’n Nuwe wêreld is ophande!
HIERDIE wêreld is in sy sterwensuur! Is dit werklik die geval? Wel, ondersoek wêreldtoestande noukeurig.
Daar is genoeg kernwapens om die hele bevolking van die aarde etlike kere te vernietig. Burgeroorlog woed in talle lande, soos Angola en Mosambiek. Daar is etniese konflikte in Suid-Afrika, Sri Lanka en ander lande. Terrorisme en hongersnood eis ook ’n skrikwekkende aantal menselewens.
Wat van die Vigsepidemie? Suid-Afrika se Sunday Times van 25 Oktober 1987 het dit die “nuwe swart dood” genoem en gesê: “Nou het die volle afgryse van Afrika se Vigs aan die lig gekom: In party lande sal ses uit elke tien mense waarskynlik teen 1994 sterf.”
Sulke toestande maak vrees iets algemeens. Soos Nobelpryswenner Harold C. Urey ’n paar jaar gelede gesê het: “Ons sal vrees eet, vrees slaap, in vrees lewe en in vrees sterwe.” Dit is betekenisvol dat Jesus Christus, die grootste profeet wat ooit op aarde was, voorspel het dat mense in die laaste dae van hierdie wêreld sou “beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is”.—Lukas 21:26, NAV.
Maar daar is talle wat nie bang is nie. Hulle verheug hulle eerder. Waarom? Omdat hulle weet dat hierdie wêreldstelsel (nie die planeet Aarde nie) na aan sy einde is, maar dat ’n nuwe wêreld ophande is. Hoe kan hulle so seker wees? Omdat soveel Bybelprofesieë in vervulling gaan.
Toe Jesus Christus byvoorbeeld gevra is wat die teken van sy teenwoordigheid en van die einde van die wêreld sou wees, het hy gesê: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander.” In 1914 het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. Nooit tevore het oorlogvoering soveel menselewens geeis nie. Hoeveel soldate het gesneuwel? Sowat 9 000 000, bo en behalwe die miljoene burgerlikes! Maar die Tweede Wêreldoorlog was baie vernietigender en het sowat 55 000 000 lewens geëis! Jesus het daarop gewys dat al hierdie dinge met hongersnode, aardbewings, pessiektes en wetteloosheid gepaard sou gaan.—Mattheüs 24:7-13, vgl. NW; Lukas 21:10, 11.
Die Christenapostel Paulus het ook ’n akkurate voorspelling van huidige wêreldtoestande gegee. Hy het geskryf: “Weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloen het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Timotheüs 3:1-5). Paulus kon hedendaagse toestande so akkuraat voorspel, omdat God hom geinspireer het om daardie woorde te skryf.
Wat sy eie woorde aangaande die tyd van die einde betref, het Jesus gesê: “Julle [moet] ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur” (Lukas 21:31). Miljoene gebruik Jesus se modelgebed en vra dat God se Koninkryk moet kom (Mattheüs 6:9, 10). Maar wanneer hulle gevra word: “Wat gaan hierdie Koninkryk eintlik doen?”, het hulle geen antwoord nie. Daarenteen het miljoene wat die Bybel ywerig bestudeer, geleer dat die Koninkryk ’n einde aan hierdie ou wêreld gaan maak en ’n nuwe wêreld tot stand gaan bring wat tallose seëninge vir die mensdom sal meebring. Maar hoe? Wanneer?