Aanbid die Skepper, nie die skepping nie
“Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”—LUKAS 4:8.
DIE uitdrukking “om te aanbid” word soos volg in ’n woordeboek gedefinieer: “Om met groot, selfs oordrewe respek, eer of toegewydheid te bejeën”.a Wie moet sulke aanbidding ontvang? Jesus Christus het gesê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Mattheüs 22:37). Toe Jesus al die koninkryke van die aarde aangebied is in ruil vir net een “daad van aanbidding” aan Satan het hy geweier en gesê: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Lukas 4:7, 8, vgl. NW). Jesus se woorde en dade toon duidelik dat net Jehovah God aanbid moet word. Hierdie aanbidding behels dat ons hom “dien”, want “geloof sonder die werke [is] dood”.—Jakobus 2:26.
2 Sulke aanbidding van Jehovah is gepas, omdat hy die Oppersoewerein van die ganse heelal is, die Skepper van die ontsagwekkende hemele en die aarde met al sy lewensvorme. As sodanig is net hy waardig om met “groot, selfs oordrewe respek, eer of toegewydheid” deur mense bejeën te word. Die Bybel sê: “U is waardig, O Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape” (Openbaring 4:11). Geen nietige mens, geen lewende of dooie voorwerp, kan tog sulke “respek, eer of toegewydheid” waardig wees nie. Jehovah alleen verdien “uitsluitlike toegewydheid”.—Exodus 20:3-6, NW.
Besonder dringend
3 Aangesien ons in ’n oordeelstydperk lewe, is dit nou besonder dringend om God reg te aanbid. Mense se ewige toekoms word nou bepaal. God se profetiese Woord deel ons mee dat Christus Jesus in hierdie “laaste dae” van die huidige stelsel van dinge in hemelse heerlikheid gekom het “en al die heilige engele saam met Hom”. Met watter doel? Jesus self het daardie doel voorspel toe hy gesê het: “Voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei.” Die skape sal weggaan “in die ewige lewe”. Die bokke sal weggaan “in die ewige [afsnyding]”.—2 Timotheüs 3:1-5; Mattheüs 25:31, 32, 46, vgl. NW.
4 Die apostel Paulus het geskryf van “die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf [“vernietiging”, NW]” (2 Thessalonicense 1:7-9). Ewige vernietiging is dus die lot van hardkoppige, bokagtige mense wat nie van God se voornemens wil weet nie of wat weier om op te tree wanneer hulle die geleentheid het. Maar “die ewige lewe” is die toekoms van nederige, skaapgeaarde mense wat van Jehovah wil leer, wat na sy instruksies luister en wat hulle dan aan sy wil onderwerp. Die Bybel sê: “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17; kyk ook 2 Petrus 2:12.
5 Skaapgeaarde mense is bereid om tyd, energie en materiële middele op te offer om na die waarheid te soek. Hulle doen wat Spreuke 2:1-5 sê: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind.”
6 Dit is die bereidheid om na Jehovah te soek wat die “skape” van “bokke” skei. “As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot” (1 Kronieke 28:9). Daarom sal ’n persoon ongeag sy ras, nasionaliteit of geleerdheid, hetsy hy ryk of arm is, die waarheid aangaande God vind as hy opreg daarna soek. Vanuit hulle posisie in die hemel sal Christus en sy engele toesien dat die soeker met die waarheid in aanraking kom, ongeag waar daardie persoon lewe. Hoe lonend sal daardie soeke wees? Jesus het gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—Johannes 17:3; kyk ook Esegiël 9:4.
Vermy skepselaanbidding
7 Oor die hele wêreld is daar talle wat ander mense—hetsy lewend of dood—met “oordrewe respek, eer of toegewydheid” bejeën. Al dink hulle dalk dat dit ’n deel van hulle aanbidding van God is, keer dit hulle in werklikheid weg van ware aanbidding. Dit lei daartoe dat hulle leerstellings begin glo en gebruike begin nakom wat met God se wil bots. Een baie goeie voorbeeld is die manier waarop Maria, Jesus se moeder, deur miljoene mense in Rooms-Katolieke sowel as Oosters-Ortodokse Katolieke lande beskou word.
8 Mense buig hulle op aanbiddende wyse voor beelde en ikone van Maria neer, en in die amptelike kerkleer word sy “die Maagd Maria Theotokos” genoem. Die woord the·o·toʹkos beteken “Draer van God” of “moeder van God”. Die New Catholic Encyclopedia sê: “Maria is die moeder van God .... As Maria nie werklik die moeder van God is nie, dan is Christus nie werklik God sowel as werklik mens nie.” Gevolglik leer hierdie godsdienste as deel van hulle Drie-eenheidsleer dat Jesus die almagtige God in menslike vorm was, wat Maria die “moeder van God” maak. Dieselfde bron voeg by dat toegewydheid aan Maria die volgende behels: “(1) verering, of die eerbiedige erkenning van die waardigheid van die heilige Maagdelike Moeder van God; (2) invokasie, of die aanroeping van ons Liewe Vrou om haar moederlike en vorstelike voorspraak te vra; . . . en privaat gebede [tot Maria].”
9 Die woord the·o·toʹkos verskyn egter nie in die geïnspireerde Skrif nie. En nêrens sê die Bybel dat Maria die “moeder van God” was nie. Nòg Jesus, nòg eerste-eeuse Christene het dit verkondig. Daarbenewens toon die Bybel duidelik dat Jesus nie die Opperwese in menslike vorm was nie, maar God se Seun.b Trouens, toe ’n engel Maria daarvan verwittig het dat sy ’n seun gaan baar, is sy meegedeel: “Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word” (Lukas 1:35). Jesus was dus God se Seun, nie God self in menslike vorm nie. Daarom was Maria die moeder van God se seun Jesus, nie die moeder van God in menslike vorm nie. Dit is waarom nie Jesus of sy dissipels Maria ooit die “moeder van God” genoem het nie.
10 Jesus se beskouing van sy moeder toon haar relatiewe posisie. Die Bybelverslag deel ons die volgende oor ’n bruilof in Kana mee: “Toe daar wyn kortkom, sê die moeder van Jesus vir Hom: Hulle het geen wyn nie. Jesus sê vir haar: Vrou, wat het Ek met u te doen?” Hier lui die Rooms-Katolieke Douay-vertaling van die Bybel: “Vrou, wat gaan dit my en u aan?” (Johannes 2:3, 4). By ’n ander geleentheid het iemand vir hom gesê: “Salig is die skoot wat U gedra het, en die borste wat U gesoog het.” Dit was ’n uitstekende geleentheid vir Jesus om sy moeder spesiale eer te gee en om te toon dat ander dieselfde moet doen. In plaas daarvan het Jesus gesê: “[Nee], maar salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.”—Lukas 11:27, 28, vgl. NW.
11 Sulke verse toon dat Jesus dit noulettend vermy het om aanbidding of onbehoorlike eer aan Maria te gee of om haar by enige spesiale titel te noem. Hy het nie toegelaat dat hulle verwantskap hom beïnvloed nie. En die apostels en dissipels het sy voorbeeld gevolg, want nêrens in hulle geïnspireerde geskrifte word enige onbehoorlike eer, titel of invloed aan Maria toegeskryf nie. Hoewel hulle haar as die moeder van Jesus gerespekteer het, het hulle nie verder as dit gegaan nie. Hulle het haar beslis nooit die “moeder van God” genoem nie. Hulle het geweet dat Jesus nie die almagtige God in menslike vorm was nie en dat Maria dus onmoontlik God se moeder kon wees, ’n posisie ver bo wat God se Woord vir Maria toelaat.
Die kultus van die Moedergodin
12 Waar het hierdie opvatting dan ontstaan? Gedurende die derde en vierde eeu van ons Gewone Jaartelling het dit geleidelik in die afvallige Christendom ingesypel. Dit was veral die geval na die jaar 325 G.J., toe die Konsilie van Nicea die onskriftuurlike leerstelling aanvaar het dat Christus God was. Toe daardie verkeerde idee eers aanvaar is, het dit makliker geword om te leer dat Maria die “moeder van God” was. The New Encyclopaedia Britannica sê in hierdie verband: “Dit lyk asof die titel [‘moeder van God’] gedurende die 3de of 4de eeu, waarskynlik in Alexandrië, in gewyde taalgebruik ontstaan het . . . Teen die einde van die 4de eeu het die Theotokos reeds in verskeie dele van die kerk ingang gevind.” Die New Catholic Encyclopedia sê dat die leerstelling amptelik aanvaar is “sedert die Konsilie van Efese in 431”.
13 Dit is interessant om te sien waar en waarom daardie konsilie byeengekom het. Die boek The Cult of the Mother-Goddess, deur E. O. James, sê: “Die Konsilie van Efese het in 431 in die Theotokos-basiliek vergader. Veral daar, in die stad wat so berug is vir sy toegewydheid aan Artemis, of Diana, soos die Romeine haar genoem het, waar haar beeld glo uit die hemel geval het, onder die skadu van die groot tempel wat sedert 330 v.C. aan die Magna Mater [Groot Moeder] gewy is en, volgens oorlewering, ’n tydelike woning van Maria bevat, is dit glad nie vreemd dat die titel ‘Draer van God’ gehandhaaf is nie.”
14 Net soos die Drie-eenheid is die leerstelling oor die “moeder van God” dus ’n heidense lering onder die masker van ’n Christelike opvatting. Reeds eeue voor Christus was dit prominent in heidense godsdienste. The New Encyclopædia Britannica sê onder die opskrif “moedergodin”: “Enige van ’n verskeidenheid vroulike godhede en moedersimbole van skeppingskrag, geboorte, vrugbaarheid, geslagsomgang, versorging en die groeikringloop. Die woord is ook al toegepas op uiteenlopende figure soos die sogenaamde Venusse van die Steentydperk en die Maagd Maria. . . . Daar is geen kultuur wat nie die een of ander moedersimbolisme gebruik het om sy godhede uit te beeld nie. . . . Sy is die beskermster en voedster van ’n goddelike kind en, by uitbreiding, van die hele mensdom.” Gevolglik sê Katolieke priester Andrew Greely in sy boek The Making of the Popes 1978: “Die Maria-simbool verbind die Christendom regstreeks met die antieke [heidense] godsdienste van moedergodinne.”
Onbehoorlike aanbidding
15 Die bewering dat Maria die “moeder van God” was, verhef haar tot ’n posisie waar mense geneig sal wees om haar te aanbid, en dit is juis wat al eeue lank gebeur. Honderdmiljoene mense in talle lande bid tot of deur haar en vereer beelde en ikone van haar in aanbidding. Hoewel teoloë dit dalk probeer verskoon deur te sê dat sulke verering van Maria net ’n indirekte manier is om God te aanbid, is dit nie hoe God die saak beskou nie. “Daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus” (1 Timotheüs 2:5; 1 Johannes 2:1, 2). Jesus self het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”—Johannes 14:6.
16 Dit is aanbidding van die skepping pleks van die Skepper as iemand Maria direk of indirek vereer, tot haar bid of hom voor beelde en ikone van haar neerbuig. Dit is afgodediens, en Christene word beveel om te “vlug vir die afgodediens” (1 Korinthiërs 10:14). Kyk wat gebeur het toe die heiden Cornelius hom vererend voor die apostel Petrus neergebuig het: “Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ’n mens” (Handelinge 10:25, 26). Dit was onbehoorlik om op aanbiddende wyse voor ’n mens neer te buig, en Petrus het geweier om dit te aanvaar. Nadat die apostel Johannes ’n visioen van ’n engel ontvang het, het hy insgelyks geskryf: “Ek [het] neergeval om te aanbid voor die voete van die engel wat my hierdie dinge getoon het. Toe sê hy vir my: Moenie! want ek is ’n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar. Aanbid God” (Openbaring 22:8, 9). As nie eens ’n engel van God aanbid moet word nie, hoeveel te minder dan mense of beelde van hulle.
17 The Catholic Encyclopedia erken dat sulke verering van Maria tot onbehoorlike aanbidding kan lei. ’n Vroeë uitgawe van hierdie werk het gesê: “Dat die algemene verering van die Geseënde Maagd dikwels gepaard gegaan het met buitensporigheid en misbruike, kan nie ontken word nie.”
18 Uit watter bron sou so ’n onskriftuurlike leerstelling kom? Die eintlike bron moet God se Teenstander, Satan die Duiwel, wees (Johannes 8:44). Waarom sou hy so ’n lering wil bevorder? Om die Soewereine Heer Jehovah te kleineer en te verneder, om mense te verhef en om verwarring te veroorsaak. Dit keer mense van ware aanbidding weg en veroorsaak dat hulle hul eerder tot skepsele wend vir redding. Dit het die geestelikes ook eeue lank groter mag oor die gewone mense gegee, wat geleer is dat hulle geheel en al aan hulle godsdiensleiers onderdanig moet wees omdat net die geestelikes kennis van sulke ingewikkelde teologie besit.
19 Jesus het egter voorspel: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). En Jehovah beloof dat hy deur middel van die Koninkryksprediking alle “skape” byeen sal bring om ‘hulle sy weë te leer sodat hulle in sy paaie kan wandel’ (Jesaja 2:2-4). Omdat hulle in die ware aanbidding van Jehovah byeengebring word, het Jesus van hulle gesê: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Daarom sal diegene wat na die waarheid soek dit vind en bevry word van valse godsdiensleringe wat mense verhinder om die Skepper se wil te doen.
20 Daar is ander algemeen aanvaarde godsdiensleringe en -gebruike wat mense van die ware aanbidding van die Skepper weggekeer het en eerder die skepping vereer het. Wat is party hiervan, en wat het hulle tot gevolg gehad? Wat behels ware aanbidding? Die volgende artikel gaan hierdie vrae bespreek.
[Voetnote]
a Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary, 1986.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Hoe het Jesus duidelik getoon dat net Jehovah aanbid moet word?
◻ Waarom is dit nou besonder dringend om op die regte manier te aanbid?
◻ Waarom moet Maria nie onbehoorlike eer gegee word nie?
◻ Waar het die idee ontstaan dat Maria die “moeder van God” is?
◻ Hoe het die apostels Petrus en Johannes beklemtoon dat net Jehovah aanbid moet word?
[Studievrae]
1. Hoe word die uitdrukking “om te aanbid” gedefinieer, en hoe moet ware aanbidding beoefen word?
2. Waarom is dit gepas om net die Skepper te aanbid?
3. Waarom is dit besonder dringend dat ons God aanbid?
4. (a) Hoe identifiseer Paulus diegene wat met die einde van hierdie wêreld onherroeplik vernietig gaan word? (b) Watter gesindheid openbaar diegene wat die ewige lewe gaan ontvang?
5, 6. (a) Wat moet ’n persoon doen om die waarheid aangaande Jehovah en sy voornemens te vind? (b) Waarom kan ons vol vertroue wees dat waarheidsoekers ongeag hulle situasie in die lewe met die waarheid in aanraking sal kom?
7, 8. (a) Watter gevaar hou dit in wanneer mense aanbid word? (b) Beskryf die “oordrewe respek, eer, of toegewydheid” waarmee Maria bejeën word.
9. Leer die Bybel dat Maria die “moeder van God” was?
10, 11. (a) Watter voorbeelde toon hoe Jesus sy moeder beskou het? (b) Hoe het Jesus se apostels en dissipels sy moeder beskou?
12. Waar en wanneer het die opvatting ontstaan dat Maria die “moeder van God” was?
13. Wat het die Konsilie van Efese in 431 G.J. waarskynlik beïnvloed om amptelik te verklaar dat Maria die “moeder van God” is?
14. Hoe bevestig die geskiedenis dat hierdie leerstelling ’n heidense oorsprong het?
15. (a) Watter situasie aangaande Maria het in die Christendom ontwikkel? (b) Wie alleen kan, volgens die Bybel, by God vir ons voorspraak wees?
16. Hoe het Petrus en Johannes duidelik getoon dat net Jehovah aanbid moet word?
17. Wat kan, soos ’n Katolieke ensiklopedie erken, die gevolg van Maria-verering wees?
18. Uit watter bron sou so ’n onskriftuurlike leerstelling kom?
19, 20. (a) Waarom kan ons seker wees dat “skape” die waarheid sal vind voordat God se oordele voltrek word? (b) Watter vrae gaan in die volgende artikel bespreek word?