Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 9/1 bl. 19-23
  • Lewenslank saam in die pionierdiens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lewenslank saam in die pionierdiens
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë kontak
  • Getuieniswerk op die platteland
  • Die pionierdiens in nuwe gebiede
  • Na Tarsis of Nineve?
  • Getuieniswerk tydens die Londense lugbombardement
  • Ons vind “skape” in Wallis
  • Hulle het ’n pers driehoek gedra
    Ondervindinge van Jehovah se Getuies
  • Jehovah trek nederiges na die waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Die beste manier waarop ek my lewe kon gebruik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 9/1 bl. 19-23

Lewenslank saam in die pionierdiens

In ’n netjiese en eenvoudig gemeubileerde vertrek in Cardiff, Wallis, het die Gemeentelike Boekstudie pas ten einde geloop. Die studiehouer bedank die twee pioniersusters Maud Clark en Mary Grant, wat nou in hulle negentigerjare is, vir hulle gasvryheid en spoor hulle aan om oor hulle herinneringe te gesels . . .

Maud: Dit is nou 65 jaar sedert ek en Mary mekaar ontmoet en saam pionierdiens begin doen het.

Mary: Ja, dit was in 1923, op ’n koue, sneeuagtige aand in Januarie! Onthou jy, Maud? Ek het jou van die Much Wenlock-stasie reguit na my blyplek geneem. Ons het ’n stukkie geëet, en daarna het ons Tabernacle Shadows saam bestudeer. Die volgende oggend is ons daar weg op ons fietse om vir die Shropshire-boere te gaan preek.

Vroeë kontak

Maud: Ons was natuurlik voorberei hiervoor. Ons was albei al ’n ruk lank in die pionierdiens. Selfs as jong meisie het ek altyd in God se Woord belanggestel. Ek kan onthou dat ek glad sewe psalms in die kerk opgesê het om ’n gratis Bybel te kry! In 1908, toe ek 11 was, het my oudste suster die boek The Divine Plan of the Ages gelees, die kerk waarvan ons lidmate was, verlaat en ’n Bybelstudent geword. Tuis het ons gesprekke om Bybelwaarhede begin draai. Maar toe my pa oorlede is, het ek begin wonder: ‘Waar is die dode?’

Hoe verheug was ek tog om die antwoord te vind toe ek na The Photo-Drama of Creation gaan kyk het, wat in my tuisdorp Sheffield vertoon is! Op daardie treffende skyfies, wat met die grammofoonplate gesinchroniseer is, het ek ’n voorstelling gesien van hoe die Sunamitiese vrou se seun opgewek is. Ja, ek het geleer dat die dode van niks bewus is nie totdat hulle opgewek word.—2 Konings 4:32-37.

Ek het dadelik uit die Anglikaanse Kerk bedank en aan wat ons pastorale werk genoem het, begin deelneem deur Bybellektuur in die einste gebied te versprei waar mense my geken het as iemand wat kerklike tydskrifte versprei. Ek het my toewyding aan Jehovah in Augustus 1918 tydens ’n byeenkoms in die nabygeleë stad Leeds gesimboliseer.

Nadat ek gelukkige vakansies saam met twee kolporteursusters in Derbyshire deurgebring het, het ek besluit om die pionierdiens my lewenswerk te maak. In Augustus 1922 het ek in my eerste toewysing begin dien: Biggleswade in Bedfordshire.

Een van die kolporteurs het vir my gesê: “As jy dit die eerste ses maande kan uithou, sal jy die paal haal.” Daardie eerste maande was nie maklik nie. Ek het ’n ongeluk met my fiets gehad. Toe het my eerste pioniermaat teruggekeer huis toe. Maar ek was vasbeslote om aan te hou en het dus aan die Genootskap geskryf en om ’n maat gevra. En Jehovah het Mary vir my gegee!

Mary, jy het nog vóór my jou standpunt vir die waarheid ingeneem, nie waar nie?

Mary: Ja, Maud. Ons het destyds in Cardiff, Suid-Wallis, gewoon. Toe ek 16 was, het my ouma my die boek The Divine Plan of the Ages gegee om te lees, wat sy gekry het by ’n openbare vergadering wat deur die Bybelstudente georganiseer is. Dit was altyd my begeerte om die Bybel te verstaan en ’n sendelinge te wees wanneer ek groot is. Toe ek hierdie boek gelees het, het ek geweet dat ek die waarheid gevind het.

Ek het die Bybelstudente se vergaderinge begin bywoon, hoewel my ma kwaai daarteen gekant was. My ouers was welgesteld, en omdat hulle my nie toegelaat het om te werk nie, was die situasie by die huis baie beperkend. Ek het nietemin daarin geslaag om die res van die stel Bybelstudiehulpe te bekom. Toe my ma dit uitvind, het sy woedend die boeke verbrand en vir my gesê dat ek te jonk is om my met sulke dinge op te hou. Al manier waarop ek die boeke kon vervang, was om ’n paar keer vroeg in die oggend na die huis van een van die Bybelstudente sowat drie kilometer daarvandaan te gaan en hulle dan een vir een in my huis in te smokkel. Ek het dit gewoonlik gretig gelees voordat die res van die huismense wakker geword het en dit gedurende die dag in die pakkamer weggesteek.

In 1913, toe ek 17 was, het ek op ’n besigtigingsvakansie na Londen gereis. Dit het gelukkig saamgeval met ’n besoek van broer Russell aan ’n byeenkoms wat in die Kingsway-saal gehou is. Daar het ek my begeerte uitgespreek om gedoop te word. Die kolporteursuster wat in Cardiff gewerk het, het broer Russell genader en hom gevra of hy dink dat ek te jonk is. Hy het my gevra hoe oud ek is en my uitgevra om te sien of ek die Skrif verstaan en om vas te stel of ek my lewe aan Jehovah toegewy het. Daarna het ek ’n lang, swart rok aangetrek en by die ander doopkandidate by die Londen-tabernakel aangesluit. Ek onthou nog so goed die woorde wat ons gesing het toe ons uit die water geklim het:

“Met Christus begraaf

en met hom opgewek,

Wat anders staan my nog te doen?

Ek moet net ophou

worstel en stry,

Ek moet net ’n nuwe lewe lei.”

Na die tyd het ’n broer na my gekom en gesê: “Jy is seker die laaste van die 144 000 om in te kom; jy het net so ’n kort tydjie oor om jou roeping en verkiesing te verseker.” Dit was die beskouing van talle wat met groot afwagting na die naderende jaar, 1914, uitgesien het. Vir my was dit egter ’n tyd van beproewing, omdat ek tuis kwaai teenkanting ondervind het. Ek het die vergaderinge so dikwels moontlik bygewoon. In 1916 het ek die voorreg gehad om as plekaanwysster te dien toe The Photo-Drama of Creation in Cardiff vertoon is. Nadat ek my verpleegstersopleiding in Manchester voltooi het, het ek in 1922 die voltydse pionierdiens betree.

Getuieniswerk op die platteland

Maud: Destyds moes ons werklik die inisiatief neem. Ons het vir almal gesê dat ons met ’n Christelike werk besig is. In daardie dae was die mense lief vir lees. Ons het Die harp van God en die stel Studies in the Scriptures vir hulle aangebied. Ons het natuurlik ’n redelik groot tas nodig gehad om al hierdie lektuur in te dra. Myne was so groot dat toe ek op ’n dag by ’n afgeleë plaas aankom die boer se vrou gedink het ek ’n familielid uit Kanada is wat kom kuier het. Hoe het ons tog nie gelag nie!

Aangesien die pionierdiens ons loopbaan was, het ons ons bestaan gemaak uit die verspreiding van die boeke wat die Koninkryksboodskap bevat het. Ons het ons middele versigtig gebruik en spaarsaam geleef, boeke vir botter en ander plaasprodukte verruil en aartappels, knolrape en kool wat van plaaskarre op die hobbelrige grondpaadjies afgeval het, opgetel. Ons kon naderhand sonder moeite die pap bande van ons fietse heelmaak en het goeie naaldwerksters geword wat ons eie klere gemaak het.

Wanneer die broers wat as reisende sprekers gedien het Bybeltoesprake in die dorpe gehou het, het ek en Mary agternagekom om belangstellendes wat na hulle prediking geluister het verder te help. Groepies belangstellendes is in Shrewsbury en ander dorpe gevorm. En hoe het ons tog na die byeenkomste uitgesien! Ek dink 1926 se byeenkoms in Londen was puik. Daar het ons die bykomende voorreg gehad om die boekie The Standard for the People in die strate van die hoofstad te versprei. Later het ons baie opgewonde geword toe ons ’n brief van die Genootskap ontvang het. Dit was ’n ander toewysing vir ons: Noord-Ierland.

Die pionierdiens in nuwe gebiede

Ons het in die Antrim-graafskap, Noord-Ierland, aangekom om pionierdiens onder ’n godsdienstig verdeelde volk te doen. Eers het ons in Greenisland gebly. Dit was nat en koud, en ons kon weens ’n steenkoolstaking in Engeland weke lank nie vuur maak nie. Ek sien nog hoe ons saans met ons jasse en handskoene aan probeer studeer het terwyl ons van die koue gesit en bibber het. Maar toe die somer kom, het ons Jehovah innig gedank vir die voorreg om in die pragtige omgewing van die Antrimvalleie te kan werk! Die mense het aandagtig na die Koninkryksboodskap geluister. O ja, hulle het dikwels geargumenteer, maar hulle was vriendelik. “Kom ’n oomblikkie in”, het hulle gewoonlik gesê, en dan het hulle die ketel op die greesha (gloeiende turfkole) gesit om te kook en het ons gesprek voortgegaan.

Mary: Aangesien ons toe altesaam vier pioniermeisies in ons toewysing was, het ons die hele teokratiese rooster vir vergaderinge gevolg. Ons het elke oggend ’n Bybelteks bespreek en “My oggendbesluit” gelees, wat deels gesê het: ‘Daagliks sal ek voor die Troon van Hemelse Genade die algemene belange van die oeswerk, veral die voorreg wat ek self het om aan daardie werk deel te neem, en die dierbare medewerkers in Bethel en op elke ander plek in gedagte hou.’ Woensdagaand het ons ons Gebeds-, Lof- en Getuienisvergadering gehad. Sondae het ons Die Wagtoring saam bestudeer en om ’n orreltjie, soos dié wat dikwels in mense se huise aangetref is, saamgekom om uit die Hymns of the Millennial Dawn te sing, soos:

“Ag die oorwinning nie behaal,

Verslap ook nooit die hand

Jou sware taak is eers gedaan

As jy jou kroon ontvang.”

Maud: Dit was ’n groot verandering toe ons ’n nuwe soort spesiale werk ontvang het—ons het “sakegebou-pioniers” geword. Hoe sou ons ooit vir sakemanne, bankbestuurders en sulke mense kon getuig? Daardie groot geboue in Belfast het ontsaglik gelyk. Maar ons het Filippense 4:13 in gedagte gehou: “Ek is tot alles in staat deur [Hom] wat my krag gee.” En ons het nooit daaraan gedink om ons toewysing van die hand te wys nie. Watter wonderlike ondervindinge het ons tog nie gehad toe ons met daardie mans gepraat en heelwat lektuur by hulle gelaat het nie! Teen 1931 het ons die sakegeboue gedek en was ons reeds vyf jaar in Noord-Ierland. Ons het gewonder waar ons volgende toewysing sou wees. Tot ons verbasing was dit die sakegeboue in Dublin.

Na Tarsis of Nineve?

Ons moet erken dat ons aanvanklik soos Jona gevoel het, wat ’n toewysing ontvang het om vir Nineve te gaan preek maar eerder na Tarsis gegaan het. Ons sou ’n ander toewysing verkies het. Ons het kort voor lank besef in watter mate ons op Jehovah moet steun. Maar hoe ontmoedigend was dit nogtans om by Nelson se Pilaar in Dublin te staan en die strate vol priesters en nonne te sien, terwyl mans hulle hoede afhaal en vroue ’n kruis slaan ter ere van ‘die heilige Maagd’. Destyds was daar maar net vier Bybelstudente in Dublin.

Ons het daarin geslaag om kamers by ’n Rooms-Katolieke gesin te huur. Ons moes ons lektuur natuurlik onder die bed wegsteek, want die priester het die huis gereeld besoek. Op ’n dag het ’n sakeman van Dublin na ons woonplek gekom en gesê: ‘Julle het boeke by my bank gelaat.’ Hy was so ingenome met die boeke dat hy na elke winkel gegaan het om te sien of hulle regter Rutherford se boeke verkoop. Toe het hy na New York geskryf, van waar hy ons adres ontvang het. Hy het ’n geselligheid vir al sy vriende gereël om hulle van die dinge wat hy geleer het te vertel.

Later daardie jaar het ons ’n byeenkoms in Liverpool, Engeland, bygewoon waar ons ons nuwe naam, Jehovah se Getuies, gehoor het. Toe ons terug in Dublin was, het ons deelgeneem aan die kampanje om die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld te versprei, waarin die byeenkomsresolusie verskyn het. Ons het al die monnike- en nonnekloosters sowel as sakegeboue besoek, waar ons gratis eksemplare van die boekie aangebied het. Al die boekies is aanvaar!

Mary: Eendag het ons ’n boot met die Liffey-rivier sien afvaar, en dit het ons op die idee gebring om vir die bemannings van die skepe in die dok te getuig. Toe ons in die dokgebied wou ingaan, het ’n polisieman ons voorgekeer en ons na ons doen en late uitgevra. Toe ons die boeke vir hom wys, het hy gesê: “Gaan maar voort.” Ons het verskeie skeepskapteins van ander lande ontmoet wat van die Getuies geweet het. Wanneer ons terugdink aan daardie ondervindinge verwonder ons ons oor die manier waarop Jehovah oor ons gewaak het wanneer ons elkeen alleen aan boord van die skepe gegaan het.

Getuieniswerk tydens die Londense lugbombardement

Maud: Toe die oorlog in 1939 uitbreek, het ons na Liverpool teruggekeer en by nog 20 pioniers aangesluit wat in die pionierhuis gewoon het. Ons het destyds lug- en bomaanvalle deurgemaak en getuig waar mense ook al bereid was om te luister. Baiekeer het ons die plate op ons grammofone gesit, die Koninkryksboodskap bespreek en dan na die pionierhuis teruggehardloop of ons van die een bomskuiling na die ander gehaas. Deur hierdie hele tydperk heen was ons nooit bang nie, omdat ons die Here se werk gedoen het.

Wanneer ons met die strate afgeloop het, het mense ons dikwels uitgeskel weens die Getuies se neutraliteit gedurende hierdie oorlogstyd. Ek onthou hoe ’n jong man by een huis na die plaatopnames geluister en ’n gereelde Bybelstudie aanvaar het. ’n Probleem het opgeduik. Hy het kort tevore aangebied om by die Britse vloot aan te sluit. Hy het ’n brief aan die owerhede geskryf waarin hy sy standpunt ten opsigte van neutraliteit uiteengesit het, waarna hy algehele vrystelling van militêre diens ontvang het. Later het hy by ons in die voltydse diens aangesluit.

Mary: Ek sal nooit daardie oorlogsdae vergeet nie, Maud. Onthou jy nog wat gebeur het toe ons in 1942 na Knutsford in Cheshire getrek het? ’n Dame het vir ons geskreeu: ‘Wat doen julle vir die oorlogspoging?’ Nog voor ons kon antwoord, het ’n verbyganger geantwoord: ‘Sy doen die werk wat ons nie die moed het om te doen nie.’ ’n Bejaarde man het ingeval: ‘Hulle doen ’n goeie werk.’

Maud: Die Bybelstudiewerk was werklik die belangrikste ding. Ek het ’n wonderlike ondervinding gehad toe ek by ’n plaas aangegaan en ’n dame ontmoet het wat vir my gesê het dat haar seuntjie in ’n padongeluk gesterf het. Ek het die boekie Hope for the Dead by haar gelaat en ’n Bybelstudie begin. Na net sewe studies het hierdie dame my in die getuieniswerk begin vergesel. ’n Paar maande later het haar man die waarheid aangeneem, en binne twee jaar het hierdie egpaar hulle plaas verkoop en die pionierdiens betree. Hulle dogter het later by hulle in die voltydse diens aangesluit, en sy en haar man dien nou in die Londense Bethel.

Tydens 1941 se byeenkoms in Leicester het broer Schroeder aangekondig dat die spesiale pioniers voortaan ’n geringe geldelike toelaag sou ontvang om hulle uitgawes vir lewensbehoeftes te help dek. Byna 20 jaar lank het Jehovah ons lektuurverspreiding geseën en op hierdie manier in ons behoeftes voorsien. Jehovah het ons nooit in die steek gelaat nie. Ons het gevind dat ‘nie een van die goeie beloftes wat Hy gemaak het onvervul gebly het nie’.—1 Konings 8:56, NAV.

Ons vind “skape” in Wallis

In 1954 het ons ons in Milford Haven, Wallis, bevind. Ondanks teenkanting van die geestelikes het ons gepreek en etlike regskapenes gevind wat op ons boodskap ag geslaan het. Ons het hulle gehelp om ’n groep te vorm en hulle gewys hoe om vergaderinge te hou en kort, betekenisvolle kommentare te lewer. Wat ’n vreugdevolle geleentheid was dit tog om te sien hoe sewe gedoop word in ’n skaapdip vol warm water wat in melkkarrings aangedra is!

In die Walliese valleidorp Abercynon het ’n besoek op ’n tydskrifroete goeie resultate gelewer. Hoewel die dame wat gereeld nommers van die tydskrifte geneem het, gesê het: “Ek glo nie wat julle my vertel nie”, het sy ingestem om die tydskrifte te lees. By ’n latere besoek het ek haar man ontmoet, terwyl hy besig was om die huis te verf. Na ’n vriendelike geselsie het ons reëlings getref om die volgende week ’n Bybelstudie te begin. Ons het vriende gemaak met die drie seuns wat by die studie aangesluit het. Uiteindelik het die ma en haar seuns hulle lewens aan Jehovah toegewy en is hulle gedoop. Tot op hede het 35 lede van daardie familie die waarheid aangeneem, waarvan party as hulp-, gewone en spesiale pioniers dien en party as ouere manne.

Hier is ons nou in Cardiff, waar ons op ons lewens terugkyk. Daar is niks waaroor ons spyt is nie. Jehovah het in al ons materiële behoeftes voorsien. Ons het ’n wonderlike lewe as pioniermaats gehad, en ons beskou die voltydse diens steeds as ons grootste skat in die lewe.

Nou verbly dit ons harte so om te sien hoe die pioniergeledere groei. En al daardie jongmense wat hierdie kosbare diens betree—hoe verbly dit ons tog nie! Ek en Mary is nou al 65 jaar lank pioniermaats. Ons lewens was nog altyd eenvoudig maar bedrywig, moeilik maar bevredigend. Ons beveel werklik die pionierdiens as ’n loopbaan aan.

[Prent op bladsy 23]

Maud (links) en Mary se grootste skat is steeds hulle voltydse diens aan Jehovah

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel