Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 8/15 bl. 4-7
  • Sukses—Tot elke prys?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sukses—Tot elke prys?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Afgedwaal—Hoe?
  • Die smarte van “sukses”
  • ’n Beter soort sukses
  • Hou aan om geestelike sukses na te streef
  • Vind ware sukses in die lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Hoe om ware sukses te behaal
    Ontwaak!—2014
  • Moet Christene arm wees?
    Ontwaak!—2003
  • Die seën van Jehovah maak ryk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 8/15 bl. 4-7

Sukses—Tot elke prys?

DIE vasbeslotenheid om sukses te behaal toon dat ’n mens ’n bepaalde doelwit het. Wat is jou lewensdoelwit? Wat is jy bereid om te doen om dit te bereik? Trouens, wat moet jou belangrikste strewe wees om waarlik tevrede en gelukkig te kan wees?

In talle lande van die Derde Wêreld laat die algemene lewenstandaard veel te wense oor. Met die oog op probleme wat aldaar heers, sal toepaslike raad uit God se Woord ons help om ons eie doelwitte en sukses beter te evalueer, ongeag waar ons woon.

Omdat daar soveel armoede is, jaag talle mense finansiële sukses ten koste van alle ander dinge na. Sommige maak hulle skuldig aan oneerlikheid om dit te kan behaal. Maar toe hulle ware Christene geword het, moes hulle hierdie gesindheid vir goed afgelê het om aan die Bybel se regverdige standaarde te voldoen.

Selfs sommige Christene raak egter opnuut vasgevang in die strewe na wêreldlike doelwitte. Hulle verval moontlik in onchristelike gedrag om sukses te behaal. Ouers verwaarloos hulle gesinne. Individue verwaarloos hulle diens aan God. Wat dink jy sal van hulle tevredenheid in die lewe en hulle geluk word?

Die Bybel stel ons op ons hoede vir die nadraai deur te waarsku: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede . . . Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.”—1 Timotheüs 6:9, 10.

“Alle euwels.” “Met baie smarte deurboor.” Dit klink beslis nie na ’n beskrywing van tevredenheid en geluk nie, of hoe? Tog toon die ondervinding van miljoene mense deur die eeue heen, selfs tot vandag toe, hoe waar daardie Bybelverklaring is. Watter doelwitte en lewenswandel spoor dit ’n Christen dan aan om na te streef?

Afgedwaal—Hoe?

Op watter maniere kan Christene van die geloof afdwaal? Sommige het so ver gegaan as om godvrugtige sedes en opvattings geheel en al te verwerp. In ander gevalle het individue die weg van godvrugtige toegewydheid byster geraak en sodanige toegewydheid selfs gebruik as ’n middel om ander te beïnvloed. Die Bybel praat derhalwe van “mense wat verdorwe van gees en van die waarheid beroof is en dink dat godvrugtige toegewydheid ’n middel tot gewin is” (1 Timotheüs 6:5, NW). Hoewel hulle die Christelike godsdiens nie heeltemal versaak nie, skend hulle dalk Bybelbeginsels wat onontbeerlike elemente van die Christelike geloof is.

Jesus het vir sy volgelinge gesê dat hulle nie soos die mense van die wêreld moet wees wat oor ander baasspeel nie. Hy het gesê: “Só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.” Toe hy Joodse godsdiensleiers veroordeel het, het Jesus nog verder gegaan. Hy het getoon dat groot liefde vir wêreldlike aansien God se afkeuring meebring (Mattheüs 20:26; 23:6-9, 33). Christene moet dus streef om mekaar te dien, pleks van ander te probeer oortref of domineer. Die geldgierige wat tot elke prys sukses probeer behaal, kan baie maklik van hierdie weg afdwaal.

Hoe vaar jy in hierdie opsig? Vind jy dat jy jou sukses meet aan die mate waarin jy gesag oor ander uitoefen? Manipuleer of verdraai jy Christelike beginsels en leerstellings om gesag uit te oefen of te verkry? Meen jy dat jy tot elke prys meer as jou portuurs moet bereik? Skep jy groot behae daarin om oor jou rykdom of beroepsprestasies te gesels? Dan moet jy jou situasie ontleed en kyk of jy besig is om van die geloof af te dwaal.

Die smarte van “sukses”

Jesus het ook gesê: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde . . . nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees . . . Julle kan nie God en Mammon dien nie!” (Mattheüs 6:19-24). Pas ouers wat hulle kinders aanmoedig om hoofsaaklik materiële doelwitte en wêreldlike loopbane na te streef hierdie raad toe? Is dit die prys werd om wêreldlike sukses te beklemtoon as kinders die waarheid versaak en onchristelike lewenstyle begin volg? Is dit die moeite werd om hulle geestelike lewens op te offer of om dit, op sy minste, in gevaar te stel ter wille van ‘skatte op aarde’? Ouers wat dit doen, vind dikwels dat hulle self ‘met baie smarte deurboor word’ weens besorgdheid oor hulle kinders en weens verdriet oor die geestelike—en soms fisiese—dood van hulle kinders.

Die liefde vir rykdom is ’n veeleisende meester. Dit eis mense se tyd, krag en talente; en dit verstik goddelike toegewydheid. Dit verlok mense gewoonlik om selfs groter rykdom en wêreldlike aansien na te jaag en laat hulle sodoende al hoe verder van die geloof afdwaal. Die Bybel sê tereg: “Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie.”—Prediker 5:9.

Een sakeman in Afrika se liefde vir finansiële sukses het selfs nadat hy ’n Christen geword het die voorrang in sy lewe gehad. Hy het Christelike bedrywighede verwaarloos om sosiale besoeke aan wêreldse sakevriende te bring. Ondanks pogings deur ouere manne van sy gemeente om hom te help, het hy geen geestelike vooruitgang gemaak nie. Hy het hom derhalwe in ’n geestelike dilemma bevind—in ’n niemandsland waar hy kwalik ’n Christen was en tog as een erken wou word. Ons kan almal begryp dat sy situasie nie bevorderlik was vir diepe tevredenheid in die lewe of blywende geluk nie.

Sulke persone sal ongetwyfeld geestelike smarte ondervind. Sake- en sosiale kontak met mense wat hulle min aan eerlikheid of geslagsedelikheid steur, stel ’n mens aan onheilsame invloede bloot. Christene wat aldus blootgestel word, moet hierdie invloede beveg en ervaar gewoonlik ook ’n gewetenskonflik. Sommige word uiteindelik net soos hulle metgeselle en dwaal heeltemal van die geloof af (1 Korinthiërs 15:33). Van watter nut is finansiële sukses wat so ’n geestelike en morele mislukking tot gevolg het? Soos Jesus gesê het: “Wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?”—Mattheüs 16:26.

’n Beter soort sukses

Die ondervinding het bevestig dat dit verstandig is om op hierdie Bybelraad ag te gee: “Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar . . . beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.” Ja, ons is verstandig as ons nie die wêreld naboots of hunker na wat dit kan bied nie. Dit moet ons hoofdoel wees om God se goedkeuring te geniet, wat nie deur die najaging van wêreldlike dinge verkry kan word nie.—Romeine 12:2; 1 Johannes 2:15, 16.

Jesus het dit toegelig met die voorbeeld van ’n boer wat op sy rykdom vertrou het, maar vir wie God gesê het: “Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?” Jesus het sy gelykenis opgesom deur te sê: “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.” Jesus het getoon dat “’n mens se lewe . . . nie afhanklik [is] van die oorvloed van sy besittings nie”.—Lukas 12:15-21, NAV.

Jesus het die lewende voorbeeld van ’n ryk jong owerste gebruik om dieselfde te toon. Hierdie man was suksesvol in ’n wêreldlike sin, en hy wou klaarblyklik moreel regskape wees. Maar Jesus het hom nie as ’n simbool van sukses voorgehou nie. Jesus het eerder gesê dat dit vir sulke mense moeilik sal wees om “in die koninkryk van God in [te] gaan”. Die meeste mense in daardie situasie is nie bereid om materiële belange prys te gee en God se Koninkryk as die vernaamste doelwit in hulle lewe na te streef nie.—Lukas 18:18-30.

Jesus het die prioriteit van geestelike belange verder beklemtoon en gesê: “Moet julle . . . nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Ons moet dus, selfs wat noodsaaklikhede betref, ons prioriteite reg hê. ’n Vereiste vir ware sukses—om geluk te verkry en ware tevredenheid te vind—is dat ons die geestelike voor die materiële stel.—Mattheüs 6:31-33.

Hou aan om geestelike sukses na te streef

Die verstandige weg is dus uiteraard om sukses te probeer behaal deur God se Koninkryk en sy geregtigheid na te streef. Dit behels ’n studie van die Bybel om te kan “beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is”. Dit is onder meer sy wil dat jy sy diens die voorkeur in jou lewe moet gee, dat jy ’n volle aandeel in die Christelike bediening moet hê, dat jy Christelike vergaderinge nie moet versuim nie en dat jy ’n moreel regskape lewe in ooreenstemming met God se geregtigheid moet lei. Hierdie dinge moet nie opsygeskuif word vir of oorskadu word deur materiële belange nie. Dit is wat Jesus se raad aan die ryk jong owerste geïmpliseer het: “Verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My.”—Romeine 12:2; Lukas 18:22.

Deur dit te doen, sal jy jou eie geestelikheid sowel as jou gesin s’n versterk. In plaas van hooghartig te word of jou hoop op onsekere rykdom te vestig, sal jy onder diegene wees wat ryk is “in goeie werke . . . en vir hulle ’n skat weglê, ’n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die [ware] lewe kan verwerf”. Ja, die ewige lewe in die herstelde aardse Paradys kan jou doelwit wees, want “die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”. Dit is die allergrootste sukses wat jy ooit kan behaal.—1 Timotheüs 6:17-19, vgl. NW; 1 Johannes 2:17.

[Prent op bladsy 5]

Is geld die sleutel?

[Prent op bladsy 7]

Sal ouers hulle kinders wegstuur om sukses deur middel van hoër onderwys na te jaag?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel