’n Geestelike paradys
TALLE van die profetiese Bybelboeke bevat goddelike beloftes dat Israel uit die lande van sy ballingskap tot sy verlate tuisland herstel sou word. God sou toesien dat daardie verlate land bewerk en besaai word, dat dit ryk opbrengste lewer en dat dit met mense- en dierelewe wemel; die stede sou herbou en bewoon word en mense sou sê: “Hierdie land wat verwoes was, het geword soos die tuin van Eden.” (Esegiël 36:6-11, 29, 30, 33-35; vergelyk Jesaja 51:3; Jeremia 31:10-12; Esegiël 34:25-27.) Hierdie profesieë toon egter ook dat die paradystoestande betrekking gehad het op die mense self, wat toe, weens getrouheid aan God kon “uitspruit” en gedy soos “bome van geregtigheid” omdat hulle die pragtige geestelike voorspoed geniet soos ’n “welbesproeide tuin”, waarop God oorvloedige seëninge uitgestort het omdat sy seën daarop rus (Jesaja 58:11; 61:3, 11, NW; Jeremia 31:12; 32:41; vergelyk Psalm 1:3; 72:3, 6-8, 16; 85:10-13; Jesaja 44:3, 4.) Die volk Israel was God se wingerd, wat hy geplant het, maar hulle slegtheid en afvalligheid van ware aanbidding het selfs voor die letterlike verwoesting van hulle land ’n figuurlike ‘verdorring’ van hulle geestelike akker veroorsaak.—Vergelyk Exodus 15:17; Jesaja 5:1-8; Jeremia 2:21.
Dit voorsien ongetwyfeld die sleutel om Paulus se beskrywing van die gesig in 2 Korinthiërs 12:1-7 te verstaan (wat hy klaarblyklik self gehad het, aangesien hy dit onder meer gebruik het om sy apostelskap te verdedig). Die persoon wat die gesig gesien het, is na “die derde hemel” weggeruk, het die “Paradys” binnegegaan en onuitspreeklike woorde gehoor. Dat die paradys in hierdie gesig betrekking kon hê op ’n geestelike toestand onder God se volk, soos in die geval van vleeslike Israel, blyk uit die feit dat die Christengemeente ook God se “akker” was, sy geestelike wingerd, wat in Christus Jesus gewortel was en tot God se eer vrug gedra het (1 Korinthiërs 3:9; Johannes 15:1-8). As sodanig het dit die nasie Israel verplaas wat God se guns betref het. (Vergelyk Mattheüs 21:33-43.) Logieserwys moes Paulus se gesig nietemin op ’n toekomstige tyd betrekking gehad het om ’n ‘openbaring’ te kon wees (2 Korinthiërs 12:1). Afvalligheid sou in die Christelike gemeente ontstaan en was reeds in Paulus se dag aan die werk; dit sou lei tot ’n toestand soos dié van ’n land wat met onkruid besaai is. (Mattheüs 13:24-30, 36-43; Handelinge 20:29; 2 Thessalonicense 2:3, 7; vergelyk Hebreërs 6:7, 8.) Paulus se gesig van die paradys sou dus redelikerwys nie van toepassing gewees het terwyl dit die geval was nie, maar sou klaarblyklik betrekking hê op die tyd van die “oes” wanneer ware Christene deur engelemaaiers bymekaargemaak sou word en ryk seëninge en geestelike voorspoed van God sou ontvang.
Dit is egter duidelik dat die herstellingsprofesieë wat deur die Hebreeuse profete opgeteken is elemente bevat wat ook ’n fisiese vervulling in die herstelde aardse Paradys sal hê. In Jesaja 35:1-7 is daar byvoorbeeld aspekte, soos die genesing van die blindes en lammes, wat nie letterlik vervul is na die herstel van eertydse Babilon nie, en ook nie letterlik in die Christelike geestelike paradys vervul word nie. Dit sou inkonsekwent van God wees om profesieë soos die in Jesaja 11:6-9, Esegiël 34:25 en Hosea 2:18 te inspireer met die bedoeling dat hulle net ’n figuurlike of geestelike betekenis sou hê en nie letterlik in die fisiese ervaring van God se knegte vervul sou word nie.