Die raaisel van die Vatikaanse Kodeks
CODEX Vaticanus 1209 verskyn in die Vatikaanse Biblioteek se eerste katalogus, wat in 1475 opgestel is. Niemand weet hoe dit daar gekom het nie. Dit is een van die drie groot Griekse kodekse wat tot vandag toe behoue gebly het en staan op een lyn met sy tydgenote, die vierde-eeuse Sinaiticus en die vroeë vyfde-eeuse Alexandrinus.
Hoewel geleerdes vroeg in die 16de eeu deeglik bewus was van hoe belangrik hierdie Vatikaanse manuskrip is, is min van hulle ooit toegelaat om dit te bestudeer. Die Vatikaanse Biblioteek het in 1669 ’n kollasie van verskeie lesings van die manuskrip saamgestel, maar dit het verlore geraak en is eers in 1819 weer ontdek.
Keiser Napoleon van Frankryk het Rome in 1809 verower en die gesogte manuskrip na Parys geneem, waar Leonhard Hug, ’n beroemde geleerde, dit ondersoek het, maar na Napoleon se val is die kodeks in 1815 na die Vatikaan teruggeneem. Die daaropvolgende 75 jaar was dit weer eens ’n raaiselagtige voorwerp, wat deur die Vatikaan weggesteek is.
Konstantin von Tischendorf, een van die wêreld se beroemdste manuskripkenners, is in 1843 toegelaat om die manuskrip slegs ses uur lank te ondersoek, nadat hulle hom ’n hele paar maande laat wag het. Twee jaar later is die Engelse geleerde dr. S. P. Tregelles toegelaat om die kodeks te sien, maar nie om dit te bestudeer nie. Hy het gesê: “Dit is waar dat ek die ms. dikwels gesien het, maar hulle wou my nie toelaat om dit te gebruik nie; en hulle wou my nie toelaat om dit oop te maak sonder dat hulle my sakke deursoek het en my pen, ink en papier van my afgeneem het nie; en terselfdertyd het twee prelati [priesters] gedurig in Latyn met my gesels, en as ek te lank na ’n passasie gekyk het, het hulle die boek uit my hand gegryp.”
Waarom was die Rooms-Katolieke Kerk so teësinnig om sy kosbare manuskrip vir die wêreld te wys?
Waarom weggesteek?
Vir die Rooms-Katolieke Kerk bly die Latynse Vulgatavertaling van die Heilige Skrif steeds sy “hoogste gesag”. Volgens die ensikliek Divino Afflante Spiritu van Pius XII, wat in 1943 gepubliseer is, word hierdie vierde-eeuse Latynse vertaling van Hieronymus ook as “volkome vry van enige foute in sake van geloof en sedes” beskou. Wat van die Hebreeuse en Griekse tekse waaruit die Vulgata vertaal is? Die ensikliek sê dat hulle waardevol is om die gesag van die Vulgata te ‘bekragtig’. Geen Griekse manuskrip, nie eens die Vatikaanse Kodeks, is dus ooit so gesaghebbend as die Latynse Vulgata beskou nie. Hierdie standpunt van die Rooms-Katolieke Kerk het vanselfsprekend probleme veroorsaak.
Toe die 16de-eeuse geleerde Erasmus die Griekse “Nuwe Testament” vertaal het, het hy hom op die gesag van die Vatikaanse Kodeks beroep om die onegte woorde van 1 Johannes hoofstuk 5 verse 7 en 8 weg te laat. Erasmus was reg, en tog het pous Leo XIII tot 1897 nog die onegte Latynse teks van die Vulgata voorgestaan. Hierdie fout in die teks is eers met die publisering van die moderne Rooms-Katolieke vertalings erken.
Toe die Codex Sinaiticus in die laaste deel van die 19de eeu aan die wêreld bekendgestel is, het dit vir die Rooms-Katolieke owerhede duidelik geword dat hulle Codex Vaticanus gevaar geloop het om in die skadu gestel te word. By die eeuwisseling was goeie fotokopieë uiteindelik beskikbaar.
Die manuskrip bestaan uit 759 bladsye. Die grootste deel van Genesis, sommige psalms en die slotdele van die Christelike Griekse Skrifte ontbreek. Dit is op baie fyn, dun perkament, vermoedelik antiloopvelle, in ’n eenvoudige, elegante styl geskryf. Die amptelike benaming is Codex B, en dit kan vandag in die Vatikaanse Biblioteek besigtig word. Dit word nie meer weggesteek nie en die waarde daarvan word uiteindelik dwarsdeur die wêreld verstaan en waardeer.
[Prent op bladsy 31]
Die belangrike Codex Vaticanus 1209 is eeue lank deur die Vatikaan weggesteek
[Erkenning]
Reproduksie uit Codices E Vaticanis Selecti