Vrae van lesers
◼ Is siek en kreupel persone werklik genees wanneer die waters van Betesda in beweging gekom het, soos Johannes 5:2-7 te kenne gee? En indien wel, deur watter mag het hierdie wonderwerke plaasgevind?
Die verslag in Johannes 5:2-9 bevestig nie dat ’n aantal wonderdadige genesings by ’n bad in eertydse Jerusalem plaasgevind het nie. Die enigste wonderwerk wat daar plaasgevind het waarvan ons seker kan wees, is die een wat deur Jesus Christus verrig is toe hy ’n man genees het wat 38 jaar lank siek was. Ons kan hierdie wonderwerk aanvaar, want die verslag daarvan is in die geïnspireerde Skrif (2 Timotheüs 3:16). Maar baie in Jerusalem het destyds geglo dat ander wonderwerke by daardie plek plaasgevind het, net soos talle vandag glo dat wonderdadige genesings by tempels plaasvind.
Let op wat die Bybel wel sê, en wat dit werklik nie sê nie: “By die Skaappoort in Jerusalem was daar ’n bad met die Hebreeuse naam Betesda. Dit het vyf pilaargange gehad, waar daar baie gestremdes gelê het: blindes, kreupeles en lammes. Onder hulle was daar ’n sekere man wat al ag en dertig jaar lank siek was. Jesus het hom sien lê en net geweet dat hy al baie lank siek was. Toe vra Hy vir hom: ‘Wil jy gesond word? ‘Die sieke het Hom geantwoord: ‘Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.’ Jesus sê toe vir hom: ‘Staan op, tel jou goed op en loop.’ Oombliklik het die man gesond geword, sy goed opgetel en geloop.”—Johannes 5:2-9, NAV.
Die bad wat hier gemeld word, was naby die “Skaappoort”, wat klaarblyklik in noordoostelike Jerusalem naby die tempelberg was (Nehemia 3:1 ; 12:39). Toe daar onlangs opgrawings gedoen is, is bewyse van twee antieke baddens gevind, met fragmente van pilare en fondamente wat daarop dui dat ’n gebou met pilaargange in Herodiaanse tye daar bestaan het, soos Johannes 5:2 sê. Maar wat het mense destyds gedink kan hier plaasvind?
Sommige Bybels sluit ’n ekstra passasie in wat as Johannes 5:4 genommer word. Daardie toevoeging lui naastenby soos volg: “Want ’n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan na die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het.”
Maar ’n aantal hedendaagse Bybels, waaronder die nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel, laat hierdie passasie uit. Waarom? Omdat dit na alle waarskynlikheid nie in Johannes se Evangelie was nie. ’n Voetnoot in The Jerusalem Bible sê dat die “beste getuies” hierdie passasie weglaat. Die “beste getuies” wat hier gemeld word, is eertydse Griekse manuskripte, soos die Codex Sinaiticus en die Vatican 1209 (albei van die 4de eeu G.J.), en vroeë vertalings in Siries en Latyns. Nadat dit melding maak van ‘die afwesigheid van vers 4 uit die beste manuskriptekste’, voeg The Expositor’s Bible Commentary by: “Dit word algemeen beskou as ’n kommentaar wat ingevoeg is om die periodieke beweging van die water te verduidelik, wat deur die bevolking as ’n potensiële bron van genesing beskou is.”
Die Bybel sê dus nie werklik dat ’n engel van God wonderwerke by die bad van Betesda gedoen het nie. Het wonderdadige genesings wel plaasgevind wanneer die water in beweging gekom het? Niemand kan vandag met sekerheid sê nie. Miskien het ’n tradisie op die een of ander manier ontstaan dat siek of kreupel mense daar genees is. Toe gerugte van sogenaamde genesings eers versprei het, het wanhopige persone dalk daar begin saamdrom in die hoop dat hulle genees sal word. Ons weet dat dit in ons tyd by verskeie plekke gebeur het, selfs wanneer daar geen gedokumenteerde bewys van goddelike genesings is nie.
Ons moet egter nie skepties wees oor die genesing wat die Seun van God by die bad van Betesda gedoen het nie. Die man is oombliklik genees deur die Groot Geneesheer sonder dat hy selfs in die water gegaan het. Die gedokumenteerde vermoë van Jesus om dit te doen, behoort ons rede te gee om uit te sien na die genesings wat hy gedurende die naderende Millennium sal doen. Hy sal getroue mense genees en help om weer volmaaktheid te bereik.—Openbaring 21:4, 5; 22:1, 2.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
Prenteargief (Nabye Oorterse geskiedenis)