Jesus se lewe en bediening
Wanneer die verlore seun gevind word
HOE word die verlore seun in Jesus se gelykenis ontvang wanneer hy na sy vader se huis terugkeer? Luister na wat Jesus sê:
“Toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.” Wat ’n genadige, goedhartige vader is hy tog, en hoe goed stel hy ons hemelse Vader, Jehovah, voor!
Die vader het waarskynlik van sy seun se losbandige lewe gehoor. Maar hy verwelkom hom terug hy die huis sonder om vir ’n breedvoerige verduideliking te wag. Jesus het ook so ’n verwelkomende gees, want hy neem die inisiatief om met sondaars en tollenaars te praat, wat in die gelykenis deur die verlore seun afgebeeld word.
Die skerpsinnige vader in Jesus se gelykenis het weliswaar ’n idee van sy seun se berou as hy sy treurige, mismoedige voorkoms sien wanneer hy terugkeer. Maar die vader se liefdevolle inisiatief maak dit makliker vir die seun om sy sondes te bely, soos Jesus vertel: ‘Die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maak my soos een van u huurlinge.’
Die seun se woorde is egter nog nie eens koud nie of sy vader reageer deur sy diensknegte te beveel: “Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ’n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.”
Intussen was die vader “oudste seun . . . in die veld”. Kyk of jy kan sien wie hy voorstel deur na die res van die verhaal te luister. Jesus sê van die oudste seun: “Terwyl hy al nader na die huis kom, hoor hy musiek en beurtsange. En hy roep een van die diensknegte na hom toe en vra wat dit beteken. Dié sê toe vir hom: U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het. En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie.
“Sy vader gaan toe uit en smeek hom. Maar hy antwoord en sê vir sy vader: Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit ’n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag.”
Wie was, soos die oudste seun, krities oor die genade en aandag wat aan sondaars gegee is? Was dit nie die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie? Aangesien hulle kritiek omdat Jesus sondaars verwelkom tot hierdie gelykenis aanleiding gegee het, is dit ongetwyfeld hulle wat deur die oudste seun voorgestel word.
Jesus sluit sy verhaal af met die vader wat hy sy oudste seun pleit: “Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue. Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.”
Jesus sê dus nie wat die oudste seun uiteindelik doen nie. Trouens, later, na Jesus se dood en opstanding, het “’n groot menigte van priesters . . . gehoorsaam geword aan die geloof”, en moontlik was party van hulle lede van die “oudste-seun”-klas met wie Jesus hier praat.
Maar wie word in hedendaagse tye deur die twee seuns voorgestel? Dit moet diegene wees wat genoeg kennis van Jehovah se voornemens opgedoen het om hulle ’n rede te gee om ’n verhouding met hom te betree. Die oudste seun stel party lede van die “klein kuddetjie”, of “gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is”, voor. Hulle gesindheid was soortgelyk aan dié van die oudste seun. Hulle het geen begeerte gehad om ’n aardse klas, die “ander skape”, wat volgens hulle al die aandag getrek het, te verwelkom nie.
Daarenteen stel die verlore seun diegene van God se volk voor wat weggaan om die genietinge wat die wêreld bied na te jaag. Maar mettertyd keer hulle berouvol terug en word hulle weer bedrywige knegte van God. Hoe liefdevol en genadig is die Vader tog teenoor diegene wat besef dat hulle vergifnis nodig het en tot hom terugkeer! Lukas 15:20-32; Handelinge 6:7; Lukas 12:32; Hebreërs 12:23; Johannes 10:16.
◆ Hoe volg Jesus die voorbeeld van die barmhartige vader in sy gelykenis?
◆ Hoe beskou die oudste seun die verwelkoming wat sy broer ontvang, en hoe tree die Fariseërs soos die oudste seun op?
◆ Watter toepassing het Jesus se gelykenis in ons dag?