Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 11/15 bl. 4-6
  • Die nuwe wêreld—Die Paradys herstel!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die nuwe wêreld—Die Paradys herstel!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Paradys verloor
  • Die Paradys herstel
  • Die nuwe wêreld—werklik anders!
  • Wat van jou?
  • ’n Aardse paradys is voor die deur
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • “Sien julle in die Paradys!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Jy kan ’n gelukkige toekoms hê!
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • ’n Beter lewe word belowe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 11/15 bl. 4-6

Die nuwe wêreld—Die Paradys herstel!

’N PASGETROUDE paar het ’n pragtige tuiste gehad—’n groot park vol blomme, bome, voëls en diere. Dit was die Paradys, ’n groot geskenk van hulle liefdevolle Vader! Het hulle “vir ewig gelukkig saamgeleef”? Nee. Dit was nie lank nie of hulle het hul tuiste verloor. Maar waarom?

Die paartjie het daardie paradystuiste verloor omdat hulle nie waardeer het wat hulle Vader vir hulle gedoen het nie. Nog erger, hulle was ongehoorsaam. Hulle Vader het hulle onkreukbaarheid getoets deur hulle toestemming te gee om die vrugte van elke boom, buiten die van een, te eet, maar hulle het opstandig en ongehoorsaam geword en daarvan geëet.—Genesis 2:15-17; 3:6, 7.

Waarom so ’n straf vir wat op die oog of ’n geringe oortreding was? Moontlik sal ’n illustrasie help om daardie vraag te beantwoord. ’n Winkeleienaar neem ’n bestuurder met die nodige kwalifikasies in diens. Om seker te maak dat sy nuwe werknemer vertrou kan word, gee die eienaar hom die sleutels, maar hy sê dat hy onder geen omstandighede ’n sekere laai moet oopsluit nie. As die werknemer dit doen, sal by afgedank word. Wanneer die bestuurder alleen is, kry sy nuuskierigheid die oorhand en maak by die laai oop. Die eienaar betrap hom op heter daad en dank hom af.

Die Paradys verloor

Hoe hou dit verband met die jong paartjie? Omdat hulle die verbode vrug geëet het, het hulle Vader hulle uit hul pragtige tuiste uitgesit. Buite die Paradys van Eden het daardie egpaar, Adam en Eva, met dorings en distels te kampe gehad. Pleks van volmaak te wees, was hulle nou onvolmaak. En pleks van vir ewig te lewe, het hulle begin doodgaan. Hulle kinders het hulle onvolmaaktheid, sondigheid en die dood geerf.—Romeine 5:12.

Uiteindelik het “die HERE [gesien] dat die boosheid van die mens op die aarde groot was”. Gevolglik het God in die dae van Noag die sondvloed gebruik om die aarde te reinig. Het enige mense dit oorleef? Net agt—Noag en sy drie seuns asook hulle vier vroue. Ter voorbereiding vir wat hulle reis tot in ’n ander wêreld genoem kan word, het ‘hulle God se instruksies nagekom en ’n reuse-ark gebou waarin hulle, talle soorte diere en ’n toereikende voedselvoorraad vervoer kon word (Genesis 6:5-7, 13-22). Die tuin waarin Adam en Eva hulle eens verlustig het, is deur die sondvloed uitgewis. Die Paradys is dus verloor—maar nie vir ewig nie!

Die Paradys herstel

Eeue later het God sy eniggebore Seun na die aarde gestuur om die mens van sonde en die dood te bevry. Gevolglik sou diegene wat geloof in Jesus Christus beoefen die ewige lewe kon verkry (Johannes 3:16). Jesus het ook voorspel dat die Paradys herstel sou word. Trouens, toe die sterwende Jesus aan die folterpaal gehang het, het hy vir ’n misdadiger wat langs hom gehang het, gesê: “Jy [sal] saam met My in die Paradys wees.”—Lukas 23:43.

Die herstel van die Paradys sal volg op die einde van die wêreld, soos dit dikwels genoem word. Jesus het laasgenoemde voorspel toe sy dissipels gevra het: “Wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” Jesus het hulle geantwoord deur die aandag te vestig op oorloë, hongersnode, aardbewings, pessiektes, toenemende wetteloosheid en ’n kampanje om die Koninkryk wêreldwyd te verkondig. Hierdie en ander kenmerke van die teken word sedert 1914 gesien (Mattheüs 24:3-14). Hulle is voorlopers van die einde van hierdie stelsel en die herstel van die Paradys op hierdie aarde.

In dieselfde profesie het Jesus ook gesê: “Leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Mattheüs 24:32-35). Ander Bybelprofesieë toon ook dat die herwinning of herstel van die Paradys baie naby is, dat ’n nuwe wêreld ophande is. Maar watter toestande sal daardie nuwe wêreld kenmerk?

Die nuwe wêreld—werklik anders!

Hedendaagse regerings gaan deur God se Koninkryk vervang word (Daniël 2:44). In die nuwe wêreld onder die Koninkryksheerskappy deur Jesus Christus, die “Vredevors”, sal daar geregtigheid en blywende vrede vir almal wees (Jesaja 9:5, 6). Aangesien hy die goddelose en wettelose elemente gaan vernietig wat die mens tans oorheers, sal net vredeliewende “regskapenes” oorbly (Spreuke 2:21, 22; Openbaring 19:11-21; 16:14-16). Ja, die oorlewendes sal sagmoedige, vredeliewende mense wees. Wat ’n verligting sal dit tog wees!

In die nuwe wêreld sal rassevooroordeel en ander vorme van vooroordeel verdwyn. Trouens, ’n groot menigte mense het sulke dinge reeds in groot mate oorkom. Wie is hulle? Jehovah se Getuies. En waarom is hulle so anders? Omdat hulle die Bybel ywerig bestudeer, dit in hul lewens toepas en liefde onder mekaar het (Johannes 13:34, 35; Handelinge 10:34, 35). Daar is reeds miljoene Getuies wêreldwyd, maar die Bybel voorspel dat Jehovah se aardse aanbidders uiteindelik “’n reuse-aantal” sal word, “onmoontlik om te tel, van mense van elke nasie, ras, stam en taal”.—Openbaring 7:9, The Jerusalem Bible.

Oorlog sal nie meer menselewens eis nie. Daar sal nie meer miljarde aan kernwapens, ander wapentuig en leërmagte bestee word nie. Revolusies, etniese konflikte en alle ander vorme van geweld sal nie meer bestaan nie (Jesaja 2:4). Militêre opleiding en verpligte krygsdiens sal iets van die verlede wees, want dit sal nie meer nodig wees nie. Wat ’n vreugdevolle dag sal dit tog wees wanneer God ’n einde aan oorloë maak!—Psalm 46:9, 10.

Ware vrede sal heers. “En nog ’n klein rukkie”, het die psalmis gesê, “en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Psalm 37:10, 11.

In plaas van hongersnode sal daar oorvloed wees. Op talle plekke het arm boere nou te kampe met dorings en distels, skraal grond, woestynvorming, droogte en verwoestende sprinkaanplae. A1 hierdie dinge sal ongedaan gemaak word (Jesaja 35:1, 6, 7). Die gevolg? Baie groter opbrengste! (Psalm 72:16). Jehovah sal tekorte aan eet- en drinkgoed beëindig en “’n feesmaal” voorsien!—Jesaja 25:6, NAV.

Almal sal produktiewe werk hê. Hoe bevredigend sal dit tog wees om huise te bou, vrugtebome te plant en tuine te bewerk! En hoe heerlik tog om in die skadu van jou eie vyeboom te sit en die heerlike vrugte daarvan te eet!—Miga 4:4.

Die allerbeste behuising sal vir almal beskikbaar wees. Vandag woon miljoene in krotbuurte of in plakkersdorpe. Wat ’n ongelukkige lewe! In Afrika verlaat miljoene van die Swart bevolking byvoorbeeld die platteland, maar hulle moet dikwels in modder- of kleihuise met sinkdakke, swak higiëniese toestande en min privaatheid woon. Maar in die nuwe wêreld sal mense pragtige huise bou en daarin woon.—Jesaja 65:21, 22.

Pleks van siekte en gesondheidsgevare soos dodelike Vigs sal almal volmaakte gesondheid geniet. Die geïnspireerde profeet het voorspel dat niemand sal sê “Ek is siek” nie. Trouens, in die nuwe wêreld wat nou ophande is, “sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel.”—Jesaja 33:24; 35:5, 6.

Die dood, trane en roukamers sal verdwyn (Openbaring 21:4). Maar wat van die miljarde wat reeds dood is? Toe hy as mens op aarde was, het Jesus verskeie persone opgewek. Eenkeer het hy byvoorbeeld ’n lykstoet teëgekom wat saam met die baar van ’n jongman geloop het wat kort tevore in die stad Nain gesterf het. Na ’n paar vertroostende woorde aan die bedroefde moeder, ’n weduwee, het Jesus gesê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” En hy het! (Lukas 7:11-17). By ’n ander geleentheid het Jesus hierdie versekering gegee: “Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is . . . sal uitgaan” (Johannes 5:28, 29). Aangesien God triljoene sterre en ander hemelliggame geskep het en hulle selfs “by die naam” noem, sal die opwekking van miljarde mensedode tog seker geen probleem oplewer nie.—Jesaja 40:26.

Wat van jou?

Dit was Jehovah God se oorspronklike voorneme dat die mens nooit moes sterf nie, maar vir ewig die goeie dinge moes geniet wat hy liefdevol voorsien. Stel jou dus die seëninge van die lewe in die nuwe wêreld met gelukkige gesinne voor! Dink aan kinders wat in veiligheid met diere sal kan speel wat nou so gevaarlik is (Jesaja 11:6-9). Beskou die seëninge van vrede, goeie behuising, bevredigende werk, volop kos. Ja, en dink aan die ewige lewe in ’n aardse paradys.

Kan jy daar wees? Ja, as jy juiste kennis aangaande God se Woord opdoen en dienooreenkomstig optree. Jehovah se Getuies is bereid om jou te help om geloof in God se onfeilbare voornemens op te bou. Jy kan vol vertroue wees dat die Paradys binnekort herstel sal word, want ’n nuwe wêreld is ophande!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel