Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 5/1 bl. 16-17
  • Basan—’n vrugbare bron

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Basan—’n vrugbare bron
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 5/1 bl. 16-17

Tonele uit die Beloofde Land

Basan—’n vrugbare bron

HET jy nie al, wanneer jy jou Bybel lees, die name van baie plekke teëgekom wat jy jou nie kon voorstel nie? Jehovah se Getuies sal gedurende Mei en Junie van Miga tot Sagaria lees. As jy daardie rooster volg, sal jy agterkom dat Basan in drie tekste gemeld word (Miga 7:14; Nahum 1:4; Sagaria 11:2). Indien jy Basan voor jou geestesoog kan roep, sal daardie en ander interessante tekste vir jou meer betekenis inhou.

Waar was Basan geleë? Wel, jy kan dit oor die algemeen met die Golanhoogland identifiseer, wat jy dalk al op kaarte in koerante gesien het. Basan was oos van beide die See van Galilea en die Bo-Jordaanvallei geleë. Dit het van die Jarmoekrivier (deel van die huidige grens tussen Jordanië en Sirië) noordwaarts tot by die berg Hermon gestrek.

Voor die eertydse Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, moes hulle die Kanaänitiese leër van die reus Og, die koning van Basan, verslaan. Daarna het die stam van Manasse ’n groot deel van Basan bewoon (Deuteronomium 3:1-7, 11, 13; Numeri 32:33; 34:14). Hoe het hierdie Bybelstreek gelyk? Alhoewel Basan woude in die bergagtige dele gehad het, was die grootste deel daarvan ’n plato, ’n hoë tafelland.

Basan was in baie opsigte ’n ware graanskuur. Dit was omdat ’n groot deel van die gebied uit goeie weiveld bestaan het (Jeremia 50:19). Die bygaande foto’s herinner jou dalk aan sommige Bybelverwysings ten opsigte van Basan.a Baie het al van die “bulle van Basan” gelees (Psalm 22:13, Die Lewende Bybel). Ja, hierdie gebied was in die ou tyd bekend vir sy beeste, kragtige jong bulle inkluis. Maar ander vee, soos skape en bokke, het ook goed daar geaard en hulle het tot ’n ryk voorraad melk en botter bygedra.—Deuteronomium 32:14.

Jy wonder miskien wat daartoe aanleiding gegee het dat Basan so vrugbaar was, aangesien dit oos van die Jordaan geleë was in ’n gebied wat as baie droog beskou word. Feit is, die heuwels van Galilea in die weste is laer, derhalwe kon wolke van die Middellandse See daaroor beweeg en volop reën na Basan bring. Vogtige lug en strome het boonop van die berg Hermon af gekom. Stel jou die potensiaal voor wanneer daardie kosbare vog met die ryk vulkaniese grond wat in Basan gevind was, gekombineer het! Die gebied het graan in oorvloed geproduseer. Lank voor dit ’n belangrike graanskuur vir die Romeine geword het, is Salomo se tafels deur Basan van voedsel voorsien. Later kon God se voorsiening vir sy bevryde volk tereg soos volg uitgedruk word: “Laat hulle wei in Basan en Gilead soos in die ou dae.”—Miga 7:14; 1 Konings 4:7, 13.

Kennis van sulke vrugbaarheid kan jou’n dieper insig gee in Nahum se aangrypende beskrywing van wat God se onguns sou bring: “Basan en Karmel [grasryke heuwels naby die Groot See] kwyn weg, en die groenigheid van die Libanon verwelk”—Nahum 1:4b.

Hierdie oorsig van Basan kan jou ook help om sommige beskrywende tonele in die Bybel makliker in jou verbeelding te sien. Jy het waarskynlik al gelees van die oes van graan, soos koring wat in ’n groot deel van Basan gegroei het. Die koring is geoes in die warm maande van Ijar en Siwan (die Joodse kalender, wat ooreenstem met laat April, Mei en begin Junie). Gedurende hierdie tyd het die Fees van die Weke (Pinkster) plaasgevind. As deel hiervan is die eerstelinge van die koringoes asook lammers, en ’n bul geoffer. Is hierdie diere moontlik van Basan gebring?—Exodus 34:22; Levitikus 23:15-18.

Met die oestyd het werkers die ongesnyde koring met ’n gekromde sekel gesny, soos die een van yster wat hierbo sonder sy houthandvatsel gesien kan word (Deuteronomium 16:9, 10; 23:25). Die halms is dan bymekaar gemaak en na ’n dorsvloer geneem waar ’n houtslee (met klippe onderaan vasgemaak) daaroor gesleep is om die korrels te verwyder (Rut 2:2-7, 23; 3:3, 6; Jesaja 41:15). Terwyl jy na die foto hiervan kyk, wat in die Golanhoogland geneem is, kan jy oor God se sinvolle reël nadink: “Jy mag ’n os nie muilband as hy graan dors nie.”—Deuteronomium 25:4; 1 Korinthiërs 9:9.

Onthou laastelik dat gedeeltes van eertydse Basan digte woude gehad het, waarvan baie van die bome massiewe eikebome was, soos links getoon word. Die Feniciërs het roeispane van die stewige eikehout van Basan gemaak (Esegiël 27:6). Tog kon selfs sulke massiewe ‘eike van Basan, die ontoeganklike woud’, nie teen die uiting van God se toorn staande bly nie (Sagaria 11:2; Jesaja 2:13). Wanneer ’n mens sulke bome sien, kan jy jou ook makliker voorstel waarom sulke woude ’n probleem vir ’n vlugtende leer kon wees. Selfs ’n enkele ruiter kon in die takke vasgevang word, soos elders met Absalom gebeur het.—2 Samuel 18:8, 9.

Ons kan sien dat hoewel Basan ’n gebied van die Beloofde Land was waar nie baie Bybelgebeure plaasgevind het nie tonele daarvan tog ons begrip van Bybelverwysings daarna kan verryk.

[Voetnoot]

a Kyk ook Jehovah se Getuies se kalender vir 1989.

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Prenteargief (Nabye Oosterse geskiedenis)

[Foto-erkennings op bladsy 17]

Prenteargief (Nabye Oosterse geskiedenis)

Inlas: Badè-Instituut van Bybelse Argeologie

Prenteargief (Nabye Oosterse geskiedenis)

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel