Die berugte hoer—haar val
“Sy het geval! Babilon die Grote het geval, sy wat al die nasies van die wyn van die toorn van haar hoerery laat drink het!”—OPENBARING 14:8, “NW”.
Hierdie en die volgende artikel het die slottoespraak van die simposium “Die bestemde tyd is naby” uitgemaak, wat gedurende 1988 by die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies gehou is
1. Wie is die berugte “hoer”, en waarom moet ons van haar weet?
DIE berugte “hoer”—wie is sy? Hoekom moet ons oor haar praat? Word daar nie genoeg walglike onsedelikheid in spanningsromans, rolprente, op die TV en op video’s opgedis nie? Beslis! Maar hierdie is geen gewone straatvrou nie. Sy is in werklikheid die invloedrykste, die berugste, die moorddadigste prostituut in die ganse geskiedenis. En sy verkoop haar gunste al meer as 4 000 jaar lank! Ter wille van ons eie beskerming moet ons van haar weet. In Openbaring 14:8 (NW) noem ’n hemelse engel hierdie ontugtige vrou “Babilon die Grote” en beskryf hy haar as ’n verleidster van nasies. Aangesien sy so gevaarlik is, behoort ons bly te wees om te weet dat Jehovah se ‘bestemde tyd naby is’ om oordeel aan haar te voltrek.—Openbaring 1:3, vgl. NW.
2. Waarvandaan kry hierdie hoer haar naam, en hoe het ’n wêreldryk van valse godsdiens ontstaan?
2 Hierdie hoer kry haar naam van eertydse Babilon, die trotse stad wat meer as 4 000 jaar gelede in Mesopotamië deur Nimrod, die “geweldige jagter in verset teen Jehovah”, gestig is. Toe die Babiloniërs begin het om ’n heidense godsdienstoring te bou, het Jehovah hulle taal verwar en hulle na die uithoeke van die aarde verstrooi. Hulle het hulle godsdiens met hulle saamgeneem, en dit is hoe ’n wêreldryk van Babiloniese godsdiens ontstaan het. Dit is inderdaad Babilon DIE GROTE (Genesis 10:8-10, NW; 11:1-9). Tot vandag toe word die verborgenhede van eertydse Babilon deur die opvattings en gebruike van die wêreld se godsdienste weerspieël (Openbaring 17:7). Die Hebreeuse naam vir die stad, Babel, beteken “Verwarring”, ’n gepaste benaming vir vandag se mengelmoes van valse godsdiens!
3. (a) Hoe lank het Babilon God se volk gevange gehou, en waarmee het dit hulle in kontak gebring? (b) Wanneer het Babilon ’n rampspoedige val ondervind, en waarom het haar einde nie op daardie tydstip gekom nie?
3 Eertydse Babilon het van daardie eerste terugslag herstel en, met die omverwerping van Assirië in 632 v.G.J., die derde wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis geword. Haar glorie as wêreldmoondheid was van korte duur—minder as honderd jaar—maar byna 70 van daardie jare het sy God se volk Israel gevange gehou. Dit het hulle in kontak gebring met Babilon se duisend tempels en kapelle, haar triades gode en triades duiwels, haar moeder-en-seunaanbidding en haar sterrewiggelary waardeur sogenaamd onsterflike gode vereer is. Die gevange Israeliete was dus daar by die wêreldsentrum van valse godsdiens toe die stad Babilon in 539 v.G.J. ’n rampspoedige val ondervind het. Maar dit was nog nie haar einde nie! Haar veroweraars het haar steeds as ’n invloedryke godsdienssentrum gebruik.
’n Wêreldwye godsdiensryk
4. (a) Wat het Jehovah se profete aangaande Babilon verkondig, en wat het met Babilon gebeur? (b) Watter ander Babilon leef voort tot nadeel van die volke van die aarde?
4 Jehovah se profete het sy oordeel verkondig dat Babilon “met die besem van verdelging” gevee moet word, “soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het”. Is daardie profesieë later vervul? Ja, tot in die fynste besonderhede! Eertydse Babilon het mettertyd ’n puinhoop geword—onbewoon, afgesien van reptiele en wilde diere—presies soos voorspel is! (Jesaja 13:9, 19-22; 14:23; Jeremia 50:35, 38-40). Maar daardie ander Babilon, hedendaagse Babilon die Grote, leef voort. As die wêreldryk van valse godsdiens laat sy die leringe en hoogmoedige gees van die oorspronklike Babilon voortbestaan. Sy is Satan se hoofinstrument om mense te verblind sodat hulle nie Jehovah se Koninkryksvoornemens kan sien nie.—2 Korinthiërs 4:3, 4.
5. (a) Watter godsdienste het ontwikkel terwyl Babilon op die kruin van haar glorie was, maar waarom het Satan nie daarin geslaag om die hele wêreld deur valse godsdiens te verswelg nie? (b) Hoe het Satan valse godsdiens na die ontstaan van die Christelike godsdiens gebruik?
5 Omstreeks die sesde eeu voor Christus, toe die Babiloniese wêreldmoondheid op die kruin van haar glorie was, het Hindoeïsme, Boeddhisme, Confucianisme en Sjintoïsme na vore gekom. Maar het Satan daarin geslaag om die hele wêreld deur valse godsdiens te verswelg? Nee, want ’n oorblyfsel van Jehovah se eertydse getuies het uit Babilon na Jerusalem teruggekeer om Jehovah se aanbidding te herstel. Getroue Jode was dus ses eeue later daar om die Messias te verwelkom en om die eerste lede van die Christengemeente te word. Valse godsdiens het die marteldood van God se eie Seun teweeggebring en het Satan se instrument geword om die ware Christelike godsdiens teen te staan, net soos Jesus en sy apostels gewaarsku het.—Mattheüs 7:15; Handelinge 20:29, 30; 2 Petrus 2:1.
6. (a) Hoe het Satan Christelike leringe verdraai, en watter godonterende leringe het ontwikkel? (b) Wat het met duisende gebeur wat Bybelwaarheid bo Babiloniese dogma verkies het?
6 Veral na die tweede vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. het Satan valse apostels gebruik om Christelike leringe te verdraai en dit met Babiloniese mistisisme en wêreldse Griekse filosofie te vermeng. So is ’n ‘goddelike drietal’, die Drie-eenheid, in die plek van die Bybel se “een Jehovah” gestel (Deuteronomium 6:4, NW; Markus 12:29, NW; 1 Korinthiërs 8:5, 6). En die leerstelling dat die mensesiel onsterflik is, soos deur die heidense filosoof Plato verkondig, is ingevoer om die kosbare Bybelleringe aangaande Christus se losprys en die opstanding te loën. Dit het die weg gebaan vir geloof in ’n vurige hel en ’n minder vurige vaevuur (Psalm 89:49; Esegiël 18:4, 20). Sulke godonterende leringe wat mense se vrese uitbuit, het gehelp om die skatkiste van die kerke te vul. En in die dae van die Inkwisisie en van die Hervorming kon die geestelikes nie wag dat die vlamme van die hel die pynigingswerk doen nie. Duisende wat Bybelwaarheid bo Babiloniese dogma verkies het, is deur sowel Katolieke as Protestante lewendig op die brandstapel verbrand. Maar soos ons sal sien, gaan die hoerery van Babilon die Grote baie verder as die bevordering van valsheid.
Jehovah se dag van oordeel
7. (a) Wanneer en hoe het Jehovah begin om basiese Bybelwaarhede te herstel en valse, Babiloniese leringe aan die kaak te stel? (b) Watter basiese Bybelwaarhede het die Bybelstudente herstel?
7 Jehovah se dag van oordeel teen hierdie hoer moes kom! (Hebreërs 10:30). Daar was ’n voorbereidingstydperk, wat in die 1870‘s begin het, waarin Jehovah sy “boodskapper”—’n opregte groep Bybelstudente—gestuur het om basiese Bybelwaarhede te herstel en valse Babiloniese leringe aan die kaak te stel (Maleagi 3:1a). Hierdie “boodskapper”-groep het die profetiese woorde in Openbaring 4:11 onderskryf: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.” Die “boodskapper” het ook ’n rondborstige voorstander geword van Jesus se losprysoffer, God se voorsiening om die mensdom vry te koop. Die vrygekoopte mensdom sou ten eerste die “klein kuddetjie” insluit wat saam met Jesus in sy hemelse Koninkryk gaan regeer, en, later, die miljoene der miljoene wat vir ewig op die Paradysaarde sal lewe—waarvan die meeste uit die dood opgewek gaan word (Lukas 12:32; 1 Johannes 2:2; Handelinge 24:15). Ja, daardie Bybelstudente het hierdie fundamentele waarhede herstel en, in figuurlike sin, selfs ‘die brandslang op die hel gerig en die vuur geblus’ deur die Babiloniese dogma van ewige pyniging te weerlê!a
8. (a) Hoe het die geestelikes van die Christendom die Eerste Wêreldoorlog gebruik om die Bybelstudente te probeer vernietig? (b) Wat het met die regter gebeur wat agt beamptes van die Wagtoringgenootskap in die tronk gehou het deur hulle borgtog te weier?
8 Sowat 40 jaar lank het die Bybelstudente onbevrees verkondig dat die Heidense Tye in 1914 sou eindig. Soos verwag, het wêreldskokkende gebeurtenisse, waarvan die Eerste Wêreldoorlog nie die minste was nie, daardie jaar plaasgevind. Hoe het die geestelikes van die Christendom—die prominentste deel van Babilon die Grote—tog nie probeer om die wêreldkrisis te gebruik om daardie vrymoedige Bybelstudente te vernietig nie! Oplaas, in 1918, het hulle agt beamptes van die Wagtoringgenootskap in die tronk laat stop op valse aanklagte van sedisie. Maar hierdie beamptes is na nege maande vrygelaat en later vrygespreek. Die Amerikaanse Federale regter Martin T. Manton, wat hierdie Bybelstudente in die tronk gehou het deur hulle borgtog te weier, is later deur pous Pius XI gedekoreer en verhef tot “ridder van die orde van St. Gregorius die Grote”. Maar sy glorie was van korte duur, want in 1939 is hy tot twee jaar tronkstraf gevonnis en ’n swaar boete opgelê. Hoekom? Omdat hy daaraan skuldig bevind is dat hy ses hofbeslissings verdraai het in ruil vir sowat R446 400 se omkoopgeld!
9. Hoe het Maleagi se profesie verduidelik wat met Jehovah se volk gebeur het, en by wie het die oordeel gevolglik begin?
9 Soos ons pas gemeld het, het Jehovah se volk in 1918 ’n tydperk van hewige beproewing betree. Die profeet se verdere woorde in Maleagi 3:1-3 verduidelik wat gebeur het: “Dan sal skielik na sy tempel kom die Here [Jehovah] na wie julle soek, [en] die Engel van die [Abrahamitiese] verbond”—Jesus. (Vergelyk NW.) Ja, Jehovah het saam met sy Christus gekom om te oordeel. Dan vra Jehovah: “Wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers.” Volgens 1 Petrus 4:17 sou die oordeel begin by diegene wat bely dat hulle tot “die huis van God” behoort. Ware Christene is derhalwe gelouter en gereinig vir Jehovah se diens.
‘GAAN UIT HAAR UIT, MY VOLK!’
10. Watter goddelike oordeel is teen 1919 oor die Christendom en alle valse godsdiens uitgespreek, en wat was die gevolg vir Babilon die Grote?
10 As ’n onberouvolle deel van Babilon die Grote kon die Christendom se geestelikes nie in Jehovah se oordeel standhou nie. Hulle het hulle klere erg besoedel as deelnemers aan die slagting van die wêreldoorlog en as vervolgers van ware Christene (Jeremia 2:34). Pleks dat hulle Christus se inkomende hemelse Koninkryk begroet het, het hulle ’n mensgemaakte Volkebond gepropageer, wat hulle beskryf het as “die politieke beliggaming van die Koninkryk van God op aarde”. Teen 1919 was dit duidelik dat Jehovah sy oordeel uitgespreek het oor die Christendom—en trouens oor alle valse godsdiens. Babilon die Grote het geval en is ter dood veroordeel! Dit was hoog tyd dat alle liefhebbers van die waarheid en regverdigheid gehoor gee aan die profetiese opdrag in Jeremia 51:45: “Gaan uit [haar] uit, my volk, en red elkeen sy lewe van die toorngloed van die HERE!”
11, 12. (a) Wat sê ’n engel in Openbaring 17:1, 2 met betrekking tot die oordeel teen Babilon die Grote? (b) Wat is die “baie waters” waarop die groot hoer sit, en hoe het sy die bewoners van die aarde dronk gemaak met “die wyn van haar hoerery”?
11 Babilon die Grote het geval! Maar sy is nog nie vernietig nie. As ’n wêreldryk van valse godsdiens sal sy nog ’n kort tydjie as Satan se meesterlike bedrogspul voortbestaan. Wat is God se finale oordeel oor haar? Ons hoef nie te raai nie! Laat ons ons Bybels by Openbaring 17:1, 2 oopslaan. Hier praat ’n engel met die apostel Johannes en, deur hom, met hedendaagse studente van profesie en sê: “Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery.” Die uitdrukking “baie waters” verwys na die onstuimige mensemassa wat so lank deur die groot hoer onderdruk is. En die profesie se dat “die bewoners van die aarde” dronk gemaak word met haar wyn. Hulle drink die valse leringe en wêreldse, onsedelike weë van Babilon die Grote in en steier asof hulle bedwelm is deur goedkoop, verbode wyn.
12 In Jakobus 4:4 lees ons: “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie?” Twintigste-eeuse godsdiens is alte gretig om witvoetjie te soek by die wêreld, en dit geld veral vir die Christendom. Nie alleen versuim haar geestelikes om die goeie nuus van Jehovah se inkomende Koninkryk te verkondig nie, maar hulle water ook die Bybel se sedeleer af en verskoon wêreldse permissiwiteit onder kerklidmate. Selfs die geestelikes is nie so onskuldig wat vleeslike hoerery betref nie, iets wat die apostel Paulus so onomwonde veroordeel het met die woorde: “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete . . . sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas.”—1 Korinthiërs 6:10, 11.
Al rollende in die “modder”
13, 14. (a) Watter voorbeelde toon dat die hedendaagse geestelikes hulle nie “laat afwas” het nie? (b) Watter standpunt het ’n sinode van die Anglikaanse Kerk ten opsigte van homoseksuele geslagsdade ingeneem, en tot wat het ’n joernalis aan die hand gedoen moet die kerk herdoop word? (c) Watter woorde van die apostel Petrus is ’n raak beskrywing van die afvallige geestelikes?
13 Het die hedendaagse geestelikes hulle “laat afwas”? Wel, kyk byvoorbeeld na die situasie in Brittanje, wat eens ’n vesting van Protestantisme was. In November 1987, toe die Britse premier ’n beroep op die geestelikes gedoen het om morele leiding te verskaf, het die rektor van ’n Anglikaanse kerk gesê: “Homoseksuele het net soveel reg op seksuele uiting as enigiemand anders; ons moet die goeie daarin sien en getrouheid [onder homoseksuele] aanmoedig.” ’n Londense koerant het berig: “Die homoseksuele gebruike het so hoogty gevier in een Anglikaanse teologiese kollege dat studente van ’n ander kollege deur personeellede verbied moes word om dit te besoek.” Een studie het bereken dat waarskynlik “meer as die helfte van al die geestelikes in een gebied van Londen homoseksuele neigings het”. En by ’n kerksinode het 95 persent van die Anglikaanse geestelikes ’n mosie gesteun waarin hoerery en owerspel as sondes bestempel is, maar nie homoseksuele geslagsdade nie; sulke homoseksuele dade was volgens hulle bloot minder as ideaal. Een joernalis het in kommentaar hierop aan die hand gedoen dat die Anglikaanse Kerk gerus herdoop kon word tot Sodom en Gomorra. ’n Ander Londense koerant het gesê: “Die Britse volk is geskok wanneer hulle die resultate van ’n geslag van permissiwiteit betrag.”
14 Hoe goed het die afvallige geestelikes se handelwyse deur die jare heen met die apostel Petrus se woorde ooreengekom: “Oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol”!—2 Petrus 2:22.
15. (a) Watter agteruitgang in morele waardes het dwarsdeur die Christendom plaasgevind? (b) Wie is medeverantwoordelik vir hierdie droewige oes?
15 Dwarsdeur die Christendom, en trouens die hele wêreld, is daar ’n skrikwekkende agteruitgang in morele waardes. In sommige gemeenskappe word die huwelik nou as onnodig beskou, en getroudes meen dat huwelikstrou uit die mode is. Al hoe meer bly sommer net saam, en egskeiding skiet die hoogte in onder die wat wel trou. In die Verenigde State het egskeidings die afgelope 25 jaar meer as verdriedubbel tot ver oor die eenmiljoen per jaar. Gedurende die 20 jaar na 1965 het egskeidings in Brittanje viervoudig toegeneem, van 41 000 tot 175 000. Ongetroudes verkies om saam met ongetroudes van dieselfde of die ander geslag te lewe, en baie gaan van die een bedmaat na die ander. Hulle betreur die vreeslike seksueel oorgedraagde siektes, veral Vigs, wat weens hulle onsedelike lewenstyl vermenigvuldig, maar hulle volhard steeds in hulle verderwende seksuele gebruike. Die Christendom se geestelikes het nie hulle sondige kerklidmate getug nie. In die mate wat hulle onsedelikheid verskoon het, is hulle medeverantwoordelik vir hierdie droewige oes.—Jeremia 5:29-31.
16. (a) Wat onderstreep ook die feit dat Babilon die Grote geval het, en watter uitroep deur ’n engel in Openbaring 18:2 is gepas? (b) Wat moet almal doen wat die einde van die wêreld wil oorlewe?
16 Die treurige morele toestand in die wêreldryk van valse godsdiens onderstreep ook die feit dat Babilon die Grote geval het. God het haar geoordeel en haar tot vernietiging gedoem. Hoe gepas is die engel se harde uitroep in Openbaring 18:2 dus: “Geval, geval het [Babilon die Grote], en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls.” En hoe belangrik is dit tog dat almal wat die einde van die wêreld wil oorleef nou gehoor moet gee aan die oproep in vers 4: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie”! Dit is ’n noodsaaklike stap om uit valse godsdiens uit te gaan as ons die naderende “groot verdrukking” wil oorlewe (Openbaring 7:14). Maar meer word vereis, soos ons sal sien!
[Voetnoot]
a Op 1 November 1903, na die laaste van ’n reeks debatte in die Carnegie-saal, Pittsburgh, Pennsilvanië, VSA, tussen Charles T. Russell en dr. E. L. Eaton, het een van die geestelikes wat dit bygewoon het broer Russell se oorwinning erken en gesê: “Ek is bly om te sien dat jy die brandslang op die hel rig en die vuur blus.”
[Venster op bladsy 8]
GEESTELIKES SE MORELE WAARDES
“Volgens ouers, sielkundiges, polisiebeamptes en prokureurs wat by die sake betrokke was, het honderde kinders wat gedurende die afgelope vyf jaar deur Katolieke priesters in die Verenigde State gemolesteer is ernstige emosionele trauma deurgemaak.”—Akron Beacon journal, 3 Januarie 1988.
“Die Rooms-Katolieke Kerk in die Verenigde State moes noodgedwonge miljoene dollars se skadevergoeding aan gesinne betaal wat aanvoer dat hulle kinders seksueel deur priesters misbruik is. Ten spyte daarvan het die probleem so ernstig geword dat talle regsgeleerdes en slagoffers sê dat die kerk sulke gevalle ignoreer en toesmeer.”—The Miami Herald, 3 Januarie 1988.
[Prente op bladsy 6]
Beelde van drie-enige gode—van eertydse Egipte en van die Christendom
[Erkenning]
Versameling van die Saint-Remi-museum, Reims, foto deur J. Terrisse
Louvre-museum, Parys
[Prent op bladsy 9]
Die Bybel vergelyk onsedelike godsdiensleiers met ’n skoongewaste sog wat weer in die modder gaan rol