paar van die gevangenes gereelde, persoonlike Bybelstudies met die Getuies gehad. Franklin was een van hulle en daar was iets omtrent hom wat my beïndruk het. Ek het uitgevind dat Franklin tot 12 jaar tronkstraf gevonnis is omdat hy ’n sakemededinger doodgemaak het. Hy het in die tronk ’n korrespondensiekursus in rekeningkunde gevolg. Omdat hy nie gedrink, gerook of dwelms gebruik het nie, is hy oor die tronkbiblioteek aangestel. Hy is later sy eie hut en nog meer verantwoordelikheid gegee.
Terwyl Franklin nog op skool was, was sommige van sy vriende Jehovah se Getuies. Hy het opgelet dat hulle nooit, selfs wanneer ander op hulle gepik het, by rusies of gevegte betrokke geraak het nie. Hoewel hy godsdiens nie ernstig opgeneem het nie, het hy geweet dat die Getuies vredeliewende en sedelik rein mense is. Toe hy dus hoor dat daar ’n Atalaya (“Wagtoring”, soos party Jehovah se Getuies genoem het) onder die gevangenes was, is sy nuuskierigheid geprikkel.
Eendag voor middagete het Franklin ’n prisonier alleen buite die eetsaal sien sit. Sy netjiese voorkoms het Franklin laat vra of hy die Atalaya is. Toe hy bevestigend antwoord, was Franklin se eerste reaksie: “Waarom is jy hier?” Die man het verduidelik dat hy eers na die Sentrale Strafgevangenis in San José gestuur is en daar die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. Nadat hy na San Lucas oorgeplaas is, het hy sy studies met die hulp van ’n Getuie van Puntarenas voortgesit. Hy is mettertyd reg daar op Cocostrand op San Lucas-eiland gedoop.
Daardie ontmoeting was ’n keerpunt in Franklin se lewe. Hy het van toe af, elke keer as die Getuies vir ’n besoek gekom het, lewendige besprekings met hulle gehad. Hy het ook met ander gevangenes en bewaarders begin praat oor die dinge wat hy geleer het. Sy gedrag, kleredrag en persoonsversorging het begin verbeter. Beide hy en sy gedoopte metgesel het almal se respek afgedwing.
Franklin se twaalfjarige tronkstraf is uiteindelik tot 3 jaar en 4 maande verminder. Hy en sy metgesel het aangehou om die Bybel te bestudeer. Ten spyte van die slegte tronkatmosfeer was hulle gelukkig, en hulle gesigte het dit weerspieël. Hulle het blykbaar opgelet dat ek anders as die ander bewaarders was omdat ek nie aan hulle vuil grappe en onwelvoeglike geskerts deelgeneem het nie. Hulle het my dus vir Bybelbesprekings na hulle hutte genooi. Wat ek by hulle en die besoekende Getuies gehoor het, was vir my baie interessant, veral oor die toestand van die dode en dat daar werklik nie ’n brandende hel is nie. Ek is ’n eksemplaar van die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe gegee, en het dit begin lees. Hoewel ek dit nie toe besef het nie, is saadjies van waarheid wat later sou vrug dra in my hart gesaai.
Ware vryheid oplaas
Nadat ek die Nasionale Polisiemag verlaat het, het ek ’n rukkie in Miami, Florida, gewoon. Op ’n dag het ’n kollega met my oor die Bybel begin praat. Sy spraak, kleredrag en persoonsversorging het my laat besef dat ek weer eens met Jehovah se Getuies in aanraking gekom het. Dit het herinneringe van San Lucas-eiland voor die gees geroep, en ek wou van hom weet waarom niemand skynbaar daarin belangstel om geestelike dinge te bespreek nie. Hy het my kortliks geantwoord en ’n bespreking by my huis voorgestel. Dit het tot ’n gereelde Bybelstudie en later tot toewyding en doop gelei.
Ek het in 1975 na Costa Rica teruggekeer en ’n streekbyeenkoms in San José bygewoon. Ek is nog steeds nie seker wie se verbasing die grootste was toe ek en Franklin mekaar toevallig by die byeenkoms raakgeloop het nie. Hy was nou liggaamlik vry en ook gedoop. Toe ek San Lucas verlaat het, was Franklin nie seker hoe sterk my belangstelling in die Bybel was nie. Maar hier was ons, ’n voormalige prisonier en ’n gewese bewaarder, waarlik verenig in die vryheid wat uit aanbidding van die ware God Jehovah voortspruit!
Vir party het die strafkolonie, die “eiland van eensame mans”, net onaangename herinneringe beteken. Vir my het dit die begin van geestelike vryheid beteken. As ’n Christen- ouere man het ek nou ’n aandeel daaraan om vryheid na diegene te bring wat dink dat hulle vry is, maar wat in werklikheid gevange is, net soos daardie mans wat ek eens op ’n tyd bewaak het.—Soos vertel deur David Robinson.
[Kaart op bladsy 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Nicaragua
KARIBIESE SEE
Costa Rica
Puntarenas
Golf van Nicoya
San José
PANAMA
STILLE OSEAAN
Km 0 50 100
mi 0 50 100